MIRA & CECILÉ – Mnr CJ Nöthling

MIRA & CECILÉ – 2017 © Mnr CJ Nöthling

Wetenskapfiksie

Soos die Weerburo reeds ‘n maand vantevore voorspel het, ondervind  Pretoria gure weer, dink dr. Hein Dekker terwyl hy in die lang tonnel iewers onder die Ruimtesentrum afstap en die druppels van sy reënjas op die sintetiese mat afskud. Nou ja, sedert die koms van die tydwurm en die tydversneller is dit lank nie meer ‘n kuns om die weer so ver vooruit te voorspel nie, mymer hy by homself.

Hy frons wanneer hy aan die Weerburo dink. Hierdie instansie is die enigste wat deur ‘n tydwurm na die toekoms mag reis. En dit om kwansuis die weer te voorspel. Hy snork. Dit terwyl die res van die wetenskaplike gemeenskap slegs as waarnemers in die kronkelgange van die verlede mag rondrits sonder om aan iets te raak.

En dan is die Weerburo ook die enigste instansie wat ‘n bydrae tot historiese rekonstruksie kan lewer, dink hy. Droogtes en ander natuurrampe in die toekoms kan mos voorsien en voorkom word, lui die redenasie. Wat ‘n sotheid! Maar alles wat in die verlede gebeur het, is kwansuis heilig en onaantasbaar, het die Wetenskaplike Beheerraad in sy wysheid besluit. Selfs die ellende en lyding van die Tweede Anglo-Boereoorlog  moet behoue bly.

Dekker is so in sy eie gedagtes vasgevang dat hy nouliks bewus is van die metaalagtige gedrog wat skielik voor hom inbeweeg en sy weg versper. “Halt!” sê die robot met ‘m meganiese stem terwyl ‘n skerp lig uit sy metaalharnas in Dekker se oë skyn, “identifiseer jouself.”

“Ek haat robotte” sê brom Dekker terwyl hy sy oop handpalm in die lug hou vir skandering, “ek is doktor Hein Dekker, krygshistorikus van die Universiteit van Pretoria.”

“Net ‘n oomblik.”

Die robot staan ‘n paar sekondes doodstil terwyl allerlei piepgeluide die lug vul en ‘n ry veelkleurige liggies op sy voorkop aan en af flits.

“Goed” sê die robot eindelik tevrede, u kan maar deurgaan na die dekontaminasie-area en Hokspoor 13. Hulle wag reeds vir u.”

Die robot beweeg geruisloos opsy en terselfdertyd skuif die staaldeur agter hom oop. Dekker bevind hom nou in smal gang wat uitloop op ‘n helderverligte vertrek. Uit ondervinding weer hy dat hy nou ‘n volle minuut van sy kosbare lewe in die dekontaminasie-area sal moet deurbring. Hy sug gelate en loop dan tot in die rooi sirkel wat in die middel van die vertrek aangebring is.

“Maak gereed vir skandering en dekontaminasie” sê ‘n onsigbare vrouestem oor ‘n interkom.

“Ek is gereed” sê Dekker half geïrriteerd, “kielie my sodat ek my kan doodlag. Ha ha”.

“Skandering begin nou” gaan die vrouestem ongestoord voort, en die volgende oomblik raak hy bewus van die aftasters se ligte aanraking, nes ‘n effense briesie wat skielik omsit in ‘n lastige kriewelrigheid.

“Skandering afgehandel. Dekontaminasie en spoeling begin nou.”

Hierdie keer ervaar Dekker ‘n sensasie wat hom aan ‘n aangename  massering  herinner. Darem  wonderlik, hierdie elektroniese skropborsel, dink hy. Wanneer ek hier uitstap sal ek hopelik geen nuwe goggas en kieme na die verlede saamvat nie. Maar ‘n mens weet nooit, daar’s altyd die gevaar dat iets kan deurglip. Dit sal darem ‘n groot gemors afgee as soiets in die Tweede Anglo-Boereoorlog beland. Dinge was reeds erg genoeg in die konsentrasiekampe…

“Proses voltooi. U kan maar deurgaan na Hokspoor 13” onderbreek die onsigbare vrouestem sy gedagtes, “onthou om u isoleerpak in die verbindingsgang aan te trek.”

“Dankie  tog”  sê Dekker verlig en haas hom na die elektroniese deur wat na verbindingsgang en die hokspoor lei, “ek wil nie laat wees vir my afspraak nie.”

In die verbindingsgang pluk Dekker die muurkas oop en trek die silwerkleurige isoleerpak aan en stap vinnig deur na Hokspoor 13.

Die vertrek waarin hy hom nou bevind, is allesbehalwe klein. Dit  is  in  werklikheid  ‘n  groot  saal  vol  monitorbanke, rekenaarskerms en elektroniese borde teen die mure. Dit kon net sowel die operasiesentrum van ‘n moderne krygsmag gewees het, dink Dekker terwyl hy na die middel van die saal stap waar die langwerpige gondel in die skerp dakligte glinster.

Die gondel. Dekker sug. Wat ‘n pragtige ding. Amper mooier as professor Vermeer se jong assistente wat nou die dag in ʼn Victoriaanse rok met Hokspoor 12 se gondel per ongeluk in ‘n tydskring verdwyn het. Hy frons. Was dit werklik ‘n ongeluk? En wat was haar naam nou weer? 0 ja, Mira de Beer. Dit was nou regtig jammer, hy was nog van plan om haar van nader te leer ken, die meisie met die raafswart hare en donkerbruin oë. Sy het elke keer so mooi vir hom geglimlag met daardie pragtige mond met die vol lippe en pêrelwit tande. Maar dit was altyd die geheimsinnige Cecilé wat tussen hulle gestaan het. Hy skud sy kop effens en glimlag.

Nogal ironies, hierdie ding met Cecilé. Hulle het nog nooit ontmoet nie, want tweehonderd jaar skei hulle. Sy is reeds ‘n geraamte iewers in ‘n Engelse kerkhof. Maar danksy hierdie vaartbelynde gondel wat hom aanstons deur die tonnel van ‘n tydwurm gaan slinger, sal hulle hopelik vanaand in lewende lywe ontmoet.

Dekker glimlag en sy hart klop vinniger. Liewe Cecilé, ek is op pad, die groot oomblik het aangebreek!

“Goeie naand, doktor Dekker, Gondel 13 is gereed. Kontroleer asseblief  die  tydinstelling  en  chronometers”  groet  die hooftegnikus hom.

Dekker knik. “Naand en dankie.”

Die gondel se koepelvormige dak is reeds opgeslaan. Die romp is besonder laag ontwerp sodat hy met gemak kan inklim en agter die instrumentpaneel plaasneem. Feitlik onmiddellik skakel die videoskerm op die instrumentepaneel aan en die volgende oomblik kyk hy vas in die bleek visoë van sy departementshoof, professor Vermeer.

Soos gewoonlik is Vermeer stuurs en half onvriendelik. En onbeskof daarby. Nog voordat Dekker hom kan groet begin hy met sy gebruiklike blafstem praat. “Goed, Dekker, jy ken die dril, ek gaan nie alles herhaal nie. Onthou net dis ‘n herwinning- en  waarnemingsending. Vind juffrou De Beer en bring haar terug. En geen verdere  inmenging nie, verstaan?”

Nee, ek verstaan nie, dink Dekker geamuseerd. “Ek verstaan, professor, sê hy stroopsoet.

“Goed. Juffrou se De Beer se verdwyning het ons verhoudinge met die Ruimtesentrum reeds versuur. Ons kan nie bekostig om ons deelname aan die program te verloor nie. Gee my nou ‘n opsomming van jou sending.”

“Die hoofdoel van my sending is om juffrou De Beer te vind en terug te bring. Die sekondêre doel is om meer aangaande lord Alfred Milner se bewegings tydens sy besoek aan Londen te wete te kom. En om vas te stel of ene Cecilé  – die vrou met wie hy ‘n verhouding gehad het – wel ‘n rol in die aanloop tot die Tweede Anglo-Boereoorlog kon gespeel het.”

Professor Vermeer se kille visoë beskou hom ‘n paar oomblikke stilswygend en Dekker begin ongemaklik wonder of sy hoof se priemende blik in sy binneste kan insien. Vermoed Vermeer straks dat sy belangstelling Cecilé veel verder strek as die historiese raamwerk van sy opdrag? ‘n Siddering gaan deur Dekker se liggaam. ‘n Asketiese oujongkêrel soos Vermeer is nie ‘n ou vir sulke romantiese verbeeldingsvlugte oor geheimsinnige vroumense met ‘n twyfelagtige reputasie nie. Nee, ou Vermeer in al sy melankoliese starheid kan net opgewonde raak oor dorre feite. “Voorspoedige reis” sê Vermeer dan skielik kortaf en sy gesig verdwyn van die videoskerm af. Dan verskyn daar ‘n kaart van Engeland. Dekker se bestemming word deur ‘n flitsende kursor aangedui.

“Gaan asseblief u  tydinstelling en bestemming na”  sê die hooftegnikus.

“Tydinstelling is in die kwadrant 23 Januarie 1898, om 0900. Lokaliteit is Dukestraat 47, Brixton in Londen, Engeland. Die gondel se landingsplek is die parkie oorkant die losieshuis waar Milner tuisgaan… En die chronometers se instelling stem ooreen.”

“Goed” sê die hooftegnikus tevrede, “ons sluit nou die dakluik. Die eksterne boordtegnikus neem oor. Hy sal die gondel met afstandbeheer in die nanobuis plaas en deur  die  tydwurm  lanseer.  Hierna  neem  die vlugrekenaar oor wat die landing sal uitvoer. U kan nou maar ontspan, doktor.”

Dekker sluit sy oë. Oor die kajuit se interkom kom daar die klanke van ‘n rustige melodie. Hy voel skielik lomerig. Dit was ‘n lang dag met al die voorbereidings wat hy moes tref. En dit sal nie saak maak as hy nou ‘n bietjie indut nie, dink hy tevrede.

Wanneer die gondel ‘n paar sekondes later teen die spoed van lig na ‘n ander tydskring bars, is hy reeds in droomland danksy die ligte narkose wat in sy gasmasker se suurstofmengsel ingepomp word. En hoewel dit net ‘n droom is, ervaar hy die reis glashelder en lewenswerklik – hy droom hy vlieg oor die kus van Engeland en sien hoe die wit rotswande van Dover onder hom verbyskuif.  En ver onder hom lê die uitgestrekte landskap uitgestrek,  soos ‘n eindelose groen tapyt, opgesny in talle blokke van landerye en weilande. Alles lyk soos rustig, dink hy verwonderd terwyl hy laer duik om die wisselende taferele onder hom van nader te beskou. Op hierdie wolkelose wintersdag straal die sonverligte landskap selfs ‘n illusie van warmte uit.

Skielik lê die Teems onder hom, soos ‘n kronkelende silwerslang deur die groen valleie. Hy hoef nou net die loop van die rivier te volg om sy bestemming te bereik. En so vlieg hy laag oor die breë watermassa voort, onderweg na Londen en die kleine Cecilé.

Hein is so vasgevang in sy eie droom dat hy die grys boeg van die skip voor hom byna te laat gewaar. En terwyl hy probeer om weg te swenk, word hy bewus van die skrille geskal van die mishoring in sy ore.

En dan is hy skielik wakker en weer terug in die gondel, veilig op moederaarde. Dekker skud sy kop en kyk half verdwaasd deur die dakluik se ruit. Die gondel het ‘n perfekte landing op die parkie uitgevoer, maar hy hoor steeds die mishoring in die verte. Het hy gedroom, of het hy die vlug in sy onderbewussyn meegemaak? Hy dink ‘n oomblik hieroor na, maar onthou dan skielik sy sending.

Hy klim versigtig uit en kyk om hom rond. Nou dat hy buite op die grond staan, kan hy die gondel nie sien nie. Die driedimensionele spieëls en laserkristal waarmee die gondel toegerus is, verbuig en  projekteer  die  vaartuig  se  verstrooide beeld  tweehonderd  meter daarvandaan. Hierdie veiligheidsmaatreël verseker dat niemand met die gondel sal kom lol nie. En danksy die ligstrooiingseffek van sy isoleerpak kan  Dekker self gesien word waar hy nie werklik is nie. Gelukkig kan hy alles normaal deur sy solarbril waarneem, dink Dekker.

Hy kyk op sy chronometer. Dis reeds negeuur en die heer Milner kan enige oomblik by die losieshuis se voordeur uitstap. Hy begin in die rigting van die parkie se hek stap, maar steek vas wanneer hy die keb voor die losieshuis sien intrek. Dekker trek sy asem in.

Hoewel dit te ver is om die gelaatstrekke van die vrou op die agterste bankie te sien, weet hy intuïtief dat sy jonk en mooi  is.  En  daar  is  bykans  iets  bekends  omtrent  haar liggaamshouding, asof hulle al voorheen ontmoet het. In die bleek strale van die oggendson werp haar wyerandhoed ‘n donker skaduwee oor haar gelaatstrekke en laat haar geheimsinnige voorkoms net verder verdiep. Gewis ‘n aantreklike vrou, besluit Dekker. maar dit bevestig net wat hy reeds vermoed.

Hy hou haar gespanne dop terwyl sy deur die kebdrywer afgehelp word. Dekker begin nader beweeg, maar kom dan weer tot stilstand. Die losieshuis se deur het skielik oopgegaan en ‘n skraalgeboude man in ‘n donker jas is besig om met die trap na onder te klim. Milner!

Dekker plaas sy hande op sy heupe terwyl hy kopskuddend die toneeltjie voor hom aanskou. Cecilé in haar spierwit romp en die valletjies is ‘n toonbeeld van skoonheid en vrolikheid naas hierdie skraal man met die bleek humorlose gesig en sy verspotte kierie.

“Goeie more, Cecilé” hoor hy Milner sê terwyl hy met sy kierie in haar rigting beduie, “ek was juis op pad na jou toe.”

Die vrou glimlag terwyl sy by Milner inhaak. “Sal ons ‘n entjie gaan ry?” vra sy, “daar is iets waaroor ons moet gesels.”

Vir ‘n oomblik lyk dit of die Engelse staatsman  uit die veld geslaan is. “Dis nou toevallig, Cecilé” kom hy dan tot verhaal, “ek wou juis met jou oor iets belangrik gesels. Maar nie hier nie.”

Die vrou glimlag fyntjies terwyl sy terug in die keb klim. “Ek verstaan, Alfred. Ons moet nie hier saam gesien word nie.”

Milner kug ongemaklik. “Ag, verstaan tog my posisie, Cecilé” sê hy half pleitend terwyl hy haar volg. “Ek kan nie sommer…”

Wanneer die keb  skielik begin beweeg,  word Dekker onverhoeds betrap. Die twee Hackney-karperde spring op fris drafstappie weg en hy moet sy treë rek om die keb in te haal. Uiteindelik slaag hy daarin om aan die agterkant op te spring. Hy moet egter klou om nie sy greep te verloor nie, maar eindelik slaag hy daarin om homself op te trek en met ‘n sug en bonsende hart val hy agter die rûe van Milner en Cecilé neer.

“Jy weet Cecilé” hoor hy Milner se hoogdawerende stem, “Jy weet nie wat jy vir my beteken nie. Jy was altyd die meisie van my drome. Ek het al die jare van jou gedroom, en toe het my droom skielik werklikheid geword.”

Sulke onsinnige twak, dink Dekker terwyl hy steeds uitasem na sy asem snak. Die man het die skoot regtig hoog deur. En dit nogal oor die meisie van my drome.

“Ek voel werklik gevlei, Alfred” sê Cecilé bedeesd, “maar wat wil jy vir my sê?”

Milner antwoord nie dadelik nie en dis duidelik dat hy sy antwoord versigtig oorweeg. Dan: “Cecilé, ek dink jy is daarvan bewus dat ons twee…Wel, hoe sal ek dit nou sê..”

“Ons is nie van dieselfde stand nie, Alfred” help sy hom liefies reg, “jy is pure adel en ek ‘n pleb – soos ‘n Boer.”

“‘n Boer! Ag nee, Cecilé, ek sal jou darem nie met ‘n Boer vergelyk nie” maak Alfred heftig beswaar. En dan vervolg hy heel gewigtig en bedeesd: “Maar verstaan tog my posisie. En jy weet hoekom ek in Engeland is. Die belange en eer van Groot Brittanje is op die spel daar in Suider-Afrika. En oorlog is ‘n ernstige saak. Ek het alles tog aan jou verduidelik.”

“Ja, ja, liewe Alfred. Maar wat het dit met my te doen?”

“Verstaan tog, Cecilé. Hierdie dinge gaan al my aandag en kragte eis. Ek vertrek more.”

Die finaliteit in Milner se stem laat by Dekker geen twyfel oor die implikasie van sy woorde nie. Die vent is sowaar besig om sy meisie af te sê! Hy kan nie besluit of hy bly moet wees of die man aan sy gorrel moet gryp nie. Dekker sit regop om beter te hoor.

Daar volg ‘n lang ongemaklike stilte – dis net die perde se ritmiese galop op die kieselstene. “Ek sien, Alfred. Jy het jou loopbaan gekies – of is dit Engeland? En daar’s nie plek vir ‘n meisie van my stand in jou lewe nie.”

Milner se reaksie is so skielik en heftig dat selfs die perde skrik en versnel. “Vervlaks! Ek het geen keuse in die saak nie! Ek moet my liefde vir jou opoffer, Cecilé! Dis alles vir Groot Brittanje! Dis my lotsbestemming! Ag, was ek maar iemand anders”.

Die man klink werklik moedeloos, dink Dekker. Dis asof hy in ‘n hartverskeurende tweestryd gewikkel is.

“Of ek” voeg sy koeltjies by, “as ek maar ‘n meisie uit die adelstand was. Maar nou is ek net die stomme Cecilé, die meisie in ‘n man se drome.”

“Liewe Cecilé” sê Milner half pleitend, “jy is meer as net ‘n droom – jy’s werklikheid! ‘n wonderwerk! Weet jy wat dit vir my beteken? Dit . . “

“Ag spaar my die melodrama!” val sy hom snydend in die rede, “ek is moeg daarvoor om die meisie in iemand se drome te wees. En ek is nie ‘n wonderwerk nie.”

“Maar jy is, Cecilé. Die feit dat jy nou hier langs my sit en met my praat, is bewys daarvan.”

“Is die man nou kranksinnig” sê Dekker hardop en dan besef hy wat hy gedoen het.

Hulle het hom duidelik gehoor. “Wat?” vra Milner half verdwaasd terwyl hy omkyk, reg in Dekker se oë. Gelukkig kan hy my nie sien nie, dink Dekker verlig.

Dan draai die meisie ook om en die volgende oomblik kyk Dekker in die blougrys oë van Cecilé. Natuurlik kan sy hom nie sien nie, maar sy bly na hom staar met vlammende oë, net asof sy weet dat hy daar is. En sy is nie bly oor sy teenwoordigheid nie.

“Ek kon sweer ek het ‘n stem gehoor” sê Milner naderhand, “soos ‘n Boer wat Afrikaans praat.”

“Nou toe nou!” lag Cecilé half senuweeagtig, “hier in Londen! Miskien begin jy jou dinge verbeel, Alfred. Boere praat in elk geval Afrikaans, my liewe Engelsman.”

“Seker maar ou Paul Kruger wat van my skinder” lag Milner. “Ewenwel, waar was ons? 0 ja, wat ek wou sê, Cecilé, ek het gisteraand besef jy ‘n teken is dat ek my drome met al my kragte moet najaag, Cecilé. Ek het van jou gedroom en jou in my dagboek geskep, en jy het gebeur. En nou glo ek dat my droom vir die vestiging van Brittanje se belange in Suid-Afrika bewaarheid sal word.”

“Ek sien” sug Cecilé, “en niks sal jou van jou planne laat afsien nie. Al beteken dit oorlog. Maar ek het iets om te beken, Alfred. Ek is nie die meisie van wie jy gedroom het nie. “

Alfred Milner laat hom egter nie van stryk af bring nie en haar woorde trek langs sy ore verby. “Oorlog is onvermydelik” sê hy met  tipiese  Britse  gewigtigheid,  “en  die  mantel  het  nou ongelukkig op my geval om dit te laat gebeur”.

Ek het nou genoeg hiervan gehad, besluit Dekker terwyl hy orent kom en op Milner se verspotte bolkeil afkyk. “Nou luister hier, jou imperialistiese snob” trek hy in Engels los, “jy kan kies tussen ‘n bloedige oorlog en Cecilé, en as ek jy was, sou ek haar gekies het!” en met ‘n swierige gebaar klap hy Milner se bolkeil van sy kop af.

“Stop die keb!” gil Milner verskrik, “ek moet af! Dit goël hier!” en die man struikel-val van die steeds bewegende keb af. Wanneer sy voete die kieselstene tref slaan hy byna neer, maar dan herwin hy sy ewewig en soos ‘n vetgesmeerde naelloper seil hy by die keb verby, die punte van sy jas wapperend agterna. Dekker kan nouliks sy lag bedwing en is op die punt om onbeheersd in ‘n lagbui uit te bars, maar hy raak skielik bewus van Cecilé se ysige swye.

En dan ruk die keb tot stilstand. Cecilé draai om en kyk in Dekker se rigting, haar blougrys oë vol blitse.

“Dit was nou lelik van jou, Hein” sê sy bitsig in Afrikaans, “jy het nou alles bederf. Ek kon ‘n oorlog gekeer het. Verdomp!”

“Ek…Maar..Ek kan dit nie glo nie! ” roep Dekker verbaas wanneer hy haar skielik herken. “Jy is nie Cecilé nie! Waar kom jy vandaan, Mira?”

Haar reaksie is voorspelbaar: effense ruk van die kop (daardie lastige vlegsel in die oë) en die suggie. “Miskien moet ons eers afklim” sê sy en hou haar arm uit vir Dekker, “voordat die kebdrywer histeries word.”

Dekker help haar af en sy haak by hom. “Nou” begin sy op ‘n gemoedeliker noot, “ek veronderstel ek moet verduidelik. Waar sal ek begin?”

“Wat maak jy hier, Mira?” trek Dekker los, “Cecilé en Milner is my projek.”

“Ag, alweer Cecilé” kap sy terug, “jy het so oor Cecilé aangegaan dat jy niks en niemand anders raakgesien het nie. Dit het my ‘n groot pyn besorg. Ek het toe maar besluit om te kom kyk wat so wonders omtrent hierdie Cecilé is…En groot was my verbasing..”

“En waar is sy nou?” val hy haar bars in die rede, “en hoekom het Milner jou as Cecilé aangespreek?”

“Waar is sy nou? lewers in Milner se verbeelding, skat ek” lag Mira, “maar gee my net kans om te verduidelik.”

Dekker knik. “Goed, ek luister.”

“Wel,  ek het  toe  ‘n ongeskeduleerde vlug gedoen en hier aangeland. En vir ‘n paar dae Milner dopgehou en hom gevolg. Dit was die maklike deel, want ek het ook sy dagboek gelees. Milner en Cecilé gaan op ‘n fietstoer en roei op die Teems. Dis amper soos ‘n pasgetroude paartjie op hul wittebrood. Alles goed en wel, behalwe vir een ding.” Sy swyg en haar gesig versomber.

“En wat is dit?” vra Dekker as die stilte ondraaglik word.

“Geen Cecilé nie. Milner is stoksielalleen. Al die inskrywings oor Cecilé in sy rooi dagboekie is vals. Sy is ʼn skepping van sy verbeelding. Milner is eintlik ‘n baie eensame mens, maar hy droom van ‘n magtige ryk en ‘n mooi vrou.  Verstaan jy, Hein?”

Hy skud sy kop ongelowig. “Nee, ek glo dit nie. Maar wat van die foto  in Milner se dagboek?”

Mira glimlag. “Dis ʼn foto wat Milner van my geneem het.  “Ek was sy Cecilé,  die meisie van  sy drome  –  en  sy verbeelding. Sy  is  die meisie  soos  hy haar  in  sy drome idealiseer. ‘n Bietjie los en wild, en nie so gebonde aan Victoriaanse konvensies nie.”

“Maar waarom? Ek sou nie soiets van Milner verwag nie”

Mira haal haar skouers op. “Wel, dis moeilik om te sê. Dalk iets soos verbode vrugte. Ek het hom vir ‘n paar dae agtervolg en hom dopgehou. En toe het ek begin wonder: is dit sy idee van ‘n roekelose avontuur, maar sonder die risiko? In sy drome is enigiets moontlik. Maar later maak hy dit meer gewaagd deur ‘n dagboek aan te hou.”

“En toe word jy Cecilé?” sê-vra Dekker.

Daar  verskyn  ‘n  effense  glimlag  om haar mondhoeke.  “Die versoeking was net te groot. Ek wou weet hoe hy sou reageer as die meisie wat hy in sy verbeelding geskep het,  skielik in lewende lywe voor hom verskyn.”

“En?”

“Een oggend toe hy by die hotel uitkom met sy fiets, het ek vir hom gewag met myne. Hom rustig gegroet, asof dit ‘n normale ding was. Op my fiets geklim en saam met hom weggery. Hy was eers uit die veld geslaan en toe geskok, maar ek het hom gou oorreed. Hy was soos klei in my hande – ek was verstom, maar terselfdertyd verskrik. Ek het nie geweet wat om te doen nie. En toe het ek gehoop jy kom. ” Sy glimlag skaam.

“Wel ek het toe gekom, net om te ontdek dat jy probeer om die gang van die geskiedenis te verander.  Maar gelukkig –  of ongelukkig – het die storie geboemerang. Milner het weggehardloop en dis nou tyd vir ernstige nadenke, Cecilé.” Hy probeer streng klink soos wanneer hy sy studente by Tukkies aanspreek, maar hierdie keer werk dit nie so goed nie.

“Haai, jy noem my Cecilé!” roep sy verras uit en haar tande flits in die flou oggendson, “jy’t my uiteindelik raakgesien, doktor Hein Dekker!”

“En met goeie rede ook” brom Dekker blosend, “jy het immers Milner se droom bewaarheid en myne verpletter. En nou sal jy die prys daarvoor moet betaal.”

“O?” vra sy met ‘n ligte frons en ‘n bekommerde blik in haar oë.

Hy kug ongemaklik. “Ek’s bevrees jy sal nou vir Cecilé moet instaan en die meisie van my drome word. Maar onthou  net, ek is nie Milner nie”.

“0 hoe opwindend!” skree sy uitgelate en slaan haar arms om sy nek, “is ons nou ʼn item?”

“Wag nou, Cecilé, nie so haastig nie. Wag, ons moet vertrek” sê hy half verleë.

“Waarheen gaan ons?”. Haar arms is steeds om sy nek,  haar pragtige raafswart hare in sy gesig, selfs in sy mond. En hy besef skielik dat hy daarvan hou.

“Suid-Afrika toe. Ek wil eers ‘n bietjie vakansie gaan hou. Vir die familie op hul wynplaas by Montagu gaan kuier en so aan. Ek dink my oorgrootjies gaan verbaas wees om my te sien. Is dit reg so, Mira?”

Mira glimlag en soen hom op sy wang. “Dis reg so, my liewe Hein.”

[Outeursnota: Lord Milner het inderdaad ‘n rooi dagboekie aangehou waarin inskrywings oor sy verhouding ‘n misterieuse vrou genaamd  Cecilé aangeteken is. Afgesien van sy dagboek kon historici geen verdere inligting oor haar bekom nie. Die outeur se aanname dat sy ‘n fiktiewe produk van sy verbeelding was, is dus eintlik foutief. Of is dit? In die mens se verbeelding is enigiets moontlik, of hoe? Die leser moet self besluit.]