‘n Onderhoud gevoer met Eben van Renen

Afrifiksie het op die 30ste Oktober 2011 met Eben van Renen gaan gesels oor sy nuwe Afrikaanse wetenskapfiksie-boek gititeld: Arwantië 2953 wat deur Thompson Boekdrukkery uitgegee gaan word. Afrifiksie deel dit graag met u.

Eben van Renen Arwantië 2953AF: Hoe lank skryf jy al?
E.vR: Ek is eintlik maar ʼn beginner in skrywersterme. Ek skryf ernstig sedert so 2005, al het ek voor dit gereeld gedig.

AF: Wie is jou uitgewer?
E.vR: Op die oomblik gee Thompson Boekdrukkery my boeke uit. My eBoek is ook op Smashwords beskikbaar.

AF: E-boek of ‘n gedrukte boek?
E.vR: Mens kan dit in albei formate aanskaf. Smashwords het dit beskikbaar by www.smashwords.com/books/view/100173 as eBoek, en mense kan my direk kontak vir die sagteband. Een van die dae behoort dit op amazon.com en kalahari.net beskikbaar te wees.

AF: Waar kom jy oorspronklik vandaan?
E.vR: Melkbosstrand. Maar ek was in Sasolburg in die Vrystaat gebore.

AF: Waarom het jy hierdie boek geskryf?
E.vR: Ek was as kind baie gefrustreerd met die piepklein Afrikaanse wetenskapfiksie genre. Ek het toe een dag net besluit dat ek ook ʼn storie wil vertel, en dat dit netsowel ʼn Afrikaanse WF verhaal kan wees. Ek het dit baie geniet. Dit was ʼn avontuur gewees en het vinnig gegaan.

AF: Het jy ‘n spesifieke skryfstyl ontwikkel?
E.vR: Ja. My skryfstyl is steeds besig om te ontwikkel. Ek vermy twee dinge veral: Hoogdawerende taal, en brabbelmieks. Ek verkies dus regte mens-karakters, maar karakters wat hulle eie taal magtig is.

AF: Wat inspireer jou om skryf en hoekom?
E.vR: Ag, mens skryf seker maar vir dieselfde rede as wat jy verf of liedjies-skryf. Jy moet. Jy het nie ʼn keuse nie. Daar is ʼn kreatiewe vonk en jy moet daaraan uiting gee.

AF: Het jy al aan ‘n ander boek begin skryf?
E.vR: Ja, ʼn tipe Fritz Deelman boek, maar dit was my eerste boek gewees en ek het dit sommer net as oefening beskou. Ek sal seker eendag weer daarna kyk. Ek het ook genoeg kortstories om in ʼn bundel te plaas, maar om ʼn onderliggende tema te vind vir al my kortstories sal maar sukkel.

AF: Wat is jou doelwitte as ‘n WF/F skrywer?
E.vR: Ek wil die District 9 of Harry Potter skryf vir Afrikaans, maar dit moet heeltemal oorspronklik wees. Ek wil hê dat my leser moet voel die boek is nie ʼn vertaling nie, maar ʼn boek wat oorspronklik in Afrikaans geskryf is en dat die skrywer nie skaam is vir Afrikaans nie. Ek wil hê my leser moet heeltemal verlore raak in die storie, kan ontvlug. Ek wil eendag verneem van ʼn leser wat kwaad is vir my omdat hulle nie die boek kon neersit nie en hulle eie troue gemis het. Of begrafnis, miskien.

AF: Wie het die omslag van jou boek ontwerp?
E.vR: Carel van Renen, my jongste broer. Hy is formeel opgelei as grafiese kunstenaar en het meer talent as wat goed is vir hom. Dit het baie soebat gekos, want ek het niemand anders vertrou nie.

AF: Wat is jou gunsteling deel van die skryfproses?
E.vR: Weens my skryfstyl se onvoorspelbaarheid is dit asof ek die eerste leser is. Ek weet nie wat in die oggend gaan gebeur as ek voor die rekenaar inskuif nie. Die karakters doen wat hulle wil, ek staan terug en geniet net die proses. Partykeer as ek met my vrou gaan praat na ʼn skryfsessie, begin ek deur te sê; “Jy sal nie glo wat vandag al weer gebeur het nie…” Maar dit is gepas, want ek forseer nie my karakters om te doen wat ek wil hê hulle moet doen nie.

AF: Is daar enige verborge boodskappe in jou stories?
E.vR: Daar is temas en ook ʼn tweede storielyn. Ek probeer om my leser nie te veel te vermoei met die geheime nie. Hulle lees meestal om te ontvlug, nie om voor gepreek te word nie.

AF: Kan jy ons bietjie meer vertel van jou hoofkarakter?
E.vR: Hy is maar ʼn gewone ou, miskien bietjie meer van ʼn ideale Afrikaner-stereotipe. Hy moet vinnig leer om sy vinnig-veranderende lewe beter te hanteer. Hy raak ʼn buitestander. Daar is nie maklike antwoorde vir hom nie, net moeilike kopskuiwe en keuses.

Resensies en koerantberigte:

Resensie van Arwantië 2953 deur Ilse Steyn

Die meeste van ons verwag van ‘n wetenskapfiksieskrywer om vir ons ‘n ander wêreld met herkenbare karakters en interessante probleme te skep. Eben van Renen het hierdie uitdaging ver oortref want hy het die wêreld en sy mense ‘n uitgebreide geskiedenis gegee, tegnologie wat so verduidelik word dat dit sin maak, ‘n hele skala aan wapens, groot probleme en ‘n onoorwinlike vyand. En hoe daardie vyand uiteindelik aangepak word is ‘n triomf vir hierdie skrywer se verbeelding en my my simboliese hoed laat afhaal en ‘n diep buiging maak.

Sy verhaal het natuurlik ‘n held, ‘n heldin, die heldin se suster en hulle beduiwelde pa – maar pasop, niks is of gaan wees, soos dit lyk nie. Daar is verder baie eiename: Totius, Langenhoven, Ghana, Ossewa, maar weereens is dit pure boereverneukery. En dit is die onkeerbare momentum van die verhaal wat my lank na my slaaptyd laat bly lees het totdat ek uiteindelik – uitgeput van saamleef en veg – die stryd gewonne moes gee.

En dit was juis toe dat die gedagte my tref:  Waar was Afrikaanse uitgewers wat moes besef het dat dit eintlik ‘n boek of drie van ‘n baie spannende reeks moes wees? Dit kon ‘n reeks gewees het wat leessku seuns (en meisies) soos myne Afrikaans sou laat lees het toe Fritz Deelman (wat hulle ma ook laat lees het) nie meer interessant genoeg was nie. Daarom het hulle later Terry Pratchett se boeke verslind. Ons kon ons eie wetenskapfiksiereeks vir jong volwassenes – en sommer vir baie ouer lesers gehad het – iets in die trant van Harry Potter maar nog meer spannend.

Daar is gebreke:  Soms word die ritme deur te veel detail versteur; die skrywer skram weg van die held en heldin se liefdeslewe; en daar is lelike taalgoggas. Daar is min tekens van die skrywer se briljante droë sin vir humor soos dit in sy kortverhale gebruik word en wat elke tienerhart sal verower. Aan die anderkant word drama nooit melodrama nie. En die einde is briljant as die “beste-vriend-van-die-held” – die ou wat ons almal ken – uiteindelik beloon word.

As jy die tipe lesers is wat wil verdwyn in ‘n storie of jongvolwassenes ken wat taai is vir lees, koop hierdie boek! Ons kan dankbaar wees dat dit in Afrikaans geskryf is want in enige ander taal was dit steeds ‘n sukses.