Landing in die vreemde – Marietjie Uys

landing in die vreemde – 2017 © MARIETJIE UYS

Wetenskapfiksie Gedig

“Landing is suksesvol voltooi.”

die paneelkas is in liggies getooi

waar Dork op nog instruksies wag

van ‘n stem in sy oor met meer gesag

as die juigende massa wat daarin raas,

oor die landing wat elkeen daar verbaas.

 

Tyd is relatief in hierdie wentelbaan,

waar hy teen die son se rigting gaan.

Tog, reken hy dit was ‘n uur of twee

van die kennis dat sy brandstof ingee

en dat hy in slegs minute sal moet land

voor hy die motore dalk uitbrand.

 

Die planeet is nuut, nog onbekend

sê die span wat hom sy boodskap send.

Die aantref daarvan was heel onverwag

en nie een van hulle was hierop bedag.

Met gasse en temperatuur gemeet,

kan hy maar uitklim, het hul laat weet.

 

Met die eerste tree op onbekende terrein,

veg Dork vir balans in die dowwe skyn

van die vaartuig se ligte in die donker,

waar slegs nou en dan ‘n sterlig flonker.

Die oppervlak gee mee, sak in en swig

onder die vaartuig en sy eie gewig.

 

Uiteindelik kry die wegsak tog gestop

en hy sukkel om sy voete uit te pop,

sodat hy verder weg kan gaan bekyk

hoe hierdie planeet van nader lyk

en of daar enige tekens van lewe is;

vyandig, goedgesind, van hom bewus?

 

Sy treë trap stadig in en uit die wand

en sy oë sukkel met die nuwe verband

wat hier tussen lig en donker bestaan,

heel anders as in die son se wentelbaan.

Hy het sy oë meermalig geknip en gerek

voordat hulle kon fokus op hierdie plek.

 

Dit is die reuk wat hom eerste bereik

waar hy sukkelend in die donker aanstryk

salig onbewus van die vreemde ding

wat in die donker skemer hom omring

en stadig maar seker nader skuif,

‘n beweging êrens tussen sweef en dryf.

 

Die reuk laat hom opkyk om te bepaal

wat die oorsprong is, maar sy sig bly faal.

Dis eers toe klein sensors hom betas

dat hy bewus word van die vreemde ras

wat hom stilswyend in die hoogte optel

en hom verskuif op ‘n ongehoorde bevel.

 

Toe hy weer besef, is hy terug in die tuig

en hy luister na die motore wat sis en suig.

Die meters wys die brandstoftenks is vol

en stadig begin die planeet om weg te tol.

“Die opstyg is suksesvol uitgevoer,”

laat weet hy ‘n skare wat hewig rumoer.

 

Ondersoeke is gelas en missies uitgestuur

met geen verklaring gevind vir hierdie uur

wat Dork en die mense met vrae verstom

soos wie, waar, wat, maar meestal hoekom.

Jare later sou Dork steeds hieroor moes wonder

waarom was hy hiervoor uitgesonder?