Hartklop

Hendri Schutte

Hartklop – 2017 © Hendri Schutte

Volwasse Fantasie

Hier sit hy al weer. Rickus, die 17-jarige blondekop seun. Hy staar na die deur van dokter Schoeman se spreekkamer. Bang om op te staan, maar bang om te wag , want wag bring vir hom net slegte herinneringe. Hy moes sy hele lewe lank wag vir alles- wag vir die dokter om vir hom te sê dat sy hart nie reg funksioneer nie, wag vir ‘n skenker wat waarskynlik nooit sy verskyning gaan maak nie en wag vir die dood wat dalk enige oomblik op hom kan toesak.

***

Sy ma, Ronel, se oë is op syne gerig. Die trane wal op, reg om te rol. Sy sluk hard. Hy voel hoe ‘n knop in sy keel vorm. Sy sukkel om die woorde uit te kry en besluit om dit te skryf op die servet wat langs haar lê, sy grawe in haar handsak vir ‘n pen en kry uiteindelik een. “Pa, is weg, die kanker het hierdie oorlog gewen…”

‘n Traan val op sy Afrikaanse-aantekeninge. “Hoekom het dit gebeur?” Die vraag eggo in sy binneste. Sy pa, Richard, was ‘n eerlike, opregte man met integriteit. Hy kon oor alles met sy pa gesels, maar dit is nou daarmee heen. Hy word stil, kyk na sy Afrikaans en dink aan die verhouding tussen hom en sy pa en Greg en sy pa- dit verskil soos dag en nag van mekaar!

***

Toe hy teen 02:00 die die oggend wakker word, sien hy iemand in die dowwe lig wat die maan gooi. Hy dink, nee, weet dit is sy pa.

Hy snak na sy asem, wil skree, maar sy pa wys vir hom met ‘n gebaar van sy regterhand om stil te bly. Hy wil opspring en sy pa gaan vasdruk, maar voel ter selfde tyd verlam. Toe hy sy bril opsit kon hy sy pa in volle kleur sien.

Sy pa praat in ‘n sagte, onbekende stemtoon. Hy het nie meer sy bulderende stem van altyd nie. Die stem wat glad nie by die lang, maer, donkerkop man gepas het nie.  

Rickus staar na sy pa en besef vir die eerste keer hy is werklik weg, maar tog is hy hier by hom. Hy kan sy pa sien, hoor en sy kenmerkende naskeermiddel ruik.

Hy word na ‘n ander plek weggevoer met sy pa se teenwoordigheid. ‘n PLek wat bekend voel, maar onbekend is. ‘n Plek waar hy net wil skree om ontslae te raak van al sy opgekropte gevoelens en demone, maar dit is ‘n plek waar stilte, vrede en kalmte oorweldigend is.

Hy word teruggeruk na die realiteit toe sy pa aan sy arm raak. Meteens word alles skerper,duideliker en sagter, sy neus begin nou eers brand van die asyn langs sy bed om die muskiete weg te hou, die maan gooi nie meer ‘n dowwe lig nie, maar verhelder die hele vertrek en die wolkombers oor sy bene voel sagter.

Hy staar net. Waardeer díe oomblik omdat hy nie weet hoeveel van hierdie oomblikke daar nog gaan wees nie. Hy maak sy mond oop om iets te sê, maar maak dit weer toe.

Die trane begin rol. Deur die huil praat hy: “Pa, hulle het ‘n skenker gekry. Ek gaan ‘n nuwe hart kry!”

Sy pa se woorde is sag, maar dit tref hom hard: “Ek weet…”

Hy kyk na sy pa en sien die glimlag wat hy gee. Daardie glimlag as hy hartseer en gelukkig is, waar net die eenkant van sy mondhoek lig.

***

07:17- Hy kyk na sy selfoon. Sewe boodskappe. Almal gaan sê hoe jammer hulle is om te hoor van sy pa end at hy op ‘n beter plek is- die algemene boodskap as ‘n familielid sterf.

Sy ma is besig in die kombuis om ontbyt te maak. Sy suster, Riana, het deurgekom van Bloemfontein af. Na ontbyt, wat gemors is omdat niemand regtig geëet het nie, klim hulle in sy ma se Volvo en ry Avbob toe om die finale reëlings vir môre te gaan maak.

***

By die begrafnis sien Rickus weer sy pa, maar hierdie keer huil hy. Hy wil hom vra: wat is fout?, maar ken die antwoord. Hy huil omdat niemand hom weer sal kan sien nie, maar Rickus kan hom sien, hy huil omdat niemand hom ooit weer sal kan hoor nie, maar Rickus kan hom hoor. Hy hui look omdat hy alleen daar is!

Na die begrafnis gaan hulle huis toe. Rickus pak sy tas vir die hospital. Hy gaan na ‘n lang tyd van wag sy nuwe hart kry- sy pa se hart…

***

Toe die operasie afgehandel is, sê dokter Schoeman hy moet nog ‘n dag in die hospital bly om gemonitor te word.

Hy sien weer sy pa in sy kamer, hy was by hom in die teater ook.

Hy kyk na sy pa met groot blydskap en hartseer in sy oë. Die woorde kom sag en onverwags: “Dankie ,Pa!”

Hy besef hy het nou ‘n permanente deel van sy pa by hom- in hom!

Met daardie gedaggte besef hy sy hele uitkyk op die lewe en denkwyse van die lewe het verander…

En wat van môre?

Wel, môre is onbekend. Onbekend met onvervulde drome, maar met hoop. Met die hoop dat die sonopkoms môre met meer warmte op hom sal skyn en dat sy toekoms helder sal wees.

Dat sy toekoms daar sal wees!