Die Ligpers Skynsel

Henrietta Botes

Die Ligpers Skynsel – 2017 © HENRIETTA BOTES

Volwasse WF

“Jans! Jaaaansssss! Waar is jy?” word daar hard en dringend vanuit die ou plaashuis geroep. Jans Nel kom vinnig van die skuur af. Sy vrou se stem is hard en benoud.

“Waar is jy, Vrou? Wat is fout?” vra hy hard, terwyl hy met sy rumatiek bene en kierie so vinnig moontlik aansukkel na die huis.

Hy is nader aan die agterdeur en pluk die sifdeur amper uit sy skaniere uit. Die ou man is ‘n skaapboer en ten spyte van sy ouderdom is hy nog sterk in sy arms. Dit is net sy bene wat nie meer wil saamwerk nie.

“Anna, waar is jy? Wat is fout?” vra hy gejaagd.

Hy hoor haar in die slaapkamer steungeluide maak. Bekommerd waggel hy na die slaapkamer en staan dan geskok in die deur van die slaapkamer.

Sy vrou is gehul in ‘n ligpers skynsel. Sy draai om en kyk na hom met dowwe oë. Dit is asof sy hom nie sien nie en dwarsdeur hom kyk! Dit lyk of sy in ‘n trans is.

Hy hoor ‘n sagte geluid agter hom. Hy draai om en sien verskrik ‘n jong man agter hom staan. Die man glimlag vir hom en hou dan ‘n toestel na hom.

Jans gil skor, maar die gil word gestol as daar ook ‘n ligpers skynsel om hom vou. Hy voel rustig en sy bene pyn nie meer nie. Hy voel lig, asof hy op die grond sweef. Dan weet hy niks meer nie. Dit is asof hy in ‘n diep slaap verval met oop oë. Hy sien en voel niks meer nie.

Die twee ou mense word na buite die huis gelei waar ‘n klein vaartuigie gereed staan. Die man en vrou loop sonder enige teëstribbeling in die tuig in. Die vreemde jong man gaan ook die tuig binne en die luik van die tuig word dig toegemaak. Na ‘n paar minute styg die tuig geluidloos in die lug in op en verdwyn dan deur die atmosfeer van die Aarde.

Jans word uit ‘n diep slaap wakker. Hy voel lui en strek hom uit. Skielik ruk hy tot stilstand. Hy is op sy bed! Hy is in sy slaapkamer! Waar is Anna?

Hy kyk langs hom in die bed en sien dat sy vrou rustig slaap.

“Anna! Word wakker!” roep hy uit, terwyl hy van die dubbelbed af opstaan.

Die ou vrou mompel effens en dan roep hy weer: “Anna! Word wakker! Ons is in ons bed in die huis!” roep hy weer.

Sy word stadig en lui wakker. Daar is ‘n glimlag om haar mond.

“Wat is dit Jans? Hoekom praat jy so hard?” vra sy nog deur die slaap.

Skielik skrik sy ook nugter wakker.

“Hoe kom ek hier? Het ek gedroom?” vra sy verskrik.

“As jy gedroom het, het ek ook gedroom. Wat het jy gedroom, Vrou?” vra hy bars.

“Daar was ‘n vreemde jong man wat ‘n ding na my toe uitgehou het. Daar het ‘n ligpers skynsel oor my gekom en toe het dit gevoel of ek sweef. En nou is ek wakker in my eie bed! Dit is ‘n snaakse droom,” sê sy fronsend.

“Ek het dieselfde droom gehad. Presies dieselfde! Ons kon nie dieselfde droom gehad het nie! Dink jy ons is dood?” vra Jans verward.

“Nonsens, Jans! Ons is dan in ons slaapkamer! In die hemel sal ons mos nie dieselfde slaapkamer hê nie, of sal ons?”

“Iets is verkeerd! Ek gaan gou na die skape kyk. Dalk het veediewe ons iets ingegee om weer skape te steel, sonder dat iemand hulle pla. Ek gaan gou kyk!”

“Jans!” roep die vrou verbaas uit.

Die ou man draai weer om en vra fronsend: “Wat is dit, Anna?”

“Jy loop sonder jou kierie! Is jou bene nie seer nie?” vra sy geskok.

Hy besef skielik dat hy nie ‘n enkele pyn in sy liggaam het nie. Hy loop ook vinniger soos toe hy jonger was. Hy draai skielik terug in die kamer in en gaan staan voor die spieëlkas. Hy buk nader na die spieël en vryf dan oor sy gesig.

“Ek lyk nog dieselfde, maar ek voel jonk. Hoe voel jy, Anna? Jy lyk darem ook nog dieselfde,” sê Jans verdwaas.

Die vrou klim van die bed af en loop flink na haar man wat nog steeds by die spieëltafel staan.

“Ek voel jonk en gesond! Die rugpyn wat my so opgekeil het, is weg! Ek kan dit bykans nie glo nie!” roep sy bly uit.

“Daar het iets met ons gebeur toe ons gedroom het!” sê Jans.

“Ek dink nie ons het gedroom nie, my man. Ek dink dit wat ons beleef het, was werklik. Ai, daardie sweef beweging was so ‘n heerlike gevoel. Dit is tog te jammer dat ek nie iets daarna kan onthou nie. Wie dink jy was daardie jong man?”

“Ek weet nie, Vrou. Kom ons gaan kyk buite of ons iets wys word.”

Die twee ou mense loop met ‘n huppel in hulle stap na buite. Daar word rondgekyk en rondgesnuffel langs die huis, maar niks buitengewoons word gesien of gevind nie.

“Ai, Vrou. Dink jy nie ons moet die kinders vir die naweek oornooi nie? Ek verlang verskriklik na hulle.”

“Dit is ‘n goeie plan! Ek verlang juis na die twee kleintjies. Ons het hulle lanklaas gesien. Ek sal nou met hulle op my skoot kan sit, sonder daardie uitmergelende rugpyn.”

“Ek sal met Hestertjie kan perdjie ry en vir Joost kan wys waar die vinke in die biesies by die rivier neste bou,” sê Jans opgewonde. Daar is sommer trane in sy blou oë as hy aan hulle twee kleinkinders dink.

Anna loop vinnig na die huis en kontak haar seun vanaf die landlyn.

“Jans Nel hier,” hoor sy haar seun se diep middeljarige stem aan die anderkant van die selfoon.

“Jans, dit is Ma wat praat. Sal julle die naweek kan kom kuier? Julle kan sommer oorslaap en dan kan ons die kinders ook sien,” antwoord Anna opgewonde.

Daar is ‘n oomblik stilte aan die anderkant van die telefoon en dan kom die antwoord: “Hierdie naweek sal ons ongelukkig nie kan kom nie, Ma. Ek moet ‘n konferensie bywoon en Aida gaan met die kinders na ons huis by Muizenberg. Dit is lankal reeds gereël en sal nie nou verander kan word nie. Jammer, Ma. Ons kan dit ‘n volgende keer doen.”

“Ek verstaan, my kind. Sal julle vir Kersfees kan kom? Dit is oor drie weke. Ek sal soos in die verlede vir ons skaapboud voorberei. Ek weet jy hou baie daarvan. Dan sal ek ook vrugteslaai en roomys vir julle kry,” kom haar stem hoopvol deur na die middeljarige man.

“Ek is jammer, Ma. Ons hét dit al bespreek. Hierdie Kersfees gaan ons die kinders na Oostenryk neem vir ‘n sneeuvakansie. Het Ma vergeet daarvan? Ons het mos ‘n maand terug al kom groet. Ons vlieg oor twee weke. Ons sal vir Ma en Pa elkeen iets saambring van Oostenryk af. Dit is ‘n belofte! As ons terugkom van Europa af, sal ons lank kom kuier en alles vertel.” ‘n Mate van ongeduld skemer deur die man se stem.

Anna het vergeet daarvan en is bitter teleurgesteld. Sy en Jans was so opgewonde om hulle enigste kind en sy vrou te vertel van hulle ervaring. Hulle sou die kleinkinders so geniet het.

Sy sluk haar teleurstelling en veins dan ‘n opgewonde stem: “Natuurlik, my kind. Julle moet julle vakansie geniet. Dra ons groete oor na Aida en die kinders. Ons is vreeslik lief vir julle almal.”

“Dankie, Ma. Ons sal weer met mekaar praat.”

Die gesprek is verby en Anna gaan sit op een van die eetkamerstoele. Sy is verslae. Hulle enigste kind. Hy het hulle al jare terug weggegooi. Hy is stad toe en het Aida ontmoet. Hulle het sommer voor die landdros getrou en net een dag op die plaas opgedaag om Aida as hulle skoondogter aan hulle voor te stel.

Jans kom die huis binne en soek vir Anna. Hy sien haar verslae op die stoel sit. Dadelik weet hy.

“Hulle kom nie,” is al wat hy sê.

Met ‘n snik antwoord sy: “Nee. Hulle het reeds reëlings getref en Kersfees gaan hulle na Europa. Ons sien hulle so min, Jans. Waar het ons verkeerd gegaan in ons opvoeding?”

“Ons het Jans ‘n goeie opvoeding gegee, Anna. Dit is ongelukkig die wêreld en sy mense se invloede wat hom verander het. Ons het darem nog mekaar. Ons skaaf nog steeds aan mekaar. Jans sal later besef dat die gejaag wat hulle nou so geniet, ‘n gejaag na wind is,” antwoord die ou man met ‘n glimlag wat breër word. Daar is aanvaarding in sy stem en die ou man gee sy vrou ‘n bemoedigende drukkie.

 

Buite die Aarde se atmosfeer en agter die maan verskuil, sit twee jong mans in ‘n ruimtetuig. Hulle hou die twee ou mense noukeurig dop vanuit hulle vaartuig en luister na Jans en Anna se gesprekke. Beide ou mense se sugte en verlange word gehoor.

Een van hulle vra: “Hoekom sal hulle seun nie in hulle vreugdes wil deel nie?”

“Jy ken die mensdom op die Aarde. Nie almal dink op dieselfde vlak as ons nie.”

“Die twee ou mense dink op ons vlak. Dit is hoekom hulle gekies was om ons te help. Hulle is daarna vir hulle onbaatsugtige hulp beloon met gesondheid.”

“Dit is jammer dat hulle seun eers later in sy lewe sal besef wat sy ouers werklik vir hom beteken. Hopelik sal hy dit besef voordat hulle nie meer daar is nie.”

Die twee ruimtevaarders glimlag tevrede en stel hulle roete op die konsolebord om terug te keer na hulle planeet van herkoms.