Welkom by Afrifiksie

Afrikaanse Fantastika

“Die Koninkryk van die Hemele, wat deur Jesus aan ons geleer word, is sekerlik een van die mees rewolusionêre idees wat nog ooit die menslike gedagtes en denke aangeraak en verander het.”    –    H.G. Wells

En so terloops…

15 Augustus 2017

Nuwe vertaalde WF

Vanaf die middel 1960s tot aan die einde van die 1990s het die vertaling van wetenskapfiksie uit ander tale na Afrikaans ‘n bloeityd ervaar. Dit het daarna egter totaal afgeneem na ongeveer niks, behalwe vir talle feitlik onleesbare klassieke werke waaroor daar in die verlede reeds op Afrifiksie vertel is.

Dit wil egter voorkom dat daar onlangs wel ‘n nuwe werk na Afrikaans vertaal is van Anna Erishkigal, getiteld Die Horlosiemaker (2016).

Anna is ‘n produktiewe skryfster wat al talle boeke, hoofsaaklik fantasie, in Engels geskryf het. Hierdie werk van haar is as ‘n e-boek beskikbaar asook in gedrukte media. Hoewel ons nog nie die werk gelees het nie, is dit opwindend dat ‘n vertaalde werk weer beskikbaar is na meer as ‘n dekade. Indien jy dit gelees het, laat ons asseblief weet wat jy daarvan dink.

5 Augustus 2017

Met groot waardering

Ons het uiteindelik die sluitingsdatum van ons skryf en kuns kompetisies van Afrifiksie bereik. Baie dankie aan elkeen wat deelgeneem het en vir ons materiaal ingestuur het.

Die nuwe areas wat ons hierdie jaar begin het, soos die kuns en die gedigte het versommende inskrywings ontvang waaroor ons baie opgewonde is. Ons het ook ‘n aantal voorstelle vir die toekoms gekry waaroor ons ‘n bietjie sal dink. Die beoordelaars sal deur die inskrywings werk en die wenners sal aangekondig word sodra dit gefinaliseer is. Nogmaals baie dankie aan elkeen wat deelgeneem het.

26 Julie 2017

Nog ‘n Faktor…

Rachelle du Bois se tweede boek in die Faktor fantasiereeks is ook tans beskikbaar. Soos reeds hier op Afrifiksie genoem, was die eerste hiervan Die Vita Faktor.

Hierdie storie is egter nou aangevul met ‘n opvolg getiteld Die Lucerna Faktor.

Beide hierdie boeke is as e-boeke beskikbaar, maar dit is ook verkrygbaar in druk. Skaf dit gerus aan en laat ons weet wat jy daarvan dink.

24 Julie 2017

Kwasi wat?

Daar word dood eenvoudig nie genoeg wetenskapfiksie in Afrikaans geskryf nie. Hoewel verskeie skrywers ‘n bydrae maak tot hierdie kategorie, is die behoefte daarna tog veel groter as dit wat op die rakke van winkels verskyn.

In die soeke na nuwe wetenskapfiksie kom ons telkens op nuwe titels af wat moontlik tog deel van WF mag wees, maar so dikwels is dit egter ‘n teleurstelling en is daar bloot ‘n mate van wetenskaplike elemente teenwoordig wat aan die verhaal die klassifikasie van “wetenskaplike fiksie” besorg, maar nie wetenskapfiksie nie.

Daar blyk egter ‘n klas van fiksie te wees wat tussen hierdie twee genres bestaan, wat ons kwasi-WF gedoop het. Dit is verhale wat nie werklik wetenskapfiksie is nie, maar egter tog sekere elemente van WF bevat wat gewoonlik op die agtergrond is of wat nie in die storie verken word nie. Omdat hierdie werke dikwels wel interessant is en tog sekere WF-idees laat deurskemer, is daar besluit om wel van tyd-tot-tyd hiervan op Afrifiksie deur te gee vir kranige lesers wat smag na meer werke op hierdie gebied.

Die eerste van dié boeke is Die Verlate Stad in die Kalahari deur Fransie Koning, wat die leser neem op ‘n ontdekkingsreis na die stad met interessante onthullings.

‘n Meer onlangse boek is Akwarius deur Piet van Rooyen. Dit vertel die storie van dolfyne wat tydens die koue oorlog militêr opgelei was. ‘n Dieresielkundige van Suid-Afrika gaan na Rusland om hulle te probeer herintegreer in die natuur, maar daar is natuurlik vele uitdagings en intrige wat die storie besonder boeiend maak en die leser intrek in ‘n vreemde wêreld waarvan min mense iets weet.

Nie een van die boeke is werklik WF nie, maar dit word tog aangeraai as ‘n goeie alternatief vir die ware Jakob…

11 Julie 2017

‘n Mylpaal vir 2017

Dit was nog altyd net ‘n droom om groot fantasie in Afrikaans te kan hê. Hoewel daar talle werke in Afrikaans oor tyd gepubliseer is, was ons relatief arm aan die werklike grotes. En toe, skielik, binne omtrent ‘n tweejaarperiode is feitlik al die Roald Dahl kinderfantasieë en die ganse reeks Narnia-fantasieë van C.S. Lewis en J.K. Rowling se reeks oor Harry Potter in Afrikaans afgehandel (waarop ons ook hier op Afrifiksie gerapporteer het). ‘n Ware fees.

En nou het Protea nog ‘n toevoeging gemaak – J.R.R. Tolkien se Die Hobbit het in 2017 op die rakke verskyn.

Dit is meesterlik vertaal deur die bekroonde skrywer en vertaler Janie Oosthuisen. Hierdie is besonder spesiaal siende dat Tolkien ‘n effens nader band met Suid-Afrika het as die ander groot internasionale skrywers, omdat hy in Bloemfontein in 1892 gebore is. Kom ons hoop dat iemand binnekort ook kans sal sien vir die heel grootste van almal – Tolkien se Heer van die Ringe. Niemand van ons kan wag nie…

6 Julie 2017

Op die rant van ‘n genre…

Die hoofstroom van wetenskapfiksie en fantasie is maklik om te verduidelik en te definiëer. Sodra daar deur die ruimte voortgesnel word met ‘n wringenjin, en wesens van ander wêrelde jou pad kruis, is dit sonder twyfel dat jy die gordyn van WF weggetrek het. En dieselfde geld vir die fantasie – kabouters, drake, towenaars en die vele magiese wesens is ‘n duidelike aanduiding van die groot F.

Maar, aan beide kante van hierdie twee lyne van WF+F, is daar grys gebiede waar dit moeilik raak en die grense dof word, soos distopiese verhale, superhelde, spookstories, mitologie en godsdiens. Al hierdie temas bevat aspekte wat sterk oorvleuel met WF+F, veral die bonatuurlike en die paranormale, maar tog is dit anders. In beide die oosterse en die westerse beskouings word verskillende konvensies gebruik vir hierdie kategorieë, en help dus nie veel vir ons om ‘n skeidslyn te trek nie.

Die fliek The Case for Christ wat tans te sien is, is juis so ‘n geval. Dit is gebaseer op die ware verhaal van ‘n skeptiese joernalis wat weens persoonlike redes wil bewys dat die sentrale pilaar van die Christendom, naamlik dat Jesus Christus gesterf het en weer lewend geword het, ‘n mite of fantasie is en dat dié totale godsdiensvorm dus ongeldig is en dat die aanhangers daarvan bloot aan ‘n karige hoop en sentiment vasklou.

Stelselmatig word elke moontlikheid van Christus se opstanding op die proef gestel, in ‘n poging om te bewys dat daar geen bonatuurlike voorval plaasgevind het nie en dat alles wetenskaplik verklaar sou kon word.

Van alle vorme van vermaak is temas oor godsdiens waarskynlik die mees omstrede en word dit gekenmerk deur sterk emosie. Die bonatuurlike bly egter ‘n baie diepgewortelde gedagte in die mens se wese en word gewoonlik deur een van twee uiterste reaksies gekenmerk – totale aanvaarding of totale verwerping. The Case for Christ is egter ‘n interessante perspektief op die ontdekkingsreis van iemand wat juis nie ‘n bonatuurlike verklaring kan aanvaar nie en desperaat is om na die wetenskap te gryp. Maar dít wat bonatuurlik is kan eenvoudig nie deur gewone logika en wetenskap ingeperk word nie – dit is dieper en verteenwoordig ‘n realiteit wat veel sterker met die mens se psige verbind is as die meer onlangse “godsdienste” van wetenskap, filosofie, logika en wiskunde.

Die reis in hierdie fliek laat ‘n mens nadink oor wat ons as geldige bewyse sou aanvaar – dit word sterk aanbeveel vir die wat ‘n oop gemoed kan handhaaf en kan aanvaar dat die wêreld meer geheimsinnig is as wat ons vermoed.

6 Julie 2017

Weer ‘n bietjie fantasie

Met die menigte verskillende uitgewers wat deesdae bestaan is dit moeilik om nie iets mis te loop nie. En, so het ons dan ook amper! Groenheide Boeke het verlede jaar (2016) die volgende fantasieboek die lig laat sien van Anton Döckel getiteld Ridders van die Vyfde Dimensie, met die volgende lokaas op hul webwerf.

“Toe Tom en sy mense in die spookhuis kom bly, word Arno al gou meegevoer op ’n dolle avontuur met trolle, struisfante, reuse spinnekoppe en basiliske. O ja, en ’n beeldskone prinses.”

Ons sal dit aan die hande probeer kry en laat weet hoe dit is. As jy dit reeds gelees het, laat asseblief van jou hoor.

22 Junie 2017

Wat as…

Een van die temas wat gereëld in die wetenskapfiksie voorkom is dat ‘n globale ramp die aarde tref en dat die mensdom skielik sy tegnologie, infrastrukture en regerings verloor, en dat mense desperaat worstel om te oorleef. Hierdie is dalk nie so vergesog as wat die WF-flieks en boeke dit voorstel nie.

Sekere bedreigings is werklik – selfs waarskynlik. Dink byvoorbeeld aan ‘n sosio-politieke onstabiliteit wat in geweld kan oorspoel. Hoeveel wêrelddele het nie die afgelope twee dekades onder burgeroorlog of etniese konflik deurgeloop nie – selfs in lande wat as eerstewêrelds bestempel sou word.

Vir hierdie, en ‘n aantal ander redes, is daar ‘n gedagtegang wat toenemend posvat – om van die netwerk af te klim, selfvoorsienend en selfs onsigbaar te raak. Baie mense sluit hul aanlynprofiele op facebook en twitter en wil juis nie gevind kan word nie. En moet nie dink dat hierdie bloot ‘n Suid-Afrikaanse verskynsel is nie – dit gebeur oral op hierdie planeet.

Dit is egter interessant dat ‘n tweetalige tydskrif tans in Suid-Afrika beskikbaar is en wat spog met toenemende leserstalle – LAATLOS – Off The Grid, juis oor hierdie manier van dink.

Die tydskrif is pret om te lees en uit ‘n wetenskapfiksieperspektief kry mens nogal maklik aanklank daarby. Dit is baie prakties geskryf en laat ‘n mens nogal nadink oor jou beskouing van dít wat ons aanvaar sonder om oor te wonder.

Die waarheid is dat indien die papaja werklik deur die waaier gaan vlieg, die meeste van ons maar moeilik sal oorleef, en om ‘n bietjie tyd af te knyp om oor jou eie gereedheid na te dink dalk nie ‘n slegte idee is nie. Kyk gerus uit en skaf een van hierdie tydskrifte aan, en besluit gerus self oor jou eie sekerheid dat niks verkeerd sal loop nie…

14 Junie 2017

‘n Tweede kans

In soveel van die wetenskapsieflieks word jy gekonfronteer met die gedagte dat die een of ander katastrofe die einde van die mensdom se beskawing sou veroorsaak. Daar is die idee van ‘n botsing met ‘n voorwerp uit die ruimte, of ‘n virus wat die mensdom grootliks uitwis, ‘n inval deur buiteaardse wesens, klimaatsverandering wat ‘n nuwe ystyd inlei, kernoorlog wat ontketen word, ensovoorts, ensovoorts. Die moontlikhede waarmee skrywers van wetenskapfiksie vorendag kan kom is skynbaar onuitputlik – en ons as die lesers en kykers kla nie. Dis heerlik.

Dan is daar ook ‘n groot aantal werke wat die post-apokaliptiese wêreld wat na die slagting bestaan, verken – met wetteloosheid en geweld wat gewoonlik oorvloedig aan die orde van die dag is in ‘n distopiese nuwe realiteit wat jou laat bly wees dat ons huidige (dog ongelooflik gebrekkige) wêreld steeds bestaan.

Maar, wat sou gebeur as die mensdom se beskawings wel te gronde sou gaan en die mens kry ‘n tweede kans om te leer uit die foute van sy verlede en ‘n beter tweede wêreld tot stand bring? Hierdie is die idee in die e-boek van JF de WaalAanval op Soma.

My eerste e-boek wat ‘n ontdekkingsreis deur die worderwêreld van elektroniese ink sonder bladsynommers en met bloot ‘n daaglikse persentasie wat die aanduiding is van die vordering deur die boek. En wat ‘n gepaste keuse was dit nie. Soos die avontuur van die e-boektegnologie, word jy geneem deur die aspekte van ‘n nuwe wêreld wat die mens self uitgedink het om nie die verlede se foute te herhaal nie.

Die boek, in uitsonderlike goeie Afrikaans ten spyte van sy relatief onlangse verskyning in 2013, konfronteer jou met ‘n klomp vrae wat jou diep laat nadink oor realiteite wat ons daagliks aanvaar sonder om daaroor na te dink. Hoewel die verhaal lank neem om vlam te vat, word die nuwe wêreld goed ingekleur en bring dit jou dikwels by fundamentele feite van ons bestaan wat miskien nie so vas staan as wat ons gedink het nie.

Aanval op Soma is ‘n goeie toevoeging tot die wetenskapfiksie in Afrikaans, en as jy nog nie die e-boek-ding in Afrikaanse WF probeer het nie, is hierdie die ideale kans daarvoor. Dit word sterk aanbeveel, en ons hoop daar is nog werke uit die skrywer se pen (of sy toetsbord)…

4 Junie 2017

Meer as net vermaak…

Dis moeilik om te dink dat WF+F van meer waarde kan wees as bloot lekker vermaak, of om ‘n mens te laat na dink oor jou perspektief oor dinge soos die lewe en die waarneembare wêreld. Maar dit ís meer! Daar is diegene wat dit só ernstig opneem dat dit die fokus word van hul akademiese werk. Twee sulke gevalle het onlangs onder ons aandag gekom.

Die eerste is die werk wat Pieter Verwey in 2015 onderneem het aan die Universiteit van Pretoria vir sy meestersgraad in kreatiewe skryfkuns, getiteld Steampunk : ‘n Beskrywende studie en analise van die neerslag van die begrip op die teks Clint Eastwood van Wyk en die Moordenaarsklok.

Dit is ‘n indrukwekkende werk wat ons nie in Afrifiksie self beskikbaar maak nie omdat ons nie die kopiereg wil skend nie, maar gaan lees dit gerus op Tukkies se webwerf by hierdie skakel – Tukkies Stoompunk.

Die tweede werk, wat deur die geheimsinnige Detka onder ons aandag gebring is, is die werk van Joan-Mari Barendse in 2013 vir haar Ph.D. aan die Universiteit van Stellenbosch getiteld Distopiese toekomsromans in die Afrikaanse literatuur ná 1999. Weereens kan haar proefskrif op Maties se webwerf gelees word by hierdie skakel – Maties Distopia.

Dit is baie interessant dat hierdie studies bestaan vir Afrikaanse WF+F. Indien daar meer hiervan bestaan waarvan jy dalk bewus is, laat ons asseblief weet.

14 Mei 2017

Agon – ‘n Nuwe Lewe

Een van die lekkerste Afrikaanse boeke in wetenskapfiksie is John Coetzee se Agon en die Donker Planeet.

In ‘n onlangse onderhoud met die skrywer John Coetzee, het hy dit laat blyk dat hy besig is om dié boek by te werk en dit tans in Engels te vertaal. Boonop bestaan die moontlikheid dat die boek selfs eersdaags ‘n nuwe asem in Afrikaans kan kry met ‘n hersiening om inligting by te werk en dalk ‘n paar ekstra hoofstukke – maar dit is bloot ‘n idee waarmee hy speel.

Gaan lees egter John Coetzee se profiel wat onlangs tot die Afrifiksie-versameling bygevoeg is.

4 Mei 2017

Glaskas Inskrywings

Baie dankie aan almal wat sovêr hul hand op papier gesit het en vir ons iets geskep en ingeskryf het. Die werke wat ontvang is, is bygevoeg onder Kompetisies – gaan lees en geniet gerus die inskrywings  – en onthou, tyd loop uit as jy nog ‘n inskrywing wil maak…

2 Mei 2017

e-Boeke

Ja, dit kom seker op elkeen van ons se pad. Eers dink jy: “ek sal nooit die knie buig nie!” Dis amper soos ‘n selfoon. Ek wou nie aanvaar dat ek my besig sou hou met iets so irriterend soos ‘n sellulêre telefoon nie – wat is immers fout met ‘n goeie ou landlyn? Maar, as jy kyk en jy kyk weer, dan is jy ook meegesleur deur die stroom en teks jy net so ywerig soos enigeen van jou kinders en kan jy jouself kwalik ‘n lewe daarsonder voorstel.

Wel so was dit vir my met die hele e-boek-ding. Daar is niks lekkerder as om die papier te voel onder jou vingers nie. En dan is daar natuurlik die reuk – ja, min dinge kom daarby. Maar nou ja – die realiteit is dat baie van die nuutste werke alleenlik uitkom as ‘n e-boek, en as jy die storie wil lees het jy nie regtig ‘n keuse nie.

So besluit ek dis tyd – daar het onlangs net te veel WF+F boeke in Afrikaans verskyn vir die e-boek platform en ek voel uitgesluit. Na baie huiswerk besluit ek toe maar op ‘n Kindle en gaan skaf die ding aan. Dis duur en ek byt maar langtand aan die idee. Op Amazon se boekwinkel soek ek vir my ‘n boek, en my oog vang Aanval op Soma van JF de Waal, en ek besluit dit sal my eerste boek wees op die nuwe tegnologie.

Op hierdie punt van die storie raak ek ‘n bietjie meer positief. Die boek is goedkoop – vir onder R50 koop ek ‘n nuwe boek! Maar dis nie al nie. Indien jy ‘n woord wil opsoek kan jy dit onmiddelik doen deur die internet. Woorde of dele kan gestoor word, ge-e-pos word, ens. Baie indrukwekkend.

Daar is steeds baie dinge waaroor ek wonder. Hoe lank sal e-boeke behoue kan bly? Baie van die boeke wat ons vandag steeds het, het bloot behoue gebly omdat dit êrens in iemand se boekrak stof vergader het. Maar ‘n e-boek word na ‘n ruk uitgevee om plek te maak vir iets nuuts. Ek skat ons sal maar moet wag en kyk. Hopelik sal die baie stoorruimte in die kuberruim dit vir die toekoms bewaar – dis nou as daar nooit ‘n grootskaalse ramp die planeet tref en ons tegnologie vernietig nie (maar wie sou nou so ‘n storie kon glo…)

 24 April 2017

Blokraai

Ken jy jou wetenskapfiksie en jou fantasie? Kom stel gerus jou kennis op die proef met ons nuwe inisiatief. Afrifiksie beoog om gereeld ‘n nuwe blokkiesraaisel en ander speletjies beskikbaar te maak – gaan kyk gerus na die Afrifiksie Blokkiesraaisel no. 1. en laat weet ons of jy daarvan hou – of ander voorstelle wil maak.

Of, as jy hou daarvan om die woorde tussen ‘n klomp letters te soek, probeer gerus ons Woordsoek.

21 April 2017

Dit is tog lekker om nuwe WF in Afrikaans te sien – al is dit vir die jongspan. En dit is verbasend om te sien hoe die vertaling van werke ook nooit stop nie. Hierdie nuutste vonds is weer een van daardie werke wat tot nou toe nog onder die radar van Afrifiksie was, maar ons neem kennis – baie dankie…

Wat ‘n ramp! Nag van die vlieënde piering deur R McGeddon. Ons sal ‘n bietjie kyk wat ons te wete kan kom van die boek en dit op ons werf byvoeg.

13 April 2017

Jet Jungle

Van die vele strokiesprente wat gereeld in Suid-Afrikaanse tydskrifte en koerante verskyn, was die meeste wat met wetenskapfiksie of fantasie te doen gehad het geleen uit ander lande en tale. Die een ongelooflike uitsondering is Jet Jungle wat eg Suid-Afrikaans is. Hoewel hy dikwels in Engels sy verskyning gemaak het, is daar tog verskeie Afrikaanse weergawes waarvan enkeles nog gevind kan word.

Die strokies is wetenskapfiksie op sy beste – indrukwekkende grafika en storielyne vol intrige en aksie. WF is nog altyd sterk aangevul deur visuele beelde om die inhoud te versterk.

Om hierdie sonderlinge held te onthou, is daar van die strokies wat gevind kan word op sy eie bladsy geplaas. Gaan kyk gerus na die talent wat daar na vore kom. En as jy dalk nog van sy strokies in Afrikaans het, deel dit asseblief met ons…

4 April 2017

Skouspelagtig

Vakansie bly nou maar een maal ‘n lekker ding – ‘n noodsaalikheid om nie van die trollie af te raak nie, en ten spyte van die hoë koste daarvan is dit iets waarna ons die hele jaar uitsien.

Dit was gister so ‘n lui oggend toe ek en die kinders by ‘n winkellaan instap en my oog die flieks vang. Op die ingewing van die oomblik word kaartjies gekoop vir The Ghost in the Shell, wat die plaaslike resensente maar as redelik power bestempel het. So, baie skepties oor die moontlikheid om my geld te mors is ons, gewapen met springmielies, by die teater in.

Al wat ek kan sê is dat dit absoluut ongelooflik was. Ek kyk omtrent alle WF wat in die flieks uitgereik word, en hoewel dit amper altyd ‘n lekker ervaring is, is daar tog soms ‘n fliek wat bo die ander uitstaan – soos hierdie een. Dit was heerlik. Die wêreld wat geskep word gryp die verbeelding aan en is getrou tot die WF-genre van kuberpunk. Haaglike omstandighede waarin die gewone mense leef terwyl net enkeles die wonders van hoë tegnologie kan bekostig.

Die grafiese beelde is ryk en aangrypend. En anders as baie ander 3D-flieks, kom die 3D-effekte in hierdie een ten volle tot hul reg. Hierdie verhaal wat aanvanklik in Japan in 1989 sy ontstaan het, het dit gelukkig nou tot vollengtefliek gemaak – en dit is ‘n moet vir alle WF-aanhangers.

My slotsom is dat die meesete resensente hou van temas wat nie werklik WF insluit nie, en dat hul menings aangaande WF nie so ewewigtig is as wanneer dit by ander genres kom nie…

3 April 2017

Om oor te klank

Johan van Wyk het onlangs twee kort video’s in Afrikaans oorgeklank, Onbekende en Mech – Proefkonyn. Op versoek van Afrifiksie het hy vir ons ‘n artikel geskryf waarin hy ‘n oorsig gee oor die proses om dit te kan doen. Gaan kyk gerus na die artikel Oorklankiaans, en kyk of jy dalk self talente ontvang het in die wêreld van vertaling en om oor te klank.

2 April 2017

‘n Skatkis van vertalings

Hoewel boeke nie altyd so vinnig verskyn soos mens graag sou hoop nie, word daar gedurig werke in Afrikaans vertaal – en dikwels werke van die groot skrywers. Een van daardie grootste skrywers van fiksie is Ruald Dahl, en danksy vertalings is daar vandag ‘n hele aantal vertaalde werke van hom in Afrikaans beskikbaar – veral sy kinderwerke. Hierdie werke het baie fantasie in en is baie toeganklik geskryf (vir oud en jonk). Een van die werke waarvan daar ‘n fliek in 2016 verskyn het, is Die Groot Sagmoedige Reus (GSR).

Die meer bekende werk Charlie en die Groot Glashyser is ook beskikbaar in Afrikaans.

Verbasend genoeg was daar reeds ‘n vroeër weergawe van hierdie werk in Afrikaans vertaal onder die titel Kalie Emmer en die Groot Glashyser.

Vandag is daar ‘n groot aantal van hierdie kinderboeke beskikbaar, wat meer of minder fantastiese elemente bevat. Dit is lekker om te lees en kinders geniet dit amper so baie soos die ouers wat dit vir hulle voorlees. Geniet dit…

29 Maart 2017

Nog ‘n Video-greep in Afrikaans

‘n Spesiale woord van dank aan Johan van Wyk vir nog ‘n oorklanking van ‘n kort video uit Engels na Afrikaans, naamlik Onbekende. Dit is waarlik verstommend wat vermag kan word.

Ons het ‘n versoek gerig aan Johan om vir ons ‘n artikel te skryf oor wat dit behels om so ‘n taak aan te pak – ons hou asem op om te sien of hy daarvoor kans sien… 

25 Maart 2017

Twee pilare van WF+F

Mense wat my pad kruis kan ek in twee groepe indeel. Die een groep is gaande oor WF+F (gewoonlik meer van die een as die ander), en ‘n tweede groep wat werklik níks daarvan hou nie. Hierdie anti-WF+F groep is op geen manier geïnteresseerd in die “wensdenkery” van wetenskapfiksie of fantasie nie. Sommiges is egter selfs gekant daarteen tot ‘n mate dat hulle dit met die bose gelyk stel en voel dat dit teen elemente van hul geloof indring en dat “jy jouself nie moet oopmaak” vir die magte van die bose nie.

Dit is juis hierdie laaste groep wat my die meeste interesseer. Vir ‘n ateïs om nie ‘n belangstelling in WF+F te hê nie sou vir my logies wees, maar vir godsdienstige persone is dit juís vreemd. Om godsdienstig te wees beteken reeds dat ‘n persoon glo dat bonatuurlike magte bestaan en dat ons wêreld nie bloot beperk is tot die gewone realiteit wat ons daagliks om ons waarneem nie. Dikwels is dit juis persone in hierdie groep wat die hele idee van WF+F verregaande vind.

Daar is twee belangrike elemente wat onderliggend is tot ‘n baie groot deel van WF+F en wat moontlik deel uitmaak vir hierdie verskynsel – beide het aansienlike negatiewe konnotasies by ‘n groot deel van die samelewing. Hierdie twee konsepte is die bonatuurlike en die paranormale. Altwee hierdie woorde is genoeg om baie te laat regop sit, en vir baie is hierdie woorde basies sinoniem – maar nie binne die wêreld van WF+F nie.

Die paranormale het te doen met al die vreemde verskynsels waarvan ons al gehoor het (maar gewoonlik nie self ervaar het nie), en wat boos en onheilspellend voorkom. Hierdie kategorie sluit onder andere dinge in soos vlieënde pierings, telepatie, buitesintuiglike waarneming, spoke, telekinese, heldersiendheid, die Bermuda-driehoek, astrale projeksie, die monster van die Vaaldam, ensovoorts. Hierdie is die dinge wat die wetenskap nie tans kan verklaar nie, maar waarvoor daar (in alle waarskynlikheid) wel wetenskaplike verklarings bestaan of gevind sal kan word. Soos die woord aandui, sluit dit daardie elemente is wat nie as normaal beskou kan word nie. Die paranormale, wanneer dit in spekulatiewe fiksie aangewend word, word gewoonlik beskou as wetenskapfiksie (WF).

Daarteenoor is die bonatuurlike ook ‘n groep dinge waarvan daar gehoor word (maar wat ons ook gewoonlik nie self ervaar het nie) en buite die veld van die wetenskap lê. Dit sal waarskynlik nooit deur die wetenskap verklaar kan word nie, omdat dit eenvoudig nie die reëls van die natuurwetenskap volg nie, en sluit dinge in soos toordery, wonderwerke, die godheid en goddelike vermoëns, ensovoorts. Soos die woord aandui, is dit dus dinge “wat meer is as dít wat natuurlik is” en daarom kan natuurwetenskap dit ook nie deurgrond nie. Wanneer die bonatuurlike in spekulatiewe fiksie voorkom, word dit gewoonlik as fantasie (F) beskou.

‘n Baie insiggewende boek in hierdie verband wat oor verskeie van hierdie elemente handel, is Thys Sadie se werk – Reis na die Onsigbare Wêreld.

Die boek gaan op ‘n relatief kliniese wyse om met die materiaal sonder om die leser ongemaklik te laat voel of ‘n spesifieke siening hieroor op die leser te probeer afdruk. Die skrywer bied bloot materiaal aan wat uit ‘n omvattende ondersoek voortgespruit het en laat die leser self besluit wat nodig is om te glo. Indien jy ‘n kopie hiervan aan die hande kan kry, is dit verseker die moeite werd – ek beveel die boek sterk aan.

Nòg wetenskapfiksie, nòg fantasie is in stryd met godsdiens. Tewens, godsdiens is juis die aangryp en aanhang van die bonatuurlike – dit is naamlik onmoontlik om godsdienstig te wees sonder om aan die bonatuurlike te glo.

En selfs as jou enigste godsdiens die wetenskap self is, is daar dinge wat in soveel misterie gehul is dat dit moeilik sou wees om nie die moontlikheid van bonatuurlike elemente te oorweeg nie. Dinge soos die ontstaan van lewe, of die oerknal is raaisels wat die wetenskap oor spekuleer en nog lank nie kan verklaar nie en hoort òf in die paranormale òf in die bonatuurlike – kies maar self…

21 Maart 2017

Goeie Fantasie

Dis verbasend hoeveel boeke op die rakke van boekwinkels met wetenskapfiksie en fantasie gevul is – en amper alles is Engels. Tog is daar baie van die goeie werke wat oor tyd wel in Afrikaans beskikbaar geword het. André P Brink het reeds in 1971 Lewis  Carroll se boek in Afrikaans vertaal (Alice deur die spieël) waarvoor hy die Akademieprys vir Vertaalde Werk ontvang het, en later ook Die Avonture van Alice.

Die vertaling is natuurlik uitstekend, en dit lees heerlik. Ek is amper jammer dat dit vir kinders bedoel is, want ek dink ek geniet dit meer as hulle. Daar is baie fantasie kinderboeke in Afrikaans – jammer dat hulle al minder gelees word en dat die Engels so dikwels verkies word.

16 Maart 2017

‘n Eerste vir Afrifiksie

Johan van Wyk het vir ons ‘n WF-video oorgeklank na Afrikaans. Dit heet Mech – Proefkonyn. Gaan kyk gerus na ons nuwe afdeling vir video’s, en geniet dit.

Dit is voorwaar baie oulik gedoen, veral as daar in ag geneem word dat ‘n oorklanking die hele oorspronklike klankbaan moet vervang met ‘n nuwe een. Die nuwe een moet dus elke klankie, van die skote wat klap tot ‘n radio in die agtergrond bevat. Groot dank aan Johan – hierdie is ‘n ongelooflike toevoeging tot die inhoud van ons WF+F-wêreld, en ons het groot waardering daarvoor.

Laat weet asseblief wat jy hiervan dink.

15 Maart 2017

Ekskuus – net sowat een jaar laat…

Daar word dikwels gekla dat die lewe só besig is – dat mens eenvoudig nie by alles kan uitkom nie. En so, in die dolle gewoel en gewarrel van die moderne tyd het ons nagelaat om hulde te bring aan ‘n belangrike persoon wat ook hier by Afrifiksie bekendheid het .

Die skepper van die Fritz Deelman-reeks is verlede jaar Februarie oorlede – ‘n verlies vir Afrikaans. Gaan kyk gerus na die profiel van Leon Rousseau om te sien hoeveel hy vir ons nagelaat het. Afrifiksie is soveel ryker as gevolg van hom, en ons is jammer saam met dié wat vir hom lief was…

9 Maart 2017

Is ‘n basis op Mercurius werklik ‘n onmoontlike droom? Die meeste mense sou saamstem dat dit seker die mees onherbergsame plek in die sonnestelsel mag wees. Kyk na hierdie plasing van Mercurius om perspektief hieroor te kry.

6 Maart 2017

Soos ‘n taal ontwikkel

Baie van die boeke wat deel is van die Afrifiksie-heelal, het oor tyd vele drukke en herdrukke ondergaan. Soms word werke ook hersien en aangepas, en wyk ‘n meer resente boek nogal aansienlik af van die eerste druk wat verskyn het.

Dit is ook nogal interessant dat die skrywer soms voel dat selfs die titel van die werk aangepas moet word, om by die idioom van die tyd aan te pas. Die vroegste voorbeeld hiervan kom reeds voor in die boek van W A de Klerk wat in 1945 verskyn het as Die Skarlaken Eskadril.

Die lugmag van Suid-Afrika was op daardie tydstip nog jonk, en die onderafdelings en vertakkings moes nog vorm aanneem. Hoewel die term “eskadril” wel in seker Europese lande se weermagte posgevat het, het dit toe nooit in Suid-Afrika gebeur nie en het die SA Lugmag die woord “eskader” en die SA Leër die woord “eskadron” aangeneem vir hierdie groepering. Gevolglik het die skrywer in meer onlangse uitgawes van dieselfde boek die titel aangepas na Die Skarlaken Eskader.

Nog ‘n voorbeeld hiervan is die boek van Mikro, Sias se Spoetnik.

Namate terme oor ruimtetegnologie toenemend neerslag gevind het in Afrikaans, het dit alledaags geword om van ‘n ruimtetuig te praat en is latere boeke uitgegee onder die hersienne titel van Sias se ruimtetuig.

Deesdae kom hierdie verskynsel egter minder voor, maar die inhoud van boeke word wel steeds hersien. ‘n Meer kommerwekkende verskynsel word egter waargeneem deurdat boeke, selfs in die titel, Engelse woorde gebruik. Kom ons hoop dat daar genoeg Afrikaanse woorde in die taal sal bestaan sodat hierdie neiging nie verder sal toeneem nie.

2 Maart 2017

Die eerste een vir 2017

Uiteindelik ‘n nuwe boek vir dié wat van fantasie hou. Nelia Engelbrecht het ‘n nuwe toevoeging tot haar reeks Die Poort laat verskyn, dié een heet Helers.

Die reeks is baie gewild onder jonger lesers. Kyk gerus in die boekhandel, dit is maklik verkrygbaar. Ons sal sien of die reeks verder uitgebrei gaan word. Laat weet gerus hoe jy haar boeke ervaar.

27 Februarie 2017

Glaskas 2017

Ons is bly om die beoordelaars vir ons 2017 kortverhaalskryfkompetisie aan te kondig. Die beoordeling sal in twee dele opgedeel word. Die wetenskapfiksie gedeelte sal deur Pieter Verwey beoordeel word.

Pieter is die skrywer van die uiters suksesvolle Clint Eastwood van Wyk en die Moordenaarsklok wat die stoompunk-genre vir die eerste keer in Afrikaans bekendgestel het. Hy beskik ook oor ‘n meestersgraad (MA) in kreatiewe skryfkuns wat hy aan die Universiteit van Pretoria behaal het.

Johan van Wyk sal die fantasie gedeelte van Glaskas 2017 beoordeel.

Johan is ‘n bekende by Afrifiksie en is die skrywer van die gewilde tiener WF-boek Ricky Erasmus en die inter-dimensionele rolstoel.

Ons voel bevoorreg dat dié twee skrywers bereid is om hul tyd af te staan en ons met die 2017 kompetisie te help.

Ons is baie opgewonde oor die 2017 kompetisie en het al ‘n hele klompie inskrywings ontvang. Moenie aarsel nie, stuur vir ons jou inskrywings vir hierdie jaar – ons kan nie wag om te sien hoe skeppend en behendig jy met pen en papier is nie.

Terloops, vir ‘n bietjie konteks oor kortverhale, gaan lees gerus weer Gerhardus Thompson se artikel om sy perspektief en insig te deel.

24 Februarie 2017

Want kyk, daar lê reeds spore op die maan…

Van al die plekke waar die mens homself dalk sou kon vestig, is sy naaste bure sekerlik die maklikste. Gaan kyk gerus na die bespreking van die eerste paar moontlikhede om dít ‘n moontlikheid te maak, naamlik die maanMars of die onwaarskynlike Venus.

18 Februarie 2017

Om te staar in die kristalbal

Die tweede oudste wetenskapfiksieboek in Afrikaans waarvan ons bewus is, is Seuns van die Wolke deur August van Oordt en dateer uit 1931. Dit is die verhaal van twee vriende, Piet en Tom wat ‘n avontuur beleef wat hulle oor die hele Suid-Afrika voer.

Die skrywer vertel vir ons van ‘n Suid-Afrika van die jaar 2034 – meer as ‘n eeu in die toekoms vanaf wanneer hy dit geskryf het. Hoewel die storie self relatief eenvoudig is vir wetenskapfiksie, is die wêreld wat hy geskep het verbeeldingryk. Dit is uiters interessant om te sien hoe ‘n dromer in Suid-Afrika oor die toekoms gedink het.

Die Suid-Afrika van die toekoms het grootliks na lugvaart oorgeskakel. Vrag en passasiers reis daagliks in reuse lugskepe tussen bestemmings rond, en amper almal besit hul eie privaat klein vliegtuigies waarmee hulle rondbeweeg. Hy het ‘n Suid-Afrika voorgestel met televisie wat vanoor die hele aarde uitsendings kan ontvang en waar die kyker self kan kies watter inhoud gekyk wil word. Waar radioverbinding tussen voertuie wat in die lugruim rondbeweeg gebruik word.

Daar het volgens hom ‘n grootskaalse beweging na elektrisiteit plaasgevind, veral in boerdery en padvervoer. Ook is dit reeds ingesien dat outomatisasie grootliks sou plaasvind – die vriende besoek byvoorbeeld, met hul twee vliegtuigies, ‘n hotel wat sonder enige personeel funksioneer en waar alle dienste outomaties gelewer word.

Daar is selfs aan nuwe tegnologieë gedink, soos dinamo’s wat elektrisiteit in stede kan ontwikkel deur die energie te ontgin wat in stadsgeraas voorkom. Ongelooflik!

Daar is egter ook elemente wat totaal ontbreek. Dat vliegtuie byvoorbeeld brandstof gebruik en hervul moet word is bloot nie ‘n realiteit waaraan die skrywer gedink het nie.

Die waarde van hierdie ouer WF-werke in Afrikaans is van onskatbare waarde.

August van Oordt (kiekie hierbo in 1932), het die Anglo-Boereoorlog oorleef en was saam met sy ma en ouma in ‘n konsentrasiekamp in Volksrust. Seuns van die Wolke was een van die min Afrikaanse wetenskapfiksieboeke wat in Engels vertaal is, as Sons of the Clouds. Hy het ook een ander boek geskryf maar dit was nie WF nie – in Nederlands.

Hoewel die storie self nie baie interessant is gemeet aan modenrne WF-standaarde nie, was dit verbasend populêr, en is ons bewus van sewe drukke in totaal en die Engelse vertaling veel later, in 1981.

Lees gerus die meer volledige profiel van August.

12 Februarie 2017

‘n Reeks WF Besprekings

In ‘n relatief gewone sterrestelsel, êrens tussen die derduisende ander sterrestelsels wat bestaan, is daar ‘n spiraalsterrestelsel wat deur een spesifieke spesie wat daarin woon, die Melkwegstelsel genoem word. Een van die sowat eenhonderd-duisend-miljoen (100 000 000 000) sterre wat deel uitmaak van die Melkwegstelsel, se naam is Sol.

Rondom Sol is daar omtrent ‘n dosyn planete en die meeste van die planete het meer as een maan wat daarom wentel. Sover bekend, bestaan daar slegs lewe op een van die planete in die Sol-stelsel. Dít is die enigste planeet wat presies een maan het en staan bekend as Aarde.

Volgens alle aanduidings het lewe slegs op een planeet in die Sol-stelsel ontstaan – juis op Aarde. Behalwe vir hierdie enkele feit is die planeet, die sonnestelsel waarvan hy deel uitmaak asook die sterrestelsel waarbinne dit bestaan, op geen manier uitsonderlik of spesiaal nie.

Die lewe wat op die planeet ontstaan het, het baie vertak en vele spesies laat voortspruit. En tog, van die vele spesies het slegs een daarvan ‘n hoog genoeg intelligensievlak bereik om tegnologie te ontwikkel – ‘n spesie wat geklassifiseer word as Homo Sapiens Sapiens, of in die algemene spreektaal as die mens.

Die intelligente spesie wat in die Sol-stelsel ontwikkel het, het op ‘n tydstip waarna verwys word as die twintigste eeu, ruimtevaart ontwikkel en vir die eerste keer kon hul, hul tuisplaneet verlaat.

Die mensdom gebruik ‘n ingewikkelde verdeling wat die totale populasie groepeer in versamelings wat afsonderlik van mekaar ontwikkel. Hierdie afsonderlike selle word nasionaliteite genoem. Slegs die mees suksesvolle versamelings kon daarin slaag om ruimtevaart te ontwikkel, waarvan bloot ‘n enkele een dit kon regkry om die maan van die planeet waarop die mensdom ontstaan het, te kon bereik. En die prys vir hierdie mylpaal was baie hoog – vir meer as ‘n dekade was ‘n baie groot gedeelte van hul rykdom daaraan gewy om dit reg te kry.

Nadat hierdie besonderse kundigheid en vaardigheid gedemonstreer is, het ruimtevaart ‘n wending geneem om meer op onbemande sendings te fokus deur outomatisering en robotika aan te wend om doelwitte te bereik. Bemande ruimtevaart is sedertdien beperk tot ‘n teenwoordigheid in wentelbane om die planeet self – meestal in ruimtestasies.

Ten spyte van die traagheid van die mensdom om bemande ruimtevaart verder te ontwikkel, is dit ooglopend dat dit nie onbepaald uitgestel kan word nie. Hoewel dit aanvanklik algemeen was om te meen dat die mensdom na die ander sterre in die Melkwegstelsel sou uitreik, raak dit toenemend duidelik dat dit nie haalbaar is met huidige tegnologieë nie – die skaal van die sterrestelsel is eenvoudig net té groot en die mensdom se vermoëns té beperk om interstellêre reis te onderneem – tot tyd en wyl reuse spronge in tegnologie gemaak word.

Met hierdie konteks ontstaan die vraag dus watter moontlikhede bestaan daar vir die mensdom? In ‘n aantal artikels gaan die verskillende moontlikhede bespreek word. Hierdie moontlikhede, net soos interstellêre reise, is die grondslag van baie wetenskapfiksie en daarom word dit beskou as relevant binne hierdie gemeenskap. Indien jy voel jy wil ‘n bydrae maak, kontak ons gerus.

Indien jy wonder oor die inhoud van die artikels, kyk gerus na die eerste een hiervan, naamlik die maan.

7 Februarie 2017

Nog ‘n WF Fonds

Mens kan regtig nie anders as om verstom te staan oor die hoeveelheid wetenskapfiksie wat oor die jare in Afrikaans verskyn het nie. En telkens ontdek ons iets nuut wat steeds nie op die Afrifiksie-radar van WF was nie. Die “nuutste” is ‘n papieromslag boekie getiteld Verskrikking op Venus deur ‘n onbekende skrywer Heinrich de Ridder, wat deur Landstem Boeke van Kaapstad uitgegee is.

Dit is jammer dat hierdie boek nie ‘n datum bevat nie, iets wat in al die Landstem boekies wat behoue gebly het, ontbreek. Te oordeel aan die inhoud word dit geskat op omtrent 1960. Die storie is nogal verbeeldingryk en dit word aanbeveel indien ‘n eksemplaar in die tweedehandse handel gevind kan word. As jy dalk iets weet oor die skrywer, laat ons asseblief weet.

29 Januarie 2017

Groot Fantasie in Afrikaans

Daar is baie fantasie in ons wêreld, en alhoewel wetenskapfiksie relatief ooglopend is, is die grense tussen fantasie en ander vorme van verhalende fiksie dikwels minder duidelik. Daar is geen twyfel oor suiwer fantasie met towenaars en drake nie, maar wat van die vele fabels, feëverhale en die mitologie?

Daar bestaan gelukkig ‘n aansienlike versameling van werke waaroor daar geen twyfel bestaan nie. Een van die mees indrukwekkende persone van die vorige eeu, CS Lewis het ‘n ongelooflike bydrae gemaak op die gebied van fantasie in die vorm van die Kronieke van Narnia-reeks wat sedert die eerste boek in 1950 ‘n totaal van sewe fantastiese verhale laat verskyn het. In 1967, het André P Brink Die Towenaar se Neef in Afrikaans vertaal en is dit deur Human & Rousseau uitgegee, wat in dieselfde jaar opgevolg is deur Die Leeu, die Heks en die Hangkas wat deur Helene de Villiers vertaal is. Maar toe stop dit!

Die volgende twee, Prins Kaspian en Die Perd en sy Seun sou eers in 2002 deur Janie Oosthuysen vertaal word om weer deur Human & Rousseau uitgegee te word – maar toe, weereens, staak die vertaling en bly die reeks onvolledig in Afrikaans.

Gelukkig het Protea Boekhuis besluit om die hele reeks in Afrikaans te laat verskyn, vertaal deur Kobus Geldenhuys. Met die toevoeging van Die Silwer Stoel, Die Vaart van die Dagbreker en Die Laaste Geveg is die volledige reeks nou beskikbaar in Afrikaans, met die eerste vier waarvan twee afsonderlike vertalings vir elk beskikbaar is.

Ook is die hele (aanvanklike) reeks van sewe van Harry Potter in Afrikaans beskikbaar al is dit maar onlangs deur JK Rowling geskep. Die laaste twee is ook deur Kobus Geldenhuys vertaal. Dit wil voorkom of ‘n agtste boek in die pyplyn is.

Wat egter uiters ongelukkig en verbasend is, is dat JRR Tolkien se Heer van die Ringe (Lord of the Rings) nié in Afrikaans bestaan nie ten spyte daarvan dat dit een van die heel populêrste fantasieë is wat uit dieselfde era as Narnia kom en dat Tolkien ‘n nader band met Suid-Afrika (en dus Afrikaans) het as enige van die ander genoemde werke, siende dat hy in Suid-Afrika gebore is. Dít is veral verstommend gesien teen die agtergrond dat Heer van die Ringe in vele Europese, Asiese en midde-Oosterse tale vertaal is, dit is byvoorbeeld agt keer na Russies vertaal. Interessant genoeg was die oudste vertaling van hierdie werk in 1957 na Nederlands.

Ons kan maar net hoop dat iemand uiteindelik hierdie grootse werk van Tolkien wel in Afrikaans sal laat verskyn…

26 Januarie 2017

Verlore skrywers

Dit is tog interessant om na ons lys van boeke te kyk en dan na die skrywers waarvan ons inligting het. So baie van die skrywers is totaal onbekend. Vandag weet niemand wie baie van hulle was nie. En ironies genoeg, is hierdie boeke wat hulle op hul dag geskryf en uitgegee het, die enigste rede waarom hulle buite hul familieverband onthou word.

Dit is tog lekker om uiteindelik ‘n gesig by ‘n naam te sit. Dis om dié rede dat dit vir ons ‘n voorreg is om aan te kondig dat ons uiteindelik (dog heel toevallig) op ‘n totaal ander webwerf (WOES) ‘n huldeblyk opgespoor het van Tiaan Eybers – een van die verlore skrywers wat ‘n aantal wetenskapfiksie boekies uitgebring het. Een rede vir die onbekendheid is dat dit eintlik ‘n skuilnaam was. Maar hy was ‘n indrukwekkende individu – gaan lees dit gerus onder Artikels en Skrywers. Dit is met jammerte dat ons kennis neem van sy afsterwe in 2013.

22 Januarie 2017

Nog ‘n fonds uit die verlede

Dit bly verbasend hoe gereeld ons nog Afrikaanse wetenskapfiksie uit die skat van Afrikaans opdiep – en wat tot nou toe nog nie op die Afrifiksie-radar was nie. Onlangs het ons hierdie boek ontdek en vermoed dat dit dalk deel kan wees van ons wêreld. Nou dat dit klaar gelees is, kan dit bevestig word dat ons versameling van bekende Afrikaanse wetenskapfiksie nog ‘n werk bygekry het – Kobus en die wasem deur JB Botes.

.Dit is ‘n oulike storie wat handel oor onsigbaarheid en die gewensde asook die ongewensde effekte wat dit kan hê. Hoewel dit bedoel is vir die jeug, het ek dit self baie geniet en beveel ek dit graag aan.

Kyk ook gerus na van die werklike ou verhale wat onder Bestaande WF+F by Tydskrifte gelys word. Ons voeg dit by indien ons daarvan vind, en die stories is baie interessant vir die tyd waaruit dit dateer. Gaan kyk gerus en stuur vir ons nog indien jy op ander daarvan afkom. Lekker lees…

14 Januarie 2017

Vertaalde boeke in Afrikaans

Dit is lekker (eintlik báie lekker) om iets te lees wat vir ons spesifiek geskryf is. D.w.s. vir die Afrikaanssprekende. Die name van persone en plekke wat daarin voorkom is bekend en, anders as die rolprente, voel dit beter om te weet “ek was al daar” of jouself kan indink in die presiese omgewing. Die storie anker jou as’t wate – baie lekker.

Dit is ongelukkig ook so dat baie van die mees betekenisvolle werke in wetenskapfiksie en fantasie in ander tale geskryf is en dat dit dwaas sou wees om dit bloot te ignoreer. Dit is dan ook so dat vele boeke wat ons tans in Afrikaans het, juis vertaal is uit ander tale. En ek wil graag ‘n pluimpie gee aan die vertalers – die internasionale werke wat ek in Afrikaans gelees het was sonder uitsondering voortreflik. My mening is dat die vertalers uiters kundig is en waarskynlik ‘n band met die boek ontwikkel terwyl hulle daarmee besig is.

Daar is egter soveel regtig goeie wetenskapfiksie en fantasie wat egter nooit in Afrikaans vertaal is nie – en hoewel dit jammer is, is dit ‘n noodwendigheid van die feit dat Afrikaans ‘n relatief klein taal is in die internasionale konteks en dat wetenskapfiksie en fantasie ‘n klein aanhang binne die Afrikaanse konteks geniet.

Dit is juis oor hierdie rede dat ek verstom was toe dit onlangs onder my aandag kom dat een spesifieke werk, Dr. Jekyll en mnr. Hyde van Robert Louis Stevenson, twee keer en totaal onafhanklik van mekaar in Afrikaans vertaal is. Die eerste is in die 1950s (geskat – datum onbekend) deur P v.d. M Erasmus, en die tweede in 2007 (Human & Rousseau) J Kromhout, JL van Schaik. Beide werke is baie goed. Daar het natuurlik ook ‘n strokiesprent daaroor in Afrikaans verskyn, en daar is ook ‘n uiters swak (basies onleesbare) weergawe wat deur ‘n rekenaar vertaal was.

Om ‘n idee te gee van die verskille in aanslag van die twee vertalers word die eerste sin uit elk aangehaal.

1950:

Mnr. Utterson, die advokaat, is ‘n man met ‘n suur, verrimpelde gelaat wat nooit deur ‘n glimlag opgehelder word nie.

2007:

Op die oog af is prokureur Utterson ‘n nors en onvriendelike persoon, iemand wat hom eenkant hou en moeilik is om aan die praat te kry.

Beide boeke lees heerlik, in baie goeie Afrikaans, en voer jou ‘n eeu terug na ‘n London met baie rook, koetse en nostalgie.

Ongelukkig het die 1950 boek nie meer ‘n stofomslag nie.

Dit is egter verstommend dat baie boeke nooit in Afrikaans beskikbaar is nie, en dan is daar hierdie frats wat meer as een keer bestaan – moenie verkeerd verstaan nie, ek kla glad nie. Dit kom bloot as effens onnodig voor.

Ons het besluit, gebasseer op terugvoer, dat ons die moontlikheid gaan ondersoek om Isaac Asimov se Foundation verhaal in Afrikaans te vertaal. Dis nog maar die begin van die ondersoek, en wanneer ons ‘n bietjie meer rigting hieroor het, sal ons dit deel. Hou vir ons duim vas.

Indien jy taalkundig sterk of opgelei is en graag ‘n bydrae wil maak, oorweeg dit om een van die werke wat nie in Afrikaans bestaan nie, te vertaal – hier is ‘n groep entoesiaste wat dit sal opslurp…

7 Januarie 2017

Luukse Rolprentteaters…

Daar is iets te sê vir die hele fliek-ervaring van ‘n grootse wetenskapfiksie- of fantasie-rolprent. Die opwinding om saam met die ander halfmal fanatici voor die deur van die teater saam te drom. Die donker atmosfeer wat reeds ‘n tipe milieu skep wat die opwinding selfs hoër laat styg. Die oorverdowende harde, helder klank wat die ontploffing se werklikheid jou laat omsingel en insluk. Die gróót skerm wat jou nie toelaat om weg te kruip nie en jou saamsleur in die stroom af sodat jy saam met die res van die teater uiteindelik oor die waterval na benede kan tuimel. Die verversings, die gefluister, die afwesigheid van ‘n vriesknoppie op ‘n afstandbeheer sodat jy eers gou toilet toe kan gaan. Die HELE fliek-ding is dood eenvoudig asemrowend en ‘n noodsaaklike deel van die WF+F-kultuur.

Die koms van die 3D tegnologie, wat deur baie beskou word as die beste ding sedert die koms van die laserswaard, dink ek is eintlik ‘n trappie agteruit. Jip, ek stem saam dat ‘n werklike 3D-toneel jou woordeloos laat, maar die realiteit in flieks is gewoonlik nie so spesiaal nie. In die eerste plek, is die meeste tonele in ‘n fliek nie besonder driedimensioneel nie. ‘n Toneel waar ‘n paar karakters met mekaar gesels byvoorbeeld, baat nie veel deur die 3D-vermoë van ‘n fliek nie. Maar selfs in die meeste rolprente het die vervaardigers dikwels nie spesifiek die 3D-ding in gedagte gehou tydens die vervaardiging daarvan nie, en is daar eintlik geen tonele wat wérklik 3D vereis of daarby baat nie.

En dan is daar die oordrewe 3D-vervaardigers wat 3D-tonele geskep het wat so ingewikkeld is op vele vlakke, dat die kyker se oë nie oral op die skerm gefokus kan kry om alles in te neem nie. Ook vind ek dat my kinders is se optiese vermoëns beter presteer as myne. Dis ‘n bekende feit dat die oog-optika verswak met ouderdom. Verder, moet ‘n mens jou kop mooi regop hou vir die 3D-effek. Sou jy dit sywaarts kantel, hou die 3D-effek op en raak alles uit fokus. My hoofbeswaar is egter dat die 3D-bril veroorsaak dat die beeld donkerder vertoon as daarsonder. Wanneer ‘n fliek reeds baie donker tonele bevat, doen die 3D-bril eintlik afbreek aan die fliekervaring.

Maar wag, ek dwaal af. Laat ek liewer vertel van my onlangse ervaring. Al die groot en vernaamste fliekgroepe het deesdae ‘n “eersteklas” diens. Dit werk soos volg. Jou kaartjie is aansienlik duurder as die standaardprys, en laat jou in ‘n besonder luukse teater fliek, met sitplekke wat kan terugslaan soos dié van ‘n eersteklas vliegtuigkaartjie. Jy kan ook van ‘n spyskaart af lekkernye bestel wat dan in die teater deur kelners aan jou bedien word. Baie benydenswaardig – en duur!

So besluit ek dat ek nie die nuwe Star Wars, Rogue One gaan kyk toe dit uitgereik word nie, maar gaan wag tot die verjaarsdag van my dogter wat in die eerste week van Januarie verjaar. Vir ‘n gesinsuitstappie neem ek toe die gesin vir Rogue One in eersteklas. Ons is almal baie opgewonde en voel soos belangrike mense in die glaskaswagkamertjie buite die teater waardeur die gewone fliekgangers leepoog na ons “rykes” kan staar. Die spyskaart is vreemd – en min van die spys en drank daarop is eintlik geskik vir ‘n fliek. Toe, uiteindelik, kan ons ingaan. Ons sit voor. Tot my verbasing is “voor” steeds vrek vêr van die skerm af – sodat die kelners spasie kan hê om te beweeg.

Die sitplekke is heerlik, en ons almal speel soos klein kindertjies met die knoppies wat die sitplekke op en af laat slaan. Maar toe vir die groot oomblik – die fliek self. Dit is ‘n 3D-fliek wat my reeds irriteer want Rogue One het nogal taamlik baie donker tonele. Daarmee saam, word die teater nooit regtig donker nie. Omdat die kelners mense moet bedien, is daar liggies by elke sitplek aangebring om te kan sien wat jy eet en dat die kelners nie oor hulle voete val nie. Die gevolg is dat die teater skemer is deur die hele rolprent deur, wat die donker tonele nog moeiliker maak om te sien – veral met die 3D-bril op.

Tot my verbasing is die deur vir die teater voor langs die skerm, met ‘n verligte aanwysing om dit uit te wys as ‘n nooduitgang. Dit het nooit opgehou om almal waarmee ek na die tyd gepraat het, te steur nie. Maar die kersie op die koek was natuurlik dat die verkeer van kelners in en uit die teater, wat telkens die deur moes oopmaak en natuurlik lig van buite die teater af op die skerm laat val, soos die hoofligte van ‘n motor in ‘n outydse inryteater.

Nee wat, vir die fortuin wat die eersteklas fliek my gekos het, is ek hoogs teleurgesteld. Nooit weer nie. ‘n Gewone kaartjie vir ‘n gewone donker teater bly maar die beste – en is heel bekostigbaar.

5 Januarie 2017

Nuwe uitdagings – 2017

2016 was ‘n besige jaar vir Wetenskapfiksie en Fantasie, en Afrifiksie moes klou om bo-op die branderplank te bly. Talle boeke het verskyn en mens kon kwalik voor bly om alles wat in Afrikaans beskikbaar gestel was te kon lees.

Die rolprentwêreld was selfs nog meer produktief, en om elke fliek in ons veld te sien sou ‘n klein fortuin kos – en ook baie ure opslurp. Behalwe vir een of twee, was die gehalte van die rolprente voortreflik met spesiale effekte (FX) wat net al beter en beter word. Dis verstommend dat daar nuwe flieks uitgekom het in drie van die grootste WF+F handelsname, nl. Star Wars, Star Trek en Harry Potter – in dieselfde jaar! En 2017 lyk ewe belowend met die moontlikheid van ‘n nuwe Avatar in die pyplyn.

Ook, ons wêreld verander al vinniger in ‘n toenemend meer tegnologiese omgewing – en dit maak die uitdagings vir die wetenskapfiksieskrywer al moeiliker, want wat gister nog wetenskapfiksie was is vandag werklikheid. Tog is dit verbasend dat daar nietemin steeds dinge uit die verlede is wat tog nog onder die radar kon bly sonder dat ons kennis van geneem het. So byvoorbeeld het ons onverwags op die volgende fonds afgekom – Die Koningin van Skeba se tydmasjien deur Rian Pieterse.

Dit is ‘n jeugboekie wat tot nóg toe nie in ons lys verskyn het nie (maar natuurlik nou bygevoeg sal word). Laat weet ons asseblief indien jy weet van werke wat ons nie lys nie.

Afrifiksie gaan in 2017 poog om relevant en op datum te bly en om spesifiek die Afrikaanse fantasie werke ‘n bietjie beter te dokumenteer. Sterkte met ‘n nuwe jaar met nuwe uitdagings en geleenthede…

29 Desember 2016

Nog vir 2016

Die jaar 2016 het ‘n goeie oes Afrikaanse Fantastika opgelewer, met ‘n hele aantal nuwe titels wetenskapfiksie wat op die tydlyn van ons boeke gesien kan word. Maar dit is darem nie net wetenskapfiksie nie – hierdie fantasie boeke vir die jeug het ook in 2016 verskyn en is tans in die handel beskikbaar. Die Poort – Bewakers en Die Poort  – Reisigers van Nelia Engelbrecht is deur Tafelberg uitgegee.

Dit is twee in ‘n reeks van boeke wat handel oor jongmense wat besondere kragte gebruik om ‘n roeping wat hul opgelê is tot uitvoer te bring. Kry dit gerus en laat weet wat jy hiervan dink.

21 Desember 2016

Nuut op die rak

Dit is nie aldag dat van die grootse skrywers in Afrikaans hulle begewe in die veld van wetenskapfiksie nie. Oor tyd het talle van die groot en bekendste skrywers tog wel bydraes gemaak tot hierdie veld, waaronder CJ Langenhoven, Jan Rabie en Wille Martin genoem kan word, maar dit was gewoonlik nie die veld waarvoor hulle primêr onthou word of hul grootste aanhang voor geniet het nie.

Tans, by al die vernaamste boekhandelaars kan Koors deur Deon Meyer aangeskaf word. Dit is ‘n grootse werk van byna 600 bladsye wat jou meesleur in ‘n interessante post-apokaliptiese Suid-Afrika op ‘n vlak wat jou laat een word met die vele kleurryke karakters in die verhaal.

Dit is nie harde wetenskapfiksie nie, maar staan nie ‘n aks terug vir ander verhale wat onlangs hierdie tema op ‘n internasionale vlak aangepak het, soos World War Z nie. ‘n Vername verskil is dat dit maklik is om met hierdie karakters te vereenselwig, want hulle is só bekend – dis jou bure en vriende en familie… Ook die plekke is vol nostalgie en kan in die geestesoog gesien word.

Nodeloos om te sê dat vele van Deon Meyer se tradisionele leesers straks nie hiervan sal hou nie, maar dit word sterk aanbeveel as ‘n welkome toevoeging tot die Afrifiksiewêreld. Kry dit gerus en lees dit in die kerstyd – saam met vrugtekoek, natuurlik…

Kyk gerus na ons argief vir vroeëre plasings op hierdie blad…

  • Denzilthompson

    Gerhardus, die gedeelte wat jy vertel het van die Loeloeraai sal ek dit graag wil kry en lees want dit klink nogal baie lekker. Hou aan met die goeie werk my broer.

  • Francisco

    Fantastiese idees –

  • Denzil

    Anike Kirsten, Weereens welkom hier by ons. Hoop jy sal dit geniet hier. Ons almal is nog nuut hier en skrikerig om te gesels maar sodra iemand gaan begin, glo ek die vonke sal spat. Weereens welkom daar van my tuis dorp se wêreld af.

  • Naomi

    Ons is opsoek na enige aantekeninge oor Loeloeraai (milieu, intertekstuele verwysings). Kan iemand ons help?

    • Seun Thompson

      Beste Naomi. Die beste raad wat ek kan gee is kyk of jy 1972 (negentiende druk) in die hande kan kry. Daar is geweldig baie aantekeninge siende dat dit vir ‘n tyd ‘n voorgeskrewe boek was op skool en die aantekening was vir die leerlinge geplaas agter in die boek.
      Hoop jy kom reg.

  • J.V. Van Wyk

    Kan nie wag om die nuwe boeke te sien nie!

  • Salmon Smith

    Dankie aan Johan van wyk vir my AFRIFIKSIE Tshirt wat ek ontvang het. Dit pas my perfek. En ek is nie net ‘n bietjie trots daarop nie.

    • J.V Van Wyk

      Groort plesier ou maat – kom ons maak seker dat hierdie genre vlam vat in Afrikaans

  • Chantal

    Ek wonder wie is ons nuwe WF en F beoordelaards vir volgende jaar se WF en F- kortverhaal kompetisie?

  • Chantal

    Ek het die Afrikaanse Skryfgids gekoop, in 2015. Wat ‘n ongelooflike boek! Maar wil van volgende maand begin om e-boeke te koop en te lees by AfriFiksie. Maar ek het net een probleem. My rekenaar ken nie Epub nie? Te oud of iets. Is daar dalk ‘n manier hoe ek van die boeke in pdf kan aflaai, nadat ek dit gekoop het? Want op my slimfoon het ek onlangs ‘n ‘UB Reader App’ afgelaai. En hy kan e-boeke in pdf formaat lees. Kan AfriFiksie dit doen?

    • Kosenator

      Hallo Chantal. Jy kan op SourceForge.net gaan kyk, daar is ‘n programmetjie genaamd Cool Reader. Dit word gereken om ‘n hele klompie elektroniese drukke te kan lees.

      • Chantal

        Dankie vir die inligting. Ek you ook van die ice cream been wat jy gratis kan aflaai op jou rekenaar. Jy werk net in Epub format.

  • Chantal

    Dankie Gerhardus Thompson vir die WF- woordeboek. Dis uitstekend en briljant beplan. Het die boek gisteraand begin deurlees. Groete.

  • Salmon Smith

    Dis vir my ‘n groot skok om te verneem van die ontrekking van my groot vriend Joe Botha. Ek stem volkome daarmee saam dat ons defnitief ‘n groot reus in die letterkunde verloor het. Ek is bevoorreg om hom persoonlik te ken en noem hom met trots, “boeta Joe”. Hy is ook die een wat my van raad voorsien rakende my skrywes.
    Boeta Joe, jy is soos ‘n ‘broer’ wat ek hier in ons ‘familie’ verloor het. Jy gaan beslis hier gemis word.

  • Chantal

    Baie geluk aan Machiel Viljoen! Ek’s opgewonde om te lees dat Afrifiksie gaan voort leef!

    • Machiel Viljoen

      Dankie Chantal, ons sal doen wat nodig is om die wiel aan die rol te hou…

  • Machiel Viljoen

    Baie dankie Chantal, ons sal doen wat ons moet om die wiele aan die rol te hou…

  • Chantal Pretorius

    Die boek klink baie interessant!

  • Elsabé

    Machiel, het jy dalk ‘n idee wanneer die kortverhaal kompetisie uitslae bekend gemaak gaan word. Volgens di einskrywings reëls sou dit al die 31 Aug gewees het.

  • Anna Van der Walt

    Beste Machiel. Ek is bly jy sit die werk van Afrifiksie voort. Ek het ‘n opvolgverhaal op my wetenskapsfiksie boek “Leo” geskryf en dit self gepubliseer, aangesien Thompson Boekdrukkery gesluit het. Ek noem dit, aangesien julle vra na ongelyste boeke. Die boek “Stellamarie” is verkrygbaar in die webwinkel van Groep7Drukkers.

    • Machiel Viljoen

      Dankie Anna, dit klink fantasties – ek is bly jy bring dit onder ons aandag. Kontak my asseblief by machiel.viljoen@afrifiksie.com met meer inligting. Ek sal graag verder met jou hieroor wil gesels….

  • Anna Van der Walt

    Baie dankie, Machiel, vir die waarskuwing oor die masjienvertaalde boeke. Ek hoop dit bereik genoeg mense betyds, want dit kan baie skade doen aan die belangstelling in Afrikaanse wetenskapsfiksie.

    • Machiel Viljoen

      Ja, Anna – dis skokkend hoe swak dit is. Baie is onleesbaar. ‘n Mens moet maar hou by boeke wat in Afrikaans geskryf is of wat deur ‘n bekwame PERSOON vertaal is…

  • Chantal Pretorius

    Afrifiksie lyk baie goed! Hou so aan met die goeie werk Machiel Viljoen!

  • Chantal

    Om te gaan fliek kos ‘n fortuin. Wag DAT dit op DVD kom.

    • Machiel Viljoen

      Ja Chantal, dit is omtrent duur. Mens moet maar mooi dink of dit die moeite werd is…

  • Henrietta

    Ek sien uit daarna om die opvolg artikels te lees.

  • Chantal Pretorius

    Ekskuus as ek jou pla Machiel, maar my korverhaal (Die advertensie) is nog glad nie gepubliseer op die webbblad nie. Ek begin bekommerd te raak.