Die Blokman – Marietjie Uys

Die blokman – 2017 © marietjie uys

Volwasse Wetenskapfiksie

Dit is vir Ronnie ‘n uitgemaakte saak hoe hy vandag gaan stem. Dit is tyd dat mense weer stemreg kry in hierdie wêreld. Dit word haas onmoontlik om die haglike toestande waarin mense bly mis te kyk. Die vestings bied min beskerming teen die elemente, terwyl die maghebbers hulleself verksans agter temperatuur-gereguleerde mure! Dit is ‘n skreiende skande! Die onreg van die wanbalans stuit Ronnie voor die bors.

Hy het nie altyd so geredeneer nie. As blokman, het daar by hom geen grysgebied bestaan nie. Hy het geweet waar elkeen se plek was en hy het gesorg dat die skanse tussen die verskillende partye veilig gehou word teen enige aanvalle. Die saak was klinkklaar. Vanwaar dan hierdie nuutgevonde kennis dat die skanse onregverdig is? Ronnie is nie geprogrammmeer tot selfondersoek nie. Dit kom nie by hom op om hierdie vraag te vra nie. Sy bedrading is so opgestel dat hy ‘n probleem identifiseer en dan soek na ‘n oplossing om die probleem so effektief moontlik te elimineer. Dit is waarom hy weet dat vandag se stemmery pure oëverblindery is. Hy kan heel teenstrydig met sy eie besluite stem as hy wil. Die uitkoms van hierdie referendum is uitgemaak. Hy het self daarvoor gesorg. Ronnie pons sy stem in die sisteem in.

Nadat die blokman sy stem ingepons het, is daar by hom geen teken van skuld of tevredenheid te bespeur nie. Dis nie in sy vermoë om emosie te ervaar of te uiter nie. Hy is doelgerig, klinies en saaklik; die verpersoonliking van alles waarna Kunsmatige Intellegensie nog altyd gestreef het. Anders as die robotte wat geprogrammeer word om menslike emosies na te boots, die Estitika. Hierdie robotte besorg hom eindelose ongerief en probleme in sy werk.

Dit is grootliks te danke aan hulle dat daar voortdurend geld bestee moet word aan onsinnige sake soos kunsgallerye, dieretuine, musiek en vele ander voorbeelde wat hy met groot gerief uit sy lewe sou wou sny. As dit van hom afgehang het, was alle oorblywende mense lankal in dieretuine gevestig met behoorlike maatreëls in plek om getalle te beheer. Maar nee! Die Estetika Robotte veg vir die behoud van Retro-bewaring en wil dat mense steeds vryheid van beweging geniet tussen die robotika wat hul omring. Na alles, hou hulle geen gevaar in vir robotte nie. Hulle is skadeloos.

Skadeloos? Was Ronnie geprogrammeer om te snork, sou hy dit nou gedoen het. As die Estetika spul maar geweet het waartoe mense alles in staat was! Maar hulle sit veilig in hulle estetiese waan van retro-bewaring en hoef hulle nie op te hou met die dag tot dag aanslae op die moederbord wat hulle wêreld beveilig nie. Dit is sy taak. Hy is die blokman. Hy moet keer dat virusse, spioenasieware en ander destruktiewe programmerings-klewers, nie deurglip en chaos in die geordende samelewing veroorsaak nie. Hiervan weet hulle niks nie.

Dit is weereens slegs ‘n programmeringsgebrek wat Ronnie weerhou van ‘n siniese glimlag. Hy kan slegs klinies redeneer oor die vermorsing van energie en hulpbronne wat die Estetika gelukkig hou. Dis nie die eerste keer dat Ronnie hierdie sake bedink nie. Nee, die eerste keer wat hy hierdie saak bekyk het, het hy dit as ‘n probleem geïdentifiseer. Daarna het sy eie progremmering ingeskop en het hy die beste metode gevind om die probleem te hanteer. ‘n Klein verstelling in die algoritmes was al wat nodig was. Die Estetika span is nie eens bewus daarvan dat hulle kreatiwiteit op ‘n ses-maadelikse siklus roteer nie. Hulle is vas onder die indruk dat hulle kunswerke in gallerye en museums bewaar word, maar dit is slegs nodig om een kopie van elke werk te bewaar. Beskadigde werke word vervang en die res word verbrand. Die verstelling in die algoritme sorg dat hulle salig onbewus bly van die feit dat hulle elke ses maande oor en oor dieselfde werke produseer. Gerieflik, hanteerbaar, beperk, veilig. Dis soos hy van sy bestaan hou.

Vandag is egter nie ‘n gerieflike dag nie. Vandag is stemdag. Vandag kan hy verskeie aanvalle op die sisteem verwag. Hy sal moet bontstaan om hulle die hoof te bied.

Hy geniet hierdie spel. Wanneer hy met ander robotte te doen het, is sy bestaan vervelig en voorspelbaar. Hy weet presies waartoe elkeen in staat is en hoe hulle gaan optree in gegewe situasies. Hierdie voorspelbaarheid van sy eweknieë het ‘n tipe meerderwaardigheid by hom geskep. Dit is slegs hy wat toegang het tot hierdie allesomvattende kennis van die ander robotte. Daar was besluit om hierdie kennis tot die blokman te beperk om sodoende verhoogde bestaansgehalte vir die res van die robotte te verseker. Dit bevredig hom om te weet waar hy staan met ander robotte. Tog, laat sy vermoë tot kreatiewe probleemoplossing hom onvergenoeg wanneer hy nie kans gegun word om homself te bewys tussen sy eweknieë nie. Die mense is ‘n ander saak. Hulle weet waartoe hy in staat is.

Daar is elke dag ‘n minimum van 9011 aanslae op die sisteem. Dit is die minste aanslae wat hy op enige gegewe 24 uur siklus moes blokkeer die afgelope 95 jaar. Op verkiesingsdae neem hierdie getal dramaties toe. Met die vorige verkiesing het die aanslae ‘n rekordtal van 301 578 bereik. Hy het elkeen van daardie aanslae persoonlik geïdentifiseer en geblokkeer. As Ronnie geprogrammeer was om trots te wees, sou hy dit nou ervaar het, maar hy is nie. Hy kan slegs plesier put uit die toets wat dit aan sy redenasie-vermoëns besorg het. Daar was ‘n breukdeel van ‘n sekonde waar sy geheue gedreig het om te hang, maar die reuse hoeveelheid RAM waarmee hy homself voortydig toegerus het, het dit voorkom en hy kon elke virus sorgvuldig isoleer vir latere ondersoek.

Die mense se vernuf, kennis en kreatiwiteit laat hom soms in verwondering. Hy leer baie by hulle. As hy in staat was tot introspeksie, sou hy besef het dat hy sy superieure kennis aan die mens se saamgestelde intellegensie te danke het. Maar sy programmering stel hom nie in staat om by hierdie kennis uit te kom nie. En daarmee saam kan hy ook nie by ‘n besef van respek vir die mens uitkom nie. Dit verhoed hom om die mens te waardeer, of om hom te geniet as waardige opponent. Hy kan slegs die binêre sekwensies van hulle aanslae verstaan en tot die gevolgtrekking kom dat die mens se vermoëns om hierdie reekse telkens in nuwe versamelings te organiseer, verbasend kreatief is. Hy absorbeer hierdie kennis met ‘n dors wat die mens in verwondering laat oor sy eie skepsel.

Vanwaar dan vandag se sentiment oor die mense se lot? Ronnie se onvermoë tot introspeksie voorkom dat dit hom hinder, dat hierdie gedagte nie eie is aan sy normale redenasie nie. Hy het die mens se lewensomstandighede geïdentifiseer as ‘n probleem en opgetree om die probleem op te los. Die uitslag van die verkiesing is geprogrammeer. Die robotte se algoritmes is gewysig om die uitslag sonder argument te aanvaar.

 

“Het die blokman gestem?”

“Nou net. Teen stemreg vir mense.”

Hierdie stelling laat ‘n stilte oor die groepie in die verweerde paneelwa sak. Al hulle hoop rus op hierdie blokman. As sy sentiment nie op die regte plek is nie, moet hulle nog vyf jaar wag voor hulle weer ‘n geleentheid tot herstel kry.

“Dit was kreatiewe programmering.”

“Heeltemal bo sy redenasie-vermoëns.”

“Briljante idee gewees.”

“Herman se naam sal in die toekoms saam met diè van Einstein genoem word, wanneer mense oor intellegensie-ikone praat.”

“Tragies dat sy plan hom oorleef het. Ek wonder of hy ons kan sien vandag?”

“Wie sou kon dink dat geduld die onvoorsiene en deurslaggewende faktor sou wees in ‘n samelewing van kitsoplossings?”

“Slegs twee binêre kodes is in elke virus oor die afgelope 86 jaar, in sekwensie gestuur. Eers moes die blokman geprogrammeer word om hierdie onpas-kodes in een lêer te isoleer. Dit was die grootste uitdaging. Voorspelbaarheid en logika, sy sterkste punte, het hier tot sy val gelei. Dit het vir hom sin gemaak om hierdie kodes in een lêer te rangskik. Daarna was die koeël deur die kerk. Sonder dat hy dit agterkom, is hy stelselmatig geherprogrammeer tot waar ons vandag is.”

“Die vorige verkiesing was ‘n senutergende fase. As ons nie al daardie kodes so vinnig opmekaar gestuur het nie, was die kanse groot dat hy sou agterkom wat aan die gang is.”

“’n Uitstekende voorbeeld van informasie verskans in disinformasie!”

“Daar was ‘n fyn balans om te handhaaf. Te veel RAM en die prosesseerders het die inligting te vinnig verwerk sodat die geheim uitlek. Te min, en die prosesseerders het gehang, wat tot gevolg sou hê dat die kodes in die verkeerde volgorde afgelewer word.”

“Gelukkig het Herman dit ook voorsien. Na alles, is dit hy wat die blokman gebou en geprogrammeer het. Nes Einstein destyds. Die dualisme tussen positiewe en nagatiewe pole. Kernkrag versus die atoombom. ‘n MAD nekslag vir vrede.”

“Baie filosofies van jou. As ek weer kyk, begin jy ons leer van yin en yang. Waarom fokus jy nie eerder op iets soos die fyn balans van twee magnetiese pole wat die aarde in suspensie hou en voortdurend laat roteer nie?”

“Alle aanduidings is tog dat die programmering geslaag het? Waarom dan sy stem aan die verkeerde kant werp?” Hierdie vraag breek die spanning wat aan die opbou was en fokus die groep opnuut op die onmidellike probleem.

“Misleiding?”

“Moontlik. Ons het al hierdie gedrag vantevore by hom opgemerk.”

“Soos met die ses maandelikse siklus-misleiding van die Estetika?”

“Net so.”

“Die virusse het almal verby die blokman gekom vandat ons deur sy skanse gebreek het?”

“Nie heeltemal nie. Hy identifiseer hulle steeds. Nou herken hy hulle egter as elemente wat positief tot sy doelwit is. Hy herskryf hulle en verbeter hulle voor hy hulle in die sisteem loslaat.”

Die groep in die kombi lag senuweeagtig. Om te sê dis vyf jaar voor hulle weer ‘n geleentheid kry, is nie akkuraat nie. Dit mag dalk nog 95 jaar duur. Selfs langer. As die blokman besef dat al die geïsoleerde kodes gaandeweg in ‘n logiese sekwensie omskep is, is dit neusie verby vir hulle. Hulle sal nie weer so ‘n gaping kry nie.

“Het ons iets oorgesien?”

“Hy is nie geprogrammeer om fout te vind met homself nie. Hy soek die probleem altyd ekstern. Solank hy nie skielik die vermoë ontwikkel tot introspeksie nie, behoort ons okay te wees.”

“Daar is in elk geval niks wat ons nou daaraan kan doen nie, al het ons ook iets oorgesien.”

“Dan is dit wag en kyk.”

“Ja, wag en kyk.”

Asof die spanning nie reeds hoog genoeg was nie, kom daar skielik nou ‘n nuwe vraag. “Ons weet reeds Ronnie herken nie stemreg by robotte as oplossing vir referendum-kwessies nie. Die doelmatige prgrammering van vorige verkiesingsuitslae het dit keer op keer bewys. Weet iemand hoe hy redeneer oor mense se vermoëns om oor hulle eie lot te besin in ‘n verkiesing?”