Oeps

Alwyn Tredoux

oeps – 2017 © alwyn tredoux

Volwasse WF

Die wetenskaplike praat en die soldaat luister.

So hoort dit, dink die soldaat sinies. Hy blah-blah voort. Die dom soldaat verstaan niks nie. Hy moet net sy lewe waag as gevaar kom.

Stilte. Die soldaat besef hy moet iets sê.

“Wie sou dink kon dat ons deur miljoene jare sou reis?” vra hy.

“Einstein het al die teorie agter die oplossing gehad. Toe ons materie ontdek wat vinniger as die spoed van lig beweeg, was dit eenvoudig,” antwoord die wetenskaplike.

“Hoe gaan ons met die oermense praat? Gebaretaal?”

Die wetenskaplike skud sy kop en klap sy tong. “Die films is verkeerd. Dinosouriërs en hominide het nooit gelyk die aardoppervlak bewandel nie. Paleontoloë het ’n jarelange diskussie oor die aard van die kataklismiese uitwissingsgebeurtenis wat die einde van reptiele se oorheersing op die aarde beteken het. Die gebeurtenis het die weg gebaan vir opkoms van soogdiere en die uiteindelike ontwikkeling van homo sapiens – die mens.”

So lyk hy seker as hy klasgee, dink die soldaat. Die meerderwaardige kyk oor die bril. As hier ’n swartbord was, het hy geskryf en die klas moes aantekeninge neem.

“Ons moet nou finaal gaan kyk wat met die dinosourusse gebeur het,” sê hy.

Die wetenskaplike knik tevrede.

“Hoekom wil ons dit weet? Wat maak dit saak hoe ’n klomp akkedisse miljoene jare gelede gevrek het?” vra die soldaat.

Die wetenskaplike lyk nie meer tevrede nie, eerder geïrriteerd.

“As ons klarigheid kry oor die rede van die vorige groot oorheersers van die aarde se ondergang, kan ons voorberei is vir soortgelyke bedreigings vir die mensdom,” antwoord hy driftig.

Hy kyk die soldaat vraende aan. Selfs die domste student behoort te verstaan, dink die soldaat, maar hy mag vrae vra.

 “As ons daar kom, wat van landingsplek? Hoe gaan ons die uitwissingsstorie oorleef? Hoe kom ons terug by die huis?”

 “HG Wells in “The time machine” het in die negentiende eeu reeds verstaan dat tydsreise ’n skeur in die tyd en ruimte kontinuum sal veroorsaak, sonder dat die tydsreisiger ooit werklik van ruimte verwissel. Hierdie profetiese wetenskapsfiksie het nou wetenskap geword,” antwoord die wetenskaplike oordrewe geduldig, soos iemand wat ’n kleuter leer rrr sê.

“So, ons staan doodstil op dieselfde plek buite Sasolburg, maar ons beweeg in tyd?”

“In leketerme. Verder is ons in ’n tydkapsule wat van onvernietigbare metaal gemaak is. Ons sal geensins deur gebeure buite beïnvloed word nie en ons sal alles waarneem met die nuutste inligtingstegnologie.”

“Goed. So verduidelik weer vir my wat ek hier maak. As ons die hele tyd knus in ons nessie gaan wees sonder om die tydkapsule te verlaat, waarvoor gaan jy ’n soldaat nodig hê?”

“Vra dit. Ek sou eerder hierdie avontuur met ’n navorsingsassistent wou deel.”

Die soldaat sien die wetenskaplike en ’n bloedjong meisie met net ’n kort laboratoriumjassie aan. Hy glimlag. Hy sou ook eerder saam met haar hier wou wees.  

“Verder, is die instellings van die tydkapsule so geprogrammeer dat alles met een druk van ’n knoppie in trurat geplaas word. Dus, soos ’n klimtol wat terugkeer na ’n kind se hand, keer ons terug na ons eie tyd. Vir diegene wat vir ons wag, sal dit lyk asof ons verdwyn en weer verskyn.”

“So jy stem saam dat ek nie hier hoef te wees nie.”

“Onder normale omstandighede,” antwoord die wetenskaplike. “Maar, my borge het my verseker dat jy die persoon is om byderhand te hê vir abnormale omstandighede. Jy is klaarblyklik in jou veld net so ’n ekspert is as ek in myne. Jy het ’n stel vaardighede wat onmisbaar sou wees as iets skeefloop, die van hantering van die onverwagte en toepassing van krisisbeheer.”

“Dankie. Ek het wel al ’n paar keer in warm water beland en sonder ernstige brandwonde daaruit gekom, maar ek hoop regtig alles loop glad. Ek voel bietjie uit my diepte, of moet ek sê uit my tyd, uit.”

Die wetenskaplike glimlag. “Toemaar. Alles is tot in die fynste besonderheid beplan. Ek is seker alles sal perfek wees.”

 

Die vertoonpaneel is besig om mal te gaan. Die elektroniese syfers hardloop te vinnig om te volg.

                Die soldaat ruk aan die wetenskaplike, wat besig is om te dut, se skouer.

Die wetenskaplike skrik wakker en spring op.” Wat’s fout?” mompel hy deurmekaar en kyk deur die tydkapsule rond.

“Wat gaan daar aan?” vra die soldaat en wys.

Die wetenskaplike kyk, glimlag breed en vryf sy hande teenmekaar. “Dit, my vriend, beteken dat ons baie naby aan ons bestemming is.”

Die soldaat wonder wanneer hy van dom student tot vriend bevorder is.

“Soos ons nader aan die bestemde tyd is gaan die tyd in relasie tot ons bestemming natuurlik vinniger verby. Dink wanneer jy op ’n snelweg ry en ’n voetganger hardloop voor jou oor die pad. As jy hom ver voor jou sien het jy baie tyd om te rem. As hy egter reg voor jou inhardloop, het jy veel minder tyd,” gaan die wetenskaplike voort.

Die soldaat verstaan die beeld maar voel nie tevrede nie. “Gaan ons nou bots met die dinosourustyd?”

Die wetenskaplike lag.

“Nee, dis ’n beeld met gebreke. Ons stoptyd is presies geprogrammeer. Onthou, dis tyd, nie ruimte nie. Ons beweeg nie regtig nie. Ons kan nie bots nie.”

“Ons is die eerstes, reg?” vra die soldaat.

“Korrek, my vriend. Ons twee is amptelik die wêreld se eerste tydreisigers. Behalwe natuurlik ’n paar eksperimentele probeerslae om seker te maak dat alles reg werk,” antwoord die wetenskaplike met sy kenmerkende selftevrede laggie.

“Nou hoe kan jy so seker wees alles gaan gebeur soos jy dink dit gaan gebeur?”

“Wiskunde, my vriend. Wiskunde.” Die wetenskaplike lag weer.

Terwyl die syfers op die vertoonpaneel voorthardloop gaan sit die wetenskaplike by ’n groot skerm met ’n sleutelbord. Hy druk ’n paar sleutels en die skerm begin lewe. Dit lyk soos ’n pikswart nagtoneel met golwende wit ligte wat in bane oor die skerm hardloop.

“En dit?” vra die soldaat.

“Dit is die skeur in die ruimte en tyd kontinuum waardeur ons beweeg wat in liggolwe vertoon word.”

Die swart beeld word ligter. Dit word blou en dan groen.

Dit lyk soos ’n televisiebeeld wat in fokus kom. Plantegroei en dan. Die soldaat fluister deur sy tande.

“Ja my vriend. Dit is ’n trop Hooglandse Reuse. Die eerste fossiel is so onlangs gevind dat hulle nog nie ’n wetenskaplike naam het nie. Dis die grootste dinosouriër wat ooit in Afrika gevind is, 50 persent groter in gewigsterme as die Dinosourus Rex. ’n Vreedsame plantvreter.”

Asof hy die wetenskaplike se woorde wil bevestig, pluk een van die reusereptiele ’n mondvol reuseblare uit die reuseboom waarby hy staan. Hy kou stadig met sy kake in ’n sirkelbeweging, soos ’n koei. Dalk is dit ’n sy.

Die soldaat kan sy oë nie van die skerm af wegneem nie. Dis asof hy die eerste keer regtig besef, of glo, dat hulle deur tyd tot hier gereis het. Die beeld word heeltyd groter, meer in fokus.

“Dit lyk sowaar asof ons op hulle gaan land, soos ’n helikopter.”

“Dis ’n optiese illusie. Ons materialiseer net vanuit die skeur in die ruimte-tyd-kontinuum. Vir enige toeskouer sal dit bloot lyk of ons uit die niet materialiseer. Ek het dit ’n paar keer in eksperimente gesien.”

Sonder enige waarskuwing verander die beeld drasties. Dis asof ’n hittegolf oor die skerm beweeg. Die pragtige prentjie buite verloor fokus.

Die soldaat leun vorentoe om die skerm ’n klap te gee. Dit werk altyd met sy antieke televisiestel by die huis.

Dis al wat hom regop hou.

Die hele tydkapsule ruk asof hulle met ’n slag teen iets gebots het.

Die soldaat gryp net betyds aan die skerm vas, wat stewig teen die muur gemonteer is.

Die wetenskaplike tuimel onderstebo. Sy kop klap hard teen die vloer.

“Ek dag ons kan nie bots nie,” sê die soldaat.

“Ons kan nie,” prewel die wetenskaplike en hou sy kop vas.

“Oeps,” sê die soldaat.

Die wetenskaplike sit regop. Sy oë benoud. Hy masseer sy slape.

“Jy onthou daai uitwissingsgebeurtenis waarvan jy my vertel het?” vra die soldaat.

“Ja?”

“Ek dink dit was ons.”

“Wat?”

Die wetenskaplike spring op, kopseer vergete. Hy kom staan by die soldaat en saam kyk hulle na die beeld op die skerm. Groen velde met ’n klomp reusedinosourusse wat lyk of hulle almal gelyk besluit het om te gaan slaap. Bewegingloos met geen tekens van uiterlike beserings nie.

“Hel, nee! Die chaosteorie! Ons het dit nooit in berekening gebring nie.”

“Jy bedoel daai storie van die skoenlapper in Suid-Afrika wat ’n orkaan in Sjina veroorsaak?”

“In leketerme. Ons het nooit die effek van ’n klein skeurtjie in die ruimte-tyd-kontinuum eksponensieel oor miljoene jare in ag geneem nie…”

“Uitwissingsgebeurtenis?”

“Korrek. En jy besef die implikasie?”

“Hierdie yo-yo durf nie terugkeer na die kind se hand toe nie.”

“Korrek.”

“Ek het slegte nuus,” sê die soldaat en laat sak sy kop. Hy kyk nie vir die wetenskaplike nie.

“Wat kan slegter wees?”

“In my hele stel vaardighede is daar nie ’n enkele een wat hierdie buitengewone omstandighede kan hanteer nie.”