‘n Wye draai

Alwyn Tredoux

‘n wye draai – 2017 © ALWYN TREDOUX

Volwasse Fantasie

Nog ’n Castle vir moed; Marietjie sit nog verder weg.

Nog kouer; nog ’n stomp op die vuur sodat sy nie liggaamshitte nodig het nie.

Nog ’n grappie of gevatte opmerking; sy word nog stiller.

Tom het gedroom oor vanaand.

Net hulle vier in die bos.

Archie en Gerda sal afpaar.

Hy het sy nuwe windbreker met die wintie kettinkies aan die sakke aangetrek.

“Hier slaan ons groot katte dood, mmm…” Archie doen stemoefeninge.

As hulle eers begin sing, gaan hulle deurdruk dagbreek toe. Wat kan jy anders verwag van vier koorlede?

Hy moet vinnig plan maak.

“Kyk rondom julle,” sê Tom met ’n hol stem. Sy natuurlike bas is ideaal vir die effek.

Die ander drie begin ongemaklik rondskuif.

Alles buite die vuurkring lyk stikdonker. Selfs op hierdie helder, maanverligte aand. Boomtakke gooi lang skaduwees. Die volmaan wat deur die boomtoppe loer, verhoog die onheilspellende effek.

Gerda skakel dadelik op Tom se golflengte in.

Sy bewe oordrewe. “Dit is so spookagtig. ’n Monster kan in die bos lê en sy lippe aflek sonder dat ons dit vermoed.”  

“Spoke en monsters maak my nie bang nie,” sê Marietjie. Sy skuif niks nader aan Tom nie.

Gerda lag. “Wat van daardie heerlike vrees in die donker as ’n mens ’n regte gruwelfilm kyk?”

Marietjie antwoord op haar stil manier met daardie stem wat almal graag na luister. Veral as sy sing. “Vandag se nuus is die vreesaanjaendste riller ooit. Mense wat jou in jou eie huis kom seermaak, doodmaak, verkrag.”

Die ernstige wending is glad nie wat Tom in gedagte gehad het nie.

“Wat my laat kop verloor,” voeg Marietjie by, ”is flieks oor mal mense.”

“Soos Hannibal,” spring Gerda opgewonde weg. “Daai reeks oor die psigiater wat mense doodmaak en hulle vir sy gaste gee om te eet.”

“Hannibal Lector het ’n huishoudelike naam geword na die film Silence of the lambs wat in 1992 die groot vyf Oscars gewen het. Anthony Hopkins het die rol gespeel.”  

Almal kyk ’n paar oomblikke verstom na Archie. Dan begin hulle gelyk lag. Dit maak nie saak hoeveel keer jy  hom hoor inligting uitspoeg nie, dit bly ’n verrassing.

“Hoe weet jy dit? Ons was nog nie eers gebore nie!” proes Gerda.

“Dis ’n klassieke film.”

“Dankie, Google Du Toit,” spot Tom. “Maar ek hou van ’n regte ou spookstorie. Ek het al goed gelees wat my laat wonder het. ’n Ou in Engeland het ’n boek geskryf oor gedokumenteerde spookverskynsels. Hy beweer daardie skielike gevoel van vrees wat jou nekhare laat rys, is ’n spook  wat in jou nek blaas.”

Hy knipoog vir Archie.

Hulle lê gelyk oor en blaas in Gerda en Marietjie se nekke.

Tom los ’n bloedstollende gil. Vir ’n bas in die universiteitskoor het hy nogal die verstommende vermoë om nes ’n vroumens te gil.

Almal om die vuur gil saam.

Tom lag. Dit werk altyd.

Marietjie het hom om die arm beet. Uiteindelik. Sy snak na asem langs hom, na aan trane.

Gerda lag verleë saam met hom. Sy behoort nie meer vir sy streke te skrik nie.  

Archie probeer hard om nonchalant-kwaai te lyk. “Tom!” sê hy.

“Jammer… Maar ek moet net vir julle een storie uit die boek vertel.”

Almal skuif reg. Marietjie los nie sy arm nie. Dinge begin beter lyk.

“Dit was ’n bos en ’n kampvuur soos hierdie waar vier studentevriende van Oxford een aand bymekaargekom het. Die voggies het gevloei.” Tom lig sy bier op soos vir ’n heildronk en maak die blikkie leeg voor hy aangaan.

“Hulle besluit toe om ’n pakt te sluit en met hulle eie bloed te onderteken.”

“Jig. Wat is ’n pakt?” vra Gerda.

“’n Ooreenkoms, soos ’n kontrak,” antwoord Archie.

“Presies. Elke jaar, tot in ewigheid, op dieselfde datum en tyd, sal hulle weer bymekaarkom.”

“So die res van hulle lewens het hulle op dieselfde dag gekuier. Nie veel van ’n spookstorie nie,” merk Archie droogweg op.

“Onthou, die pakt het gesê tot in ewigheid.” Tom slaan weer oor na die hol basstem van vroeër.

Hy kan die spanning om die vuur aanvoel. Hy weet wanneer hy ’n gehoor in die holte van sy hand het.

“Elke jaar het hulle notules gehou van hulle byeenkomste.”

“Hopelik nie alles in bloed nie,” lag Gerda senuagtig.

“Een jaar se notule het ’n mosie dat ’n heildronk gedrink word op… kom ons noem hom… Archie, wat tragies in ’n motorongeluk dood is.”

Gerda lê haar kop simpatiek op Archie se skouer neer.

“Bietjie verder, onder presensie, staan ’n nota: Archie het by ons aangesluit.”

Drie kele maak geluide van skrik en skok en ongeloof. Marietjie klou sy arm stywer vas.

“Die notule-inskrywing het jaar na jaar dieselfde gebly tot nog ’n vriend dood is. Skielik was die inskrywing, Archie en sê maar… Tom, het by ons aangesluit.”

“Kom, ek raai. Uiteindelik was net een vriend lewendig oor en al drie spoke het elke jaar by hom kom kuier,” sê Archie.

“Nee,” antwoord Tom. Hy slaan weer oor na die Stem. “Die laaste inskrywing was: Nou is net ek oor. Dit makliker om na hulle toe te gaan. Die laaste vriend is dood gevind in sy studeerkamer met die notuleboek by hom.”

Almal blaas hulle asem uit. Tom weet hierdie storie was ’n sukses.

“Jy sê dis gedokumenteer. So die notuleboek bestaan nog?” vra Archie.

“Nee. Dit is lank in Oxford se biblioteek bewaar. Dit het verlore geraak met verbouings, jare gelede al.”

“Soos allle urban legends. Geen verifieerbare bewyse nie,” sug Archie,

Tom besef skielik sy blaas wil bars. Hy wil nie beweeg nie. Marietjie hou nog sy arm vas. Ongelukkig het hy nie veel van ’n keuse nie.

Hy staan op. “Julle moet my verskoon. Ek moet ’n draai gaan loop in die bos. Dink solank aan ’n storie wat met hierdie een kan kompeteer.”  

Tom kies koers die bosse in. Hy probeer om so reguit as moontlik te loop.

Marietjie se oë brand in sy rug. ’n Onnadenkende geslinger sal die deurbraak wat hy gemaak het, beslis opneuk.   

Buite die ligkring gaan hy staan sodat sy oë aanpas by die maanlig. Hy mik vir ’n  lekker groot boom stut hom met een hand teen die stam. Hy weet niemand kan die watervalletjie teen die boom hoor nie, al hoor hy hulle gesels.

`Spookstories is nog op die agenda.  

“Weet ’n spook hy is ’n spook?” vra Marietjie. Tom is bly dat sy saamgesels sonder die ernstige trant van vroeër.

“Natuurlik, hulle kom agter hulle sleep kettings rond.” Soos altyd het Gerda ’n lag in haar stem.

“Spoke sleep g’n kettings nie. Die legende is ’n produk van Marley se spook in A Christmas Carol deur Charles Dickens wat met kettings aan Scrooge verskyn het.”

Tom giggel. Google-Archie.

Hy moet gou maak dat hy kan gaan saamgesels.

Eers sy kop teen die growwe boomstam rus. So ja. Nou kan hy waag om sy hand weg te vat.

Trek jou maag in, dink hy. Hierdie rits moet behoorlik toegetrek word.

Na agt biere is sulke detail belangrik. Hy wil nie met ’n gapende oop gulp langs Marietjie gaan sit nie.

Hy besef skielik hoe koud dit regtig hier so ver van die vuur af is en maak sy windbreker toe tot teen sy keel. Die kettinkies aan die sakke klingel.

Op pad terug vuur toe slinger hy bietjie in die donker. Hy sal nou-nou in die vuur se lig weer konsentreer om reguit te loop.

Die volgende oomblik struikel hy oor ’n los klip en slaan neer.

Sy kop klap teen iets. Seker een van die klipharde ou miershope wat die veld vol is.

Hy voel aan die seerplek teen sy slaap.

Dis natterig.

Bloed.

Hy kyk op sy hand. Dis te donker om iets te sien, maar dis verbrands seer.

Miskien moet hy net ’n rukkie lê om tot verhaal te kom. Die pyn is klaar weg.

Hy spring op en besef hy is sommer vaster van voet. Skoon nugter geskrik.

In elk geval, sy balans is baie beter.

Snaaks, vir die eerste keer hoor hy duidelik met elke tree hoe die kettinkies aan sy windbreker raas.

Tom voel skielik vreemd. Dis asof hy moeiliker loop met elke tree, asof hy iets swaar dra. Die geluid van die windbrekerkettinkies weerklink ook al hoe harder in sy ore.

Hy hoop nie hy het harsingskudding nie.

“Wat hoor ek?” herken hy Marietjie se stem.

Hoekom klink sy so benoud? Hulle verwag mos om hom deur die bosse te hoor terugkom.

Tom staan in die vuurgloed. Sy vriende staar hom aan.

“Wat?” vra hy.

Hy voel weer aan sy slaap. Bloei dit so erg?

Gerda se mond het nog nooit so ver van ’n glimlag af gelyk nie.  

Archie se lippe beweeg. Daar kom nie ’n geluid uit nie.

“Wat?” vra hy weer.

Marietjie se gesigsuitdrukking wys hy kan sy drome vir vanaand vergeet.

Sy gil. Vreesbevange.

Archie se lippe beweeg nog, soos iemand wat saggies bid.

Tom kan nou hoor wat hy sê. Hy herhaal een woord oor en oor.

“Kettings.”