Liefdesgodin

Evanthe Schurink

liefdesgodin – 2017 © Evanthe Schurink

Gedig – Volwasse Fantasie

met seewier in haar hare

deinend vaak half deur die slaap

onskuldig soos ‘n kind

uitgespoel op wit sand

roep haar skuim vingers jou nader

om in haar vlak watertjies te speel

draai jy jou rug op my

word deel van ‘n fantasie

haar skoonheid uitgesprei oor blou fluweel

kon jy haar nie weerstaan

met haar golfvingers wat oor jou streel

sagte plekkies met oorgawe kus

onskuldig in holtetjies speel

 

hoor jy my sagte smeek:

“Kom terug na my.”

 

dobberend oor haar deinings

dans jy op haar maat

seemeeue knars

jy het jou in haar verloor

niemand gaan jou ooit weer vind

sy is jou asem

jy deel van haar

jy verblind deur die son wat op haar skyn

word deel van haar heiligdom

waar siele hul bevind

verslind deur haar wraak

waar dit donker is en stil

waar seegrasse in oogkaste groei

korale kruip om die nek

van die wat weg wou gaan

maar jy sien net die mooi in haar

deur fantasie is jy verlei

hoor jy my sagte smeek:

“Kom terug na my

ek kan nie sonder jou leef.”

 

sy speel met jou ‘n spel

voer jou weg na ‘n verre plek

om jou te verswelg

om vir ewig in haar dieptes te bly

of tot sy verveeld  raak

dan sal sy van jou ontslae raak

jou uitspoeg

‘n ander vind om haar te vermaak

jy sal terugkeer na my

maar tot dan

is jy ‘n willose wier

hoor jy my sagte smeek:

“Kom terug na my

ek kan nie sonder jou leef.”

 

jou horison verdwerg

jy word moeg

druipnat in haar liefde

wil jy afskeid neem

nie meer op haar golwe dans

wil jy terug kom na my

of is jy nie meer verblind

deur die son wat op water skyn

sien jy haar donker dieptes raak

die dood wat in haar skuil

van die wat haar verlaat

hoor jy my sagte smeek:

“Kom terug na my

ek kan nie sonder jou leef.”

 

Jy wou gaan maar kon nie

net soos die ander is jy vasgevang

het sy jou teen haar rotse gebreek

nou sien jy haar soos sy is

geen fantasie meer

uit swart-blou dieptes

klim strydrosse op

aangedryf deur die sweep van verraad

vee sy als in haar pad gelyk

met een vernietigende kyk

skiet weerligstrale uit haar oë

klap die skoot uit die pistool in my hand

syfer haar lewe weg in wraak

wat klewerig pomp uit die gat in haar hart

hoor ek jou sagte smeek:

“Kom terug na my

ek kan nie sonder jou leef.”