Gifgolwe

Elsabé Welman

gifgolwe – 2017 © Elsabé Welman

Jeugfantasie

Alle karakters en chemiese stowwe in die kortverhaal, is fiktief.

Thiam Panassi druk sy ore toe. “Rock-off!” Hy smoor sy kreet in sy kussing. Hierdie gedruis sal hom tequila laat snuif. Die ergste is dat niemand hom glo as hy kla oor die geluide nie. Die hele familie dink reeds hy kom van die onderwêreld af, waar dit ook al is. Net omdat hy nie sportmal is soos kleinboet Lourens en eerder verkies om in sy skemerkamer weg te kruip, glo Ma dat sy breinlobbe omgeruil is. Pa probeer ten minste om sy oudste seun te verstaan. Ten spyte van Ma se pogings om sy driejarige sus uit sy kamer te hou, glip Isa graag in. Isabella. Hy weier om haar so te noem. Isa vergaap haar aan die lampie op sy bedkas. Haar oë volg met verwondering die balletjie wat van kleur verander terwyl dit op en af in die silinder vol olierige vloeistof, beweeg.

Thiam draai op sy rug. ʼn Groot skadu beweeg oor die venster en hy sit regop, sy oë stip in daardie rigting. Met ʼn tongklap skud hy sy kop. Seker die bome se skaduwees. Thiam stap sitkamer toe waar sy ouers televisie kyk. Hier hoor hy ten minste nie die dowwe klanke wat sy kamer binnedring nie. Dis nie net in sy kamer nie. Dis die hele huis vol wanneer alle ander klanke uitgedoof is. Môre gaan hy oorproppe koop. Die apteek behoort te hê.

“Jy lyk moeg. Hoekom slaap jy nie?” Luper Panassi loer oor sy bril na sy sestienjarige ewebeeld.

 “Ek sou óók uit daardie donker donga vlug as ek hy is.”

Thiam sien hoe sy pa se kop statig na ma Sandra draai. Dis bedoel as ʼn vermaning om nie weer te kla nie. Daar was al baie baklei in die huis oor die vreemde karakters en abstrakte prente teen sy muur. Ma ryg voortdurend die lewenslesse van haar outydse kinderdae uit. Dis net ʼn fase, trek Pa altyd party. Fase of te nie; dis sy kamer waar hy tuis voel. Behalwe vir die gesuis in sy ore die afgelope paar dae.

“Seun?”

“Dis… dis net…” Hy weet nie wat om vinnig te jok nie.

“Hoor jy weer geluide?” vra Sandra, meer genaakbaar.

Thiam knik en kyk afgetrokke na die televisie.

“Dis dalk jou ore. Ek sal ʼn afspraak maak by ʼn dokter.”

“Dis nié my ore nie.” Thiam draai sy kop na sy ma. “Hoekom hoor ek dit nie by die skool nie? Los dit, Ma. Dit kom van onder ons huis. Kan nie verstaan dat julle dit nie hoor nie.”

Hy is seker dit het begin net na die mierekwessie. Ma se gekla oor die swart miertjies het die hele gesin meer geïrriteer as die indringers self. Sy het die miere gedurig vermaan dat dit haar huis is en nie hulle eetplek nie. Om te probeer help, het hy voorgestel dat sy op die internet vir rate moet soek, om van dié spesie ontslae te raak. ʼn Dag later het die resep op die kombuiskas gelê. Meng Numatisoon en Botakisbis met kookwater en gooi dit in ʼn piering. Waar kry mens die vreemde goed te koop? Dis onskadelik vir mense, het Ma vir Pa beloof, wat fronsend die gif mengwerk bekyk het. Ma het ook gereken dat Isa te klein is om op die kas by te kom. Thiam het stil na hulle geluister. Isa is amper drie. Sy weet hoe om ʼn stoel nader te trek as sy iets bo-op ʼn kas wil hê. Aangesien dit onskadelik is, het hy sy kommentaar vir homself gehou.

“Ek sien die miere is minder, Ma,” probeer Thiam geselskap aanknoop in die sitkamer.

Sy knik. “Daardie muti werk. Die pierings is elke oggend leeg. Ek dink die swerkaters haal nie eers die nes nie.”

“Hoor julle nie Pofpoot se geblaf nie?” Lourens kom sleepvoet in. “Gʼn mens kan slaap nie. Môre moet ek heeldag krieket speel.”

Thiam rol sy oë vir die sportman wat so gesteld is op genoeg slaap. Die hele gesin moet paraat staan vir Lourens se sport. Selfs die etes word daar rondom beplan. Sal sy ma ooit besef dat hy wat Thiam is, eintlik baie minder geite het as sy veertienjarige boet?

Luper sukkel om sy oorgewig lyf uit die stoel te lig. As verkoopsman by die plaaslike motorhandelaar, kry hy nie juis oefening in nie. “Ek sal gaan kyk. Klim maar terug in die bed.”

Pofpoot kom kermend ingehardloop toe Luper die agterdeur oopmaak. Hy spring op Thiam se skoot.

“Jissie, honne. Jy bewe asof dit minus veertig is.” Thiam trek die familie se foksterriër styf teen sy lyf vas.

Luper kom ʼn rukkie later terug. “Ek sien niks vreemds nie. Het my verbeel daar’s beweging op die muur, maar toe ek om die hoek stap, was daar niks. Vat die hond nou uit.”

“Los, Pa. Die hond het die ritteltits.”

****

Thiam draai om in sy skoolbank. “Verkoop jou pa oorproppe in sy apteek?”

Heidi Rennes frons. “Hoe moet ek weet?”

Thiam weet sy hou nie van hom nie. Hy kan haar ook nie kwalik neem nie, want hy is nie die grootste kommunikeerder in die klas nie. Hy doen eerder sy eie ding. Pouses is dit hy en hy alleen. Die ander seuns pes hom altyd. “Loser “ of “Sissie, tissie”, noem hulle hom. Die feit dat hy altyd met ʼn snork omdraai en wegloop, irriteer hulle grensloos. “Chill,” antwoord hy Heidi se kortaf antwoord.

“Whatever,” brom sy terug.

****

Thiam word net ná middernag wakker. Hy het lanklaas so vas geslaap. Die oorproppe werk. Hy haal dit uit en hyg na sy asem. Die gedruis dring sy skedel binne, veel harder as gewoonlik. Die storie raak nou vergesog. Hy stap kombuis toe om iets te ete te soek. Toe die lig die vertrek sigbaar maak, trek hy sy asem op en lig sy wenkbroue. Wat het hier gebeur? Die kombuiskaste is oop. Suiker, vrugte en lekkernye lê oor die vloer gestrooi. Ma gaan ʼn asmapomp nodig hê as sy dit sien. Dit tref hom dat dit stil is; geen klik-klak-geluide nie. Die gordyntjie wapper. Dit kan tog nie die wind wees wat die chaos veroorsaak het nie, dink hy terwyl hy soontoe stap en die venster toemaak. Met die omdraaislag, kyk hy in groot ovaalvormige oë en kake vas!

Thiam sak teen die muur af vloer toe. Hy kan nie hardloop nie. Geen spier in sy lyf wil beweging voortbring nie, behalwe dié wat sy ooglede oophou. Sy longe sukkel om suurstof te verwerk. Hy is by sy bewussyn, want dit wat voor hom op die wasbak staan, is ‘n realiteit. ʼn Tamaaie mier! Die voelers dryf onrustig deur die lug. Die knypers is oopgetrek. Thiam snak na sy asem, hyg dit diep in sonder om oogkontak te verloor. Dis asof daar ʼn duisend klein venstertjies oop en toe skuif in die monster se groot oë. Toe kom die eerste klik-klak-taal.

“Ek kom in vrede.”

Thiam se kop ruk vorentoe. “Jy praat my taal?”

Monstermier se knypers verslap en die tentakels sak geleidelik afwaarts. “Dis my taal wat jý verstaan. Hoe kry jy dit reg?”

Thiam ervaar geen vyandigheid van die kniehoogte gedoente voor hom nie. “Ek weet nie. Dis die laaste paar dae wat ek die geluide hoor. Bly julle onder ons huis? Hoekom is jy so groot?” Hy is verstom vir die snaakse klik-klak-klanke wat uit sy mond vloei.

“Hier was ʼn soet sappigheid in pierings die afgelope tyd. Dít het ons groter laat word.” Trots lig die monstermier sy twee voorste pote asof hy spiere wil wys.

“O, genade. Daai goed was veronderstel om julle dood te maak.”

Die ontspanne knypers sper weer oop.

Hy met sy groot mond. “Dis nie ek nie. Ek sweer. Dis my ma.” Hy betig homself omdat hy soos ʼn lafaard klink. Wat moet hy anders sê? Daardie knypers kan sy lyf vir ewig skend.

“Vir wat is julle mense so suinig? Ons pla julle nie. Ons eet net oorskietkos.” Die mier het weer ontspan.

“Soet sap, sê jy?” Skielik verstaan Thiam. “Ek het verlede week die ligte vloeistof in die ou waterhouer gesien. Gedink dis aanmaak-koeldrank en het dit so ewe verdun. Dit was soet, as ek nou terugdink.” Hy kyk met ʼn glimlag na die benerige besoeker. “Dit het seker my gehoor aangetas. Dis hoekom ek julle kan hoor en verstaan.” Thiam voel verlig. Daar is niks met sy brein verkeerd nie. “Is baie miere van jul kolonie dood? Luister man, ek is…”

“Nee, inteendeel, ons is massief. Daar is nou baie jaloesie die afgelope tyd, want almal wil groot wees. Selfs die honde is bang vir ons.” Die beteuterde laggie pas nie by die groot liggaam nie. “Ons wou ʼn klomp sap kom soek, sodat almal kan eet, maar net die klein miertjies kon nog inkom deur die barste en vensterrame. Ons volgroeides moet wag tot hier ʼn venster oop is, soos vanaand.”

“Julle het baie gemors. My ma gaan… o jissie, julle ken haar nie.”

“Ons ken haar. Sy het baie van ons werkers met die duim vermorsel.”

“Het julle name?” vra Thiam.

“Ek’s Kripa.” Sy steek die een voeler vorentoe uit.

“Thiam,” en hy raak met sy vinger aan die voeler. “Jis, dis cool. Ek praat met ʼn mier. Is jy manlik of vroulik?”

“Vroulik. ʼn Werker. Die manlike miere wag vir paring. Wil jy kom kyk waar ons bly? Jy sal dalk bietjie sukkel, maar ek sal jou deurstoot in die gange. Ons moes alles vergroot vir ons groter lywe.”

Thiam kyk hom skepties aan. “Jy wil hê ek moet ónder die grond in? Binne julle tonnels?”

“Ja, dis waar ek bly.”

“Ek weet nie. Dalk is dit ʼn lokval. Julle kan my versmoor of doodmaak.”

“Hoekom sal ons dit wil doen? Ons is nie moordenaars nie. Waar is die groeisap wat jou ma maak?”

Thiam glimlag. “Kry my lewendig terug, dan gee ek dit vir jou.” Dalk is hy waansinnig, maar hierdie kans kan hy nie verby laat gaan nie.

****

In die hoek van hul tuin, drie meter van sy ouers se slaapkamer, is die opening na die mierkolonie. Die plantegroei is dig en die opening effens onder ʼn bos. Dis goed so, dink Thiam, anders kan Pofpoot maklik hier inval. Hy begin twyfel.

“Hoe gaan ek asemhaal?” fluister hy.

“Ons haal dan asem. Kom. Ontmoet ons koningin. Sy sal jou graag wil sien.”

“Thiam sak af op sy agterstewe met sy bene naby die opening van ongeveer vyftig sentimeter in deursnee. Hy behoort deur te kom, maar hoe gaan hy hier uitkruip?

Meer klik-klak-gesprekke raak hoorbaar.

Skielik praat ʼn nog-groter weergawe mier agter hulle: “Wat doen jy, Kripa?”

Thiam is nou omring deur miere. Hy is op ooghoogte met die langbeen-monsters en kyk vas teen klappende kake. Hulle kan hom doodmaak as hulle kom gelyk takel.

“Ek wil Thiam voorstel aan Koningin. Mensekind kan ons help met die groeistof.”

Verontwaardig stry die soldaat: “Hy kan nie in die kolonie ingaan nie. Koningin Tritis sal dit nie toelaat nie.”

“Sy sal ook nie hiernatoe kom nie,” redeneer Kripa terug. “Komaan, julle soek almal van die groeistof. Sy ook. Hier is die antwoord. Help my om hom in haar kamer te kry.” Kripa fokus nou op Thiam. “Wag. Ek sal eerste ingaan en onder wag. Hulle sal jou van agter af stoot.”

Voor Thiam kan reageer of keer, verdwyn Kripa in die skag af. Hy kyk om en sien hoe die lang voorpote van drie monstermiere naderkom. Hy strek sy lyf en arms reguit om in te gly, maar dit gebeur nie vanself nie. Die skerp punte van die mierpote pers deur sy T-hemp en stoot hom met krag in die skag af. Thiam hou sy asem op. Hy voel die grond wat op sy gesig val.

Die val was nie ver nie. Inteendeel, hy wonder of dit twee van sy lyf-lengtes was. Voor hy sy oë oopmaak, probeer hy meeste van die stof van sy gesig afvee.

Kripa staan voor hom; haar voorpote op Thiam se skouers. “Haal asem.”

Thiam snak na lug. Hier is suurstof. Dan sien hy hoe miere wegskarrel. Grotes, kleintjies, middelmatiges. Van die monsters loer om die kamers se hoeke. Ander se kake knyp oop en toe. Dis te donker om te sien wat die kleintjies doen, behalwe dat hulle rye swart strepe teen die skagvertakkings vorm. Agter hom kom die ander ontstoke soldate van die oppervlak ook by.

“Volg my,” beveel Kripa.

Thiam kruip op sy maag deur die tonnels, sy elmboë help om te beweeg. Hulle beweeg weg van die oppervlak-skag af en by verskeie kamers verby. Sy oë het aangepas by die donkerte. In sommige kamers sou hy kon inpas as hy plat lê. Groter miere sit in ʼn hoek en kyk na hom, hul oë weerkaatsende poele. Ander kamers is klein; hy kan kwalik deur die opening loer.

Die klik-klak-geraas word harder. Skerper.

“Hoekom baklei hulle?” vra Thiam agter Kripa.

“Die soldate is ontstoke. Hulle dink jy wil Koningin doodmaak.”

“Is sy ook groot?”

“Nee. Sy verlaat nooit die nes nie. Ek wou juis vanaand vir haar groeistof bring, as ek dit kon opspoor.”

“Wat van julle koning?”

Kripa kyk om. “Miere het nie konings nie.” Die kekkel-laggie klink verkeerd, komende uit Kripa se groot lyf. “Ons het net een koningin.”

“Het ander kolonies meer?”

“Ja, soms. Koningin Tritis wou haar eie kolonie hê. Sy het geboorte gegee aan elke mier in haar koninkryk.”

Thiam luister lankal nie meer nie. Hy sien die bakleiery voor hom. Die lang pote wat kap, die kake wat gryp in die lug.

“Staak dit,” sê Kripa kwaai.

Die soldate se koppe swaai in hulle rigting. As hy alleen was, het hy nou agteruit ge-leopardcrawl, dink Thiam.

“Laat ons deurgaan. Ek sal met koningin Tritis praat. Mensekind sal niks aan julle of haar doen nie.”

“Hoe weet jy? Wie gee jou die reg om ons bloot te stel? Hy gaan die kolonie verwoes.” Die klik-geskree fluit in Thiam se ore.

“Laat ons deurgaan,” praat Kripa rustiger.

Die soldate tree terug en maak hulself plat teen die wande. ʼn Benoudheid versnel Thiam se hartklop. Wat het hom besiel om hier rond te kom kruip? Hy moet so gou moontlik hier uitkom.

“Kom nou,” roep Kripa.

****

Eers sien Thiam haar nie. Toe koningin Tritis haarself ophys van die wit wolletjies wat haar onderdane seker voorsien het, raak hy bewus van die tengerige lyf. Sy is groter as die swart miertjies in die huis, maar klein vergelykend met die monstermiere.

Thiam is stil. Hy luister na Kripa en Tritis se gesprek.

“Hy kan ons help met genoeg groeistof, Koningin.”

“Hy kon dit in sy huis gegee het. Jy kon hom gedreig het?”

Thiam se wenkbroue lig. Hulle is desperaat om groeistof te kry en die koningin se opmerking bevestig dat hulle ook gemeen kan wees. Sal hulle iemand doodmaak?

“Ek was alleen. Die enigste werker. Die ander bangbroeke het gevlug toe hy die lig aangesit het.” Kripa se voeler wys in Thiam se rigting.

Die fyn koppie draai na Thiam. “Wie het die groeistof uitgesit? Besef jy watse gemors dit in die kolonie veroorsaak het?”

“Dit was my ma. Watse gemors?” vra hy verstom.

“Is jy blind? My onderdane is groter as ek. Die kleintjies is jaloers. Die reuse miere knou die kleintjies af. Die vrede in my kolonie is weg. Ons moes die nes aanpas. Die grotes eet baie meer. Alles is deurmekaar en ons kan dit nie ongedaan maak nie.”

“Hoekom soek julle dan nog groeistof as dit ʼn probleem is?”

“Ons moet almal op dieselfde groeivlak kom. Daar moet weer harmonie in my kolonie kom.”

Thiam begin die situasie geniet. Hy kan die emosie in hulle bewegings en oë begin raaksien. “Oukei. Kan dit verstaan. Ons sal ʼn paar ooreenkomste moet maak voordat ek nog groeistof voorsien.”

Kripa swaai om na Thiam. “In hierdie kolonie stel jy nie eise nie. Net die koningin doen dit.”

Thiam kyk vermakerig na Kripa. “Ek’s nie deel van julle kolonie nie. Sy’s ook nie my koningin nie.”

Kripa se kake span oop.

Thiam kyk hom uitdagend aan.

“Los hom, Kripa. Wat wil jy hê, mensekind?”

“Ek wil veilig hier uitkom. Van nou af moet Kripa my persoonlike lyfwag wees wat al my versoeke sal gehoorsaam. As sy nog soldaatmiere nodig het, moet jy hulle beskikbaar stel.” Thiam sien in sy geestesoog hoe hy die meisies gaan bang maak en die boelie Gerjan op sy plek sal sit. “Hulle kan hier bly, maar Kripa moet elke aand by my aanmeld.”

Thiam sien hoe Kripa hom aangluur. “Jy kan hulle nie heeldag besig hou nie. Hulle moet help kos soek en die nes groter maak.”

“Dis reg.” Thiam knik opgewonde. Hy moet uit hierdie klein spasie kom. “O ja, jy moet al die klein miertjies vanaand in die huis instuur. My ma moet dink julle is terug sodat sy weer van die soet vloeistof aanmaak. Ek sal by wees en kan in die toekoms dan self vir julle bring.”

Koningin Tritis knik en draai om.

Dis seker Haar Hoogheid se manier om te sê die onderhandeling is afgehandel, dink hy. Dit lyk heel verspot as die grote Kripa voor die miertjie buig.

****

Met Kripa as medewerker, is Thiam se lewe nou opwindend. Skynbaar is koningin Tritis ook tevrede met Thiam se dienste. Hy het ʼn meester-liegbek geword; vir sy ma vertel dat ander kinders se ouers ook sukkel met miere. Ma kry die chemiese middels van ʼn vriendin wat in ʼn laboratorium werk en dit van die handelaar self bestel. Die vriendin het ook die gif met sukses aangewend.

Thiam lê op sy bed en staar na die patrone wat sy lampie teen die plafon vorm. Hy glimlag as hy dink aan die monstermiere wat in die stad aan die groei is. Hy kan hom net voorstel hoe die stadsjapies flou sal val as hulle die groot gediertes aanskou.

Soos Gerjan ʼn paar dae terug, toe hy die boelie met opset getart en pawiljoen toe gehardloop het. Die swaap het om die hoek gestorm en Kripa het op hom gespring. Hy kyk gereeld na die video wat hy op sy selfoon afgeneem het. Gerjan het sy vriende bleekvel vertel van sy onderonsie met ‘n reuse spinnekop. Thiam glimlag. Hy het dit so geniet toe die spul Gerjan uitgelag het.

Lourens het ook deurgeloop. Sy windgat broer is eintlik ʼn mamma-seuntjie. Kripa het opdrag gekry om een nag teen sy muur te sit. Thiam het die gordyn sag oopgeskuif sodat die straatlig op Kripa skyn. Thiam het ʼn toutjie gespan en van agter die lessenaar een van Lourens se prestasiebekers op die houtvloer laat val. Arme Lourens. Hy weier om weer in sy kamer te slaap. Pa is al erg geïrriteerd met die seun van hom.

Kripa het hom al baie van die miere-wêreld geleer. Van die koningin se belangrike rol in reproduksie en manlike miere wat doodgaan na paring. Thiam het self ook opgelees oor miere en Kripa was verstom dat daar na bewering meer as 10 000 soorte spesies is. Soveel as wat daar in hul kolonie bly. Wat hy nog nie vir Kripa vertel het nie, is dat die koningin die seks van haar nageslag beheer of bepaal. Bevrugte eiers produseer wyfies. Onbevrugte eiers ontwikkel in mans wat nie werk doen nie en ​​uitsluitlik bestaan om ‘n maagd-koningin te bevrug. Die koningin produseer duisende werkers deur ‘n chemikalie af te skei wat ovariumontwikkeling in die vroulike larwes verswak. Maagd-koninginne word slegs geproduseer wanneer daar genoeg werkers is om die kolonie uit te brei. Sou Kripa weet hiervan?

****

Vroegoggend maak Thiam sy venster vir Kripa oop. “Ek het ʼn spesiale opdrag vir jou.”

“Mmm. Dit sê jy elke dag.”

“Ek skryf more ‘n Chemie-toets. Ek’s nie lus vir leer nie.”

“Jy doen nie reg nie, mensekind.”

Thiam lag sinies. “Daar is ʼn gesegde wat sê: Kyk na die miere, luiaard, en word wys. So, ek is lui en ek kyk na die miere om wysheid vir die toets te kry.”

“Jy gebruik my net vir verkeerde goed.”

“Ek het ʼn ooreenkoms met jou koningin dat jy enige iets sal doen.” Thiam kyk neus-in-die-lug af na Kripa. Toe sy nie reageer nie, praat hy voort: “Ek het gesien waar die onderwyser die vraestelle toesluit. Jy moet een vir my gaan uithaal.”

Kripa se voorbene stoot reguit en die voelers lig op. Sy is verontwaardig. “Jy weet ek kan nie meer deur nou openinge kom nie.”

“Daar is seker nog miere in die kolonie wat nie uitgegroei is nie?”

“Ek weet nie of hulle dit sal kan doen nie.”

Thiam is dadelik opgeruk. “Julle kan drie keer jul gewig dra, Kripa. Party artikels sê tot twintig keer. Kry helpers. Ek wag vir julle ná skool op ons ou plek.”

Die steel van vraestelle, die wegraak van artikels in tasse en die terrorisering van kinders, was nou deel van Thiam se daaglikse beplanning.

****

Heidi Rennes kyk teen Thiam se rug vas. Sy het nog nooit erg aan hom gehad nie. Hy lyk altyd belangeloos en emosieloos; hou hom altyd eenkant. Sy het hom nog nooit by na-skoolse funksies gesien nie, wel gereeld slenterend in die dorp met sy swart klere en oorbel. Vreemde karakter. Selfs Pa Steve het gesê dis moeilik om te dink dat die wese in die sagmoedige Luper se huis grootgeword nie. Dalk is hy onseker van homself. Hy is eintlik ʼn aantreklike ou met sy blas vel en donker bos hare. Hy het beslis sy pa se Portugese gene ge-erf.

Die afgelope tyd knoop hy gereeld geselsies aan. Al sy toetspunte het meteens gestyg. Selfs die onderwysers kyk verrassend na hom as hulle die antwoordstelle uitdeel. Thiam het skielik selfvertroue gekry. Selfs die boelies los hom uit.

ʼn “Yes!”-uitroep in die skoolbank voor haar, trek haar gedagtes terug na die hede.

Heidi leun vorentoe. “Hoeveel?” vra sy naby Thiam se nek.

Hy swaai om. “Drie en tagtig persent. Jy?”

“Sewentig. Hoe kry jy dit reg? Dis was vir ons almal onmoontlik moeilik.” Sý kry gewoonlik die onderskeidings, nie hy nie. “Ek begin al wonder waar jou nuwe, borrelende Eno-lewe vandaan kom. En jou goeie punte. Steel jy die vraestelle?”

Hy trek sy mond in ʼn effense glimlag en draai summier om.

Ná die laaste periode, merk Heidi dat Thiam talm en ronddrentel. Sy besluit om hom te volg. Daar is te veel dinge wat skielik net té goed loop vir hom. Iets is nie pluis nie.

****

“Dit help nie jy is kwaad nie, Thiam. Dis net die mier-baba’s wat klein genoeg is om deur skrefies te kruip. Hulle is nog nie sterk genoeg om jou take uit te voer nie. Koningin sal dit nie toelaat nie.”

“Ek gee nie om wat sy sê nie,” skree Thiam. Hy sien hoe Kripa se venster-oë verdonker. Die volgende oomblik ril ʼn gil deur sy ore.

Kripa spring om met haar knypers oop.

Op die grond agter hulle lê Heidi, haar oë wild op Kripa. Sy hyg na asem terwyl sy op haar rug probeer retireer.

“Kripa. Wag.”

Thiam spring tussen Kripa en Heidi in. “Wat soek jy hier?” raas hy met Heidi.

“Wa… wa… wat’s dit die?” vra sy pateties.

“ ‘n Mier. Wat anders?” Dan neem die sadis in hom oor. “ ʼn Groot mier wat jou strot sal áfknyp as jy moeilikheid maak.”

Thiam kyk om en praat in klik-klak-taal met Kripa. “Ek kry jou by die huis. Gaan nou.”

Heidi se oë beweeg rukkend in haar oogkaste as sy die mier agterna kyk. “Praat jy met… ee… dit? Watse taal is dit?”

“Hoekom agtervolg jy my? Besef jy in watse gemors jy nou is?”

Heidi strompel orent. “Het dié ding iets te doen met al jou skielike voorspoed?” vra sy met ‘n stywe lip. “Ek het geweet jy’s besig met iets onderduims.”

“As jy jou bek oopmaak, sit ek ʼn duisend van hulle op jou. Verstaan jy my?”

“Relax. Vertel my wat hier aangaan.” Heidi is oor haar skrik en bewondering blink in haar oë. “Is dit regtig ‘n mier? Wow, Thiam, hoe het jy dit reggekry? Jy’s slimmer as wat ek gedink het. Hoe het jy sy taal aangeleer?”

Thiam rol sy oë in sy oogkaste. “Stupid meisiekind.” Hy deel sy avontuur met Heidi. “Jy mag vir niemand sê nie. Ek sweer ek sal…”

“Chill, ou bul. Koek. Jy’s ge-tense. Waaroor het julle baklei?”

“Hulle kan nie meer vraestelle uitsmokkel nie.”

“Ha, jy hét vraestelle gesteel. Gedink iets is fout.”

Thiam gluur haar aan. Sy is eintlik ‘n mooi meisiekind. Hy moet eendag ʼn blondekop-vrou vat. Saam met sy blas gelaat, kan hulle ʼn mooi prentjie maak. Hy skud sy kop. Van wanneer af is hy begaan oor meisies? “As jy stilbly, sal ek reël dat Kripa jou help met sekere goed.”

“Nee, dankie,” sê Heidi verontwaardig. “Ek het jou nie goed geken nie, maar ek dink jy het meer skiewie geword as wat jy was.”

“Hou jy jou all-mighty?”

“Nee.” Sy tik met haar voorvinger op sy bors. “Wees jý eerlik met jouself. Was jy voorheen so oneerlik en ʼn boelie?”

“Ek boelie net terug.”

“Mm. En op dieselfde vlak as ander met slegte gewoontes.”

****

Thiam stap mismoedig by hul tuinhekkie in. Kripa raak opstandig. Daar was nog iets wat hulle moes bespreek het voor Heidi alles opgevoeter het. Dalk was hy nie versigtig genoeg met sy skielike gemaklike lewe nie. Sou iemand anders ook agterdogtig begin raak het, soos Heidi? Nou sal hy wragtig moet neusploeg in sy boeke vir môre se toets. Dit was nogal lekker om almal se verwondering te absorbeer. Wie weet, dalk kan hy steeds wys hy is nié ʼn dum-punk nie?

Ná ete, maak Thiam sy venster oop. Kripa is dadelik daar.

“Jy wou nog iets vertel het?”

“Dit gaan sleg in die kolonie. Daar is baie gevegte en jaloesie.”

Thiam pak sy boeke op sy lessenaar uit en luister onbelangstellend. “Waaroor? Almal is mos nou ewe groot.”

“Kos. Ons kan nie voorbly nie.“

“Ek weet.” Thiam wys sy vinger vir Kripa. “Pa is ontsteld oor sy tuin. Julle vermink die plante en groenigheid. Eet julle nie insekte nie?”

“Ons is derduisende miere. Ons kom nie vol van insekte nie.”

“Wat van ander goed soos geitjies of voëls?”

“Dit behoort te werk.” Kripa draai opgewonde om. “Ek moet gaan help kos soek.”

Thiam knik ingenome, bly dat Kripa loop. Hy kyk haar agterna en frons vir haar stokkerige bewegings. Sy sukkel om deur die venster te kom.

****

“Haai, Ma,” groet Thiam die volgende middag. Dit is honger middae soos die dat hy bly is sy ma werk nie buitenshuis nie. Ten minste wag daar ʼn lekker bord kos na skool. Dis haar korrel-oog op hul huiswerk en leerdery wat hom sooibrand gee.

“Hallo, Tammie. Het jy Pofpoot gesien sedert laasnag?”

“Nee.” Hy het die hond ook nie vanoggend gesien nie. Thiam frons. Hoekom het hy dit nie opgemerk nie? Gewoonlik draf Pofpoot saam met hom tot by die hek.

“Isabella roep hom al die hele oggend. Gaan kyk asseblief of hy nie in die buitekamer toegemaak is nie. Hy glip altyd in op soek na rotte.”

Rotte! Hy moet die buitekamer vir Kripa oop los. Thiam roep en soek, maar Pofpoot reageer nie. Hy is nie in die buitekamer nie. ʼn Ontstellende gedagte flits vir ʼn sekonde deur se brein. “Nee,” fluister hy. Hulle sal nie. Die onrus wyk nie. Thiam stap na die hoek van die tuin. Miskien sal Kripa weet.

Naby die miernes se opening grom ʼn gil uit sy maag, met sy hand wat millisekondes daarna die klank smoor. Hy strompel agteruit en val oor sy eie voete. Dit is net Pofpoot wat daardie spesiale powwerige pootjies het. Een daarvan lê by die ingang van die miernes!

Thiam kruip hande-viervoet weg. Hy maak braakgeluide sonder dat iets sy liggaam verlaat. Lighoofdigheid maak branders in sy kop en hy sukkel om selfs op sy knieë te balanseer. Agter hom hoor hy die klik-klak-taal van die monstermiere wat hom agtervolg. Kripa se bekende stem kom nader.

“Wat gaan met jou aan?”

“Julle het… ons hond. Julle het ons hond geëet.” Hy fluister. Harder kan hy die woorde nie uitkry nie.

“Jammer, Thiam. Ek het dit te laat gesien. “

“Wat moet ek vir my familie sê? Kon julle nie net voëls gevang het nie?”

“Hulle is te vinnig. Dis te moeilik. Hierdie stukkie vleiserigheid sal ons lank hou. Ten minste is almal vir ʼn verandering rustig. Die sappigheid gee energie en lewenslus. Selfs ek het siek begin voel van hongerte.”

Bondels en bondels vrae rol deur Thiam se brein. Wat is volgende? Wanneer gaan hulle mense begin eet? Hy moet wegkom; gaan dink. Hy sukkel orent en strompel terug huis toe. Sy poging om sy ma te vermy, is onsuksesvol.

“Tammie?”

“Hy’s dood. Stokstyf,” jok hy. “Kan nie dat Isa hom so sien nie. Het hom gou begrawe.”

Thiam storm kamer toe. Hy het nie nog lieg en toneelspel in reserwe om sy ma se vrae te ontduik nie. Hy trek sy venster op knip en pluk die gordyne toe. Opgekrul op sy bed, probeer hy steeds die naarheid afsluk.

 

Deur die middag hoor Thiam die res van die gesin se ontsteltenis. Isa wat huil. Lourens wat instorm en hom verwyt dat hy die hond klaar begrawe het. Thiam draai sy rug op sy broer. Lourens moet oppas, hy voer hom vir die miere, dink hy vies. Isa kruip snikkend agter sy rug in. Emosie skiet los in Thiam as hy omdraai en sy sussie vashou. Of dit van bang of van hartseer is, weet hy nie, maar hy huil saam met haar.

****

Die nag is donkerder as gewoonlik. Op ʼn stadium het hy Kripa by die venster gehoor. Vir nou wil hy ʼn blerrie mier nie naby hom hê nie. Miskien moet hy sy pa aanmoedig om gif in die gate te gooi om die kastige molle dood te maak. Thiam skuif regop. Dis van Ma se simpel google-gif wat die goed gegroei het. Netnou word hulle so groot soos olifante as Pa gif uitgooi. Wat is dit in ma se brousel wat die groei veroorsaak het?

****

“Waaroor wil jy my so dringend sien?” vra Heidi agter die pawiljoen.

“My ratte krap,” brom hy. Hoeveel moet hy uitlap. “Ek het jou hulp nodig. Eintlik jou pa se hulp.”

“My pa? Waaroor?”

“Daardie goed wat my ma gemeng het… Ek moet weet wat daarin is.”

“Jy pla nie my pa met jou twak nie,” antwoord sy verontwaardig.

“Ek’s in die moeilikheid, ek weet nie meer watter kant toe nie.”

“Mmm, laat ek raai. Jy moet nou self jou gemors hanteer en vir toetse leer. Jou mier-gier het jou ingehaal.”

“Ek’s in ʼn poefspul, Heidi.” Sy stembande tril te skril; Thiam besef hy klink soos ʼn histeriese meisiekind. Kalmer verduidelik hy van Pofpoot se lot. “Boonop was Kripa vanoggend hinkepink by my. Die miere se spiere raak stywer en in hul slimmigheid reken hulle dis die groeistof se skuld. Die koningin is woedend. Ek moet ʼn plan maak, reken hulle.”

“Hulle is wreed. Gee nog groeistof dat hulle vrek. Dit was tog die oorspronklike plan.”

“Nee,” roep Thiam ontsteld uit. “Hulle dreig om Isa aan te val. Hoe moet ek haar heeldag beskerm, hé? Ek sal my ouers moet vertel. Daar sal nie ʼn klein venstertjie mag oop wees vir die res van ons bestaan nie. Ek sal aan iets moet dink.”

“Wat het my pa daarmee te doen?”

“Die koningin soek ʼn middel om hulle spiere te herstel en wat die hongerte wegvat.”

“Miere het tog net ʼn sekere leeftyd. Hulle sal almal een of ander tyd vrek.”

“Die koningin mag nie vrek nie. Sy kan ʼn paar jaar leef vergelykend met ʼn paar weke of maande van die ander.”

“So? Magtig, Thiam, wat is jou probleem? Laat hulle vrek en klaarkry.”

“Is jou breinratte geroes? Wat doen ek intussen met Isa? Met my gesin?”

Heidi skud haar kop. “Laat hierdie vir jou ʼn les wees. Jy’t gedink jy’t die engel aan die vlerk beet, maar toe het jy eintlik die duiwel aan die stert beet.”

“Hou op preek. Jy’s nie my ma nie.”

“Ek wil nie my pa met sulke simpel goed pla nie.”

“Dit is nie meer simpel nie.” Thiam beklemtoon elke woord. “Dit is massief.” Hy probeer kalm bly, want hy het haar nou nodig. Sy wou mos haar neus in sy sake steek. Aan die ander kant is hy bly sy het, want nou is haar pa tot sy beskikking.

****

Steve Rennes sit aandagtig en luister. Hy staan op en haal ʼn voosgebruikte boek van sy rak af. “Numatisoon en Botakisbis, sê jy. Kom ons kyk na die kombinasies met ander grondstowwe.”

Thiam is angstig. “Dis nie nou waaroor…”

Steve steek sy hand op sonder om op te kyk, terwyl hy aandagtig lees.

Heidi betig Thiam: “Sjuut. Jy wou hulp hê. Nou moet jy wag.”

Thiam sak terug in die diep leerstoel, sy oë stip op Steve. Dit vat lank. Té lank. Hy is bekommerd oor sy familie. Eers byt hy sy onderlip vas. Dan skuif hy rond op sy stoel. Blaas sy asem ʼn paar keer hard in en uit.

Toe hy opkyk, maak hy oogkontak met Heidi se kwaai oë wat hom waarsku om nie sy mond oop te maak nie. Sy bui sak dadelik. Meteens wens hy sy lewe is so ongekompliseerd soos hare. Selfs toe sy weg kyk, bly sy blik op haar. Heidi is fyn gebou. Mooi gelaatstrekke. Haar ligblou oë kyk diep. Hoekom sien hy haar nou eers raak? Sy lyk so sonder vernis. Dit is ʼn meisie wat hy graag sou wou uitneem. Selfbewus laat sak hy sy oë as Heidi na hom kyk. Sy wonder seker hoekom hy haar so aangaap. Hy wonder ook.

Thiam en Heidi wip van skrik toe Steve hard op die boek klap. “Het jou, Stoutgat.” Hy kyk met ‘n glimlag op. “Die chemie is ʼn wonderlike taal; daar is altyd een of ander verrassing.”

“Wat, Oom?” Thiam skuif regop in die stoel.

“Numatisoom is die soet smaak waarvan die miere hou, dit gee eintlik energie en krag. Maar as Numatisoon in aanraking kom met kalk, wat ons baie in ons water het, stimuleer dit ʼn groeihormoon. Dit is nie getoets nie, maar ek vermoed dat dít die miere se groei ʼn hupstoot gegee het. As jou ma die verhoudinge verkeerd het, sal dit die gifdeel, Botakisbis, oordonder.”

“Wat van my? Hoekom verstaan ek miertaal?”

“Dalk is die verbale deel van jou brein gestimuleer, vermoed ek. Jou toetspunte het seker gestyg?”

Thiam en Heidi kyk vir mekaar, waarna hy vinnig antwoord voordat sy iets uitlap: “Ee… ja, so bietjie. Wat nou, Oom? Wat kan ek vir hulle voer?”

“Ek kan vir jou ʼn mengsel maak wat hulle gaan uitroei, Thiam. Van hierdie spesie moet ons so gou moontlik ontslae raak.”

“Ons kan nie, Oom.” Thiam skuif na die punt van sy stoel. Hy haal sy selfoon uit en speel die video waar Kripa vir Gerjan getakel het. “Kyk na daardie kake. Hulle het Pofpoot gevreet. Isa is klein. Hulle is wreed en honger en desperaat.”

“Daarom gaan jy jou ouers dadelik inlig. Julle sal vir ʼn week moet weg. By iemand intrek of in ʼn gastehuis gaan bly.”

Thiam lag senuagtig. “Jissie. Oom verstaan nie. Kripa is slim genoeg om my te agtervolg. Hulle sal my by die skool kry en aanval.”

“As jy nie met jou ouers praat nie, gaan ek dit doen; reg?”

“Jig. My pa gaan op my boude roerbraai.”

****

Die motorhuisdeur staan oop, sien Thiam toe hy honderd meter van die huis is. Dis vreemd, Pa is nooit so vroeg tuis nie. ʼn Geskree en glas wat breek, bring Thiam se lyf in beweging. Iemand val sy pa aan. Kapers?

Thiam snak na sy asem toe hy klik-klak-woede hoor. Pa se wriemelende lyf word teen sy bakkie vasgepen deur te veel swart pote. Twee stelle knypers is doenig by sy hand wat ʼn graaf vashou. Thiam besef hy moet iets doen toe sy pa van pyn-uitroep toe die knypers sy vlees binnedring. “Staak dit!” klik-klak Thiam. Hy gryp die graaf as die miere se fokus na hom skuif. “Gaan terug na jul nes, anders vernietig ons die hele kolonie.” Hy is woedend. Of bang? Die adrenalien gee hom waagmoed. Die graaf in sy hand is reg om te tref. “Voertsek!”

Met oop knypers retireer almal stadig, behalwe een soldaat wie se knypers naby sy pa se slagaar oopgetrek is. As hy die mier met die graaf klits, gaan hy sy pa ook tref. “As jy my pa seer maak, kry julle nie die medisyne vir jul seer lywe nie,” waarsku Thiam. Sy mond is op ʼn tuit getrek. Hy herken die mier aan die bruinerige maag, teen sy andersins swart lyf. Die merrie het vanaf die eerste dag te kere gegaan oor sy teenwoordigheid by die miernes. “Koningin Tritis het die medisyne bestel.”

Thiam trek sy asem diep in toe die mier begin retireer. Hy volg haar tot sy op die vloer langs die bakkie is. Met elke gryntjie krag in sy lenige lyf swaai Thiam die graaf afwaarts. ʼn Aaklige swart vloeistof sproei teen sy been toe hy die mier plat moker. Thiam haal al sy woede oor die aanvalle op Pofpoot en sy pa op die swart lyf voor hom uit. Die skerp kant van die graaf kap die lyf en seningrige pote in stukke.

Uitasem draai hy om na sy pa wat hom aanstaar.

****

 Luper Panassi luister stil terwyl Sandra die bytplekke en skrape op sy lyf ontsmet. Haar verwyte en aggressie het nie perke nie.

“Hoekom is Ma vir mý kwaad? Dis ma se simpel gif.”

“En dit was jóú idee dat ek moes google,” beskuldig sy.

“Stil, albei van julle.” Luper se stem verdoof die geredekawel. “Verwyte help niks. Sandra, het jy die resep vir iemand gegee?”

“Natuurlik. Dit het dan gewerk.”

“O hel,” kerm Thiam.

“Jy het ook die resep uitgedeel,” beskuldig sy.

Thiam skud sy kop. “Ek het gelieg, dit was net ʼn verskoning om gif vir miere te gee.”

Luper draai na Sandra. “Skryf hul name neer dat ek soontoe kan ry.”

“Ek sal bel; dis mý vriendinne.”

“Nee. Jy sal ʼn nog groter sirkus daarvan maak.”

Thiam kyk na sy pa. Hy is wys, kalm en vat beheer, al lyk dit soms of Ma sy nekspiere in haar mag het. Só wil hy ook eendag wees.

“Gaan pak ʼn tas vir jou en Isa. Julle gaan plaas toe. Ons gaan nie vir Isa sê wat hier aangaan nie.”

“Wat van Lourens? Hy’s nog steeds in skok…”

“Lourens moet bykom. As hy uiterlik ʼn sportheld wil wees, moet hy dit innerlik ook raak. Gaan jy oom Steve se vloeistof nou miernes toe vat, Thiam?”

Thiam knik. “Ja, voor dit donker is.”

“En as hulle jou aanval?” vra Sandra ontstoke.

“Ek het die troefkaart, Ma. Sal met Kripa praat. Sy behoort my te beskerm.”

 “Behoort?” Luper snork sinies. “Hoe vinnig gaan oom Steve se konkoksie werk?”

“Ek weet nie. Hy is bang vir nog omgekeerde reaksie, soos met ma se gifresep.”

“Steve moet nóg aanmaak, ons sal aan ma se vriendinne ook moet voorsien.”

“Wag, Pa. Laat ons eers sien wat die gevolge op ons erf is. Gee net ʼn dag kans voor Pa met hulle gaan praat.”

Luper laat sak vir ‘n oomblik sy kop in sy hande. “Niks later as môre nie. Vrou, jy praat met niemand hieroor nie.”

Sandra reageer nie.

Luper kyk kwaai op. “Hóór jy my? Jy gaan ʼn skrikwind aanblaas as jy dit vir die vroue vertel. Ek sal met die nuwe mengsel na almal toe ry en die oplossing in hul hande druk.”

****

Thiam stap met die vyfliter-kannetjie vloeistof tuin toe. Hy dink aan Heidi. Sy kry hom jammer. Toe hy vanmiddag weggestap het, het sy vlugtig aan sy arm geraak. Dankie tog ook vir wyse pa’s soos oom Steve en Pa. Ou mense kan so vol draadwerk wees, maar sulke tye baie handig om mens letterlik uit die miermis te red.

Naby die nes, voel Thiam of sy spiere in ‘n spasma trek. Daar is ʼn ongedurigheid onder die enkele miere wat wag staan. Hulle kake trek oop toe hul hom sien. Een se been hang slap. Hy hoor hoe Kripa se naam deur die tonnels aframmel.

Kripa lig haarself met moeite uit die opening. “Koningin wil jou sien.”

Thiam staar oopmond na haar. “Is jy mal? Na wat met Pa en Pofpoot gebeur het, dink jy ek sal hier inklouter?”

“Moet haar nie kwaad maak nie, mensekind. Jy het een van ons soldate doodgemaak. Net een bevel en jy is nie meer nie.”

Thiam se lippe trek ‘n tuit. “Hulle het my pa aangeval! Die bruinpens wou sy slagaar strip. Wat soek hulle in elk geval in die motorhuis?”

“Kos, wat anders.”

“Julle het in ons huis ingestap en jul vergryp aan ons kos. Julle het moeilikheid op ons erf kom maak. Ek sal nie hier ingaan nie, Kripa. Ten spyte van alles is ek weer hier om te help. Hier is medisyne soos jul koningin gevra het. Dit sal julle spierpyne en honger wegvat. Vat dit of los dit.”

Thiam sit die kannetjie neer. “As julle nog soek, sê net.” Hy stap weg, maar swaai ná twee treë om, sy voorvinger in die lug. “Los my familie uit, Kripa. Ek het my deel van die ooreenkoms nagekom.”

Thiam probeer rustig terugstap, maar hy is op sy hoede en loer kort-kort agtertoe, vir ingeval ʼn mier hom van agter bespring.

****

In die huis huppel Isa heen en weer; sy gaan na haar oupa en ouma toe. Aan Lourens se koue blik, weet Thiam sy pa het sy broer reeds beetgehad. Snotkop. Hy wil mos the-man-of-the-match speel in hierdie huis. Alles kom met ‘n prys.

Thiam glip in sy kamer in. Vir homself het hy ʼn teelepel van die mengsel uitgehou. Hy hoop dat dit sy gehoor sal normaliseer. ʼn Klik-klak-gesprek wil hy nooit weer in sy lewe hoor nie.

****

Vroeg die volgende oggend, kyk Thiam deur die venster. Hy sien geen beweging in die tuin nie. Ma en Isa is reeds weg.

Daar is nie ʼn gaatjie waar ʼn monstermier die huis kan binnekom nie; hy het daarvoor gesorg voor hy die agterdeur toetrek. Vir die res van die oggend by die skool, kan hy ontspan, totdat hy vanmiddag moet kyk wat by die mierkolonie aangaan.

****

Heidi is reeds by die skool toe hy opdaag. Hy voel opgewonde om haar te sien. Hy sal haar wys dat hy maniere het; dat hy ʼn meisie goed kan behandel.

“Heidi van die berge,” groet hy.

Sy trek haar gesig in ʼn frons. “Wat het gebeur? Was jou pa kwaad?”

Thiam vertel haar van die aanval. “Pa is oukei. Ma het ʼn bumpy ride gehad.”

Heidi se gesig verstar. “Thiam?”

Hy frons vir die afgryse in haar gesig. Het hy vergeet om te skeer? Sy hare is gekam. Die oorbel? Die oorbel is uit. “Wat?”

“Het jy in die spieël gekyk?”

“Nie juis nie. Net toe ek hare gekam het. Wat’s fout?” Sy vingers kam deur sy bos hare.

Sy grou ʼn spieëltjie uit haar tas en hou dit voor hom. ʼn Glimlag speel om haar mond.

Thiam kyk vraend na haar as hy niks verkeerds op sy gesig sien nie.

“Glimlag vir my, Thiampie.”

Die humor op haar gesig lei tot ʼn behoorlike leivoor-frons. Sy lippe trek weg van mekaar in ʼn glimlag, om net so blitsig weer toe te klap. Sy oë is oopgesper. Hy hou weer die spieël voor hom en trek sy lippe weg. Thiam kyk vas in twee groot voortande. Groter as gewone groot.

“Nee,” kerm hy.

Heidi se lag onstel hom nog meer. “Gelukkig is dit nie mierknypers nie. Net mooi haastande.” Sy wys vir hom voorvinger. “Jy’t waaragtig van my pa se konkoksie gedrink.”

 DIE EINDE