Xaba-Xaba land in die Kalahari

Douwlina du Plessis

Xaba-Xaba land in die Kalahari – 2017 © Douwlina du Plessis

Volwasse Fantasie

Weet nie of julle Daggafontein ken soos ek hom ken nie, maar Daggafontein is ‘n bielie van ‘n beesplaas daar waar die son hard op die horison neerhel na ‘n warm dag. Om Daggafontein se voorstoep groei die daggaplantasie so twee meter hoog, die blare is ‘n groot man se hand vol en die blomkoppe swaar van die goeie drag.

Tant Hennie, Pennie, Sannie en Pannie het saam grootgeword op Daggafontein.Sommerso met die tandekryslag het hulle ouers al vir hulle daggatee laat trek vir die ongemakkie. Was nie mak vroumense daai nie. Sit sommer so op die voorstoep en blomkoppe oes. Laaste polisieman wat daar gaan snuffel het is nou-nog weg en die vermoede is dat hy in ‘n droë boorgat kop-eerste af is en die boorgat toe netjies opgevul is.

Die aand is dit ook weer een van daardie soel aande in die diep Kalahari. Net die sonbesies laat waai. Die haan jaag nie die hen nie, hulle maar ‘n afspraak om in die koel ure van die nag liefde te maak. Daai hen is so natgesweet, die haan gly so vinnig oor haar rug dat hy met die aanloop en land, die makou, die tarentaal en die kalkoen in ‘n streep dek. Ware heer wat hy is, vra hy met ‘n kok-kok verskoning, maar die vere is klaar omgekrap.

Tant Hennie, Pennie, Sannie en Pannie sug swaar om die tafel. Vroetel die houtraam op en sak moeisaam om die kombuistafel neer. Room en pap kan selfs varkies vet kry vir vendusie, maar die vier tannies is besonder goed afgerond daarop.

Tannie Hennie se hempsmoue trek in op die groot boerbroodarms. Sy staan haarself en koud waai met ‘n groot kakhi manssakdoek.

‘Hormone is besig om reg te kry wat die Kalahari-son nie kon regkry in twintig jaar nie. Ek wil vrek.’ haf sy en paf sy. Sweet slaan op die two tone manshemp uit. Die knope net bokant die kakiebroek se gordel is in ‘n driehoekie oop en daardeur worstel pensvet soos ‘n vroeggebore varkie.

‘Hennie, skink daar ‘n bier of ‘n ding lat ons kan afkoel. Is g’n net die hormone nie. Dis warm!’ en Tannie Pannie beur haar groot boude gemakliker oor die sitplek van die kombuisstoel. 

‘ En jy Pennie kan sommer die kaarte bring. Vanaand bars julle. Niks minder as ‘n pienk Mandela per weddenskap nie.’

Pennie knoop haar hempie oop vir varslug. Netjiese ou lyfie wat die siel nog aanmekaar hou.

‘Pennie, bêre jou pramme, Willie het gaan grootwild jag. Knoop toe, hier’s niemand wat vir jou strooi sal val nie.’

‘Ag Willie…’ sê Tannie Pennie en bloos. ‘Wat laat julle dink……’

‘Jou skaapoge, jou tieties flash as sy bakkie stilhou, die spearments in die kies en daai cheap muishondpis wat jy so skelm aanspuit…’

Tant Sannie praat nooit baie nie. As die ander susters so aanpak vir oorlog gee sy so ‘n hie-hie-hie laggie, snork deur haar neus en vee haar olierige hare agter haar groot ore in.

‘Of wat sê jy Sannie..?’ vra tant Hennie.

‘Hie-hie, snork-snork.’ veeg die hare nog meer olierig.

Hulle kom tot speel toe ‘n sestal bierbottels uitgepak is, ‘n bottel Jeripigo vir later as die koue druk, ‘n yslike bak gekerfde biltong, lang slingels droë wors ‘n groot pak grondboontjies en rosyne.

‘Sannie kry vir ons Doom. Hier is weer een van daai pers vlermuise met die grootkoppe en een oog.’

‘Daar’s die vlieëplak by jou, moer hom. Wat wil jy kom fênsie raak met Doom?’

‘Het julle al so ‘n vlermuis gesien?’

Hennie, Pennie en Sannie skud hulle koppe. ‘Hie-Hie, snork snork.’ sê Tannie Sannie.

‘Julle die ding is intelligent, hy kyk vir my kaarte.’ sê Tannie Hennie.

‘En vir my boobs.’ sê Tannie Pennie.

‘Wragtag, hy kyk vir haar boobs.’ Sê Tannie Pannie, ‘Klein blikemmer!’

‘Sies Pannie, hy lyk soos ‘n honger kind, hie hie snork snork.’

‘Ketools seunskind…’ sê Tannie Pannie.

Die persmannetjie met die groot verdrietige groen oog, trek sy skeerbekmuisbek oop en toe, oop en toe, lyk asof hy wys hy wil suip.

‘Hy suip nie aan my nie.’se Pennie en knoop toe.

‘Nou gee die ding ‘n dop.’ se Tannie Pannie en gooi ‘n likeurglas vol Jeripigo. Sy stoot dit voor die pers gedaantetjie in. ‘Tjorts!’

Die tuitbekkie druk in die Jeripigo en toe suip hy laat die sop spat.

Hou ook nie op voordat die glas leeg is nie. Toe kyk hy blinkoog vir nog.

‘Kan jy dalk praat?’ vra Tant Sannie, ‘Hie hie snork snork.’

‘Natuurlik kan ek praat.’ sê die pers monstertjie en grinnik vrypostig met ‘n wawielwye bek na die vlesigheid aan die tannies.

‘Nou wat is jou naam, Eenoog?’

‘Xavier.’

‘Strooi. Dit was Hennie se oorle’ verloofde se naam.’ blaas Sannie.

Sy sien hoe hy na die foto van die mooi man in die houtraam staar.

‘Jy lees gedagtes! Iets! Jy het ‘n mansnaam uitgekies.’

‘Ja, want jy gaan huh? sê as ek sê my naam is Xaba-Xaba-Dlongolongwe.’

‘Nee, nie meer nie. Nie as Andries Pretoriusstraat skielik Robert Mhlabastraat is en Maitlandstraat Charlotte Maxekestraat word nie.’

‘Huh?’ sê Xavier of Xaba-Xaba-Dlongolongwe.

‘Ons sê sommer vir jou Double X.’

‘Nou wil jy saam kaartspeel of wil julle die hele nag strooi praat?’sê ‘n suurderige Hennie en klap ‘n pienk Mandela op die geelhouttafel neer.

‘My hand lyk goed. Sannie jy kan volgende rondte die klein pes indeel.’

Double X se groot oog kyk verwytend na Ta Hennie, maar dan konsentreer hy op die spel dat sy oog soos ‘n periskoop uit sy voorkop tafel toe trek.

‘Gooi ‘n dop, Pennie. Hie hie.,’ Ta Sannie as haar bierbottel leeg by die venster uitvlieg en met ‘n breekslag op die hoop glasskerwe van vorige aande se kaartspel land.

‘Mampoer?’

‘Jip. Mampoer. Daai truksvye van laas keer was gaaf.’ snork snorkTa Sannie.

Ta Pennie krap in die ou side board en bring ‘n bottel in elke hand uit.

‘Ons het nog van die perskemampoer ook…’

Sy skink in blikbekers en skuif oor die tafel aan. Loer met een oog na haar hand. Frons vies en krap in haar neus met ‘n delikate pinkie terwyl sy dink.

Double X wil hom eers vervies, maar met ‘n ‘Gee vir die kind ôk enetjie.’skuif Ta Hennie vir hom ook ‘n beker nader.

Hy trompet sy bek en suig diep. Sy een oog word diep groen, helder geel, pampoen-oranje en hy voeter reg agteroor van die tafel af.

‘Lieven loven!’ na-aap hy een van die tannies verlig en asem diep in terwyl perspienk trane uit sy oog loop.

Ta Pannie tel hom aan sy nekvel terug op die tafel. ‘Klein Hel-vel, dan loer jy nog skelm boude ook terwyl jy hier lê en kwyl.’

‘Deel die mannetjie ‘n hand, Sannie en niks van jou onder-uit-die-pak-deals nie.’

‘Asof ek dit ooit doen.’

‘Gee biltong aan man. Moet ek vanaand eers vrek van honger?’ Praat Ta Hennie hulle dood.

Pennie haal dik biltonge met heerlike stroke geel vet uit. ‘Sny vir die kind ook paar kerwe, Hennie.’

Double X se oog peul uit toe Hennie met ‘n Joseph Rodgers die biltong begin begin kerf. Daai skerp lem fassineer hom.

Skielik is daar ‘n helse slag. Vier mans skop die plaashuis sevoordeur oop. Een swaai ‘n panga rond en een ‘n ou polisiewapen.

‘Geld! Geld!’ skreeu hulle en klap Ta Pennie teen haar kop.

Dis of die vrouens skielik met elektrisiteit gelaai is. Ta Pennie gooi haar lyf in ‘n karatestans en skop ‘n man dat sy tande kletter.

Tannie Hennie pen die man met die gun se hand teen die houtdeur vas met haar Joseph Rodgers wat in haar regter hand is. Met haar linker hand gryp sy die mapoerbottel en slaan die panga uit die ander een se hand.

Tannie Sannie gaan sit swaar op hom en draai sy arm agter sy rug in.

Pannie gryp ‘n stuk biltong en druk dit in een se oog.

Dis ‘n warboel van beweging. Double X pie grasgroen op die tafel, oor die kaarte en gesnyde biltong. Dit flits floreserend oor die donker tafel. Almal is vir ‘n oomblik verblind. Daar hang ‘n swaar swael reuk in die kombuis. Dan is Double X weg en die mans vlug vervaard by die deur uit die nag in.

Double X rapporteer aan sy opperbevelvoerder: ‘Hel-vel,’ probeer hy sy nuwe woord ‘Ons moenie daar lol nie. Jis my Ou, as hulle vrouens so is, wil ek nie hulle soldate sien nie.’