Twee Wêrelde…en tussenin

Maryna Joubert

Twee Wêrelde…en tussenin – 2017 © Maryna joubert

Jeug Fantasie

Sy maak stadig haar oë oop. Alles is wit en . . . donserig? Sy knyp haar oë weer toe. So dit is hoe dit voel om dood te wees. Glad nie onaangenaam nie. Inteendeel, dis heel rustig. Rustig? Rustig is ‘n woord wat sy selde hoor. Haar oë skiet oop. NIKS is ooit rustig in . . . wat is haar naam nou weer? Nou sit sy regop op wat blyk ‘n wolkagtige oppervlak te wees. Gebeure begin stadig in haar slaperige gedagtes terugsypel. Die staalbed. Masjiene wat oral aan haar liggaam gekoppel is. Vaagweg bekende gesigte in wit jasse geklee. Wat haar sterkte toewens, haar aanraak en bemoedig. En sy onthou die woorde ‘dapper’ en ‘onselfsugtig’. Hoekom? En dan die donkerkop seun wat met smekende oë vir haar probeer van plan laat verander. Plan laat verander van wat? Iets met hierdie situasie waarin sy nou is? Die herinneringe stop egter nie daar nie. Sy sien in haar geestesoog hoe sy hom met ‘n snik en ‘n gil wegstoot en met haar vuis kap op die knoppie langs haar. Sy onthou die geskree van die . . . dokters en hoe die seun haar arm gryp voor sy . . . voor alles swart word. En nou is sy hier. Sy skud haar kop. Donkerrooi krulle val oor haar skouers. Dit steek skerp af teen haar bleek vel. Sy staar daarna, vrae malend deur haar kop. Wie was die donkerkop seun met die nat, blink wange? Waar was sy? Waar is sy nou? En wie de drommel is EK? Sy probeer opstaan, maar dis asof haar bene deel van die wasige wit goed geword het. Dan besef sy met ‘n skok sy het nie ‘n draad klere aan haar lyf nie. Net toe sy egter die verskynsel probeer verwerk, begin alles te ruk. Met niks om aan te gryp nie, voel sy hoe ‘n sterk . . . wind? . . . om haar begin swiep en dwarrel. Dan verdwyn die oppervlak onder haar en sy voel hoe sy deur die mistigheid tuimel en val . . . en val . . .

                                                              ♯ ♯

Isnak kyk magteloos na Kira se wasige oë en vreedsame uitdrukking. Sy is weg, sê hy streng vir homself. Sy is weg na die ander wêreld en daar is niks wat jy daaraan kan doen nie. Haar rooi krulle vou om haar gesig, sweetdruppels nog blink op haar voorkop en besproete neus. Isnak los haar koue hand en druk deur die beurende wetenskaplikes en dokters. Hy tel spoed op en hardloop die laaste entjie na die uitgang toe. Buite die laboratorium sak hy teen die koue gangmuur neer. Isnak begin hartverskeurend te huil. Hy huil omdat hy sy laaste geliefde en vriend verloor het deur saam met haar sinnelose plan te stem. Tog, en hy het talle kere probeer, kon niks die hardkoppige Kira van plan verander nie. Sy wou weg van al die hartseer en haat tussen haar mense, weg van al die herinneringe en nagmerries wat, al het sy dit probeer smoor, Isnak tot laataand wakker gehou het van snikke. En sy wou nie hoor nie, nie glo nie, dat die ander wêreld niks beter as dié oorlogvoerende wêreld is nie. Dat ook daar konflik is tussen nasies. Dalk nie tussen mense en towerwesens nie, maar tog. En dat dit nie Kira se familie gaan terugbring nie. Hy sak sy kop in sy hande en maak sy oë toe. Net ‘n maand gelede het hulle twee van een van hulle spioenmissies teruggekeer. Die missie was suksesvol en hulle was propvol nuwe inligting vir die geheime inrigting. Dit was die rook wat beide hom en Kira se kraan van geluk toegedraai het. Dik en swart het die rook uit Tir N’Sagd se eers trotse stad uitgeborrel. Stukkies roet het die lug besoedel en alles om die twee tieners het na pondok en verwoesting gestink. Hulle het die stad binnegestap. Tekens van die vyand was oral te sien. Gebroke, onherkenbare lyke was die strate vol. Towerwesens s’n ook, nie dat die twee daaraan aandag gegee het nie. Verskroeide vel het ‘n afskuwelike reuk afgegee. Kira en Isnak sou dalk meer dinge opgemerk het as hulle nie met vrees in hul harte na die ondergrondse inrigting gehaas het nie. Maar die ergste was bewaarheid. Somber uitdrukkings het hulle tegemoet gegaan en hulle van die towerwesens se oorwinning ingelig, tesame met die gruwelikhede. Hulle huise . . . ALMAL se huise . . . hulle families . . . geliefdes. Isnak vee moeg oor sy klam en taai gesig. Hy gaan nie hier sit en grens oor dit wat verby is nie. Dit gaan nog minder vir Kira help, waar sy ookal is. Dalk word sy droom in elk geval waar. Al kon hy dit nie oor sy hart kry om vir Kira van sy vreemde droom te vertel nie, voel hy skuldig daaoor. Dit kon egter vir haar net valse hoop gee. Want regtig, ‘n droom waar twee kinders wat baie dieselfde lyk, al is dit ‘n seun en dogter, Kira te hulp snel? Hy weet dan net die minimum van die ander wêreld, wat nog van hulle mense. Diep binne-in hom weet Isnak hy sal dit nie kan verdra as Kira so gou van hom vergeet nie. Maar dit is net leë droom sonder ‘n betekenis. Isnak druk homself regop teen die muur en begin die gang afloop, al verder van die dowwe krete en sy vriendin.

                                                                ♯ ♯

Anke skop verwoed na Boti wat haar grond toe duik. “Los my, jou idioot!”, skree sy kwaad op haar broer en mik nog ‘n skop na hom. Boti rol koesend van haar af. “Sjoe, kyk vir rissiepit! Jou hakskene is rooi vandag”, terg hy haar terwyl sy opstaan en die grond en klam blare van haar probeer afskud. Sy gee hom ‘n vuil kyk voor sy verder die bome inloop. “Sus! Wag vir my, Anke! Komaan, jy weet ek het net gespeel.” Boti tel die halfvol mandjie met rooibessies op en draf agterna. Die tweeling stap al stryende tussen die koelte van die bome deur. Die groenreuse troon bo hulle uit met ‘n sagte groen gloed wat op hulle gesigte speel. “Ag Boti, ek weet jy speel. Dit is net sulke kinderagtige tieners soos jy wat nog speletjies uitdink”, snou sy suster hom toe. Boti begin dadelik te protesteer maar Anke luister net met ‘n halwe oor. Sy kyk peinsend na die bossies ‘n entjie voor hulle. Die res van die bessiebosse moet hier naby wees. Dalk agter daardie groot eik se wortels. Anke knip haar oё teen die enkele strale wat hul pad deur die blare vind. Is dit die skielike skerp sonlig, of het iets wit deur die eik se boonste takke geskiet? Sy stap stadiger en trek haar oё op skrefies terwyl sy boontoe kyk, “Boti. . .” “Nou wil jy jammer sê? Ek het nuus vir jou, dis lankal te laat . . .” Hy kyk verbaas na Anke. Hoekom kyk sy so snaaks na die boom? Dan gryp sy sy arm en wys boontoe. Boti se oё rek. Net toe hy vorentoe hardloop in ‘n poging om die voorwerp te vang, val die vreemde wit lakenbondel die laaste paar meter grond toe.

                                                                 # #

Haar hele lyf is seer. Sy probeer haar arm lig maar krimp ineen toe ‘n skerp pyn deur dit skiet. Haar ooglede is loodswaar en dit verg al haar krag om haar oё net op skrefies te trek. Deur haar halftoe ooglede sien sy sy is in ‘n . . . kamer? Ja, ‘n kamer. Sy was in ‘n kamer toe sy saam met die seun en die dokters was. Sy was definitief nie in ‘n kamer toe sy in die mis was nie, want daar was nie mure nie. Maar hierdie kamer, kan sy uitmaak, is ook meestal wit. Sy probeer weer haar arms lig en kreun saggies toe haar linkerarm nog ‘n skietpyn gee. Sy voel met haar regterhand onder haar. Dit voel sag en bekend. ‘n Bed. Vir ‘n sekonde beleef sy ‘n mal oomblik van trots toe sy dit herken. Iets borrel in haar keel en kom hees oor haar lippe. Wanneer laas het sy dié gevoel beleef? En dan onthou sy: Lag! Vreugde! Lank terug het sy baie gelag, weet sy. Saam met daardie seun. Dit onthou sy, maar dit verklaar nie hom of sy naam nie. Sy weet sy het ‘n naam, maar sy kan dit nie onthou nie. . . Sy stop om oor die bed te streel. Voetstappe? Sy forseer haar oё oop. Alles is vaag met dowwe voorwerpe wat in die vertrek rondstaan. Sy draai haar kop versigtig. Sy is in ‘n sitposisie teen ‘n stapel kussings, ook wit soos die res van die vertrek. Sy draai haar kop terug en sien uit die hoek van haar oog iets beweeg. Sy verstyf en sit doodstil. Die figuur beweeg nader. “Dit lyk of ons pasiёnt uiteindelik wakker is”, sê ‘n stem verras. Die persoon kom nader en steek ‘n hand na haar toe uit. Net voordat dit haar bereik, skiet haar regterhand uit en kry die persoon se arm in ‘n stywe houvas beet. Die vae figuur gee ‘n verbaasde gilletjie. “Wag, jy gaan jouself seermaak! Jy het nog nie van jou beserings herstel nie.” Die persoon rem versigtig maar haar greep verstyf. Sy self is so verbaas oor haar optrede dat sy nie kan los nie, al wou sy. Hoe kon sy so vinnig beweeg? Die persoon rem weer, maar sy hou. “Reg, ek is jammer maar ek gaan nie so bly staan terwyl jy jou bietjie energie so uitput nie. Byt op jou tande!” Voor sy kan registreer wat die stem gesê het voel sy iets haar elmboog tref en haar greep verslap. Soos blits trek die arm terug en haar hand word langs haar op die bed vasgepen. Sy byt haar lip teen die skietpyn wat weer sy pad deur haar liggaam kry. Die gewig bly op haar arm. “Dis beter. Jy is nie juis kleinserig nie, ek sou skree van pyn as dit my sou oorkom.” Sy draai haar kop na die stem en knip haar oё in ‘n poging om haar aanvaller te sien. Alles is steeds vaag en onduidelik. “Drink dit. Dit sal jou sig verbeter.” Iets druk versigtig teen haar droё lippe. Sy hou haar mond toe maar die ding bly druk aan haar mond. Uiteindelik maak sy haar mond bietjie oop sodat ‘n klein hoeveelheid van die bitter vloeistof in haar keel afgly. Sy maak haar mond weer dadelik toe. Wag ‘n paar minute. Die wasigheid verdun en sy kan uitmaak dat sy op ‘n breё bed sit-lê. Haar linkerarm wat langs haar lê op ‘n ekstra kussing is bedek in ‘n harde swaar wit materiaal. Sy kyk na die figuur wat langs die bed hurk maar kan nie veel uitmaak behalwe ligte hare om ‘n oop gesig nie. Amper gretig maak sy haar mond oop vir die vloeistof, dié keer groter. Binne minute kan sy sien dat sy wel in wit kamer is maar dat vrolik bont prente die mure versier met ‘n paar stoele wat om ‘n tafeltjie staan, so entjie weg van die groot bed. Sy swaai haar kop so vinnig dat haar nek protesteer met ‘n kramp. Langs haar staan ‘n meisie, om en by haar ouderdom, en kyk glimlaggend na haar. Sy gaan sit versigtig op die bed. Sy moet erken, dit is ‘n mooi meisie, met blonde hare wat teruggevat is in ‘n lae poniestert en ‘n gesonde blas vel. Haar oop vriendelike gesig is bruingebrand met sproetjies wat oor haar smal neus versprei lê. Dan kyk sy af na waar die meisie se hand swaar op haar gesonde arm leun. “Pla dit jou?”, vra die meisiekind toe sy opmerk hoe sy na haar hand kyk. Sy knik styf, haar nek nog seer. “Ek sal jou los as jy belowe om my nie weer aan te val nie. Ek mag dit dalk nie oorleef nie.” Haar toon is lig en tergend. Sy knik weer styf. Die hand lig van haar arm. “Nou, ek weet dit is seer, maar kan jy dalk vir my sê wie jy is? Net dit, ons begin maklik.” Die meisie praat versigtig, asof haar pasiёnt sal verbrokkel as sy te vinnig praat. Sy kyk stadig op na die twee vriendelike bruin oё. Iets dring deur haar deurmekaar gedagtes. Sy het lanklaas iemand met sulke lewendige oё gesien, so blink en . . . gelukkig. Sy maak haar mond oop, ook om te praat, maar net ‘n geroggel ontsnap haar lippe. Sy trek haar asem in en probeer weer. “Sê eers . . . wie . . .wie . . .”, sy wys na die meisie. Sy snap dadelik. “Ek is Anke. Ons, ek en my broer, bly in hierdie huisie. Ek sal jou later vertel wat gebeur het, maar eers moet jy probeer om vir my te sê wat jou naam is.” Anke kyk afwagtend, tog nie haastig nie, na haar. Sy kyk na die tiener wat nou ‘n naam het. Dan kom iets haar geheue binne. Sy sien weer die seun in die ander ‘kamer’ en hy sê iets. Sy maak haar oё toe en fokus op hom, probeer te hoor. Dan maak sy weer haar oё oop en kyk na Anke. “Ki . . .Kira . . .Kira. My naam is Kira.”

                                                                            # #  

In die dae wat volg het Anke het kortliks vir haar vertel hoe sy en haar broer op haar afgekom het. Hulle het haar na hulle huisie toe gedra in die laken waarin sy verstrengel was. Hier het Kira rooi geword tot in haar alreeds rooi haarwortels. Sy was kaal! Met net ‘n laken om haar lyf gedraai! Sy het nie ‘n benul hoe die laken in die prentjie pas nie, al wat sy onthou is hoe sy val en alles wat swart word toe sy die boom tref. Maar dis beter as wat sy nakend op die grond oopgespalk sou lê. Sy het stadigaan begin herstel van die val uit die boom. Haar arm was steeds in verbande en haar kop dof van die harsingsskudding. Sy het nie vir Anke vertel van die wit plek of haar wêreld nie. Sy het ‘n gevoel gehad dat dit nie iets is om vir elke Jan Praat te vertel nie. Kira het begin onthou en daarom verstaan. Die hartseer het teruggekom saam met die herinneringe. Sy weet nou wie die seun was maar kan net nie sy naam onthou nie. Sy mis hom. Baie. En sy onthou haar persoonlike missie. Om te bewys hierdie wêreld is beter en sonder oorlog. Sy kan dan haar mense hiernatoe bring en ‘n nuwe lewe werkstellig. Sonder towerwesens. Die groot vraag is, sal dié Aardse mense deel? Maar daar is te veel groot vrae wat te groot is vir haar seer kop op die oomblik.

‘n Week nadat sy die eerste keer haar oё oopgemaak het, kom Anke se tweelingbroer haar ontmoet. Hulle lyk baie dieselfde met hulle ligte hare en blas gesonde velle. Dit lyk of hulle baie in die son kom. En natuurlik is die seun daarom net so aantreklik soos wat sy suster mooi is. Die langbeen seun kom nader en glimlag versigtig vir Kira, asof sy enige oomblik gaan flou val. Sy oё net so bruin soos Anke s’n, merk sy op, dalk donkerder. Kira steek haar gesonde hand uit na hom. “Dankie dat julle my gehelp het”, sê sy hees. Haar stem is steeds swak. Hy vat haar hand in syne. “Dis ‘n plesier, Kira.” Kira kyk verbaas na hom, maar besef dan dat Anke natuurlik haar naam vir hom sou gee. Dan besef sy sy weet nie eers wat sy naam is nie. Hy los haar hand en lag vir haar uitdrukking. “Sies Anke, jy gee nie eers haar ander redder se naam vir haar nie. Skaam jou. Kira, ek is Boti. Jy moet gou gesond word dat jy ons alles kan vertel. Ons bars van nuuskierigheid.” Hy groet die twee meisies en stamp aspris vir Anke in die ribbes oppad deur toe. Kira lag vir Anke se vies gesig. Sy is bly sy het hulle ontmoet. Of wel, dat hulle haar ‘gered’ het. Sodra sy weer kan praat wil sy alles van hulle weet, want sy weet nie veel meer as hulle name nie en nog minder van die plek waar sy nou is, hierdie ‘nuwe wêreld’. Maar dan hou sy op met lag. Natuurlik gaan hulle dan alles van haar wil weet. En sy weet nie of sy vir hulle wil vertel nie.

Boti dink terug aan Kira toe hy daardie aand op die bank inskuif, hy slaap hier terwyl Kira in sy kamer is. Sugtend maak hy sy oë toe. Nog nooit het hy sulke  donkerrooi hare en diepgroen oё gesien nie. Maar iets pla hom omtrent haar. Natuurlik lyk sy bleek en siek, sy het uit die hoogste boom in die woud geval! Maar haar oë, haar opsommende groen oë, was vol hartseer. Hy grinnik in die donker. Dit is nie in sy aard om dinge omtrent mense op te merk nie, hy is allermins ‘n seun soos sy sussie hom elke dag herinner. Maar dit is moeilik om te mis as sy so deurdringend na mens kyk. En dit is die eerste keer dat hy dink ‘n meisie is mooi, regtig mooi, al sal hy dit nooit teenoor Anke erken nie. Nie dat hy al kans gehad het om behoorlik na meisies te kyk nie. Hy en Anke het nog nooit lank genoeg op ‘n plek gebly nie. Hy sug weer. Om vlugtelinge te wees is nie maklik nie.                                                              

                                                            # #

 

Weke gaan verby. Kira se arm is amper heeltemal herstel en kan saam met Anke en Boti die woud gaan verken, bessies versamel en buite wees. Sy kan egter nog nie meer as ‘n paar woorde uitkry nie en weet daarom steeds nie veel van haar nuwe maats nie. En hulle brei ook nie uit oor hulle lewenswyse nie. Kira het dadelik haar hart verloor op die woud met sy oeroue bome en skarrelende diertjies. Waar sy vandaan kom is woude ‘n mite, met nooit meer as drie of vier bome naby mekaar nie. Toe die oorlog jare gelede verklaar is, is alle bome verwyder. Perfekte oorloggebied, dink sy bitter.

Dit is laatmiddag en dele van die woud is reeds in skemer gehul toe die drie tieners terugstap na die huisie toe. Anke en Kira oefen Kira se stem. Sy kan al ‘n paar sinne aaneen sê sonder om eers water te drink en haar stem te rus. Boti dra die mandjie met kruie en bessies in sy hand met ‘n dooie haas oor sy skouer. Hy luister stil na hulle spraakoefeninge. “Reg, weer ‘n keer. Sê weer jou naam en dan wat ons in die woud gekry het vir aandete.” Anke swaai haar vinger soos ‘n dirigeerstokkie voor Kira se gesig om te wys sy kan begin. “My naam is Kira. Ons het vandag bessies gepluk en kruie ge-oes vir medisyne. Boti het weer sy vangsnare gestel en was gelukkig om ‘n haas in een te kry. Dit gaan ons vanaand braai en saam met die bessies eet.” Kira kyk na Anke. “My mond water al. Kan ons nie vinniger loop nie?” Anke klap haar hande dramaties. “Tien uit tien vir jou mejuffrou Kira. En ‘n bonuspunt vir die ekstra sin.” Hulle stap laggend deur die laaste bome tot in die oopte. Die houthuisie staan donker teen die res van die bome agter dit en Kira en Anke draf vooruit om die lanterns aan te steek en ‘n vuurtjie te maak. Die huisie is gou verlig en die geur van gebraaide haas hang in die lug. Die huis is nie baie groot nie. Met twee slaapkamers en ‘n vertrek wat as ‘n kombuis ingerig is, is dit oorgenoeg vir Anke en Boti. Kira het gewonder hoekom hulle alleen bly en dan ook in hierdie onbewoonde bos maar die vrae gelos vir later. Dalk vanaand. Hulle gaan sit om die vuurherd en val weg aan die koningskos. Later toe hulle borde skoon gekrap is en almal tevrede agteroor sit besluit Kira om hulle haar storie te vertel. Miskien beantwoord hulle haar vrae wat sy brand om die antwoorde van te weet. Sy kyk hoe Anke lomerig sug en Boti die laaste bessiesous uit die bakkie lek. Sy glimlag voor sy praat. “Baie dankie. Dat ek hier kan bly.” Boti waai met sy hand voor hy aangaan met die bakkie. “Julle wonder seker wat ek in ‘n boom gemaak het.” Dis nie ‘n stelling en nie ‘n vraag nie. Boti stop om sy lippe af te lek en Anke maak haar oë oop. Kira kan die nuuskierigheid aanvoel. Sy kyk huiwerig na hulle voor sy aangaan. Gaan hulle haar glo? “Ek. . . het uit die lug geval. Dink ek.” Die tweeling kyk haar aan en Kira weet sy gaan meer in detail moet ingaan as hulle haar wil glo. “Ek is nie van hierdie wêreld nie. Ek kom van ‘n baie ver plek af wat nie meer ‘n naam het nie. Ek . . .wou vlug van al die. . .al die. . .” Kira vee oor haar oë. Sy moet vir hulle vertel, hulle het haar tog gehelp. Sy voel hulle oë op haar en haal diep asem. Maar dan kom ‘n snik uit voor sy verder kan gaan. Sy dwing haarself om nie so ‘n lafaard te wees nie, wat moet hulle van haar dink? Sy hardloop weg, sy val uit die lug uit en kan nie eers verduidelik hoekom nie. Sy sluk en kyk weer op. “In my wêreld is daar nie iets soos vrede nie. Ons wêreld is besig om te vergaan en is te oud om haarself te herstel. Ons mense het haar te lank besoedel en misbruik. Toe ek baie klein was het niemand in towerkuns geglo nie. Nie in eenhorings, elwe, kabouters, sentaurs of nimfe nie. Hierdie towerwesens wou nie dat mense van hul bestaan weet nie en het gehelp om die Aarde lewendig te hou. Tot ‘n paar jaar gelede.” Kira sluk weer. Sy het lanklaas so baie gepraat maar is vasberade om haar storie klaar te maak. Die tweeling verdien dit. “Ons het geweet die Aarde is op sy einde, die lug het begin rooi verkleur en droogtes het toegeneem. Wetenskaplikes het probeer keer dat die klimate verander maar dit was tevergeefs. En toe hoor ons van dorpies en stede wat aangeval word deur monsters. Ek en ‘n paar ander wat spioene was het uitgegaan om te kyk wat die dorpies aanval want ons glo nie aan monsters nie. En is toe verkeerd bewys. Dit was nie monsters nie, maar towerwesens. Towerwesens wat mense begin aanval het. Die ergste was egter dat hulle swart geword het. Al die wesens waarvan jy net in storieboeke hoor het verskyn tussen ons maar was swart. Ons, die spioene, het terugehaas na die geheime inrigtings waar ons werk en dit oorgedra met bewys. Chaos het ontstaan. Toe almal ons uiteindelik geglo het, het ons ‘n vredeverdrag aan die towerwesens gebied en gevra hoekom hulle ons aanval. Hulle het die verdrag ontsê en woedend verduidelik. Die Wêreld was op haar einde en dit was ons skuld. Ons het dit erken. Maar toe verklaar hulle oorlog want ons het nie die mag om dit te herstel nie. Hulle wou al die mense van die wêreld afvee.” Kira sê stem begewe haar uiteindelik maar sy bly sit. Anke en Boti was die heeltyd doodstil en staar haar aan. Hulle gesigte is uitdrukkingloos. Toe die stilte te lank word staan Kira op en stap na die kraan om water te drink. Met haar keel weer beter gaan sy terug. Maar Anke sit nie meer langs die vuur nie en Boti sit en staar na die vlamme, so ingedagte dat hy nie opmerk toe Kira langs hom gaan sit nie. “Julle glo my nie”, fluister Kira na ‘n tydjie. Boti skrik effens maar kyk nie na haar nie. “Ons het net tyd nodig”, praat hy met die vuur. Kira knik. “Ek sal later vertel hoe ek in die boom gekom het as my stem beter is.” Sy staan op en tel woordeloos al die borde op. Sy gaan sit dit in die klein waskommetjie en gaan stil na haar tydelike kamer. Sy gaan duidelik nie antwoorde uit hulle kry nie Sy val met haar geleende klere net so op die bed. Sy het alles opgemors. Hoe kan sy nog welkom wees as hulle haar nie glo nie? Kira klim onder die komberse in val eers baie later met somber gedagtes aan die slaap. 

 

 Sy en Anke hardloop laggend deur die woud terwyl die plante om hulle in lekkergoed verander. Hulle hardloop verder en . . . Kira help ons. Kom help ons. . . .’n lekkergoed hondjie hap speels na hul  hakke. Anke gil van pret . . . Kira! . . . en die hondjie blaf met sy liquorice mond kwylend. Hulle hardloop en spring. “Kira!” Isnak swaai sy swaard na die swart eenhoring wat op hom afstorm. Dis mis en die eenhoring stamp hom op die grond. Trane stroom oor Isnak se wange. “Kira . . .” ‘n towernet val oor hom en hy word weggesleep deur twee pikswart kabouters.Op die veld rondom hulle veg die mense verwoed maar die towerwesens is aan die wenkant. Mense word in nette verstrengel en weggesleep na die tronkwa wat klaar vol is van wriemelende nette.

Kira skrik gillend wakker. Swetend en hygend sit sy regop. Het iemand haar gehoor? Die huis bly egter donker. Kira val terug teen die kussings. Net om weer regop te sit. Isnak! In die agterkant van haar kop is sy bly dat sy uiteindelik die seun se naam onthou. Isnak was in ‘n geveg! Wat maak hy daar? Hy het haar belowe om nooit te gaan veg nie. Nou is hy gevang. Of dalk erger. . . Kira gryp na haar hare en probeer haarself kalmeer. Dit was net ‘n droom. ‘n Nagmerrie. Maar Kira is gevul met vrees as sy weer die net oor Isnak sien val. En as hy paniekerig haar naam roep. Kira staan op. In die donker voel sy rond na haar rusak wat sy self geweef het uit die lang gras wat buite die huisie groei. Anke se baatjie is oor dit gegooi. Sy trek dit aan en sit die rugsak oor haar skouer. En stop. Anke en Boti. Wat van hulle, Kira? Jy kan hulle nie saamvat nie. Hulle glo jou dan al klaar nie. Dan stoot sy haar skuldige gedagtes opsy en skuif die kamervenster oop. Voor sy uitspring huiwer sy weer. Sy gryp die pen op die bedkassie en skrabbel vinnig ‘n briefie vir Anke op een van haar ou verbande. Dan swaai sy haar been oor die vensterbank en sak af tot op die koue grond. Sonder om terug te kyk verdwyn Kira tussen die donker bome. 

                                                                    ♯ ♯

Hy lê en luister in die donker. Dit is nou stil. Boti draai op sy sy en maak sy oë weer toe. Kira het seker net ‘n nagmerrie gehad. Hy het lank nagedink oor haar storie, al die feite geweeg teen wat sy vertel het. As haar storie waar is, wat maak sy dan hier? Hier is nie minder konflik nie. Dit is ook ‘n oorlogvoerende wêreld met hartseer. Dalk weet sy dit nie. Hy voel nogal skuldig dat hy of Anke nie vroeër hulle lewensverhaal vertel het nie. Maar noudat hy Kira s’n weet is hy nie seker of hy dit nog vir haar wil vertel nie. Dan hoor hy die geskuif van ‘n vensterbank. Hy sit stadig regop. Dit is weer stil. Na ‘n rukkie hoor hy ‘n geskuifel en ‘n sagte ‘plof’-geluid. Hy staan saggies op en beweeg na die kombuisvensterjie. Boti is net betyds om te sien hoe ‘n swart figuur die donker in verdwyn.

                                                       ♯ ♯

Anke tel die saalsak op. Sy kyk na Boti wat heen en weer deur die kombuis loop, worstelend met sy gedagtes. Sy sug en loop oor na hom. Hy kyk fronsend na haar toe sy aan sy arm vat. “Boti, ons kan nie vir ewig hardloop nie. Kom ons gaan veg saam met Kira.” Sy kyk streng na hom. “Ek weet jy is bekommerd oor my. Ek kan vir myself sorg, dit is Kira wat ons kommer nodig het.” Hy kyk lank na haar voor hy knik. Sy los hom en glimlag spottend. “Kom dan, kleinboet, Kira het ons nodig. En moenie die laken vergeet nie.”

                                                            ♯ ♯

Kira maak haar oë oop. Sy trek haar gesig teen die sonstraal wat direk op haar gesig skyn. Haar hele lyf is styf en haar linkerarm klop dof van pyn. Sy sit regop tussen die boom se wortels. Anke het die groot boom agter haar ‘n eik genoem. Sy kyk rond en neem die vreedsame stilte in met die getjirp van voëltjies bo haar kop. Die vorige aand het sy frustreerd en moedeloos onder die boom aan die slaap geraak. Sy het geen manier gekry om terug te gaan na haar wêreld nie. Sy staan styf op en begin rondom die eik te loop. Is daar ‘n poort êrens? Sy gaan sit weer moedeloos langs haar rugsak met haar kop in haar hande. “Hallo, Kira. So gou al moedeloos?” Sy kyk vinnig op. In Anke se vonkelende bruin oë vas. “Anke.” Is al wat sy uitkry maar Anke skud net haar kop om te wys sy hoef nie te verduidelik nie en wink vir Boti nader. “Hallo Kira”, is al wat hy sê voor hy die saalsak van sy skouer haal en iets wit daaruit trek. Hy sit die laken op Kira se skoot neer en gaan sit langs sy suster op die grond. Hulle kyk vraend na haar. Kira dink vinnig terwyl sy afkyk na die materiaal in haar skoot. Dit kan help. Dalk. Maar weet sy hoe? Dan skiet ‘n idee haar binne. Sy staan op en gaan na die eik. Sy tuur deur die digte blare en takke na die stukkie blou lug bo die boom. Dit is baie hoog. Sy draai na die tweeling op die grond maar voor sy iets kan sê onderbreek Anke haar weer. “Kira, ons skuld jou ‘n verduideliking. Sit.” Dit is ‘n bevel en Kira gaan sit voor hulle. Anke gaan voort: “Reg, jy het ons jou lewensverhaal vertel nou is dit ons beurt. Ons s’n nie minder dramaties nie.” Boti grinnik langs haar. “Maar is nogal iets om te hoor. Ek en Boti is baie ver van hier af in ‘n plattelandse dorpie grootgemaak. Toe ons omtrent tien of elf was is ons dorpie en die res in die omgewing aangeval deur ‘n klomp rebelle. Ons het gedurig gehoor van die oorlog in die stede en ander lande maar dit het ons nie bereik nie. Vroue en sterk mans is gevange geneem en as slawe in die rebelle se land gaan verkoop. Kinders is meestal dadelik vermoor. Families is geskei. Ons was gelukkig, my ouers het ontsnap en ons verder die platteland ingevat na ‘n ou tante van ons en ons in haar sorg gelaat. My pa was vasberade om te gaan veg in die oorlog daarna en my ma is saam met hom. Ons weet nou nog nie waar hulle is nie.” Anke se stem breek en Boti gaan aan. “Die tante het ons opgepas en verder geleer. Van al die giftige en eetbare kos in die veld waar ons gebly het. Ek het vir myself leer snare stel. Eendag daag daar toe egter verdwaalde rebelle op en breek en brand ons huisie af. Ons was op daardie oomblik in die veld en kon daarom ontsnap. Gelukkig vir ons was die tante nomadies. Sy het meer as een huis of skuiling gehad. So het ons deur die jare getrek van een hut na ‘n ander tot die tante te swak geword het om verder te gaan. Ons het in hierdie huisie kom bly waarvan net sy geweet het. Sy is ‘n paar maande gelede dood.” Boti lig sy hande dramaties op. “Ta-daa! Hoe’s daai vir ‘n storie? Ek het amper begin huil!” Anke giggel en vee haar trane weg. “So Kira, hierdie wêreld bestaan ook net uit oorlog en jy gaan nie vrede vir jou mense hier kry nie. Dis wat gebeur met mag en geld.” Sluit Boti af en trek sy skouers op. Kira kyk verstar na hulle. Moet net nie nou begin kerm nie, sê sy streng vir haarself, jy moes weet dit was te goed om waar te wees. Sy maak haar keel skoon maar Anke praat bo-oor haar, “Ons kom saam met jou, of jy nou wil of nie. Kira hier is niks vir ons nie, laat ons saamkom en daai Isnak of wie ookal gaan red.” Kira se kop ruk op by die noem van haar vriend se naam. “Hoe weet jy van hom?”, vra sy sag. Anke snork. “Wel, jy het nogal gisteraand in jou slaap gegil en my kamer is reg langs joune. Dit is een van die redes waarom ek jou glo, vriendin.” Kira bloos maar voel ‘n warmte in haar hart toe Anke haar ‘n vriendin noem. “Anke, Boti, julle moenie. . . dis gevaarlik. . .” Maar Boti is klaar voor die boom met sy en Anke se saalsak oor sy skouer. “Reg, dit is ‘n lang pad boontoe en ons wil nie nog van Kira se situasies hê nie. Kira, jy klim voor en Anke agter jou. Ek sal agterna kom en julle vang”, spot hy en koes toe Anke ‘n hou na hom toe mik. Kira begin te klim met die laken stewig om haar lyf gebind. Toe sy ‘n paar takke verder is klim Anke agterna. Kira het nog net een of twee keer in haar lewe boom geklim en dit gaan maar stadig. Anke en Boti wag geduldig terwyl hulle soos apies aan die takke hang. Dit vat ‘n hele rukkie en huller rus ‘n paar keer op die dikker takke. Uiteindelik is sy by die dunste, hoogste takkies en balanseer haar self in ‘n staan posisie. Terwyl sy haarself dwing om nie grond toe te kyk nie, maak sy die laken om haar los. Sy het vroeër vir die tweeling van die plan gesê en roep nou vir hulle om nader aan haar te kom. Versigtig klim hulle boontoe en eindelik is al drie klouend langs haar. Sy gee die punt van die laken vir Boti wat die verste van haar staan en vou die ander punt om haar. Met ‘n gesukkel kry Boti sy punt ook om hom en met Anke in die middel is al drie in die laken toegevou. Dan maak Kira haar oë toe. Sy konsentreer op haar nagmerrie en Isnak. Sy roep weer Isnak se gille na haar op en hoe die eenhoring hom omstamp. Niks gebeur nie. “Moet ons nie almal dit doen nie?”, gil Boti oor die wind wat begin te waai. Kira knik en skets haar nagmerrie vir hulle. Anke se oë is toe en Boti se tong steek eintlik uit soos hy konsentreer. Kira maak weer haar oë toe. Dan voel sy hoe iets aan haar suig. Sy voel hoe sy opgelig word maar maak nie haar oë oop nie. Sy moet konsentreer. Dit is eers wanneer Anke ‘n gilletjie gee wat sy haar oë oopmaak. Ver onder hulle verdwyn die eik in die mis. Die laken warrel om hulle en Kira moet klou dat dit nie uit haar hand glip nie. Dan bedek ‘n mistigheid hulle en alles word wit. Niemand praat nie, dit is doodstil. Net toe Kira begin wonder wat het fout gegaan, word hulle verblind deur ‘n sterk lig. En dan gebeur alles tegelyk. Hulle word hard vorentoe gestoot en dan voel Kira weer die gevoel: val. Die laken waai met ‘n ruk af en êrens langs haar gil Anke en, kan dit wees, Boti. Kira kan nie gil nie al wou sy maar glimlag amper toe sy vir Boti soos ‘n klein meisie hoor gil. En in daardie lewenstergende oomblikke besluit Kira dit is hoe sy vir Boti wil onthou. Dan word alle gedagtes uit haar geswiep toe ‘n wind hulle rof optel en weer vorentoe druk. Dan is die grond onder hulle. Kira berei voor vir die harde val toe dieselfde wind van oomblikke gelede haar op haar voete neersit. Sy hoor hoe die ander twee langs haar land toe sy vorentoe struikel van duiseligheid. Vir ‘n paar sekondes bly sy lê en luister. Daar is net haar eie asemhaling en die tweeling wat hyg na asem, soos ‘n stilte voor ‘n storm. Sy lig haar kop en stoot haarself op met haar arms. En sien die storm. Voor haar en die tweeling strek ‘n bebloede veld uit. En hulle is nie alleen nie. Boti en Anke draai om na Kira. Anke snak na asem. Voor hulle staan hordes wesens soos die tweeling nog nooit gesien het nie. Towerwesens wat, soos Kira gesê het, pikswart is. Na ‘n rukkie van geskokte stilte besef Kira dat hulle nie aanval nie. Oor die meeste se gesigte merk sy verbasing of skok op. Maar hulle skielike verskyning gaan hulle nie lank van die dood red nie. Kira staan stadig regop en wys versigtig vir die ander twee om ook so te maak. Hulle gaan nie die dood tegemoet stap sonder ‘n geveg nie. Sy voel die spanning in die ander twee toe hulle langs haar kom staan. Dat hulle nou moet doodgaan, net oor haar simpel besluit. Dan hoor sy dit. Krete. Maar nie krete van pyn nie. Oorlogskrete kom oor die veld na hulle en die skare voor hulle aangerol. As sy fyner luister kan sy die perdehoewe hoor. Dan tref dit haar. Al skree haar hele wese dat sy nie moet nie, draai sy haar kop weg van die wesens na die geluide. Daar, oorkant die velde, word ‘n stofwolk groter en groter. Die wapens van die soldate blink in die besoedelde rooi son en die lyne en rye mense word stadigaan groter. Hulle is in die middel van ‘n oorlogveld tussen die twee oorlognasies. Letterlik in die middel. Stadigaan word Kira weer bewus van die skare towerwesens voor hulle toe sy haar blik van die intimederende mense aftrek. “Anke, Boti. . .” Sy fluister dringend vir hulle, maar hulle het klaar hulle kritiese situasie gesien. Boti draai na haar en vat haar hand. “Kira, ek is bly ek kon jou ken. Dit moes nie so kort wees nie.” Hy druk haar hand. “Wat? Boti, ons moet hier uitkom! Anke, komaan ons het nie tyd nie.” Sy ruk haar hand uit Boti s’n uit, maar dit is te laat. Asof dit al was om die wesens oor hul skok te bring, lig die towersoldate hulle wapens in die lug met ‘n geskree, runnik, gille en watse vreesaanjaende geluide nog en val aan. Kira, Anke en Boti hardloop vir al wat hulle werd is vorentoe, reguit na die ander soldate. Kira byt op haar tande en dan is hulle in dit – in die oorlog. Dit is net geluk dat hulle nie met die trefslag doodgesteek of geslaan word nie. Paniekerig vleg hulle deur die vegters, duik en koes waar hulle kan. Dan sien Kira die swaard en duik vir dit. Met ‘n siekgeluid trek sy die swaard uit die lyk uit sonder om te kyk of dit ‘n mens of towermens was en draai om. Sy beur na Anke en Boti toe waar hulle gaan plat lê het. Sy gaan staan oor hulle en begin te veg soos sy van kleins af geleer is. Heen en weer trek haar swaard se lem, omtrent met elke swaai die vat van ‘n lewe. Maar sy hou aan, nie met die wete dat sy altyd die beste swaardvegter in haar omgewing was nie, nie dat sy sal lewendig uitkom nie, maar om haar vriende te red. Hulle haar ook eens gered het. Sy swaai en duik en koes, die enigste vegtende meisie op die oorlogsveld, en die enigste vegter wat veg met haar hart en haar liefde. Boti kyk op na haar, haar lang rooi hare swaai met haar betraande gesig, haar oë op elke aanvaller en tog flits haar oë kort-kort na hom en sy sussie waar hulle onder haar en die houe lê. Ten spyte van sy paniek vir hom en sy sussie, verwonder hy hom aan die vrou bo hom. Nog nooit het hy so ‘n beeldskone wese gesien nie. Dan kyk hy na sy vreesbevange sussie en gryp die naaste swaard op die grond. Hy soen haar op haar kop en spring op om agter Kira te veg. Rug-aan-rug weer hulle houe af en val aan, hulle bewegings saamgesmelt. Lyke hoop om hulle op en steeds gaan hulle aan. Dan kom ‘n stem deur die gille en pleite. “Kira!” Kira swaai na die bekende stem en voel hoe die trane vrylik oor haar wange stroom. Isnak druk deur die vegtende mense en diere, sy oë bly op haar gesig. “Isnak.” Sy swaai verwoed ‘n pad na hom toe oop. “Isnak!” Gil sy vir hom. Dan kreun Boti agter haar. Sy swaai terug net om te sien hoe Boti die pyl uit sy bors trek. Bloed loop oor sy hemp toe hy opstaan en met ‘n nuwe woede aanval. Dan is Isnak se hande om haar en daar in die oorlog en tussen sterwende en gillende wesens omhels hulle mekaar. Trane meng met die bloed op hulle gesigte. Hy het ontsnap. Hy is veilig, en hier. Dan gil Boti weer en Kira skeur uit Isnak se arms en spring voor die nimf in wat Boti op die grond gedwing het. Isnak vervang Boti se plek agter haar rug en saam veg hulle, veg met alles. Dan val Isnak. Net Kira staan nog. Die oorlog om haar is minder verwoed. Min mense staan nog, party gevegte gaan voort op die grond. Anke kruip na haar broer in ‘n poging om hom by te bring maar Kira kan nie sien of sy dit regkry nie. Minder wesens val haar aan, ‘n stilte sak stadigaan neer oor die toneel. Die stilte na die storm. En sover soos wat sy kyk, sien Kira sy is die enigste een wat staan. Sy sak neer langs die twee seuns op die grond. Haar hart sluit toe sy Isnak se vaal gesig sien. Hy lewe nog. Dan hoor sy Anke se snikke en sien hoe Boti die laaste keer sy oë oopmaak. Hy kyk na sy suster en vee bewend oor haar wang. Sy soen hom saggies op sy kop. Sy gesig draai na Kira. “Kira, jy. . .”, hy hoes en sy hele liggaam ruk van dit “Jy is die pragtigste persoon wat ek ooit geken het of sou leer ken.” Dan raak sy liggaam stil. Anke begin hartverskeurend te huil. Kira staan op en loop weg, desperaat vir ‘n deel op die grond of in die lug wat nie rooi is nie. Vas tussen twee wêrelde. Vas tussen haat en haat met haar en die meisie agter haar se harte vol hartverskeurende liefde soos ‘n gang wat dit skei. Liefde gaan nooit dood nie, al is dit net ‘n gang daarvan tussen die vertrekke vol sleg wat dit skei. Maar liefde kan nie die foute regmaak nie. En uiteindelik weet Kira wat die wit mis was wat die twee wêrelde geskei het.