Familiegeheim

Henrietta Botes

Familiegeheim – 2017 © Henrietta Botes

Volwasse WF

 

“Wie is julle en na wie soek julle?” vra die jong man verergd.

Die jong skrynwerker is haastig om van die twee onbekende mans ontslae te raak. Hy het ‘n groot bestelling wat oor drie dae afgelewer moet word en hy wil die basiese saagwerk afhandel om al sy aandag aan die fynere sierwerk te gee. Sy beitels het hy alreeds skerp gemaak om die ingewikkelde houtsneewerk te doen. Die twee mans het sommer in sy houtstoor ingeloop, sonder om te klop en hy kan ongemanierdheid nie verdra nie.

“Ons soek na ‘n spesifieke persoon,” volg die antwoord deur een van die onbekende mans en hy vra dan: “Wat is jou naam?”

Die jong man beweeg regop agter die groot elektriese saag, skakel die masjien af en sê dan: “Sê vir my na wie julle soek en dan sal ek vir julle aandui of ek die persoon ken. Ek het baie werk wat vanoggend nog afgehandel moet word. Ek is haastig en het nie baie tyd nie.”

“Ons moet seker maak van positiewe identiteit. Wat is jou naam?” word die vraag weer gevra. Hierdie keer klink die man ook verergd. Karel Pelser word rooi in die gesig soos wat hy sy woede keer. Hy is in sy kinderjare dikwels deur sy ma berispe oor sy vinnige humeur.

“My naam is Karel Pelser. Ek woon en werk die afgelope klompie jare hier en daar woon nie ander mense saam met my in die huis nie. Ek het nie naby vriende of kennisse wat hier rondhang nie. So, Menere. Ek dink nie die onbekende persoon waarna julle soek, is hier nie. Ek sal dit waardeer as julle my eiendom nou verlaat. Ek het werk om te doen en kan nie heeldag ginnegaap nie,” antwoord hy onbeskof en skakel die elektriese saag weer aan. Hy wag nie om te kyk of die twee vreemdelinge die plek verlaat nie. Hy neem ‘n stuk plank en stoot dit behendig deur die saaglem. ‘n Oorverdowende saaggeluid skril deur die lug. Karel verdiep hom in die sny van die ronding en skrik effens as een van die vreemde mans hom aan die skouer tik. Hy neem sy tyd om die ronding perfek te voltooi, lê die plank op die werksbank neer en skakel die saagmasjien dan weer af.

“Het julle nou al besluit na wie julle soek?” vra hy bars.

“Ons is op soek na jou,” kom die antwoord. Die man glimlag effens.

Fronsend kyk Karel die mans nou meer ondersoekend aan. Hulle is onbekend aan hom. Beide die mans is lenig en hy sien hulle spiere deur die nousluitende klere wat hulle dra. Hy besef skielik dat die klere wat hulle aanhet, vreemd lyk. Dit is uniformdrag waarin hulle geklee is.

Met meer aandag vra hy: “Wie is julle en hoekom soek julle na my?”

“Ek is Rulasto en my makker is Jutgo. Ons kom van die Transorion gedeelte. Ons is opdrag gegee om jou te kom haal.” Die vreemde name laat Karel se digte wenkbroue lig. “My te kom haal?” vra Karel met ‘n diep frons. “Ja. Kaptein Wushana het ons opdrag gegee om jou te kom haal.”

“En wie is hierdie Kaptein Wushana nogal? Julle kan my nie net kom haal nie. Niks is met my bespreek nie. Ek ken julle nie en weet ook nie waar daardie orionplek is nie. Ek dink julle moet in julle karretjie klim en my eiendom verlaat,” sê Karel bars. Daar bruis ‘n onrustige gevoel in sy bors. Hy draai sy rug ongeskik na die vreemdelinge en hou hulle uit die hoek van sy oog dop. Hy beweeg nader aan sy werksbank waar ‘n swaar stuk plank lê.

“Ons weet dat jy nie voor die tyd ingelig is nie. Kaptein Wushana het ons egter opdrag gegee om jou te kom haal. Hy sal jou later inlig,” antwoord een van die mans weer.

Beide mans tree na Karel. Hy draai skielik om met die swaar plank in sy hand. Voordat die mans kan keer, swaai hy die plank na hulle en tref een van hulle. Die plank tref die man hard teen sy lyf en hy val. Die ander man reageer blitsig. Hy spring agter Karel en dan hou twee staalarms die jong man om die bors met sy twee arms vas aan sy lyf geklem. Vinnig word hy omgestamp oor die werksbank met sy gesig na onder. Karel haal hard asem en stik effens in die fyn houtstof. Altwee sy arms word na agter gedwing en dan voel hy hoe koue bande om sy polse vassluit.

Karel beur sterk op en skop agtertoe na die man. Die ander man het herstel en is ook nou by. Hulle bly uit die pad van sy skoppende voet en hou hom dan vas aan altwee sy bo-arms. Hy worstel, maar die mans is sterk. Hulle dwing hom na die uitgang van die stoor.

“Los my! Ek wil nie saam met julle gaan nie!” skree hy uitasem, terwyl hy aanhou wriemel. “Jy het nie ‘n keuse nie! Werk saam met ons en jy sal nie seerkry nie,” word daar hard en uitasem beveel.

Karel besef dat hy nie opgewasse teen die mans is nie. Hy is skielik spyt dat hy nie na sy ma se vriend geluister het om rugby of enige ander kontaksport te beoefen nie. Dit sou hom meer lyf gegee het en dalk sou hy sterker gewees het om die mans te weerstaan.

Ten spyte van sy worsteling, sleep die twee mans hom na buite. Hy word na die agterkant van die stoor gesleep. Voor hom staan daar ‘n vaartuigie. Dit is klein en vreemd. Karel probeer paniekerig loskom uit die hande van die mans, maar hulle sleep hom net met meer geweld na die tuigie.

Hy word hardhandig in die tuigie gedwing en dan word hy in ‘n sitplek vasgegespe. Dadelik beweeg die twee mans na die voorkant van die tuigie en Karel hoor ‘n dreungeluid. Dan word daar skielik vertikaal in die lug in opgestyg. Karel snak na sy asem. Dit voel of al die lug uit sy longe gedruk word. Swart newels begin oor sy oë speel en dan is die drukking weg. Hy voel skielik lig op die sitplek. Dit is skemer in die tuigie en hy sien slegs die silhoeëtte van die twee mans voor hom. Daar is nie vensters in die vreemde tuigie nie en Karel kan nêrens buite die vaartuig sien nie. Die twee vreemdelinge praat nie en daar is ‘n onrustige stilte in die tuigie.

Heelwat later dreun die tuigie anders en stadiger. Dan voel Karel hoe die tuigie tot stilstand ruk. Die mans, wat self vasgegespe was, kom staan voor Karel. Een van die mans gespe hom los.

“Loop saam met ons. Ons is nou op die moedertuig,” beveel hy bars. “Moedertuig? Wat bedoel jy?” vra Karel bleek. Sy stem is hees. “Kom! Kaptein Wushana sal jou inlig,” word hy weer beveel.

Hy word aan die bo-arms opgetrek en hy staan teensinnig op. Sy hande word nie weer geboei nie. Karel loop saam met die mans. Daar is ‘n ander man wat hulle op die landingsterrein inwag.

Hy glimlag en sê vriendelik: “Welkom, Karel. Ek is bly dat jy by ons aansluit.”

Karel kyk na die man se helder blou oë en die oë herinner hom aan iemand. Hy kan net nie onthou aan wie nie.

Voordat Karel kan antwoord, word hy weer aan die bo-arms gelei. Hulle stap deur gange en betree dan ‘n vertrek. Karel word sitgemaak op ‘n stoel agter ‘n klein ronde tafeltjie. Die vreemde man wat hom verwelkom het, gaan sit aan die anderkant van die tafeltjie. Karel frons as hy die man oorkant hom bekyk. Hy lyk vir hom bekend, maar kan glad nie dink aan wie die man hom herinner nie. Die ander twee mans verlaat die vertrek en die deur word toegemaak.

“Ek weet jy is heeltemal in die duister. My naam is Wushana. Ek ken jou agtergrond en daar is ‘n in diepte studie van jou lewe gemaak vandat jy gebore is. Ons is op die oomblik besig om terug te reis na die planeet Klogasta. Dit is ‘n hele paar ligjare ver van die Aarde.”

Karel kyk die man geskok aan. Hy is bleek en daar is vir ‘n oomblik ‘n doodse stilte in die vertrek.

“Hoekom ontvoer julle my?” vra Karel hees. Die onbekende man staan op en kyk hom aandagtig aan.

“Jy is my tweelingbroer!”

Karel praat nie. Hy is geskok, tog kan hy aanvoel dat die vreemde man elke woord bedoel wat hy sê. Stadig staan die jong skrynwerker ook op en kyk die vreemdeling oorkant hom stip aan.

“Onmoontlik! Ek is die enigste kind van my ouers,” sê hy kil.

“Almal het jou dit laat verstaan. Jy is nie die enigste kind nie,” antwoord die onbekende man kalm.

“Hoe is dit moontlik?” vra Karel verdwaas.

“Ons pa is nie ‘n Aardling nie. Ons pa het jare terug ‘n verkenningstog onderneem en op die Aarde geland. Ons ouers het mekaar ontmoet en verlief geraak op mekaar. Ons ma het saamgegaan met ons pa. Die reis terug na Klogasta het daardie tyd ongeveer twee jaar geneem. Oppad terug na Klogasta, is ons gebore. Ons ma het bedenkinge gekry om alles wat vir haar bekend was, te verlaat en sy wou teruggegaan het na haar familie en bekende wêreld. Daar is toestemming verleen, maar daar was voorwaardes gestel. Beide ons ouers en ons is van mekaar geskei. Ons ma is saam met jou teruggeneem na die Aarde. Ons pa en ek moes terugkeer na …”

“Moenie vir my stories vertel nie! Ek het ‘n ma én pa! Ongelukkig is hulle oorlede,” val Karel hom kru in die rede.

“Was die man waarvan jy praat, werklik jou pa?” vra die vreemde man.

Karel huiwer effens en erken dan: “Nee. Die man was soos ‘n pa vir my. Hy was ‘n goeie vriend van my ma. Hulle was nie werklik saam nie. Hy het baie by ons kom kuier en ons het weer baie by hom gekuier. My ma het my nooit vertel wie my pa was nie. Dit het deurgeskemer dat sy nog baie lief vir hom was en ek het nooit op die feite aangedring nie.”

“Hoe is jou ma en haar vriend oorlede?” word daar met empatie gevra.

Karel dink terug aan sy verlede en sê ingedagte: “My ma het eendag net verdwyn. Ek het alreeds op die hoewe gebly en my eie skrynwerkerbesigheid begin. Ek het haar elke naweek na die hoewe gebring en een Saterdag toe ek haar wou oplaai, was sy net nie daar nie. Oom Kerneels en ek het haar orals gesoek, maar kon haar nie vind nie. Ek het haar as vermis aangegee en selfs die owerhede kon haar nie vind nie.”

Karel is bleek as hy verder vertel: “Sy is nie dood verklaar nie en dus is haar sake nog nie afgehandel nie. Oom Kerneels was rasend van bekommernis. Hy het werklik vir haar omgegee en ons het baie op mekaar gesteun. Hy het oornag oud geword en is ongelukkig ‘n paar maande daarna in ‘n motorongeluk oorlede. ‘n Motoris wat onder die invloed was, het oor ‘n rooi robot gejaag en Oom Kerneels is in die ongeluk op slag dood. Dit was ‘n dubbele slag vir my. Ek het my begrawe in my werk.”

“Ek is jammer,” sê Wushana sag en met meegevoel.

Karel ruk hom uit sy gedagtegang en vra skor: “Jy ken nou my storie. Wat is jou storie? Wat is die werklike rede vir my ontvoering?”

Die twee mans staan teenoor mekaar en die onbekende jong man antwoord: “Wat ek jou vertel het, is die waarheid. Ek het jou kom haal om jou te herenig met ons familie.”

“Ek het nie familie nie,” sê Karel bitter. Hy voel skielik moeg. Hy praat nie graag oor homself en sy verlede nie.

“Kom saam met my. Ek gaan jou voorstel aan ons familie,” versoek die man ferm.

Wushana loop na die deur van die vertrek en wag dan vir Karel om hom te volg. Angstig, maar ook nuuskierig, loop Karel agter die vreemdeling aan. Selfs die vreemde man se liggaamshouding herinner hom aan iemand.

Karel word na ‘n ander vertrek geneem. Weer word die deur toegemaak as hulle die vertrek betree. Daar is gemaklike stoele in die vertrek wat in ‘n sirkel gerangskik is. Daar is twee mense in die vertrek.

Karel kyk na die mense en kom met ‘n skok tot stilstand! Hy is doodsbleek en staan soos ‘n standbeeld langs die vreemde jong man.

“Karel!” roep ‘n sagte vroue stem uit.

Karel lyk of hy ‘n spook gesien het! Hy staan versteen. Die twee mense kom nader na Karel en glimlag begrypend.

Dan ontplof ‘n ongekende woede deur Karel se wese!

“Wat gaan hier aan?! Dit is ‘n siek grap!” skree hy buite homself.

Wushana hou hom aan die arm, maar Karel ruk sy arm los. Hy maak ‘n dreigende gebaar na die onbekende man en die vreemdeling beveel hard: “Bedaar, Karel! Beteuel jou emosies!”

Die harde stem dra gesag en ruk Karel tot sy sinne. Sy ma staan voor hom saam met ‘n vreemde ouerige man!

“Hoe is dit moontlik?” vra Karel hees van ontsteltenis.

“Ons ouers het na jare weer kontak met mekaar gemaak. Die Aarde se vinnig groeiende ontwikkeling op tegnologie, het dit moontlik gemaak dat ons pa weer met Ma kon kontak maak. Alhoewel dit vir haar swaar was om afskeid te neem van jou en Oom Kerneels, was sy bereid om hierdie keer permanent na Pa en my terug te kom. Na ‘n redelike tyd verloop het, na haar verdwyning en Oom Kerneels se noodlottige ongeluk, is daar besluit om jou met ons te herenig. Ek het jou vertel dat jy jou lewe lank noukeurig dopgehou is en daarom was dit baie maklik om jou te gaan haal. Jou kluisenaarslewe het dit baie maklik vir ons gemaak,” verduidelik Wushana.

Dit is stil in die vertrek en dan sê die man weer: “Jy ken Ma en ek het myself al voorgestel. Ontmoet Pa Ranseel.”

Die ouerige vrou kom nader en met trane in haar helder blou oë gaan sy na Karel. Dan besef hy dat Wushana dieselfde kleur blou oë het! Die ander man se liggaamshouding is ook sy ma se maniere! Alle teenstand verkrummel in hom as hy sy ma sien. Hy neem haar in sy arms en hou haar stewig vas.

“My kind! Ek is so jammer. Ek het so baie verlang.” Daar is trane oor haar wange en Karel vee dit versigtig met sy growwe hand weg.

Die ouerige man kom nader en neem Karel se regterhand. Hulle skud mekaar se hande, sonder wedywering.

Karel kyk op en dan ontmoet die twee pare groen oë mekaar. Karel skrik effens. Dit is asof hy na homself kyk. Die man voor die jong man is net ‘n ouer weergawe van Karel!