Die Land van Drome, Ideale en Idees

Louise Viljoen

Die Land van Drome, Ideale en Idees – 2017 © louise viljioen

Volwasse Fantasie

DIE lang, uitgerekte fluit versplinter die loom stilte wat oor die vallei hang. ’n Eenhoring runnik en kap verskrik met sy voorpote in die lug voordat hy met dawerende hoefslae tussen die gryswit berkebome deur vleg.

Asof hy net op die fluit gewag het, verrys ’n manjifieke dier vanuit die maag van ’n versteekte spelonk waar dit gelê en dut het. Hy skud sy middernagblou vlerke reg en brul oorverdowend. Die klank slaan teen die oorhangende kranse vas en los klippertjies stort na benede waar dit in die rivier doer ver onder inplons.

’n Feë gly holderstebolder van ‘n gladde rots af en beland in ’n deurmekaar hopie reg voor die groot draak se vlymskerp kloue.

“Oeps!” Sy snak na haar asem en skud suiwer goudstof uit haar deurmekaar pixie-haarstyl uit. Haar groot, mosgroen oë blink ondeund en haar lag klink soos die klingel van klokkies. Sy strek haar eers luiweg uit voordat sy regop kom.

Die draak vou sy vlerke onder sy lyf in. Hy laat sak sy kop en beskou die feë van naderby.

“Lorelai,” tsk-tsk hy en rookwolke borrel by sy reuse neusgate uit. “Móét jy altyd so haastig wees?”

Lorelai hoes van die rook. Haar neus plooi vies. “Drakon, móét jy altyd so stook?” Sy druk haar neus toe en staan eenkant toe. “Jy moet regtig iets aan jou asem doen.”

Drakon haak Lorelai om die lyf met die punt van sy stert en trek haar versigtig nader sodat sy growwe skubbe nie die delikate vlerke op haar rug beskadig nie.

“Het jy dit gebring?” grom hy hees en sy bosserige wenkbroue vorm vraagtekens teen sy breë voorkop.

“Natuurlik, ou soettand!” Lorelai grawe in die fluweelsakkie wat sy in haar lyfband versteek en haal ’n handvol roosgegeurde suikerklontjies uit. Sy hou haar hand palm na bo na Drakon toe uit.

Die draak spin soos ’n kat. Sy geel slagtande glinster in die son soos hy van oor tot oor glimlag. Hy lek slobberend oor sy lippe en steek dan beide die puntjies van sy gevurkte tong na die heerlikheid toe uit. Die suiker knars onder sy kiestande toe hy behaaglik daaraan kou. Sy oë dop behaaglik om. Hy smak sy lippe gulsig om die laaste bietjie soetigheid wat nog daaraan kleef, te geniet. Hy is sommer lus en kou sy tong ook, so lekker is dit!

Lorelai se lag klink klokhelder op. Sy lê haar hand teen Drakon se nek en streel hom saggies. “Eendag is eendag en dan gaan jy nog vreeslik tandpyn kry, ou grote.”

“Hmph! Waar het jy nou ’n draak gesien wat tandpyn kry?! Daar bestaan nie so-iets nie.” Hy lig die feë op met sy stert en tel haar met een beweging op sy knobbelrige rug.

“Hou vas, Lorelai!” roep hy.

Hy klap sy vlerke een, twie, drie maal en dan is hulle in die lug. Die grond val vinnig weg onder hulle, en kort voor lank sweef hulle hoog bo die vallei wat soos ’n veelkleurige lappieskombers onder hulle uitgestrek lê.

Die wind suis in Lorelai se ore. Sy klou Drakon aan weerskante van sy skurwe nek vas. Die rivier kronkel soos ’n skadelose molslangetjie doer ver onder tussen die digte woude deur. Die ou draak lag rammelend en hy trek sy verspotte klein oortjies plat teen sy kop.

Lorelai weet goed wat kom. Haar wange bol komieklik soos sy ’n diep asemteug neem. Die volgende oomblik voer Drakon ’n rol-maneuver uit en hulle tol teen ’n verbysterende spoed deur die lug. Om en om en om. Die kobaltblou lug, die gryswit berkewoude, alles smelt saam in ’n warboel van kleur . . . eers blou, dan grys, dan . . . Lorelai knyp haar oë styf toe wanneer ’n verblindende wit lig in ontelbare vuurvonkies om hulle versplinter. Daar is ’n luide slag in haar ore . . . dan stilte . . .

Lorelai maak haar oë stadig oop en staar soos altyd verwonderd om haar heen na die surrealistiese ruimte waarin sy en Drakon hulle nou bevind. Hulle sweef asof in stadige aksie tussen oorgroot kubusse rond wat soos ’n skool deurskynende jellievisse luiweg ronddobber in ’n kalm seestroom. In die middel van elke bleekblou kubus pols ’n naelstring. Aan die punt van elke naelstring hang ’n delikate, poeierblou eier barstens toe swanger met potensiaal.

“Die broeikaste van drome, ideale en idees . . .” fluister sy grootoog. Sy sluk aan die knop in haar keel. Haar ragfyn vlerke tril van ingehoue emosie. Daar is iets onbeskryflik magies en mooi aan hierdie ongelooflike plek tussen Nêrens en Elders in die land van Drome en Ideale.

K-r-a-a-k . . .

Lorelai draai haar kop luisterend skeef. Het sy reg gehoor? Ja, sowaar! Die ragfyn dop van een van die eiers is besig om te kraak. ‘n Droom, ideaal of idee is gereed om uit te broei. Maar watter een? Daar is duisende kubusse vol eiers wat rondom hulle dryf.

“Kyk daar, Lorelai,” beduie Drakon, en sy piepklein oortjie punt na regs. Daar, tussen die ander, pols ’n tamaaie kubus soos ’n mensehart wat ritmies saamtrek. Doem-doem, doem-doem, doem-doem . . . al vinniger en vinniger.

Drakon roer sy vlerke liggies en hulle sweef tot voor die kubus. Hulle is net-net betyds, want die kubus ontplof ewe skielik in ’n asemrowende sterrereën. Lorelai steek albei haar hande uit en vang die poeierblou eier. Fyn towerstof sif neer op haar en Drakon.

“O gonna, hou vas! Ek gaan . . .”

“Drakon, nee! Nie nou nie!” Lorelai druk die eier onder haar hempie, wat sywurms vir haar gespin het, in. Sy gryp Drakon vervaard aan sy skubbe en klou vir al wat sy werd is. Hier kom dit nou!

“Atiesjoe!”

Drakon nies soos net ’n draak kan nies. Die momentum van die nies slinger hulle terug aarde toe in ’n holderstebolder mallemeulerit. Lorelai hou haar oë styf toegeknyp. Hulle rol om en om soos ’n tolbos deur die lug. Die wind suis in Lorelai se ore en ruk aan haar vlerkies.

“Eeeehhhhh!” skree sy, want dit voel of haar maag by haar keel wil uitspring. 

“Ohhhhhhh,” steun Drakon saam.

Hulle hou eers op tol bo ’n boer se sonneblomland. Die geel blomme rek hulle nekkies om die spektakel te aanskou. Dis nie aldag dat hulle ’n grote draak met ’n fyne feëtjie op sy rug sien nie.

“Ugh, my arme kop draai,” kla Drakon. Hy is meteens vreeslik jammer vir homself. Hy weet hy gaan raas kry by die feëkoningin, Lorelai se ma, as die eier dalk beskadig is.

“Toemaar, ou grote, jy kan mos nie help dat jy genies het nie,” troos Lorelai. “Dalk moet ons iewers gaan land. Die eier kraak hier teen my maagvelletjie.”

Drakon vlieg dronk-dronk tot naby die boer se plaashuis. Hy kruip onder die laaghangende takke van ’n wilgerboom in. Hulle sal veilig wees hier in die skadu. Niemand kan hom en Lorelai hier sien nie.

Lorelai klouter van Drakon se rug af. Sy haal die eier onder haar hempie uit en hou dit versigtig met albei hande vas. Drakon rek sy lang nek om beter te kan sien.

“Sjoe,” sug hy bly. “Gelukkig het die eier nie gebreek nie.”

K-r-a-a-k . . .

“Kyk, die doppie kraak verder!” roep Lorelai opgewonde uit.

Die eierdop rits oop en val in stukkies deur Lorelai se vingers grond toe. Daar bly ’n ligwesentjie wat nes ’n sonstraaltjie lyk in haar hand agter.

“Ag siestog, kyk net, Lorelai. Dis ’n ou ideetjie.” Drakon spin soos ’n kat van blydskap oor die mooi van die oomblik.

“Oe, hy’s so mooi,” fluister Lorelai en glimlag van oor tot oor. Sy en Drakon het iemand se blink idee gered. Wag tot die feëkoningin hiervan hoor!

Die wesentjie is so lig soos ’n veertjie. Hy sit regop in haar hand en vryf sy ogies. Hy gaap lui en krul hom op in Lorelai se hand om verder te slaap. Drakon kielie hom wakker met sy lang ooghaar.

“Wie se idee is jy, hè?” vra Lorelai.

“Ja, en watse idee is jy nogal?” wil Drakon weet.

Die ligwese maak sy een ogie oop en loer vaak na hulle. “Ek is die dogtertjie, Cheané, se idee. Ek gaan haar planne help maak om mooi te kan teken en verf.” Hy gaap so hard dat Lorelai eintlik sy kleintongetjie sien, en raak dan vas aan die slaap.

“Die boer se kind se naam is Cheané,” sing ’n spierwit skoenlappertjie skielik hier bo hulle koppe in die takke van die boom. “Kyk, daar kom sy.”

Drakon en Lorelai sien hoe ’n dogtertjie aangehuppel kom. Sy gaan sit op ’n rots en buk vooroor om haar skoene se veters vas te maak.

“Gou, Lorelai,” fluister Drakon.

Lorelai knik. Sy weet wat om te doen. Sy klap haar vlerkies een, twee maal en styg op. Sy vlieg reguit na die dogtertjie toe. Versigtig, sodat die kindjie haar nie kan sien of voel nie, plaas sy die slapende klein ligwesentjie binne-in dié se oorskulp. Die ideetjie gly stadig binne-in die dogtertjie se oortjie af. Hy is ’n idee en idees bly in mense koppe.

Lorelai vlieg vinnig terug tot by Drakon en skuil saam met hom onder die takke. Saam-saam loer hulle na die dogtertjie wat nou regop staan. Dit lyk asof sy pas aan iets gedink het.

“Ek’t ’n idee gekry!” roep sy uit en hardloop huis toe. “Ek gaan ’n mooi prentjie teken vir my juffrou.”

Drakon en Lorelai glimlag bly vir mekaar. Hulle het gehelp dat Cheané ’n idee kry. Daar is niks so lekker soos om in die Land van Drome, Ideale en Idees te gaan kuier nie, want soms, net soms gebeur dit dat hulle sien hoe ’n idee uitbroei en kan hul die idee by die regte mens besorg.

“Ek’t ook aan ’n idee gedink,” knipoog Drakon en lek sy lippe af.

“Ja, en wat is jou idee nogal?” terg Lorelai.

“Ek dink dis tyd vir ’n suikerklontjie.”

 “Ek dink ook dis ’n puik idee, jou ou vraat!”

Lorelai lag te lekker. Sy vroetel in haar sak vir ’n suikerklontjie en hou dit na Drakon toe uit. Sy lippe en tong kielie haar hand toe hy dit hap en smaaklik kou.Hy dop eintlik sy oë om van pure lekkerkry.

Einde