Hasjisj

Alwyn Tredoux

Hasjisj – 2017 © Alwyn Tredoux

Volwasse Fantasie

Abdul skud sy klere sorgvuldig af. Hy kyk vir kêreltjie wat hom onder die stof geloop het.

Hy trippel senuweeagtig op een plek rond. “Jammer, Sahib. Ek moet voor sonsondergang molla Ishmail se kamele voer. Stiptelik.” Hy beduie na die weste.

“Betaal molla Ishmail jou ’n fortuin om so stiptelik te wees?” vra Abdul.  

“Ek kry dadels en water. Slaapplek by sy kamele. Hy slaan my nie meer as twee keer per dag nie. Nooit nie.”     

Abdul se vuiste bal, maar hy hou sy stem lig. “Hoekom kry jy nie ander werk nie? Jy kan meer betaal word as dadels, water en slaapplek by kamele.”

“Azar mag nie ophou werk vir molla Ishmail nie. Nooit nie!” Hy kyk na sy vuil voete. “Hy is ’n towenaar. Hy beheer magtige djins met sy seëlring. Hy stuur hulle na sy vyande om onnoembare wreedhede aan te vang. Duiwelskunste,” fluister hy.

“Vriend, die mens is ’n arbeider en geregtig op die vrug van sy arbeid. Jy werk vir dadels om molla Ishmail ryker te maak. Hy gebruik vrees om jou in sy mag te hou. Towerpraatjies is soos hasjisj wat die brein bedwelm. Duiwels en djins is twak.”  

Azar beduie woes met sy hande, sy oë groot soos pierings. “Nee, Sahib. My nefie het stry gekry met ’n herbergier oor ’n meisie. Jare gelede in Bagdad. Daardie aand het die wind in sy kamer gewaai. Stemme sonder liggame het hom gedreig. Die herbergier was al die tyd ’n towenaar wat bose djins beheer met ʼn seëlring soos molla Ishmail s’n. Duiwelskunste.”

Abdul sug. “Ek oornag môreaand in Bagdad. Moet ek oppas vir towenaars?”

Azar spring skielik om en hardloop dat die sand onder sy voete waai. “Beslis ja, Sahib. Ek is laat vir die kamele!” roep hy oor sy skouer.

 

Die hele rit na Baghdad herkou Abdul aan die gesprek. Hy glimlag vir die koddige Azar, maar dink hoe hartseer die onderdrukking van die werkersklas is. Die kalief regeer sy onderdane met ’n ysterhand. Hy gebruik die militêre mag van sy lyfwag, invloed van geestelike leiers soos molla Ishmail en die oliesjeiks se geld.

Abdul vryf oor die kameel se nek. Die lang nek buig ver agteroor. Abdul lê vooroor. “Die revolusie moet kom,” fluister hy in sy kameel se oor.        

Die kameel wikkel net sy ore en draf verder.

Ai, die bygelowigheid. Vrees vir towenaars en djins verlam die wat niks het nie, sodat die wat alles het nie ’n revolusie hoef te vrees nie.

“Duiwelskunste,” snork Abdul hardop in die woestynstilte.

Die kameel wikkel weer sy ore.

 

Abdul en sy kameel draai in by die bekende oase op pad na Bagdad. Die woestynskip drink liters water en Abdul maak sy watersakke vol.

Die son weerkaats blink teen iets op die horison.

Nog ’n reisiger na Bagdad, dink Abdul.

Hy staan lank en tuur oor die woestynpad. Die reisiger moes opgedaag het. Almal is haastig om by hierdie oase uit te kom.

Abdul vermoed die geheimsinnige reisiger wil nie gesien word nie. Hy het ’n goeie idee wat hy sien blink het en wie hom volg. Dit het alles te doen met die rede waarom hy op pad is na Bagdad.

 

Moeg en honger ry Abdul Baghdad binne. Op die eerste hoek sien hy ’n swierige gebou met ’n kennisgewingbord wat in rooi letters uitbasuin: “Te ete, drinke en slape vir die moeë reisiger.”

Hy oorhandig sy kameel se teuels aan ’n staljong met stukkende klere. Die staljong kry ’n vriendelike glimlag en ’n goue munt voor Abdul ingaan.

Die herbergier is deftig geklee en staan arms gevou met sy hande in lang moue weggesteek. “Vyf goue munte per nag. Aandete en ontbyt ingesluit.”

Abdul byt op tande. “Sou dink dat hy teen dié prys sy staljong heel klere kon gee,” mompel hy terwyl hy die munte uittel.

Hy kyk op.

Die herbergier gluur hom aan met oë so donker dat die pupille daarin wegraak.

Abdul besef dat hy hardop gepraat het. Sy gesig gloei terwyl hy sy hand met die munte na die herbergier uithou.

Die herbergier se regterhand verskyn uit sy mou uit. Aan sy middelvinger skitter ’n yslike seëlring. Die swart oë kyk Abdul steeds stip aan toe sy hand toegaan oor die munte.

Abdul voel die eerste keer in jare koue rillings teen sy ruggraat afgly.

 

Die aand in sy kamer sukkel Abdul om te slaap, en nie net omdat die kamer na ongewaste beddegoed ruik nie.

As hy sy oë toemaak sien hy die helder weerkaatsing op die horison.

Hy is seker die kalief se lyfwag is op sy spoor. Die weerkaatsing wat hy gesien het, was beslis ’n wapen of ’n verkyker. Nuus oor sy afspraak moes uitgelek het.

Om alles te kroon hang twee swart pupillose oë oor alles en kyk op hom af. Koue rillings tintel weer teen sy ruggraat af.

“Die revolusie moet kom en towery is nonsens,” fluister hy. Die vasberade klank in sy stem laat hom effens beter voel.

Daar is ’n harde stamp teen sy deur gevolg deur ’n vreeslike geraas. Iets wat breek. Koue vingers gryp sy hart vas. Die kalief se lyfwag.

Hy kyk in die vertrek rond. Daar is geen wegkruip- of ontsnapplek nie. Hy moet maar die deur oopmaak en hoop vir die beste.

Buite kruip ’n man in die maanlig op die grond rond.

’n Bekende, onaangename reuk hang in die lug.

“Wat vang jy aan?” vra Abdul.

“Ek is die ongelukkigste handelaar in Bagdad,” sug die man.

Hy staan moeisaam op, stof sy hande teen mekaar af.

“Vandag, omtrent vyf kilometer van die oase af, skrik my kameel vir ’n woestynadder en gooi my af. Een van my kosbare spieëls vlieg nog verder deur die lug as ek. Ek val dat ek hik. Die spieël val homself te pletter. Die kameel skrik so, hy val in die pad. En ek sit met sewe jaar ongeluk.”  

“Die spieël het deur die lug getrek?”

“Net so. Ek het my doodgesukkel om die kameel te vang en weer koers te kry. Hy het my drie keer raakgespoeg.”

“Ek ruik so. My arme vriend.”

Die man sug verleë.

“Hierdie tyd van die nag en vyf goue muntstukke later kry ek slaapplek in Bagdad. In die donker stamp ek sowaar nog ’n kosbare spieël teen jou deur stukkend.”

“Nou sit jy boonop met veertien jaar ongeluk.”

Die ongelukkige handelaar sug weer.

Abdul buk om te help spieëlskerwe optel. Sy hart sing. Daar is geen lyfwagte van die kalief op sy spoor nie. Hy was verniet bang. Sy strategiesessie gaan môre pynloos verloop. Een van die dae is die werkersklas gemobiliseer en die revolusie in volle gang.

 

Abdul is terug in sy bed. Sy hele lyf word swaar en hy sweef na waar drome en werklikheid versmelt.

Al is hy nog halfwakker droom hy reeds.

Hy staan iewers, hy weet nie presies waar nie.

Hy moet iemand daar ontmoet, hy weet nie presies wie nie.

Hy is in ’n gebou met ’n oop deur. Hy hoor voetstappe buite. Hy weet dis die een wat hy moet ontmoet, maar hy weet nie hoe hy dit weet nie.

Die voetstappe kom nader. Iemand gaan nou enige oomblik in die oop deur verskyn. Die voetstappe begin perfek sinkroniseer met die klop van sy hart.

Soos die voetstappe nader kom word die geluid van sy hartklop ook harder. Sy hartklop saam met die voetstappe word ’n oorverdowende gehamer in sy ore.

’n Irrasionele vrees pak hom beet.

Hy wil nie sien wie of wat in daardie deur gaan verskyn nie.

Hy wil nie die afspraak nakom nie.

Hy is doodseker die voetstappe behoort aan iemand met oë so swart dat die pupille onsigbaar word.

Bo die geluid van sy hart se hamerslae en voetstappe wat naderkom hoor hy ’n stem. “Abdul…”

Met wilskrag ruk hy homself wakker en sit regop.

Senuweepunte regoor sy lyf tintel. Hy was in sy lewe nog nooit so beangs nie.

“Abdul…”

Hierdie keer is die stem beslis nie ’n droom nie.

Hy spring uit die bed uit en steek ’n lamp aan. Hy is alleen in die kamer, maar sy skaduwee beweeg heen en weer teen die muur. Die vlammetjie van die lamp in sy hand flikker asof daar ’n trek in die kamer is, maar alles is bottoe.

Die vlammetjie flikker en gaan dood.

’n Wind waai tussen sy blaaie. Sterk. Hy verloor sy balans een met sy hand op die bed om regop te bly.   

In die geluid van die wind hoor hy weer die stem. “Abdul…”

Nou wens hy dit was eerder die kalief se lyfwagte. Met hulle kon hy dalk nog redeneer.

Wat doen ’n mens met hierdie vyand? Hy glo nie eers aan hierdie vyand nie!

Daar is net een oplossing.

Hy draai na die ooste, val neer met sy kop tussen sy knieë en sy hande uitgestrek. Sy ma het in sy kindertyd die woorde vir hom geleer.

“Beskerming is wat ek soek,

Allah so groot,

teen Shaitan, vervloek,

en teen die dood.”