Sondae middae

 Carmen Riekert

Sondae middae – 2017 © Carmen Riekert

Volwasse WF

Sondae middae sessies

is vir soete slaap en sinvolle opsessies

met sensasionele gedagtes betrokke in spoedige skietgeveg

Ek dink ek sien ‘n soeklig of ‘n verskietende ster

Die spekulerende spekrum is stelselwyd ver

 

Senuwees word in ‘n sekonde meer sensitief

Ek sien ‘n skitterende sterre stroom en besef ek is smoorverlief

Subtiele stof stukkies wat om my speel en my sig verseël

Dis spikkels en stippels wat dans en die sekelmaan salueer

soos tyd stilstaan en stiptelik stagneer

 

Ek is vir ‘n sekonde sonder sonde

aan aardse gravitasie onverbonde

‘n Tipe vergifnis wat bo my begrip is

Dit is hoe dit voel om te sweef – om te leef

om ten volle sielsgelukkig mens te wees

 

Ek bevind myself tussen twee dimensies wat met mekaar stoei

Onbekende seisoene wat saam sluip, dan stop, weer stap en gloei

Vonk rotse spoeg vuurwerke wat smeul

Stiptelik, stip-vir-stip

Hoor my stem as ek fluister en die verwondering afsluk

 

Iemand het ‘n sakkie silwer hier verloor

Die sterrestelsel met smulderende smarag probeer versmoor

Vasgevang in ‘n spervuur tot die sleutel vir sukses

Die edelgesteentes speel saam op die skoppelmaai

Ek staan stil soos hulle om my sing en swaai

 

More sal die songeweer weer sy strale skiet

My geheime besoek verewig vasgevang in die skadu van ‘n sateliet

Met oop oë staan die sonnestelsel net buite my strek

Ons sal seker weer saam sing, sag in suiker sand stene lê

Dan sal ek snikkend, my geheime vir jou sê

 

As ek weer my aardlikse sterflikheid betree

wil ek hierdie onthou en in die verte in skree

My steekproef se statisitek staaf die feit

Ek is verstom, stilstuipe

Met die beseffing die lig is gevul met snuisterye

 

My kind, ons is slegs stukkies sterrestof

Ongesluipte diamante, skitterend steeds rof

Ons is bittersoet en growwe seepgladde stene

Ek dink ek sien ‘n verskietende ster jou wens inhaal

My skat, jy straal, jy is sensasionaal