Donkerkolke

Jac Nöthling

DONKERKOLKE – 2017 © JAC NÖTHLING

 

Dit was in 1971 toe die eerste donkerkolk in die middel van die melkweg ontdek is. Dit was aanvanklik net ‘n interessante ontdekking, maar nie as gevaarlik beskou nie en het die naam Cygnus XII gekry. Daar is later nog dosyne meer ontdek, sommige van hulle met ‘n massa biljoene keer groter as ons son s’n.  In ‘n donker kolk is die gravitasie ontsaglik hoog, so hoog dat lig nie kan ontsnap nie. Dit ontstaan gewoonlik wanneer ‘n groot ster se lewe eindig en dit ineenstort. As gevolg van die enorme digtheid is die gravitasie so groot dat dit stof, gas en  ander hemelliggame soos komete, asteroïdes en planetoïdes aantrek en letterlik insluk. So word die kolk groter. Uiteindelik kry ons ‘n massa ontsaglik groot met ‘n baie klein volume, die toestand wat net na die oerknal ontstaan het – Einstein het dit ‘n “singulariteit” genoem. Sterre wat te naby aan die kolk kom kan ook as gevolg van die kolk se groot swaartekrag uitmekaar geruk word.

Dit was eers toe die donkerkolk in die middel van ons sonnestelsel ontdek is dat wetenskaplikes bekommerd begin raak het. Hulle het dit die naam SGR A* gegee. Die rede tot kommer was die feit dat SGR A* ‘n “swerwende” donkerkolk is en indien dit naby genoeg aan die aarde beweeg sal die aardbol tot ‘n stukkie massa so groot soos ‘n tennisbal saamgepers word. SGR A* het egter vinniger gegroei as wat sterrekundiges aanvanklik voorspel het. Dit het ook al  nader aan die aarde beweeg. Wat sal gebeur as die aarde deur so ‘n kolk ingesleep word?  het mense gevra. Die antwoord was eenvoudig : die enorme gravitasie sal die aarde insluk en dit vernietig.

Die koms van SGR A* het lewe op aarde drasties verander. Elke land se ekonomie het ineengestort. Die woord het versprei dat die einde naby is en massa-paniek het ontstaan. Mense het in miljoene na kerke gestroom. Mense wat langs die kus het na die binneland gestroom, want daar is voorspel dat ‘n tsunami meer as ‘n honderd meter hoog die land gaan tref.

Uiteindelik het D-dag aangebreek. Mense het opmekaar se skouers gestaan en huil, mans het aan hul vroue en kinders totsiens gesê en verliefdes het totsiens aanmekaar gefluister.

Doktor Ingrid Hauser, die wêreld se nommer een kosmoloog is in haar kantoor besig om drukstukke van sterrestelsels te bestudeer toe die sterrewag se direkteur, doktor Frank Parker ingestap kom. “Ingrid, ek het net gekom om jou vir oulaas te groet. Ek wil saam met my familie wees wanneer dit gebeur. Miskien moet jy ook nou gaan.”

“Nee, Frank, ek wag net hier.”

“Wil jy nie by jou geliefdes wees wanneer dit gebeur nie?”

“Daar gaan niks gebeur nie, Frank.”

Hy kyk haar verbaas aan. “Wat bedoel jy met niks? Oor ‘n uur sal hierdie planeet nie meer bestaan nie.”

“Ja en nee, Frank.”

Hy word rooi in sy gesig. “Tot siens, Ingrid. Dit was goed om jou te ken,” sê hy en hy stap weg.

‘n Uur later begin die hele gebou vibreer en die ligte begin flikker. Dis die oomblik, dink sy. Die oomblik van waarheid. Skielik trek ‘n koue golf deur haar kantoor. Sy kyk deur die venster en sien ‘n groot donkerte nader kom. Sy gaan sit stil en wag. Niks gebeur nie. Sy staan op en kyk weer deur die venster. Die donkerte is weg en alles lyk normaal.

Die vyf sit rondom die konferensietafel, besig om die vreemde verskynsel te bespreek. Die donkerkolk, SGR A* het soos ‘n groot speld verdwyn en die aarde het niks oorgekom nie. Die eienaardigste is dat nie een sterrewag in die wêreld dit kan opspoor nie.

“Ingrid, jy weet iets wat ons nie weet nie. Hoe het jy geweet wat gaan gebeur, en wat presies het hier gebeur?” vra die direkteur.

“Frank, dis so eenvoudig dat julle sal lag. Vir meer as ‘n eeu lank spook die wêreld om die drie groot teorieë te vereenselwig – die kwantum teorie, algemene relatiwiteit en die veelbesproke M-teorie. Daar is geen konflik tussen die drie nie. Ons het altyd gedink dit moet ‘n ingewikkelde verklaring wees. Die ware antwoord is so eenvoudig dat ons dit altyd misgekyk het.”

“Dis ook nie al nie,” gaan sy voort. “Toe M-teorie ‘n eeu gelede gestalte gekry het, het ons geleerde kollega, professor Richard Feyneman M-teorie verwerp, want volgens hom was daar te veel onbewese aannames. Een was die vermiste krag wat die teorieë sou verenig. Daardie krag is net in ‘n ander dimensie, en veel meer ander kragte. Die onbekende krag wat besig is om die heelal uitmekaar te dryf, is dalk een van hulle. Volgens Feyeman kan M-teorie net waar wees as daar veel meer as tien dimensies is. Daarmee was hy heeltemal korrek, want daar is meet as tien.”

Die ander vier kyk haar verbaas aan. “Verduidelik asseblief, Ingrid,” sê die direkteur.”

“Einstein het van verwysings raamwerke gepraat. M-teorie verwys na dimensies. Dimensies is dalk ‘n misplaaste term, want Einstein het presies vertel wat M-teorie sê. Einstein se raamwerke en M-teorie se dimensies is een en dieselfde ding.”

Daar is oproepe van verbasing rondom die tafel en almal praat gelyktydig.

“Wag, ek sal ‘n bietjie beter verduidelik sê sy. “Onthou in relatiwiteit sien waarnemers in verskillende raamwerke dieselfde gebeurtenis op verskillende maniere. In SGR A* se raamwerk is die aarde vernietig, maar in ons s’n nie. Vir waarnemers op ander planete sal dit lyk of SGR A* die aarde ingesluk het. ‘n Paar van hulle wat dieselfde ervaring as ons gehad het, sal verstaan wat hier gebeur het. Baie van die sterre en planete wat ons gesien vergaan het  bestaan nog in ‘n ander dimensie, of raamwerk.”

“Jy bedoel die kolk en ons is in verskillende raamwerke?” vra die kosmoloog, Andrew Wells.

“Presies, dis die kern van die hele saak,” antwoord Ingrid. “In  SGR A* se dimensie het hy ons ingesluk, maar in ons huidige dimensie het hy nooit bestaan nie.”

“Dit beteken dat ons tydens die ontmoeting na ‘n ander dimensie verskuif het,” sê Wells. “W at het dit veroorsaak?”

“Goeie vraag,” antwoord Ingrid. “Onthou volgens relatiwiteit word tyd deur swaartekrag beïnvloed. Stephen Hawking het dit meer as ‘n eeu gelede met sy watertoring eksperiment bewys. Toe ons by die kolk inbeweeg het, het SGR A* se enorme swaartekrag tyd vir ‘n kort rukkie tot stilstand gebring. In daardie paar millisekondes toe die horlosie gestop het, het ons na ‘n ander dimensie verskuif, wat ons gered het.”

“Ingrid, dit klink vir my baie aanvaarbaar. As dit alles waar is, gaan dit die sterrekunde drasties vernander. Planete en sterre wat ons voorheen gesien het gaan ni e meer daar wees nie, en ‘n klomp nuwes gaan verskyn. Maar waarom het jy ons nie voor die gebeurtenis hiervan vertel nie?” vra die direkteur.

“Niemand sou my glo nie Frank. Ek sou dalk my werk verloor het en in ‘n inrigting vir sielsiekes beland het. Ek kan ook nie nou aan die wêreld vertel dat ek geweet het nie, want dan gaan hulle my kruisig omdat ek niemand voor die tyd gewaarsku het dat daar geen gevaar is nie.”

“Kom ons drink op die toekoms en ‘n wêreld sonder donkerkolke,” sê die direkteur en haal die bottel vonkelwyn uit die houer met ys.