Geeste en Gawes

Hardie Breedt

Geeste en Gawes – 2017 © Hardie Breedt

Volwasse Fantasie

Die sluipmoordenaar

‘Ek voel nooit sleg nie, net bang.  Altyd bang.  Selfs voor my besering.  Ek is ‘n lafaard, dit is hoekom ek hier in die koue sit.  Ek het my kans verspeel, moes net aanbeweeg het.’

Die halfmaan is nog laag.  ‘n Breë kanaal  met ‘n pad aan weerskante, verlate hierdie tyd van die aand.  Die kanaalweg sny deur die rykmansgebied, dienste provinsies en vullis gaan in en uit by ingange agter elke huis.

‘Daar is baie dinge wat kan verkeerd gaan.  Die skoot, al is dit moeilik, is nie een van die dinge nie. ‘

Die huise is meestal donker, hier en daar hang daar ‘n lantern by ‘n deur.

Hy gaan weer sy ontsnappingsplan na, die been raak lomp waneer hy haastig is.  Hy wil giggel oor die absurdheid van die situasie:  hy kan in baie moeilikheid kom vir hierdie private werkie.  Van die boeke af.

As die konstabels hom vang, dan martel hulle hom vir inligting en verkoop hom as ‘n roeislaaf of ‘n mynslaaf in die kolonies.

Hy is nie so bekommerd oor die konstabels nie. Hulle het die laaste ruk hul hande vol.

‘Die grootste probleem: die Gulde se breker, Pop-Pop, sal my hakskene afsny.  Ek is mank genoeg dankie.’

Alles en almal in die stad is georganiseerd en is baie gemaklik met hul plek in die hierargie.  Van die Adel tot die kriminele en die straatkinders.

Die geleentheid het deur die ‘Blou Swaan’ gekom. Hy sou dit nie andersins aanvaar het nie.  Die ‘Blou Swaan’ is ‘n herberg tussen die Groot Plein en die dokke.  Die herberg het onafhanklikheid behou deur die bende oorloë.

Dit maak hom angstig, hierdie onsigbare hand.

‘Ek het net begin gemaklik  raak tussen hierdie mense.’

Hy het die aanbod aanvaar, nie dat hy ‘n keuse gehad het nie.

‘Die ding is, ek het ‘n klein dobbel probleempie.  Dit is onder beheer, nou.  Klein bedrae, kaarte so drie keer ‘n week.  Perde en die gevegte natuurlik.

Kaarte by die ‘Huis van Statistiek’ het baie reëls en ‘n belasting, nes alles anders hier.’

Die Huis van Statistiek is ‘n groot dobbelsaal.  Daar is areas waar mense goedere koop en verkoop.  Koop net om weer te verkoop, sonder om ooit die goedere te ontvang.

‘Ek verstaan dit nie.  Ek is roekeloos met geld, maar nie só roekeloos nie.’

Die heel grootste gedeelte is egter die kaarttafels.  Van verslete bedelaars met hul brons munte tot die hoogste adel en die rykste van die handelaars.  Dobbel is die een ding wat die stad vereënig. Dit is deel van die kultuur.  Dit is een van hulle gewoontes, wat ek met oorgawe aangeleer het.’

Baie van sy skuld is by die ‘Blou Swaan,’ hulle het nie limiete en geen probleem om skuld te gee nie, meer as wat jy ooit kan terug betaal.  Solank jy nuttig is. 

‘Daarom is ek met ‘n vol blaas en ‘n seer been, hier in die wilgerboom.’

Hy dink aan ‘n jagtog in sy jeug.  Sy eerste jag, met ‘n geleende boog.  Die boog se trekkrag was heeltemal te swaar.  Hy glimlag.  Hy dink aan die ou man, by die markdag.  Die ou man het boë gemaak, hy het by sy stalletjie gesit en sy hande gerus.  Sy twee kleinkinders het mekaar tussen die mense deur rondgejaag.

Die boë is uit een stuk hout gekerf, baie langer as die horing en sening boë van sy mense.  Hy was verbaas deur die swaar trekkrag van die langboog.

Die ou man gryp een van die kinders . ’Gaan sit die teikens op.’

‘Hy het dalk nie daardie kortgat boë se afstand nie, maar hy doen goed.  Probeer ‘n paar skote.’ Die ou man gee hom ‘n paar pyle.

‘Bietjie lank vir jag.’ Mompel hy.

Die eerste pyl het kort geval, tot die groot plesier van die kinders.

‘Hulle koggel het stil geraak toe my tweede en derde skoot kort na mekaar die teiken tref.  Daar was ‘n klein gejuig van die naby geleë stalletjies en die mense wat onder die groot bome rus.

‘Ek is raak gesien.  Hulle het my trug na die herberg  gevolg en my oortuig om te bly.  Hierdie is ‘n onnatuurlike plek. Met hul blokstrate en alles georganiseer.  Selfs die misdaad. Die mense hier is ook vreemd. Hier is geen bome nie.  Die landskap lyk kaal, dit stink. Meer as dit, dit voel nie reg hier nie. Daar is nie woudgeeste in hierdie mak woude nie.  Die mense glo nie in woudgeeste hier nie.  Hulle glo net in geld.  Respekteer niks anders nie.  Munte van brons, klein en groot.  Die rykes met hulle papiere.  Die wonderlikste prente en kleure met goud en silver versiering.  Die eerste keer wat ek dit gesien het, het ‘n pronkhaantjie in donker klere en ‘n wit hemp die prentjie weg geruk.  Baie verontwaardig.  Ek het hom tande gewys en hy het verskrik trug gestaan.  Hierdie sagte mense het vergeet van geweld.  Waarom anders sal hulle so disrespekvol wees?’

‘Ek het later weer van die prentjies gesien, hierdie het nie die silver en goue rante gehad nie, maar steeds besonder.  Behalwe vir dít, is daar niks besonders aan hierdie plek nie.  Hulle is slim met water ook.  Ek het baie eksotiese plante ontdek in van die rykmans gebiede.  Ek kon myself nie help nie, ek moes saad bymekaar maak.  Al is ek verban by my mense, is ek steeds een van hulle.’

Hy skuif ongemaklik en maseer sy seer been.  Die koue wind vereger die pyn in sy blaas.  Hy kyk vir die hoeveelste keer na sy ontsnapings roete.  Die maan begin klim.

Die Hertog en die Slawehandelaar

Die Herehuis word omring deur tuine en uitgestrekte grasperke.  Die mure is oortrek met rankplante en die stene is verweer deur tyd en die elemente.

Die huis basuin: ‘Adel, ou adel!’

‘n Slaaf met ‘n sens, is besig  om gras in groot gemaklike boë te sny.  Swiesh-swiesh-swiesh sny die staal lem die nat gras.  Hy kyk op na die koets wat deur die laning jaag. 

Gustav, die landgoed se Rentmeester loop doelgerig na buite. Helfde van die huishouding omring die koets reeds.

‘Kry vir tannie Hantie, ons het ‘n gewonde man.’  Skree die koetsdrywer. ‘n Middeljarige vrou kom uit die huis uit, besig om haar hande aan haar voorskoot af te vee.

‘Julle twee, bring hom in die kombuis in.’ Beveel sy twee tuiniers.

‘Annetjie, hou op ginnegaap en kry water aan die kook.’  Beveel sy.

‘Kom, kom dames, ons het werk wat wag.’   Die vrouens beweeg in die kombuis se rigting.

‘Is u gewond mijnheer?’ Gustav kyk bekommerd by die koetsvenster in.

Ernst, sewende Hertog van Reenen en van Woudenberg, antwoord nie en staar net voor hom.  Bleek en bewerig.

‘Niks wat ‘n glas brandewyn en ‘n pyp nie kan regmaak nie.’  Forseer Mettelus sy lighartigheid.

Olivier klim na Mettelus uit die koets uit.  Hy is die jong Hertog se neef en erfgenaam.  Hy loop woordloos en bietjie onstabiel die huis binne.

Die drywer is klaar besig om die storie tussen die res van die huishouding te versprei.

‘Ek gaan dadelik die konstabel laat weet.  Rowers op die groot pad?  Hulle sal iets moet doen.’  Soos Gustav wegloop mompel hy oor die samelewing se agteruitgaan.

‘Dit was nie rowers nie.’ Sê Ernst met stil sekerheid.

‘As ek na die pyl plasing en groepering kyk, is ek geneig om saam te stem.’  Sê Mettelus droog.

‘Dietricht?  Nee, hy sal nie Olivier in gevaar stel nie.’ Antwoord Ernst sy eie vraag.

‘Dit is juis wat my oortuig het dat dit hy is.  Dit is die perfekte dekmantel.  Sy enigste fout was Olivier.’

Ernst kyk hom ongelowig aan.

‘Wat was vandag anders met Olivier?  Ná die vergadering?’

‘Ek weet nie Mettelus.’  Sê hy met ‘n sug.

‘Hy was bedwelm.’

‘Almal weet Olivier is ‘n dwelmslaaf.  Wat van dit?’  Vra Ernst geirriteerd.

‘Olivier is ‘n hoogs intelligente, hoogs funksionerende dwelmslaaf.  Hy moet wees, anders sou hy nooit so lank by Dietricht oorleef het nie.  Vandag was hy so vroeg bedwelmed, want hy het geweet.’

‘Mijnheer.’ Gustav staan in die deur van die studeerkamer.  Dit is nog donker buite.  Hy wou die jagtog kanselleer, maar die Hertog het geweier.  Hy was verbaas toe hy Ernst nie in die bed gekry het nie. Hulle staan by ‘n tafel en bestudeer dokumente.

‘Mijnheer, Meester Mettelus.’  Sê Gustav na ‘n kug.

Mettelus glimlag vir Gustav se subtiele snobisme.  Konservatief en beskermend oor sy heer.  Pynlik presies met sy maniere en  sy werk.

Gustav is bang waneer hy Ernst so sien, heeltemal te ambisieus, Mettelus ook.

‘Boodskapper Mijnheer, briewe vir U en jong Olivier.’  Gustav handig ‘n koevert oor. 

‘Dankie, Gustav.’  Gustav trek die groot deure agter hom toe.

‘Dietricht.’  Sê Ernst en begin lees.

‘Hy kom nie jag nie.’  Mettelus gaan sit langs die kaggel, bene lank uitgestrek.

‘Daar is glo ‘n probleem in Eli se distrik.  Die tafel het my volmag gegee om die saak op te klaar.  Jy sal vir my moet stem.’ Sê Ernst verbaas.

‘Lyk my ek gaan noord.’

‘Ha, Dietricht is briljant.’ 

‘Dink jy ek moet bekommerd wees?’

‘Waar moet jy jou begeleiding ontmoet?’

Ernst kyk na die brief.  ‘’Die Afkophaan,’  glo langs die hoofpad Eli toe.’

‘Jy moet bekommerd wees.  Dit behoort aan die ‘Rooihande.’ 

‘Ek sal na die jag moet ingaan stad toe, beskerming reël.’  Sê Mettelus ingedagte.

‘Wat het ‘n straatbende te doen met Dietricht?  Hoekom het hulle ‘n herberg?’

‘Smokkelary.’

Daar is ‘n klop aan die deur, Olivier steek sy kop by die deur in.

‘Ilse hulle is hier.’  Hy is weg voor hulle kan reageer.

‘Wil die ou man julle nog trou?’

‘Ilse?’ Ernst lyk ongemaklik.  ‘Ek ontwyk hom nog.  Hy het dit nog nie weer opgebring nie.’

‘Hy sal ook nie, hy is trots.  Daar is nou ‘n dringentheid aan die saak.’

Ernst kyk op.

‘Ek het Sven by die gevegte raakgeloop.  Hy het terloops genoem dat Olivier gereeld kom kuier.  Saam met Dietricht en alleen.

Ernst is jaloers.  Hy en Ilse het goeie tye gehad.  Tog is hy verlig ook.

‘Dit is dalk vir die beste.’  ‘n Baron se dogter is nie die ideale maat nie, status gewys.

‘Dit is sekerlik nie.’  Mettelus, skielik dringend.

‘Ons kort die Baron.  Dit is eenvoudig: ons soek sy stem, hy soek die status wat jou bloed bied.  Ons weet dit, Dietricht weet dit.  Waarom dink jy besoek hy die Baron by die huis?  Ek het al saam met ‘n prins, so stil soos ‘n lam, in sy wagkamer gesit.  Het gister se plan geslaag, sou almal  gekry wat hul wil hê.  Dietrich het sy wet gekry.  Olivier sy titel en fortuin.  Die Baron sy Hertog.’

Ernst wil nie glo dat dit moontlik is nie.

‘Vandag sal bepaal of ons oorleef of nie.’  Mettelus lyk bekommerd, vir die eerste keer vandat Ernst hom ken.

Ernst vat hom aan die skouer. ‘Kom ons gaan jag.’

Die jag

Die groep ruiters ry gemaklik deur die bos.  ‘n Houtskool brander kyk op van sy vuurtjie.  Die son skyn deur die verkleurde blaredak.

Ernst en Olivier ry saam, nou en dan bars hulle uit van die lag.  Agter hulle kom Mettelus en die Baron.  Hulle het ‘n gedeelde belangstelling in valke en bespreek dit entoesiasties. 

‘Wat is jou besigheid Mettelus?’  Die Baron kyk hom stip aan.

Mettelus lag uit sy maag uit. Bewus dat die Adel sulke direkte vrae as ongeskik sien.

‘Dit en Dat, maar meestal slawe.’

Mettelus geniet die woud.  Hulle nader ‘n oopte, waar ‘n paar werkers latte kap vir ‘n heining.

Die strak kontras tussen die ‘alles vir nou’ houding van die stad en die voorsorg van die serfs tref Mettelus. Hierdie bome is jare trug gekap, die latte wat aan die kante van die stomp uitgegroei het, is gelos en nou, jare later kan die latte en pale in ‘n heining in gevleg word.

‘Daar is goeie geld in slawe.’ Sê die Baron.

‘Vir nou.’  Dink hul altwee.

Die hoof wildbewaarder wag in ‘n oopte by ‘n stroom.  Aan die anderkant van die stroom  is die woud ruig en onbewerk.  Knegte lei perde weg, gee wyn bottels, boë en bosvark spiese aan.

‘Olivier, Louwtjie.  Vat spiese, Manfred sal julle in die droë loop sit.  Die res van julle sal op voet omsirkel en aanjaag.’

Olivier vat verbaas die breë lem spies.  Hy het nie die posisie van eer verwag nie.  Wildbewaarders lei die geselskap na hul posisies toe, maak seker almal is gereed.  Die Baron kyk stralend na waar sy seun en Olivier korrekte tegniek by Manfred leer.

‘Oom Louw, Mettelus, kom saam met my, ons gaan met die perde omsingel, dalk kan ons iets uitjaag.’

‘Manfred. Alles gereed?’

Woordloos buig Manfred en verdwyn saam met Olivier en klein Louw na die voorlê posisies.

Die klanke van die ander vervaag soos hulle verder weg beweeg.  Olivier is verbouereerd.  Hy oefen die anker, soos Manfred hom gewys het.  Hy is al minder lomp en dit laat hom beter voel.  Louwtjie is op sy feitlik perfekte tegniek gekomplimenteer.  Dit is skeker te wagte, die Baron het ‘n reputasie as jagter.  Olivier is ‘n stadsmens, gewoonlik is hy deel van die aanjaag groep.  Hy vee sy hande aan sy broek af.  Daar is ‘n harde slag en hy laat die spies val.  Die bosse breek en hy gryp die spies, ongereed vir die vark wat uit die struikke storm.

Baron se Stadshuis

‘Lyk my altwee die Reenens het jou reuk gevang.’

Die baron sit op die stoep, omring deur sy eksotiese plante.  Glaspanele stop die koue wind en laat die warm son deur.  Sy dogter, Ilse en sekretaris Sven het saam met hom ontbyt geëet.

‘Sies, Pappa.  Daar is elkgeval net een Reenen en dit is Ernst.

‘Hmph.’  Kom dit van Sven af, sonder dat hy van die papiere voor hom opkyk.

‘Olivier is ‘n Reenen, of nagenoeg, totdat Ernst kind het.’  Hy kyk oor die tafel na Sven toe.

‘Ek wonder waarom altwee Dietricht se honde hier draai.’

‘Ernst hou nie van Oom André nie.  Hy sê hulle baklei baie.’  Ilse bloos skielik.  Ernst het dit een aand laat, in die ou vleuel vir haar gesê.

‘Dit is interesant.’  Die ou man is ingedagte, sy skerp oë staar die verte in.

Ilse verskoon haarself en vlug, voor hulle haar kan ondervra.

‘Hier is ‘n geleentheid.  As ons reg kies, kan ons álles verander.’  Sê Sven opgewonde.

Die Baron het van die tradisionele tydverdrywe van die adel weggebreek.  Hy het sy aandag op besigheid en politiek gevestig.  Hy was baie suksesvol en is nou in ‘n perfekte posisie om die familie se status en konneksies te verbeter.  Hierdie is ‘n baie onsekere tyd.  Die banke het hul lenings begin inroep.  Baie van die adel is nou net adel in naam.  Van die groot familie landgoede is onderverdeel en verkoop aan handelaars en klerke.  Dit het gelei na die massa migrasie van serfs na die stad toe.  Tradisie het gekeer dat die adel die serfs kon afsit van hul eiendom, al sou hulle wou.  Die banke is nie gebind deur tradisie nie.  Daar is oral bedelaars in die strate en selfs op die Groot Plein.

Daar is baie debat oor hierdie probleem, van die dobbelaars in die Huis van Statistiek, na die swartmark op die ou plein en die stadsraad op die Grootplein.

Die hongersnood en oorbevolking het gelei tot gereëlde geweld in die strate.

‘Die man wat ‘n oplossing bied, die held in die tyd van nood.’  Dink die Baron sinies.  André Dietricht.  Bankier en filantroop.   Hy is ook een van die mense wat die meeste by sy voorstel sal baat. Jakkals tussen kuikens. Dietricht het aan die Stadsraad voorgelê: ‘n Wet moet gemaak word, sodat mense hulself as te ware in kontrak met die bank kan verkoop.  Vir ‘n sekere aantal jaar, totdat jou jare klaar is en jou skuld dan betaal is.  Dit sal die Stadsraad se probleem oplos.  Die konstabels is te min en onervare om effektief die skares te beheer.

‘Dit moet desperaat wees, as hulle my stemme so nodig het.’   Nadat Sven met sy opdragte weg is, sit die Baron nog vir lank op die stoep en dink.

Die Jag se nadraai.

Agter die Herehuis staan Sven en van die koetsdrywers.  Hulle kyk na die  kort pyle wat nog in die koets vasgevang is.  Sven probeer een uittrek.

Dit raak koud in Mettelus se bors. 

‘Los!’ Bulder hy.

Sven draai verbaas om.

‘Verskonings.  Daardie pyle is onder geweldige druk vasgevang. Al wie dit veilig kan verwyder is een van Keiser se ingenieurs.’

Sven tree weg en vee geskok sy hand aan sy broek af. 

‘Duiwelse ding.’  Mompel hy.

‘Daar is vandag nog ‘n Hertog, omdat hierdie ‘duiwelse ding’ sy werk gedoen het.’ 

‘Ek kon nie verstaan hoe ‘n skoot uit ‘n kruisboog nie kon penetreer nie.’ Sven bestudeer die koets geÏntreseerd, tenspyte van sy vooroordeel.

‘Waneer het dit gebeur?  Waar?’

‘Net van die grootpad af, die eerste ruigtes.’

Sven se gedagtes maal.

‘Kan ek saam met jou trug ry stad toe?’

‘Sekerlik, ek wag nog net vir Ilse.’

‘Ek dink nie sy gaan kom nie, ‘n vark het vir Olivier getand.  Sy is by hom in die kamer.’

‘Ernstig?’  Sven is op sy hoede.  Sake is baie erger as wat hulle gedink het.

‘Nee wat.’

Die ou Baron en Louwtjie kom aangery.  Louwtjie: stralend en besmeer van  die bloed.

‘Sven, ek het hom!  Hy het in my spies in gehardloop.’

Ernst kom agterna gery, ingedagte.  Hy is weer die perfekte gasheer wanneer hy by die groep aansluit. 

‘Hoekom bly julle nie oor nie?’  Nooi hy die Baron. 

‘Ilse is bekommerd oor Olivier en Louw wil net jag.  Mettelus gaan elk geval trug stad toe, ek is dan alleen hier.  Bly oor, skiet iets.’

Die Baron aanvaar die uitnodiging.  Hy sien die pyle in die koets.  Sy oë skiet op na Ernst toe.  Sy goeie luim verdwyn.

‘Die Keiser se ingenieurs is hul goud werd.’   

Olivier

Plaveiselstene is een van die min goed wat nie gereguleer word nie.  Baie strate is ‘n mosaiek van oud en nuut, verskillende spesifikasies.  Die koets tref ‘n hobbel en hy stamp sy seer arm.  Hy dink aan die staal vanghokke wat hy in die loop gesien het.  As sy reaksies stadiger was, sou hy nie die eerste beervark oorleef het nie.  Maak nie saak hoe vinnig sy reaksies is nie, hy sou defnitief nie die tweede een oorleef het nie. Tekort op die hakke van die eerste een. Met die geluk van ‘n geswikte enkel het hy oorleef.  Hy het nie die regte skoene vir jag gehad nie. 

Olivier en Ernst het oog kontak gemaak. Olivier het bebloed in die droë loop gestaan en Ernst op die wal, op sy perd.  Oombliklik het Olivier geweet: ‘Ernst weet.’

Olivier voel nie meer die knaende stress nie en ook nie die pyn in sy arm nie.

‘Dinge het nie te sleg uitgedraai nie.’ Dink Olivier. Hy het ‘n goeie indruk op die Baron gemaak en Ilse het om hom gefladder.  Hy dink weer aan haar boodskap en kry ‘n rilling van afwagting.  Die koets stop voor Dietricht se kantoor op die Grootplein.

‘Raporteer en dan Ilse.’  Dink hy, voordat hy homself uit die koets forseer.

 

Dit is moeilik om in die maanlig te sien.  Hier en daar is ‘n lig by ‘n deur.  Die agterste deur was nie oop nie.  Die boodskap het gesê die deur sou oop wees.  Hy is nie lus om oor die Grootplein na sy kamers toe te loop nie.  Hy sal in die Stadshuis slap vanaand, dit is baie nader. Ernst is elkgeval weg. Sy voet hak aan ‘n plaveisteen vas en hy strompel ‘n treë.

‘Te veel, ek het vandag te veel gevat.’  Sê hy hardop met ‘n sleeptong.  Dit is eintlik goed die deur was gesluit, besluit hy.  Hy is moeg en honger.  Hy kan nie wag vir Essie se ontbyt in die bed nie.  Sy bederf hom altyd.  Hierdie is een van die beste dae wat hy in ‘n lang ruk gehad het: Ilse se uitnodiging, Dietricht se belofte.  Hy het gesê Ernst sal veilig wees, die situasie is opgeklaar. 

Die Pyl tref hom.  ‘‘n Spook het my geslaan.’  Dit is sy eerste gedagte.  Sy been swik onder hom in.

‘Ek wonder wie het dit beveel?  Die Baron? Dietricht? Heel moontlik.  Dit maak nie saak nie.  Dit was nie Ernst nie.’  Die gedagte laat hom beter voel.  Hy sukkel om te sluk. 

‘Versigtig vir geeste en gawes.’  Sy ma was lief vir daardie ou spreekwoord.  Hy het dit nooit verstaan nie.  Hy weet nie waarom hy nou aan dit dink nie.

 

Die boog in sy hand is generasies oud.  Horing en sening, gelap en reg gemaak soos nodig.  Hy voel uitasem en sy hart klop vinnig.  Sy blaas begin pyn met ‘n nuwe nood.  Hy wonder partykeer oor die mense, wie hulle is, wat hul stories is. Waarom wil iemand hulle doodmaak?

 Hy trek die swaar boog trug.  Die pyl vlieg stil. Dadelik byt die boog hom.  Die gees in die boog vat altyd bietjie bloed.  In ruil daarvoor, mis die boog nie.  Baie skaars.   Daar is nie meer mense wat weet hoe om die geeste te bind nie.  Hy laat die boog val en probeer sy broek oopkry, sy hande lomp met haas. 

Kanaalweg is doodstil, nie eers die wind waai meer nie.  Daar is nêrens beweging of geluid.  ‘n Stuk skadu beweeg onder die wilger uit.  Hy  is verlig vir ‘n oomblik soos hy lomp oor die brokkelende muurtjie klim en in die donker in verdwyn.