‘n Onderhoud gevoer met Eben van Renen

Afrifiksie het onlangs (30/10/2011) ‘n onderhoud gevoer met Eben van Renen, die skrywer van Arwantië 2953, en ons deel dit graag met u.

AF: Hoe lank skryf jy al?
EvR: Ek is eintlik maar ʼn beginner in skrywersterme. Ek skryf ernstig sedert so 2005, al het ek voor dit gereeld gedig.

AF: Wie is jou uitgewer?
EvR: Op die oomblik gee Thompson Uitgewers my boeke uit. My e-boek is ook op Smashwords beskikbaar.

AF: E-boek of ‘n gedrukte boek?
EvR: Mens kan dit in albei formate aanskaf. Smashwords het dit beskikbaar by www.smashwords.com/books/view/100173 as e-boek, en mense kan my direk kontak vir die sagteband. Een van die dae behoort dit op amazon.com en kalahari.net beskikbaar te wees.

AF: Waar kom jy oorspronklik vandaan?
EvR: Melkbosstrand. Maar ek was in Sasolburg in die Vrystaat gebore.

AF: Waarom het jy hierdie boek geskryf?
EvR: Ek was as kind baie gefrustreerd met die piepklein Afrikaanse wetenskapfiksie genre. Ek het toe een dag net besluit dat ek ook ʼn storie wil vertel, en dat dit netsowel ʼn Afrikaanse WF verhaal kan wees. Ek het dit baie geniet. Dit was ʼn avontuur gewees en het vinnig gegaan.

AF: Het jy ‘n spesifieke skryfstyl ontwikkel?
EvR: Ja. My skryfstyl is steeds besig om te ontwikkel. Ek vermy twee dinge veral: Hoogdawerende taal, en brabbelmieks. Ek verkies dus regte mens-karakters, maar karakters wat hulle eie taal magtig is.

AF: Wat inspireer jou om skryf en hoekom?
EvR: Ag, mens skryf seker maar vir dieselfde rede as wat jy verf of liedjies-skryf. Jy moet. Jy het nie ʼn keuse nie. Daar is ʼn kreatiewe vonk en jy moet daaraan uiting gee.

AF: Het jy al aan ‘n ander boek begin skryf?
EvR: Ja, ʼn tipe Fritz Deelman boek, maar dit was my eerste boek gewees en ek het dit sommer net as oefening beskou. Ek sal seker eendag weer daarna kyk. Ek het ook genoeg kortstories om in ʼn bundel te plaas, maar om ʼn onderliggende tema te vind vir al my kortstories sal maar sukkel.

AF: Wat is jou doelwitte as ‘n WF/F skrywer?
EvR: Ek wil die District 9 of Harry Potter skryf vir Afrikaans, maar dit moet heeltemal oorspronklik wees. Ek wil hê dat my leser moet voel die boek is nie ʼn vertaling nie, maar ʼn boek wat oorspronklik in Afrikaans geskryf is en dat die skrywer nie skaam is vir Afrikaans nie. Ek wil hê my leser moet heeltemal verlore raak in die storie, kan ontvlug. Ek wil eendag verneem van ʼn leser wat kwaad is vir my omdat hulle nie die boek kon neersit nie en hulle eie troue gemis het. Of begrafnis, miskien.

AF: Wie het die omslag van jou boek ontwerp?
EvR: Carel van Renen, my jongste broer. Hy is formeel opgelei as grafiese kunstenaar en het meer talent as wat goed is vir hom. Dit het baie soebat gekos, want ek het niemand anders vertrou nie.

AF: Wat is jou gunsteling deel van die skryfproses?
EvR: Weens my skryfstyl se onvoorspelbaarheid is dit asof ek die eerste leser is. Ek weet nie wat in die oggend gaan gebeur as ek voor die rekenaar inskuif nie. Die karakters doen wat hulle wil, ek staan terug en geniet net die proses. Partykeer as ek met my vrou gaan praat na ʼn skryfsessie, begin ek deur te sê; “Jy sal nie glo wat vandag al weer gebeur het nie…” Maar dit is gepas, want ek forseer nie my karakters om te doen wat ek wil hê hulle moet doen nie.

AF: Is daar enige verborge boodskappe in jou stories?
EvR: Daar is temas en ook ʼn tweede storielyn. Ek probeer om my leser nie te veel te vermoei met die geheime nie. Hulle lees meestal om te ontvlug, nie om voor gepreek te word nie.

AF: Kan jy ons bietjie meer vertel van jou hoofkarakter?
EvR: Hy is maar ʼn gewone ou, miskien bietjie meer van ʼn ideale Afrikaner-stereotipe. Hy moet vinnig leer om sy vinnig-veranderende lewe beter te hanteer. Hy raak ʼn buitestander. Daar is nie maklike antwoorde vir hom nie, net moeilike kopskuiwe en keuses.