Woestynroos

Douwlina du Plessis

Woestynroos – 2017 © Douwlina du Plessis

Volwasse WF

Dit is met ‘n opgewonde angstigheid wat ek die estetiese dokter se mooi spreekkamer betree. Ek is bang, want dit is die eerste keer wat ek sal gaan vir botoksbehandeling, ‘n geskenk aan myself uit my Kersfeesbonus. Ek belowe myself dit al geruime tyd, maar elke keer sluk ander dinge my bonus in.

Ek voltooi die vorm en sit dan en bekyk die skilderye teen die mure. Pragtige foto’s van woestynrose, kunstig vasgevang in in glas en mooi rame.Dan is dit my beurt.

Die dokter staan galant op agter sy donker lessenaar

‘Ek is Dokter Pieter Hollenbach. Goed om jou te ontmoet Sylvia Smith.’

My naam klink na kondensmelk as hy dit sê. Hy vervolmaak die veralgemening van ‘n aantreklike man. Tall, dark and handsome met ‘n pragtige glimlag en die vreemdste kleur oë. Vir ‘n oomblik verdrink ek in ‘n turkoois meditereense see.

Botulinus toksien,. Toksiene is gif wat die spiere verlam en so die frons op jou voorkop versag sodat jou gesig minder moeg en kwaai lyk. Ek wonder nog hoe die kepe om my mond gaan verander toe die aantreklike man met die vreemde turkooiskleur oë verduidelik.

‘Vir die plootjies om jou mond, die naso-labiale voutjies, spuit ons ‘n vuller. Hialuronsuur gegronde vuller. Hier en daar gaan ons Juvederm gebruik om die vel vir ‘n paar jaar te vernuwe.Vir minstens vyf jaar gaan jy jou nie bekommer nie en dan kan ons die proses herhaal.’

Ek neem plaas op die spierwit laken op die hoë bed. My hart hamer teen my ribbe. Ek haat naalde.Hy smeer ‘n yskoue room aan.

“Emlaroom. Dit is ‘n lokale verdowing wat gaan help dat die naaldprikke nie regtig seer is nie.’

Ten spyte van sy gerusstelling, is die dun naald se prikke vir my pynlik. Trane loop teen my slape af en hy vee dit deernisvol af.

‘Toemaar, toemaar, amper klaar.’ Kom die sussend oor sy mooi lippe en asof gehipnotiseerd deur sy stem, dopper ek weg op ‘n turkooisgolf. Sy hande werk sekuur en met ‘n sekerheid van wat nodig is.

‘Klaar Sylvia. Dit gaan so agt-en-veertig uur geswel wees. Baie min kere is daar komplikasies of pyn. Wees rustig en drink baie helder vloeistowwe.’

Dit is egter nie waar nie. Drie-uur die oggend word ek wakker van ‘n brandpyn teen my neus. Dit is asof die hel self ‘n kooltjie op my gesig laat val het. My vinger gaan ondersoekend oor my neusvleuel. Geskok ruk ek my hand weg. Die pyn is alles oorskreiend en voor ek my vinger weggeruk het, het ek ‘n vreemde harde groeisel teen my linker neusvleuel ontdek.

Ek bestorm die spieël,struikel oor my pantoffels, stamp my skouer teen die badkamermuur en steier na die badkamerspieël. My oë verstar en staar bang na my terug uit my spieëlbeeld. Teen my neus groei ‘n gewassie, grys roosagtig gevorm. Die vel daarom is rooi en geswel. Dit gloei met ‘n vreemde hitte.

Ek spandeer ‘n angsvolle nag met nagmerries in die kort rukkies wat ek wel aan die slaap raak. Ek is warm en beswete in my katoenslaapklere. Ek kan nie wag vir die tyd wanneer die spreekkamer oopmaak nie. Die koppie warm koffie bewe in my hande en ek moet my elmboë op die tafel stut om die beker my my lippe te kry. My lippe is geswel en seer. Dit lyk na die lippe wat ek op die program Botched gesien het. Iets uit ‘n nagmerrie. Die groeisel aan my neus is nou so groot as ‘n ertjie. Dit lyk asof dit oopbars en kleiner gewassies vorm.

Ek skakel die nommer met rukkende hande. Twee maal moet ek hoor: The number you have dialled does not exist. My hart jaag in my borskas. My mond is droog. Die derde keer skakel ek korrek. Ek sukkel om die woorde oor my lippe te kry.

‘Ek is Sylvia Smith. Ek was gister daar vir verjongingsterapie. Ek dink ek is allergies vir die hialuronsuur. My mond en neus is aan die brand. Kan ek dringend inkom.’

‘Mevrou Smith? Ons het nie so ‘n afspraak in ons boek vir gister nie?’

‘Maar ek was daar.’ Ek hoor my eie stem. Ver en histeries in my ore. ‘Sylvia Smith, tien voormiddag. Ek het tog die vorm by u ingevul.’ Ek herken haar nasale manier van praat.

‘Mevrou, ek verseker jou my werk is baie akkuraat en hier is geen S. Smith vir gister op ons lys van gevalle nie. U is seker u was by Dokter Hollenback?’

Ek wil gek word. Ek smyt die foon in haar oor neer, gryp die motorsleutels van die sleutelrakkie en jaag na die spreekkamer.

Nou is daar foto’s, voor en na behandeling,van pasiënte teen dieselfde liggroen mure. Dit is dieselfde blonde vrou met dieselfde haarstyl en dieselfde dooie blou oë wat my in dieselfde nasale stem my verseker dat ek nog nooit in hulle spreekkamer was nie.

‘Kyk self.’ En sy skuif die afspraakboek oor die toonbank na my toe.

Daar is geen teken van my naam in hulle boek nie. Ek begin verward huil en lag. Sy kyk my net met haar dooie blik aan.

‘U kan nie van my verwag om u te laat deurgaan na Dokter Hollenbach toe as hy niks te doen het met u toestand nie.’

Die deur waardeur ek gister gegaan het om die lang aantreklike dokter te sien, gaan oop en daar staan hy met sy simpatieke helder turkoois oë,

‘Kom in Mevrou. Laat ek sien hoe ek u kan help.’

Ek wil doodgaan van verligting. Ek gaan sit op dieselfde gemaklike blou stoel voor dieselfde donker houtlessenaar. My neus is toegeplak met ‘n pleister sodat ander nie die vreemde groeisel kan sien nie.

Hy kom staan met sy lang sterkgevormde bene teen my. Sit sy hand vertroostend op my skouer en verwyder self die pleister.

‘Nou wat het ons hier? So-iets het ek nog nooit gesien nie. Maar ek gaan u verwys na ‘n dermatoloog wat ek goed ken.’

Hy gaan sit weer agter sy lessenaar ek skakel ‘n nommer. Hy maak die dringende afspraak en skryf vir my ‘n verwysingsbrief. Ek hou hom gehipnotiseerd dop. Hy gee geen teken dat hy my ken nie. Ek begin al aan myself en my geestestoestand twyfel. Ek neem willoos die brief. Dokter Wim Bruwer. Bekende dermatoloog en ek was al by hom met ‘n verwysing oor iets anders. Ek het vertroue in hom.

Net voor die hysbak toegaan, sien ek die skoonmaker verby loop. Sy dra die waterverfskilderye van die woestynrose sonder hulle rame na ‘n klein vertrekkie vol besems. Ek spring vorentoe om die knoppie te druk om die deur oop te hou, maar ‘n ander vrou glip vinnig in en die deur sluit dig agter haar. Ek weet wat ek gesien het. Dankie Vader, ek is nie gek nie.

Dokter Wim se spreekkamer is soos ek dit onthou. Die ouerige ontvangsdame herken my nie, maar is vriendelik en simpatiek. Sy neem die verwysingsbrief en kyk na my.

‘Dokter Hollenbach? Hy is seker nuut. Nog nooit ‘n verwysing van hom ontvang nie.’

‘Maar hy het gesê dat hy Dokter Wim goed ken!’

‘Watse dokter is hy? GP? ‘

‘ Hy is ‘n estetiese dokter.’

‘Het ons dan nou van hulle ook in ons stad?’ Sy lyk nie beindruk deur estetiese dokters nie.

Dokter Wim herken my. ‘Mevrou Smith?’

‘Ja Dokter, u het my vir ‘n kroniese ekseem behandel. Met wonderlike resultate.’

‘Nou kom gerus in dat ons kyk wat onder die pleister aangaan.’

Hy staan verbaas terug. ‘Die ding lyk soos ‘n…’en bly stil asof hy homself bedink.

‘’n Woestynroos?’

Hy draai weg en sit ‘n bril op wat lense soos vergrootglase het. Sy oë lyk vaag en grotesk agter die lense.

‘Mmm…’

Bekyk die gewas van alle kante. Die rooi vel is nou gryserig. Die pyn is weg. Ek ervaar naalde-en-spelde-prikke soos wanneer ‘n senuwee vasgeklem word. Die groeisel is so groot dat my neus oorgedruk word na regs.

‘ Ons kan met krioterapie begin, maar die letsel is groot en die nadele is dat dit lank vat om te herstel en omdat ons diep sal moet vries gaan dit lelike littekenweefsel los.’ Hy gaan sit met ‘n sug agter sy lessenaar.

Ek vertel hom nie van die groen spreekkamer met die skilderye van die grysgroen woestynerose nie.

‘Hoe het die gewassie ontstaan?’

Ek lag senuwee-agtig. ‘Ek was vir ‘n verjongingskuur met hialuronsuur en botoks. Kan ek allergies wees vir iets daarin? Veral met my geskiedenis van ekseem.’

Hy skud sy kop.’Nog nooit so-iets raakgeloop in my loopbaan van twintig jaar nie. Hierdie is nie ‘n allergie nie. Ons kan ‘n Fotosenibilizante room gebruik. Dit is fotodinamiese terapie wat die sintese en produksie van kollageen en elastien stimuleer. Ek gaan intussen vir jou reël om ‘n spoedafspraak te kry vir ‘n gerekaniseerde skandering of beter bekend as ‘n CT scan. Dan kan ons sien hoe diep dit afstrek in die weefsel.’n Behoorlike driedimensionele beeld. Dan gaan ons daarvandaan verder.’

Minute later loop ek uit met my tweede verwysing vir die dag. Dit is eers vir môre.

Wanneer ek die voordeur oopstoot, voel dit vir my of oë uit verskillende hoeke my dophou. Ek is bang om self weer die pleister te verwyder. Dit voel asof ek dit wil vermy. Asof die vermyding, die groei sal halt. Die gevoel dat iets of iemand my dophou, bly paranoid aan my kleef.

Wanneer ek my klere van my stroop en soek na slaapklere, weet ek dat daar iemand in my huis was. My laaie se inhoud is net-net nie soos wat ek dit gepak het nie. My handdoeke net-net nie gevou soos wat ek dit altyd vou nie. Ek soek nie na verdere bewyse nie. Ek weet dat my huis deursoek is en die vader weet wat nog. Ek is ‘n slim vrou en lank genoeg alleen dat  ek baie CSI episodes gekyk het. Ek deursoek my huis vir versteekte kamera’s, maar is skynbaar nie slim genoeg om enige kamera op te spoor nie. Ek weet net dat daar kamera’s op my is. Môre sal ek reëlings tref om in ‘n hotel oor te slaap. Dan weer twyfel ek of ek in die openbaar sal waag met my aaglige uitgroeisel wat byna te groot is om onder die pleister te bly.

Ek drink die slaappil wat Dokter Wim vir my voorgeskryf het. Dommel weg in ‘n nagmerriedeurspekte slaap.

Ten spyte van die slaappil is ek vroeg wakker. Ek borsel tande en probeer die spieël bokant die wasbak vermy. My oë het ‘n wil van hulle eie, my vingers loop hulle eie pad. Ek sien die trane in my oë. Is die beangsde patetiese vrou dan ek? Ek voel hoe die krag my bene verlaat. Die pleister is in my hand. My gesig prik oral. Teen my neus ontluik ‘n woestynroos se vet grysblare. Ek gly vloer toe. Ek voel my kop die teëls tref en bid dat ek sal doodgaan. Maar mens gaan nie so gou dood nie.

Nege-uur is ek by X-strale. Stroop met dooie hande my klere af. Trek die los jurk oor my kop, voel dit hak aan my blare. Byna lag ek. Ek is besig om mal te word.

Die radiografis weet nie waar om te kyk nie. Sy lyk vir my bleek. Haar hande bewe toe sy my kop op die sponsnekstut regstoot vir die skandeerder.

‘Dit sal gou verby wees.’ Bewe haar stem.

Ek wag daarna vir die radioloog se verslag en toe gaan ek terug na Dokter Wim se spreekkamer vir die uitslag. Hy bestudeer die scan op sy rekenaar. Skud sy kop. Dink diep.

‘Die tumor het ongelukkig ‘n diep oorsprong. Ek gaan my vennoot gou inroep dan hoor on swat hy ook dink. So ‘n tweede opinie is goud werk. Twee koppe is mos beter as een..’glimlag hy flouerig vir my.

Sy vennoot is ‘n ouer man met ‘n rustigheid wat vertroue inboesem. Ons besluit op verwydering van die tumor in ‘n teater onder algemene narkose. Immunoterapie met die VLMC-entstof sal daarna volg  en radioterapie daarmee saam. Immunoterapie het glo goeie resultate gelewer in aggressiewe melanoom en basaalselkanker. Eintlik besluit hulle. Ek stem net saam. Enige-iets solank die tumor sonder naam net afkom van my gesig.

‘Natuurlik sal ons roetine histologie doen om te sien waarmee ons hier te doen het.’ Nie een van die vennote lyk hoopvol nie.

Die dag na die operasie lyk my gesig eindelik weer na my behalwe vir die redelike lang sny en hegting oor die regterkant. Die histoloog kon nog nie die selle eien nie. Nie iets wat hy al gesien het nie. ‘Maar hulle werk daaraan, al stuur ons dit na ‘n groter lab toe.’

Die entstof is klaar toegedien en ek is op pad radioterapie toe. Dit is asof ek die protone en elektrone my gesigsvel voel tref.

‘Positiewe denke. Stel jou voor hoe die proton ingang vind en die abnormale selle aanval.’ Ek sien en voel dit. Ek visualiseer dit. Ek raak op die hoë bed aan die slaap.

Daardie aand voel ek positief. Ek voel rustiger. Ek het nie regtig pyn nie Net die oë wat ek op my voel, hinder nog. Ek kyk weer vir kamera’s. Ek kry een versteek in my badkamerspieël se raam.

Ek sluip terug bed toe. Trek die komberse oor my kop. Laat hulle maar heelnag na komberse kyk. Waarom is daar kamera’s in my huis?

Die son kruip soos ‘n lui kat oor my bed. Ek het verslaap. Ek moet terug na Dokter Wim vir ‘n opvolgbesoek. Oor die wond voel ek vir ‘n oomblik ‘n krieweling. Ek het heelwat tyd om reg te maak vir my besoek. Dalk kan ek ontbyt iewers gaan eet. Nee, dat ek Dokter Hollenbach gaan opsoek. Hy en sy verdomde woestynrose. Sy spreekkamer is leeg met ‘n Te Huurbordjie op.

Ek is net betyds vir Dokter Wim. Hy ondersoek my deeglik. Die histologieverslag is nog uitstaande. Die voorlopig verslag lees dat dit nie menslike selle is nie, maar eerder lyk na plantmateriaal.

‘Ek is tevrede met jou operasie. Ons gaan die kursus radioterapie voltooi.’

Toe ek terugry huis toe, kriewel die vel weer oor die wond teen my neus op tot by my regter oog. Ek vryf verergd oor die area. Tuis vind ek nog ‘n kamera in die spieëlkas in my kamer se houtraam. Ek ruk dit uit en smyt dit in die vullisdrom. Soek die huis deur in daglig en kry nog ‘n kamera in my bed se kopstuk. Ek gil daarin.

‘Voersek! Los my uit. Om vadersnaam los my uit.’ Ek huil nie. Ek wil nie dat die monster sien hoe diep hy my verwond het nie.

My neus prikkel weer. Ek is moeg. Moeg, lewensmoeg. Ek slaap. Wanneer ek wakker ruk in die nanag is my gesig weer in die hel. Ek strompel weer na die badkamer spiel. Twee beangsde oë staar na my terug. My mond is verwronge in ‘n geluidlose gil. My gesig is oortrek met klein volmaakte woestynrose. Die blare is ‘n blink grys onder die skerp lig van die badkamer. Niks gaan hulle stop nie.

Kamertoe. Kluis oop. My hand sluit om die koue kolf van my pistol. Die loop nestel ‘n plek oop tussen die woestynrose.

‘Jy sal nie wen nie…’