Timo en Tania – Mnr CJ Nöthling

timo & tania – 2017 © Mnr CJ Nöthling

Wetenskapfiksie

Soos die Weerburo reeds ‘n maand gelde voorspel het, reën dit in   Pretoria, dink Timo Bekker terwyl hy in die tonnel onder die Ruimtesentrum afstap en die druppels van sy reënjas op die mat afskud. Nou ja, sedert die koms van die gondel en die tydversneller is dit lank nie meer ‘n kuns om die weer so ver vooruit te voorspel nie, mymer hy by homself en sug. As hy maar net ‘n tydige voorspelling oor sy gebroke huwelik gehad het!

 Hy frons wanneer hy aan sy huwelik dink. Sy stormagtige huwelik is genadiglik agter die rug en die egskeiding is gister afgehandel, maar hy voel allermins verlig. Die realiteit van die hele tragiese affêre het hom eers vroeg vanmiddag getref toe Maryna met ‘n reistas voor hom gestaan het.

 “Ek gaan nou, Tim” het sy hom kil gegroet.”Ek gaan in die strandhuis bly. Die een in Stilbaai.”

 Hy het net geknik en gewag totdat haar motor om die hoek verdwyn het. Sy is weg, het hy gedink. En ek bly alleen agter in ‘n leë huis vol slegte herinneringe.

 Tim is so in sy eie gedagtes vasgevang dat hy nouliks bewus is van die metaalagtige gedrog wat geruisloos voor hom inbeweeg en sy weg versper. “Halt!” sê die robot met ‘n  blikstem terwyl ‘n skerp lig uit sy blink harnas in Bekker se oë skyn, “identifiseer jouself.”

 “Ek haat robotte” sê brom Tim terwyl hy sy oop handpalm in die lug hou vir skandering, “ek is Tim Bekker, hoofingenieur.”

 “Net ‘n oomblik.”

 Die robot staan ‘n paar sekondes doodstil terwyl allerlei piepgeluide die lug vul en ‘n ry veelkleurige liggies op sy glimmende voorkop aan en af flits.

 “Goed” sê die robot eindelik tevrede, u kan maar deurgaan na die dekontaminasie-area en Hokspoor 14. U skof begin oor vier minute en agt sekondes.”

 Die robot beweeg opsy en terselfdertyd skuif die staaldeur agter hom oop. Die Ruimtesentrum se hoofingenieur bevind hom nou in ‘n smal gang wat uitloop op ‘n helderverligte vertrek. Uit ondervinding weer hy dat hy nou ‘n volle minuut van sy kosbare lewe in die dekontaminasie-area sal moet deurbring. Hy sug gelate en loop dan tot in die rooi sirkel in die middel van die vertrek.

 “Maak gereed vir skandering en dekontaminasie” sê ‘n onsigbare vrouestem oor die interkom.

 “Ek is gereed” sê Tim half geïrriteerd, “kielie my sodat ek my kan doodlag. Ha ha”.

 “Skandering begin nou” gaan die vrouestem ongestoord voort, en die volgende oomblik raak hy bewus van die aftasters se ligte aanraking, nes ‘n effense briesie wat skielik omsit in ‘n lastige kriewelrigheid.

 “Skandering afgehandel. Dekontaminasie en spoeling begin nou.”

 Hierdie keer ervaar Bekker ‘n sensasie wat hom aan ‘n aangename  massering  herinner. Darem  wonderlik, hierdie elektroniese skropborsel, dink hy. Wanneer ek hier uitstap sal ek hopelik geen nuwe goggas en kieme na die verlede saamvat nie. Behalwe my herinneringe aan Maryna  wat nou seker in haar strandhuis sit met ‘n skemerkelkie in die hand en kyk hoe die branders oor die rotse breek.

 “Proses voltooi. U kan maar deurgaan na Hokspoor 14” onderbreek die onsigbare vrouestem sy gedagtes, “onthou om u isoleerpak in die verbindingsgang aan te trek.”

 “Dankie  tog”  sê Tim Bekker verlig en haas hom na die elektroniese deur wat na verbindingsgang en die hokspoor lei, “ek wil nie laat wees vir my skof nie.”

 In die verbindingsgang pluk hy die muurkas oop en trek die silwerkleurige isoleerpak aan en stap vinnig deur na Hokspoor 14.

 Die vertrek waarin hy hom nou bevind, is allesbehalwe klein. Dit  is  in  werklikheid  ‘n  groot  saal  vol  monitorbanke, rekenaarskerms en elektroniese borde teen die mure. Dit kon net sowel die operasiesentrum van ‘n moderne krygsmag gewees het, dink Tim  terwyl hy na die middel van hokspoor 14 saal stap waar die langwerpige gondel in die skerp dakligte glinster.

 Die gondel. Tim sug. Wat ‘n pragtige ding, hierdie dubbelkajuit. Amper mooier as die beeldskone Maryna. En sy hardeware is alles my skepping, dink hy trots. Ek is dalk nie goeie troumateriaal nie, maar hier is ek ‘n meester.

 Die gondel se koepelvormige dak is reeds opgeslaan. Die romp is besonder laag ontwerp sodat hy met gemak kan inklim en agter die instrumentpaneel plaasneem.

 “Hallo Tim” word hy verwelkom deur Fritz Geel, sy tegnikus en vriend. “Ek is bly jy is hier. Ons sukkel steeds met die chronometer. Hulle  het die sagteware weer gelaai, maar daar is steeds ‘n tydverskil.”

 Tim frons terwyl hy op die tegnikus afkyk. “Hoeveel Fritz?”

“Minus vyf uur presies op die nabootser. Ons kan nie Everett se teorie van gedupliseerde en parallelle wêrelde toets as daar ’n tydverskil is nie…Dis nou amper vieruur. Sou die gondel nou  sywaarts in tyd lanseer…”

“Dan sal dit elfuur in die oggend in die gedupliserde wêreld arriveer” val Tim hom ongeduldig in die rede. “Maak dit enige verskil?”

“Volgens  doktor Verhoef kan dit fataal wees. Die gondel kan in ‘n tydlose vakuum beland en dan is daar geen kans vir terugkeer nie.”

Tim sug. “Nou ja, laat ons weer na die chronometer kyk. Miskien is dit ‘n defekte geleier.”

 Hy buk af en bekyk die chronometer langs die instrumentepaneel van naderby. Eers kan hy niks verkeerds sien nie en  begin dink dat die hele eenheid afgeskroef sal moet word toe hy iets ongewoons bemerk.

 “Die geleiers is nie in lyn nie. Die silinderkop moet presies in die gleuwe pas.”

 “O” sê Fritz verbaas, “wat doen ons nou?”

 “Ons sal die gondel moet aanskakel en die silinderkop se werwelskroewe uitdraai totdat ons dit tot in die regte posisie kan draai net soos ‘n antieke vonkverdeler” antwoord Tim. “Kry vir my ‘n skroewedraaier, ‘n nommer tien sterpunt.”

 Fritz  skud sy kop. “Ek weet darem nie, Tim. En wat is ‘n vonkverdeler? Moet ons nie liewer ‘n elektroniese skroewedraaier…”

 “Die sterpunt asseblief!” bars Tim los, “nou dadelik. Ek soek ‘n gewone outydse skroewedraaier. Die elektroniese goed is te vinnig en beskadig die skroefdraad.”

 “Hoekom moet die gondel aan wees?” probeer Fritz vir oulaas walgooi, “sê nou..”

 “Die gondel se stroombane moet geaktiveer wees wanneer ek die kop draai” onderbreek Tim hom, jy weet dit tog. Kry die dekselse skroewedraaier!””

 Fritz mompel iets en stap kopskuddend na die werkbank terwyl Tim die gondel aanskakel. Feitlik onmiddellik is die instrumentepaneel helder verlig. Hy luister ‘n paar oomblikke aandagtig na die gonsing wat uit die enjin opklink en knik dan tevrede. Mooier as enige simfonie, dink hy terwyl hy in die werksbank se rigting kyk. Waar bly Fritz net die sterpunt?     

 Hy is op die punt om na die tegnikus te roep toe sy vriend langs die gondel opdaag.

 “Jammer Tim. Moes een langsaan gaan leen. Maar ek kon nie nommer tien kry nie. Net ‘n nege.”

 Hy oorhandig die sterpunt aan Tim wat dit uit sy hand gryp en onderlangs swets. Dis ‘n goedkoop Chinese skroewedraaier, beslis nie van titanium soos dié in sy gereedskapkamer tuis nie. Omdat hy nou geen ander keuse nie sal hy maar dié een moet gebruik. Hy spring dadelik aan die werk. Die skroewedraaier is egter te klein en gly ‘n bietjie, maar tog kry hy die eerste skroef los. Die tweede een sit egter halstarrig vas.

 “Kom jou ellendige skroef, jy’s erger as ‘n vrou” brom Tim terwyl hy nog meer krag op die skroewedraaier uitoefen.

 “Pas op vir die lanseerknop, Tim” waarsku Fritz bekommerd, “jy wil nie nou..”

 Hy is egter te laat want op daardie kritieke oomblik breek die skroewedraaier se punt morsaf en Tim val vooroor teen die instrumentepaneel. Hy steek sy regterhand uit om sy momentum te stuit en soos die noodlot dit wil hê, beland dit teen die rooi lanseerknop.

 “Lansering geaktiveer” sê ‘n vrouestem doodkalm oor die kajuit se luidspreker, “tydinstelling is in die kwadrant 20 Januarie 2144 om 1800 uur. Lokaliteit is onveranderd ruitverwysing 25 grade 44 minute suid en 28 grade 18 minute oos.”

 Die gondel is vir ‘n fraksie van ‘n sekonde in duisternis gehul voordat die luiklig aanskakel. Tim se hand skiet blitsvinnig uit na die noodskakelaar om die lansering te stop, maar hy weet dis reeds te laat.

 Die gonsing maak skielik plek vir ‘n onaardse gebrul en ‘n paar sekondes later bars die gondel en sy insittende  teen bykans die spoed van lig sywaarts deur na ‘n ander tydskring op ‘n ongeskeduleerde vlug na ‘n onbekende bestemming.

 Enige normale man sou op hierdie oomblik in ‘n maalkolk van angs en paniek vasgevang wees, maar Tim Bekker ervaar slegs ‘n gevoel van doodse kalmte. Dit is net nie my dag nie, dink half sinies hy terwyl hy magteloos en half gelate na die instrumentepaneel kyk. Waar gaan hierdie ellendige tydmasjien land en in watter wêreld?    

 Gelukkig sal hy gou uitvind, want ‘n sywaartse sprong in tyd vind in ‘n millisekonde plaas en hy is eintlik reeds by sy bestemming. Die gondel se enjin het reeds afgeskakel en daar heers ‘n ongewone stilte in die kajuit. Vir die eerste keer voel hy gespanne.

 “Lansering voltooi en bestemming bereik. Lokaliteit onveranderd, tydverskil vyf uur presies” sê die vrouestem oor die interkom. “Dit is nou elfhonderd uur en een minuut.”

 Bekker skud sy kop en kyk half verdwaasd deur die dakluik se ruit. Maar al wat hy sien is ‘n blou hemel met enkele wit wolkies. Hy luister gespanne in die hoop dat geluide vanaf die hokspoor se werkswinkel hom sal bereik, maar daar heers nou ‘n doodse stilte. Na ‘n rukkie gee hy die stryd gewonne. Hy kan maar net sowel uitklim en uitvind  waar  hy hom nou bevind.  

 Hy klim versigtig uit en kyk om hom rond. Soos hy gevrees het, is daar geen teken van die hokspoor nie. Net ‘n verlate parkie waar die ruimtesentrum veronderstel is om te wees. Hy besef ineens dat daar geen ruimtesentrums en dus geen tydmasjiene in die parallelle wêreld bestaan nie.

 “Verdomp! sê hy en gaan op ‘n groot rotsblok sit om sy situasie in oënskou te neem.

 Hy weet minstens waar hy is. Noord van hom kan hy Cussonialaan en die bome van die Botaniese Tuin in die agtergrond sien. Aan sy oostekant loop die besige Meiring Naude-weg verby tot waar dit by  Cussonia-laan aansluit.      

 Nou dat hy buite op die grond staan, kan hy die gondel nie sien nie. Die driedimensionele spieëls en laserkristal waarmee die gondel toegerus is, verbuig en  projekteer  die  vaartuig  se  verstrooide beeld tot iewers in die Botaniese Tuin.  Hierdie veiligheidsmaatreël verseker dat niemand met die gondel sal kom lol nie.

 Nie dat dit hom enigsins beter laat voel nie. Sy onsigbare gondel los minstens een probleem op, maar om na sy eie wêreld terug te keer, is ‘n perd van ‘n heel ander kleur. In die eerste plek benodig hy ‘n goeie nommer tien sterpunt-skroewedraaier. Die enigste plek waar hy een kan kry, is by sy huis in Piet Grobler-laan wat gelukkig binne loopafstand is. Dan onthou hy skielik iets.

 Hy is nou in ‘n parallelle wêreld  en die bewoner van Piet Grobler-laan 576 is straks ‘n vreemdeling wat nie antieke gereedskap aanhou nie. Dan sal hy elders na ‘n skroewedraaier moet gaan soek. Maar sê nou hy tref sy dubbelganger by die huis aan? Hoe gaan Tim Bekker van die ander wêreld reageer wanneer hy die deur oopmaak en in homself vaskyk? En dan is daar die beeldskone maar yskoue Maryna. Op hierdie oomblik is sy die laaste mens wat hy wil sien, replika of te not.

 “Wat help dit om te spekuleer” dink hy hardop, “die enigste manier om uit te vind is om in die pad te val en te gaan kyk.”

 Hy is nie mal oor voetslaan nie, maar hy het geen ander keuse nie.  Hy stap deur die hekkie en begin om langs Meiring Naude teen ‘n stewige pas in die rigting van Cussonia te stap. Vir die eerste keer raak hy bewus van die vaartbelynde voertuie wat amper geruisloos langs hom verbyskiet. Klaarblyklik het die parallelle wêreld ook reeds ‘n alternatiewe bron van kragaandrywing vir die binnebrandenjin gevind, mymer hy.

 Op daardie oomblik skuur ‘n motor rakelings langs hom verby en hy spring uit die pad uit. Die motor kom ‘n entjie  voor hom in die noodbaan tot stilstand en ‘n frisgeboude man in kakiedrag  spring uit.  

 “En toe? Vir wat loop jy so langs die pad, Tim?” bulder die man, “daai ou kar van jou weer gaan staan? Mooi oorpak, is jy nou die Silwer Gryper? Ha ha!” 

 Nog voordat Tim iets kan sê, gaan die vreemdeling voort:”Nou ja, spring in. Waar wil jy wees – jou huis of jou motorhawe?”

 “Dankie” antwoord ietwat verras, “liewer my huis. My gereedskapkas is by die huis.”

 “Alles in die haak” sê die man, “ek weet waar jy woon. Maak vas jou gordel.”

 Ook maar goed die man het hom gewaarsku want die motor skiet teen ‘n dolle vaart vorentoe. Tim klou vir al wat hy werd is terwyl die motor teen bykans 200 kilometer in Cussonia afjaag. Gelukkig is dit ‘n kort rit en toe die motor twee minute later voor sy huis tot stilstand ruk, snak hy steeds na sy asem.

 “Stuur my groete aan jou vrou!” skree die man en knipoog, “never fear when Koos de Beer is near!” en die motor skiet met skreeuende bande weg.

 Tim kyk die motor verstom agterna totdat dit om die hoek swiep en verdwyn.

 “Kranksinnige jaagduiwel” prewel hy kopskuddend terwyl hy omdraai en na die huis kyk. Die huis lyk dieselfde, behalwe dat die dak in ‘n helderrooi kleur geverf is. Die tuin is ook netjies en goed versorg. Dis vreemd, dink hy terwyl hy sy toegangskode by die hek insleutel, beslis nie Maryna se geliefde kleur nie. En net soos ek is sy nie lief vir tuinmaak nie.

 Die hek weier om oop te gaan en hy besef dat die eienaar van die ander wêreld nie dieselfde kode gebruik nie. Hy is op die punt om die interkom te druk toe hy ‘n beweging in die tuin gewaar. ‘n Man in ‘n blou oorpak met ‘n graaf oor sy skouer kom aangestap. Hy het sowaar ‘n tuinier, dink Tim.

 “Het meneer sy kode vergeet?” vra die tuinier met ‘n breë glimlag terwyl hy sy eie kode insleutel, “en het die ou kar weer gebreek?”

 Tim knik. “Ja, ek het ‘n skroewedraaier kom haal. Is mevrou Bekker tuis.?

 “Ja meneer” antwoord die tuinier fronsend, “maar meneer kan die skroewedraaier mos by die garage kry, al dan nie?”

 Tim sug. Hy het heimlik gehoop dat Maryna nie tuis is nie. En nou raak die tuinier regtig lastig.

 “Ek het ‘n outydse een nodig, my ou. Hulle het net daai elektriese goed by die garage” verduidelik hy,  “gaan maar solank aan met jou werk, ek sal self die skroewedraaier kry.”

 Hy mik in die rigting van die gereedskapshuisie, maar word dan in sy spore gestuit deur ‘n helder vrouestem uit die rigting van die huis. “Thomas, is daar iemand by die hek?” hoor hy haar vra.

 “Dis meneer Bekker, mevrou” antwoord die tuinier heel vrolik,  “hy soek ‘n skroewedraaier.”

 Nou is hier moeilikheid, dink hy en begin hom in die rigting van die gereedskaphuisie te hardloop, sy is nie Maryna nie. Hy moet daardie skroewedraaier kry en laat spat voordat sy hom sien.

 Maar hy is te laat, want die vrou het hom gesien. “O vet pampoen!” roep sy uit terwyl sy op hom afstorm met ‘n bekommerde blik in haar donkerbruin oë , “wat soek jy hier, Timo? Iets verkeerd?”

 Hy wil iets sê, maar sy stem steek in sy keel vas. Met die eerste oogopslag besef hy dat die goedgeboude en aantreklike brunet met die effense skeel bruin oë reeds sy voete onder hom uitgeslaan het. Nog voordat hy tot verhaal kan kom, slaan sy haar bruingebrande arms om sy nek en soen hom vol op die mond. Haar vurige omhelsing laat hom lam in sy knieë voel terwyl sy hart dreig om uit sy borskas te spring. Hy is intens bewus van haar sagte warm liggaam wat teen hom vasdruk.

 “Elke keer wanneer jy onverwags uit die lug val is dit presies asof ek jou vir die eerste keer sien, my liefste Timo” sê sy en soen hom op die wang.   

 “Die voertuig het gebreek” sê hy met ‘n hees stem, “my naam is eintlik Tim. Ek het ‘n skroewedraaier kom haal.”

 “Daar gaan jy al weer met jou Tim-storie” kap sy terug, “maar vir my is jy Timo. Jy en daai ou rammelkas van jou” sê sy en skud haar kop terwyl sy by hom inhaak, “ek hou van jou nuwe oorpak. Jy lyk nes ‘n vegvlieënier van die Silwervalke. Hoe het jy hier gekom?”

 “’n Groot ou met ‘n rooi baard het my opgelaai.”

 Sy frons. Hy’t nie gesê wie hy is nie?”

 Hy dink ‘n oomblik na. “Hy het gesê never fear when Koos de Beer is near.”

 “O, ou Koos Knipoog” sê sy met ‘n diep frons, “vroue hardloop gewoonlik weg wanneer hy naby is. Het Sondag vir my in die kerk geknipoog. Dis tyd dat iemand hom ‘n goeie opstopper gee.”

 Hulle het intussen tot by die voordeur gevorder, weg van die gereedskapshuisie.

 “Praat net sag in die huis, Timo” waarsku sy en trek die deur oop, “die kinders slaap.”

 “Die  kinders?” vra hy verbaas.

 “Ja, ons kinders” sê sy trots, “Benjamin en Kyla. “Wat is dit met jou vanoggend? Voel jy goed, my man?” Sy lyk besorg terwyl sy hom in die rigting van die sitkamer stuur. “Sit ‘n bietjie, ek sit die ketel aan.”

 “Ek is eintlik haastig” kap hy teë, maar weet by intuïtief dat hierdie aantreklike donkerkop met die fassinerende bruin oë nie nee vir ‘n antwoord aanvaar nie. Hy begewe hom gedweë na die sitkamer en kom  voor ‘n vertoonkas tot stilstand. Sy oog val dadelik op die portrette bo-op die vertoonkas, veral die een van Tim Bekker en sy stralende bruid op hul troudag. Onderaan die portret staan in sierskrif geskrywe: T & T.

 Hy frons. Die een T is gewis Tim of Timo soos sy hom noem, maar waarvoor staan die tweede T?

 Sy gedagtes word onderbreek deur die skril gelui van ’n telefoon. Hy hoor die vrou se stem in die kombuis wanneer sy antwoord.

 “Wat!” hoor hy  die vrou kliphard sê, “sê weer?” Dan volg ‘n paar oomblikke se doodse stilte.

 Tim besef ineens dat hy in die moeilikheid is. Hy moet hier uit en by die gereedskaphuisie kom, dink hy en beweeg in die rigting van die gang wat na die voordeur lei. Skielik staan sy voor hom met ‘n koordlose foon haar hand, haar gesig spierwit en verskrik.

 “Wie is jy?” prewel sy, “my man is op die foon.”

 Hy druk by haar verby. “Jammer, ek kan nie nou verduidelik nie”.

 Dan is hy in die tuin. Hy loop met lang hale na die gereedskaphuisie en verwag dat die hel enige oomblik agter hom gaan losbars. Daar heers egter ‘n onnatuurlike stilte en hy bereik die gereedskapshuisie sonder enige onderbreking. Gelukkig staan die deur oop en sy oog val dadelik op die nommer 10 sterpunt op die werksbank, net asof dit daar vir hom gewag het. Hy gryp dit en glip by die deur uit in die rigting van die oop hek waar Thomas ewe gedienstig vir hom wag.

 Hy is byna by die hek wanneer die  vrou se histeriese gille die lug vul. Die tuinier kyk verbysterd na hom, maar voordat hy kan reageer is Tim blits by hom verby en die volgende oomblik nael hy in die straat af, die skroewedraaier stewig in sy regterhand vasgeklem.

 Wanneer hy die gondel sowat tien minute later bereik, is hy uitasem. Daar is egter nie tyd vir rus nie want alarm is reeds gemaak. Hy draai met ‘n bewende hand draai die werwelskroewe los. Hierna aktiveer hy die stroombaan en draai die silinderkop totdat die chronometer op nul gekallibreer is. Terwyl hy die silinderkop in posisie hou, draai hy die skroewe weer in.

 “Vat my huis toe, gondel” sê hy en druk die lanseerknop.

 “Lansering geaktiveer” sê die vrouestem, “tydinstelling is in die kwadrant 20 Januarie 2144 om 16 uur en veertig minute. Lokaliteit is onveranderd, ruitverwysing 25 grade 44 minute suid en 28 grade 18 minute oos.”

 Die motore se gonsing klink soos musiek in sy ore en wanneer die vaartuig met ‘n teen ligspoed na sy eie tydskring terugkeer, slaak hy ‘n sug van verligting. Hy is terug in sy eie wêreld.

  * * *

 “Ek is terug in my eie wêreld sê Tim vir sy vriend Fritz, “maar wie en waar is T?”

 “My innige simpatie, Tim, ek kan nie help nie. Dis nou reeds ‘n maand en jy het oral gesoek en jy dryf my teen die mure uit.  Miskien moet jy handdoek ingooi.”

 Tim skud sy kop. “Jy verstaan nie, Fritz. Sy is die wonderlikste vrou wat ek ooit ontmoet het en ek weet Timo van die ander wêreld is ‘n baie gelukkige man. Ek moet haar net kry.”

 “Miskien is daar nie ‘n mevrou T in hierdie wêreld nie” probeer Fritz sy vriend se geesdrif demp, “of dalk is sy reeds getroud. Of dood.”  

 ‘Nee, ek dink nie so nie. Ek weet sy is iewers in hierdie stad, maar waar? Ek het reeds al die kerke in die omgewing besoek, maar sy is net nie daar nie. Selfs ou Koos Knipoog het verdwyn.”

 “Wel” sê Fritz gelate terwyl hy van die tafel opstaan, “miskien moet jy maar ‘n opsporingsburo vir vermiste persone raadpleeg. Soos die een wat in die koerant adverteer. Hulle is in die Lize Lund-gebou oorkant die motorhawe in Orpenstraat.”

 “Dis nogal ‘n idee” sê Tim opgewonde, maar dan versomber sy gesig. “Net jammer ek het nie ‘n foto nie.”

 “Dis nie ‘n probleem nie. Hulle kan met jou leiding ‘n gesigsamestelling vir jou doen op ‘n rekenaar mits jy haar goed kan beskryf”.

 “Tot in die fynste besonderhede” sê Tim hoopvol, “in die Lize Lund-gebou sê jy?”

                                                 * * *

 Die opsporingsburo se voorvertrek is kaal en beknop. Die grootste gedeelte word deur die ontvangsdame se lessenaar in beslag geneem. Die besoeker se eerste indruk is allesbehalwe bemoedigend, maar dan val sy oog die aantreklike meisie agter haar rekenaar.

 Die brunet is in ‘n lewendige gesprek op die telefoon vasgevang met haar oë vasgenael op die enkele portret bokant die deuringang. Uit haar stemtoon lei hy af dat sy besig is om met die persoon aan die ander kant van die lyn te argumenteer. Hy neem reg voor die lessenaar stelling in en wag dat sy hom raaksien. Haar blik bly agter stip op die portret gerig.

 “Vir die laaste maal,  daar is niks tussen ons nie, kry dit nou in jou simpel kop!” bars sy skielik uit, “dit was ‘n eenmalige afspraak en ons het nog nooit ‘n verhouding gehad nie.”

 Die meisie se uitbarsting laat die besoeker ‘n tree terugdeins, maar kom vinnig tot verhaal. Die gesprek raak nou regtig warm en interessant, dink hy geamuseerd terwyl hy ongeërg probeer voorkom. Sy moet net nie agterkom dat hy haar gesprek met die laspos aan die anderkant van die lyn  afluister nie;  sy is op hierdie oomblik beslis nie in ‘n goeie bui nie. Hy draai sy rug op die meisie en kyk na die portret terwyl hy sy ore spits. Skielik besef hy dat daar ‘n onnatuurlike stilte in die vertrek heers. Hy swaai om en kyk vas in haar bruin oë.

 “O vet pampoen” sê sy verward na ‘n lang stilte en glimlag verleë, “jammer, ek het jou nie sien inkom nie. Ek is Tania”.

 “Toemaar, ek gee nie om nie” antwoord hy, “ek wou..” Hy praat nie verder nie want sy beduie met haar linkerhand dat hy moet stilbly.    

 Sy is steeds besig om met die laspos te gesels. Sy luister met ‘n diep frons op haar gesig en sy is duidelik nie ingenome met wat die vent vir haar sê nie.

 “Hoor hier, Koos Knipoog” sê sy na ‘n lang geluister, “jy moet van my vergeet. En buitendien, daar’s ‘n nuwe man in my lewe.”

 ‘n Geskokte stilte aan die ander kant. Dan hoor die besoeker vaagweg Koos se growwe stem oor die foon.

 “Sy naam? Ek dink nie dis jou besigheid nie, Koos” sê sy kalm terwyl sy met ‘n vaste blik op die besoeker rus.

 Maar Koos Knipoog het die mentaliteit van ‘n hardkoppige kopluis en wil nie bes gee nie. En dis duidelik dat hy wil weet wie die nuwe man in haar lewe is. Maar sy praat nie verder nie en die vraende uitdrukking op haar gesig sê vir hom dat sy onseker is. Hy besef skielik dat sy wil hê dat hy iets sê. Die twee mense in die voorvertrek kyk lank en intens na mekaar, net asof hulle saam oor iets moet besluit.

 “Tim Bekker” sê hy uiteindelik, “my naam is Tim Bekker.”

 Die meisie slaak ‘n sug van verligting. Sy kyk sy met ‘n effense frons na die besoeker en glimlag dan. “Sy naam is Timo” sê sy met ‘n besliste stem terwyl sy hom vas in die oë kyk, “Timo Bekker.”