Die Vlinder

Elize Viviers

Die vlinder – 2017 © elize viviers

Volwasse

Was haar toekomsdrome besig om soos mis voor die son te verdwyn? Sy weet verseker dat Chris haar gaan los as hy hiervan uitvind.  Hy het die s.o.s.-kaartjies vir haar laat maak.  Op die kaartjies staan daar “kontak maj. Chris Reyneke by tel nr 011-786-4416 in geval van nood”  Sy moes altyd sorg dat daar kaartjies byderhand was.

Chris Reyneke, seker die jongste majoor in die Suid-Afrikaanseweermag. ‘n Aantreklike donkerkop man met skerp wakker bruin oë wat regdeur mens kon kyk.  ‘n Betroubare vyf-en-dertigjarige wat belangrike besluite in Suid-Afrika moes neem.  Hy was lief vir sy vrou en seun en sou sy lewe gee om hulle te beskerm.

Chris het gesorg dat hy buite die kollig bly, alhoewel hulle dikwels na uithanggeleenthede genooi was.   Hulle het in hoë kringe beweeg en was gewilde gaste oral.  Die twee van hulle het by Arthur Murray danslesse geneem en die dansvloer het gewoonlik aan hulle behoort.  Hy was nog ‘n tjokkertjie toe sy pa oorlede is en sy moeder was ‘n absolute dame wat nooit weer getroud is na haar man se afsterwe nie.  

Toe Melanie en Chris getroud is het hulle in Chris se ouerhuis gaan woon.  ‘n Pragtige plek hoog teen die hange van Northcliff.   Voorheen Aasvoẽlkop, die broei- en speelplek van die aasvoẽls wat nou die woon- en speelplek van die rykes geword het.  Vir hul wittebrood het Chris haar Egipte toe geneem waar sy baljaar het tussen die sfinkse en die piramides.   

Gamar Nasser was toé nog president van dié historiese Noord-Afrika land.  Die Arabiere was gek na hierdie pratige vrou met die groot buuste, sensuele mond en ligblou koketterige oë.  Sy  was baie bewus van haar voorkoms en het die Egipitenare se openlike bewondering  gelate aanvaar en geniet.

Die twee-en-dertige Melanie het vir Trust Bank gewerk.  Dit wou voorkom asof hierdie organisasie vrouens aangestel het vir hul voorkoms en nie vir hul intelligensie nie.  Mens kan mos ‘n mooi vrou leer hoe om die werk te doen!  Sy was sekretaresse vir die bankbestuurder en hul kantore was op een van die moderne vloere van die Carlton-sentrum.  Alles daar het geblink en gestink van geld.

Daardie oggend was die bestuurder besig met vergaderings toe die teller haar bel en sê sy het ‘n probleem met ‘n kliënt.  Melanie is vinnig af na die grondvloer om hulp te verleen.  Voor die kassiere was ‘n jongerige uiters aantreklike man in die wit uniform van ‘n Loods van die een of ander Griekse Lugredery.  Melanie het verbaas gekyk na die naam op die strokie “Constantino Drakos”.  Die man het eerder soos ‘n Duitser as ‘n Griek gelyk.  Hy het ligte hare en oë gehad en nie die algemene donker gelaatskleur en hare van die Grieke nie.  Hy het vir haar geknipoog toe sy die probleem uitsorteer en sy het gevoel hoe sy bloos.

Met huistoegaantyd het sy haastig na haar voertuig beweeg wat op een van die parkeervlakke onderdak parkeer was.  Sy was verbaas oor die man in die wit uniform wat nonsjalant teen ‘n pilaar geleuen het asof hy vir iemand wag.  Hy het haar vriendelik gegroet en gesê hulle noem hom Tino.   

Sy het gevlei gevoel toe hy haar nooi vir ‘n skemerkelkie by die Landdroshotel daar oorkant Parkstasie en het net vir ‘n vlietende oomblik gewonder hoe hy geweet het waar  sy die Toyota parkeer het.  Daar was verskeie parkeervlakke.  Sy het gou vir skoonmoeder van die hotel se ingansportaal se publieke telefoon ‘n luitjie gegee en vertel sy werk ‘n bietjie laat.   Skoonma wou weet hoekom bel sy van die ‘tiekieboks’ af en haar witleuntjie was dat hul kantoorlyne buite werking was.  Skoonma het dit so aanvaar.

In die Bali-Hi-skemerkroeg van die Landdros op die vierde vloer het sy deur ‘n konsertinastrooitjie gesuig aan die heerlike pynappel-en-klapperroomskemerkelkie wat die kroegman vir haar geskink het.  Net ‘n klein sopie vodka was bygevoeg.  ‘n Tandestokkie met ‘n glanskersie en ‘n skyfie pynappel het die kelkie versier.  Dit was in die leë harige dop van ‘n klapper bedien. 

Tino was bedagsaam en vrolik.  Hy het vertel hy is in Johannesburg tot die volgende oggend wanneer hy weer sou terugvlieg na Griekeland.  ‘n Interessante mens wat baie kennis van vele lande gehad het en omdat Melanie ook al heelwat oorsee gereis het saam met Chris, kon sy lekker saampraat.   Sy het Tino se borrelende geaardheid geweldig geniet en telkens kon jy hul hoor lag bo die geruis van die stemme in die skemerkroeg.

Melanie het wakker geword van die geklieketie-klak van die treinwiele op die spoorlyn.  Sy het gevoel hoe wieg die kompartement heen-en-weer en het verbaas by die venster uitgekyk.  Die nonsjalante Griek het teenoor haar gesit in die dubbelkompartement van die Transkaroo.  Sy het gevoel asof koue water oor haar uitgegiet word.  Met haar hande het sy probeer om haar bo-arms warm te vryf.

“Wat soek ek op ‘n trein?” het sy bekommerd in Tino se rigting gevra.  Sy was steeds geklee in haar rooi noupassende romp met bypassende baadjie en vlekkelose wit bloesie Trustbank se verpligte uniform.  Sy was kaalvoet.  “Waar is my skoene?”  Hy het gelag.  Dit was ligdag.  Sy het besef dit moes die volgende dag wees want die son het helder by die venster ingeloer. 

Tino het haar ongeërg ingelig dat hulle op pad was na Durban.  Daar in die Durbanhawe was ‘n Griekseskip geanker wat dié aand sou vertrek na Mykonos en hy gaan haar op daardie skip aan die kaptein oorhandig.  Dan sal hy terugkeer na Johannesburg en met die vliegtuig Mykonos toe vlieg en haar in Athene ontmoet waarheen die skeepskaptein haar sou neem.  Vandaar sou hy haar na Chania Town neem waar hy woonagtig was en sy sal daar by sy familie woon nadat hulle getroud is.  “Jy is gek” het sy vir hom vertel.  “Ek is getroud en het ‘n seun van sewe.  My man sal jou vermoor as hy uitvind wat jy gedoen het”.

“Jy was nie gisteraand in die hotelkamer baie bekommerd oor jou man en seun nie” het hy vermakerig geantwoord.  Melanie het geskok na die man voor haar gekyk.  “Sy kan glad nie onthou wat die vorige aand gebeur het nie en weet nie eens dat sy saam met die Griek in ‘n hotelkamer was nie.  Lieg die man vir haar?

Meteens hoor sy die lawaai by die deur.   Dit is die kondukteur wat met sy sleutel in die slot raas.    “Kaartjies asseblief” kom sy stem duidelik tot Melanie en sy sien hoe Tino ‘n pistool stadig uit sy sak trek en in haar rigting wys.   Hy plaas ‘n vinger voor sy lippe as teken vir haar om stil te bly.   Die gryskop omie wat die kaartjies knip het gevoel toe sy die kaartjie in sy sak druk.    Hy was tussen haar en die Griek en Tino kon nie sien wat sy doen nie.    Daar was net twee kaartjies is in haar baadjiesak.  Die pistool was buite sig toe die kaartjiesondersoeker binnekom.

Op Villiersstasie was die trein vir ‘n rukkie op ‘n sylyn.     ‘n Lang goederetrein het van voor af aangkom en sy het in stilte die trokwaens getel soos dit verbyvlieg.  Sy het Tino se deurdringende blik probeer vermy.   Deur die treinvenster met die deurskynende prentjie van die Springbokkie op het sy gesien hoe die gryskop haastig by die kaartjiekantoor op die stasie inglip.   Na ‘n paar minute het hy weer tevoorskyn gekom en steeds met ‘n haastige stappie teruggekeer na die trein.   Tino was onbewus van dié man se bewegings.     

Die hele Mooirivier was in rep en roer.   Veral by die treinstasie.    Die Majoor het met ‘n helikopter geland.      Dit het gelyk soos die Suid-Afrikaanseweermag op pad na Angola.    ‘n Hele aantal afdelings troepe was stelselmatig besig om op instruksie van Majoor Chris Reyneke hul plekke in te neem.     Daar is onmiddellik op sy duidelike bevele gereageer en hulle was almal gewapen.

Daar was selfs manne bo-op die rooi dak van die bruinbaksteestasiegebou en een of twee skerpskutters het hulself agter die geuwel en skoorsteen van die gebou verskuil.      Daar was selfs ‘n troep in een van die groot stasiebome.    Mooirivier is ongeveer 160km vanaf Durban.

Toe die trein Mooirivier binnestoom was Chris eerste op die trein.    Die gryskopkondukteur het voor hom uitgestap in die rigting van die kompartement.     Uit gewoonte het hy weereens sy sleutel in die slot laat raas.  

Tino het dit glad nie verwag nie.     Stil het die swartkopman in die bruin uniform die vertrekkie binne gegaan.    Verlig en net vir ‘n oomblik het sy oë oor die verwese figuur van Melanie gegly.    Toe spuug dit vuur in die rigting van die Griek.      Voor dié man sy vuurwapen kon trek was Chris op hom.      Die sersant agter Chris het die boeie om sy arms geslaan.   Chris het ‘n paar houe ingekry voor die sersant hom kon kalmeer en terug hou.              

Tino is uit Suid-Afrika verban en sou nooit weer ‘n vliegrut na hierdie sonnige land loods nie.   Daarvoor het die majoor gesorg.    Eers baie maande later is daar vasgestel dat daar ‘n hele ring van Griekse loodse was wat op daardie manier mooi vrouens die land uitgeneem het.     Chris Reyneke het alles in samewerking met die intelligensiediens oopgevlek. 

‘n Dankbare Melanie met ‘n diepe skuldgevoel het saam met Chris in die helikopter teruggevlieg na Lanseria.    Vandaar is sy met ‘n weermagvoertuig na hul huis in Northcliff geneem.      Skoonma het niks gesê nie.   Die dame wat sy was, het nie vir Chris vertel dat Melanie van ‘n ‘tiekieboks’ af gebel het nie.    

Maar Melanie het besef dat skoonma iets vermoed.    Haar wyse kykers het dit vir Melanie in stille verwyt vertel.