Afrikaans is aan masjiene gekoppel – Gerrit van Dijk

Foto - Gerrit van DijkHy haal nog asem, maar nie sonder mediese hulp nie. Wat die Afrikaner sélf betref, is jy te laat vir die roudiens.”

Soms moet ons onsself afvra waarom Afrikaans toenemend in gedrang is.

ʼn Ruk gelede, toe almal hulle asems opgehou het vir die dood van Nelson Mandela, en die ʼnag van die Lang Messe’ op almal se lippe was, het iemand in ʼn radioprogram oor Siener van Rensburg gemeld dat jy Afrikaners kry, en Boere.

‘Boere’ hou rotsvas aan hulle Christelike geloof, baster nie uit nie, is konserwatief, dring aan op Afrikaans, is trots op sy Voortrekker herkoms, en leef eenkant.

‘Afrikaners’ is die teendeel-

Al is hulle ook Vootrekker-afstammelinge, kan hulle nie meer Afrikaans praat nie want 45% daarvan is Engels, is uitgegee in Engelse huwelike, (dus is hulle kinders trots Engels), is baie tuis in die moderne wêreld, behoort gewoonlik aan een of ander New Age-beweging, en hét hy ʼn besigheid, sal alles daarvan Engels wees, net ter wille van die een onbehulpsame wat dálk sy besigheid elders sal neem as hy nie Engels onder die dak daarvan aantref nie.

Ek staan soms stom voor die verskonings wat mense uitdink as jy frons dat hulle hul kinders Engels grootmaak.

“Dis beter vir hulle. Hulle gaan makliker werk kry. Hulle kan dan oorsee gaan…”

Noem maar op. Dit laat my effens dink aan die Israeliete met die bloed van ʼn lam teen die deurkoesyne tydens die plae in Egipte-

Word die bloed nie gevind nie, sal jy deurloop. Jy sal beskinder word, op neergesien word, teen gediskrimineer word…

Dit is die toestand waarin ons verval het.

Nie alleen het die Britte ons laat oorgee deur vroue en kinders gyselaar te hou, en daarmee weggekom nie. Nee, vandag meer as 100 jaar later, buig ons steeds baie gretig die knie-

Skop jy ʼn gesprek af met iemand vreemd op straat, skop jy af met Engels. En ter wille van een Engelssprekende in ʼn vol Afrikaanse geselsskap, val almal hoflik oor mekaar om tog net Engels te wees. Waarom akkomodeer ons so graag? Sal jy dieselfde van die ander kant af kry?

Nee.

Dit voel soms of ʼn vloek op Afrikaanses as volk rus, sedert ons die ‘vrede’ in Melrosehuis in Pretoria onder dwang moes teken, want sedertdien gee ons net toe, en dis al wat ons doen.

ʼn Immigrant sal dekades in hierdie land woon, en na ál die jare steeds “Pardon?” of “I begyours?” Gaan jy dáárntoe, boeta, dan moet jy gesméér wees om te kan vloei in die weë van die ‘heersers van die heelal’.

Die media help ook nie veel nie. Ek het destyds vir ʼn Xhosa-kollega gesê-

As jy Afrikaans wil leer, luister na Riaan Kruywagen.

(-Totdat die arme man een aand tydens ʼn agter-die-skerm knoeiery “Sorry” vir die kykers gesê het!)

In die Suid-Kaap word ʼn plaaslike ‘Afrikaanse’ radiostasie spottend Zef-FM genoem, juis oor die bannale graad van Afrikaans wat die omroepers praat. Om nie eens van die musiek te praat nie! Dit het my tot die slotsom gebring dat nie een Afrikaanse kunstenaar Afrikaans eens kan praat nie, maar onder die Afrikaanse vaandel werk, net omdat die mark daarin baie makliker is, want die Afrikaaanse mark is soos die Gospel-mark-

Enige hoender kan sy kitaar gaan tokkel en “Ek like jou to pieces baby! Like vibrant, like far-out my baby. Bayyyyyyyyby chocolates…”

Die Engelse mark is nie so toegeeflik nie. Standaarde is hoog want dit moet oorsee kan gaan.

Engelse kyk grotendeels neer op Afrikaanses, want Afrikaanses het geen standaarde nie en ‘is gewoond aan oorgee’. Vir die Afrikaner is dit belangriker om by die Engelse wêreldklub aanvaar te word. Daarvoor sal hy enige-iets prysgee. Tot sy identiteit. Soos swart Suid-Afrikaners vir hulself ʼn westerse bynaam aanneem ter wille van die blanke, neem Afrikaners ook Engelse byname aan ter wille van die Engelse. Weereens- Van húlle kant af… Niks. Net die wrang nasmaak van die koning op sy troon wat goedkeurend knik.

Die fout is-

Ons sien dit as ʼn bevryding om swak gehalte Afrikaans in die openbaar te gebruik. Ons sit met ʼn eng beeld van onsself, asof daar ʼn soort SS-mag was wat Afrikaans bewaar het. Noudat daar gevloek mag word en ons ook aan ruwe seksorgies begin deelneem in ons rolprente, het ons nou die piek van ʼn mitiese Everest bereik. Intussen is ons opdrifsel vir onsself. Ons het onsself met die semels gemeng vir aavaarding, en nou vreet die varke ons. Hoe gaan ons onsself behou as ons geen rolmodelle het nie, as die mense wat ons na luister elke dag en nag voor TV praat soos rugbyspelers?

“Ja… e… die game was tough. Hier na die eindstryd voor die referee die fluitjie blaas kon ons flyhalf nog ʼn try score. Nie so bad nie want ons het nie too much injuries gehad nie. So dit was ʼn cool game… Lekker teamspirit onder die dudes…”

So ʼn persoon sal nou agterna dink ‘hei… hoe’t ek gelyk? Cool nè?” Intussen skeur Engelse hulself vir die ‘Afrikaans’, want hulle maar net sowel kon los, en Boere wil die stuipe kry!

Selfs ons woordeboeke is nou deurspek met Engelse woorde as erkende Afrikaans. Die ironie is dat Afrikaans soos ʼn vlooibesmette hond gekam word vir sogenaamde ‘anglisimes’, maar hoeveel Frans is nie in Engels nie? Só baie, dat Engels basies Frans is met ʼn slegte aksent. Begin maar met elke woord wat eindig met ‘tion’. Production, inplication, sanction

Logies eintlik, as in ag geneem word dat Engeland destyds ʼn Franse strafkolonie was, en meeste het daar beland oor die sogenaamde ‘swart kunste’, met ander woorde- Heksery. Verbaas dit dan nog waarom ʼn klein eilandjie se inwoners vandag die wêreld oorheers en alles wat hulle teëkom ‘assimileer’ soos die ‘Borg’ in Star Trek?

Min gemenge Afrikaans-Engelse verhoudings, indien enige, is geballanseerd. In die eerste plek sou dit nie ver gekom het het as die Afrikaanse party nie ʼn ernstige geval van ‘Anglotitis’ opdoen nie, en slaafs Engels ‘word’ nie.

Net in hierdie een dag, tydens die skryf van hierdie artikel, kom ek twee ‘gemengde pare’ teë. Nie een van hierdie pare sou bestaan het as die minderwaardige Afrikaanse sy nie Engels geword het ter wille van die ander nie. Geen vinger word gelig van die ander kant af nie, soos ʼn uitvoerende direkteur met sy persoonlike assistent. En die Engesle helfte was nie buitelanders met uitspattige aksente nie, maar vir die Afrikaanse is dit ʼn welkome opgradering, om skielik in tel te mag wees.

My vrou sy kleindogter is agt, en tweetalig. Tweetalig op agt! Uit ouers wat beide rou Afrikaanses is. Meer as wat meeste Engelse op 38 kan sê! Dit doen bitter skade vir hulle beeld want dan kom hulle ‘oh I’m very English’ minder intelligent voor.

Maar hoe is dit dat ʼn Afrikaanse kind op agt tweetalig kan wees? Die antwoord is TV.

Daagliks word ons bestraal met Engels soos iets in ʼn mikrogolfoond.

Destyds is TV-programme nog vertaal om ʼn ballans te handhaaf. Toe het ons nog ʼn lus en ʼn trots gehad, maar toe al het ons redes gesoek om eerder die oorspronklike klankbaan op radio te volg. Maar nie Duits of Frans of ander dergelike taal nie, net as dit Engels is, bygesê.

Vandag is oorklanking kamma te duur. Nou kry vandag se generasie alles direk uit die perd se bek, en ons het Amerikaners geword binne ʼn jaar na die eerste uitsendings begin het. Ons ‘Hi’ ook nou, alles is Ôsim, en van wanneer af het ons ‘creeks’ begin kry? Ons het nooit ‘creeks’ in die veld gehad nie. Dit moes saam met die indringer plante ingekom het!

Selfs ʼn Amerikaner sê my nou die dag hy kan nie verstaan waarom ons so agter Amerika aan foeter nie. Ek het detyds as kind al gewonder warom die Spur-groep die Wilde Weste so moet aanhang. Ons het dan ʼn selfs rýker tema uit dieselfde era gehad! Dis waarom die Amerikaners so “Affffrica!” as hulle klaar gekniel het in “Paris”!

Dit bring ons by waarom mense frons op Afrikaanse wetenskapsfiksie en fantasie, want ons sien onsself nêrens in die toekoms nie! -Behalwe as ‘geabsorbeerdes’ in die Borg ‘korf’, waarin ons net kan voortbestaan as ons aansluit by die ‘heersers’ in die verkenning van die heelal- Engeland en haar afstigsels.

Eben van Reenen omseil hierdie Afrikaner minderwaardigheid uitstekend in sy boek “Arwantië 2953”, waarin elke ras op Aarde sy eie sektor in die ruimte het wat hy bewoon en verken. In Francois Verster se “Deur na Nebula 9” is dit weer ander dimensies.

En Fantasie? Wat ís Fantasie?

Eerste beeld wat jy kry, is die profiel van ʼn prins met wapperende lang hare, ʼn swaard vertikaal voor sy gesig, met ʼn kasteel in die agtergrond wat ʼn draak met ʼn bedpot verwar. En so gaan dit tot vervelens toe as jy net die boekomslae van die Fantasie-sektor in ʼn boekwinkel gaan deurkyk. Pragtige omslae, maar al wat verskil, is die name.

Om te oorleef in die toekoms, moet ons wíl oorleef- ʼn Eie identiteit en eie taal wíl hê. Meeste wil maar te graag deel wees van die superklub met hulle oë op Hollywood se selfvoldane sonbrilwesens, waar hoogmoed en arrogansie nie defekte is nie, maar gesogte kwaliteite. Niemand presteer in Hollywood voor hy nie buitengewoon laag daal nie. Gaan grawe maar so ʼn bietjie, of vra die Suid-Afrikaners wat wél ‘sukses’ behaal het. En op hierdie mense skoei ons ons maniere, ons selfbeelde, hoe ons teenoor ander optree.

Van kleins af het ek al ʼn kramp gekry as ons iets uit die buiteland na-aap. Artikels, tot vandag toe, lui met ‘Ons eie James Bond’, ‘ons eie tenore’, ‘ons eie John Wayne’, asof daar patentreg is en ons eers moet wag vir ʼn baanbreker, voor ons ons eie franchise (weereens Frans) mag begin.

Ek dink dis ʼn geweldige eer, bykans ongelooflik, om afstammelinge te mag wees van ʼn handvol boere wat die Britse oorlogsmasjien só verniel het dat hulle álle beskaafde beginsels oorboord moes gooi om ʼn oorlog te wen, wat hulle uit hebsug begin het. Dis soos om te weet jy is ʼn direkte afstammeling van 1 Samuel se Koning Dawid!

Dink net aan die rolprente wat hieruit kan voortspruit!

Maar meeste van ons hoop dat die berge op ons sal val, die Aarde ons sal insluk terwyl ons ʼn skaam hand uitsteek vir Engels om ons uit die klei te te trek en op die podium van waardigheid te mag neersit.

Die reklameborde gil graag uit- Afrikaans is groot! Net jammer dis alles behalwe Afrikaans, maar ‘Zef’. Ons moes Afrikaans eers van alle waardigheid stroop voor ons hom soos ʼn getroumatiseerde, verkragte martelaar voor ʼn skare op ʼn oop verhoog getrek het. En in die oorverdowende bombadering van Engels in alles wat ons sintuie kan absorbeer, voel ons klein en verwerp, want ons eggo nie wat TV, radio en die sosiale media ons mee peper nie.

Geen wonder Jesus sê ‘vriendskap met die wêreld, is vyandskap met God’ nie.

Deur jouself te aard en te meet aan die oorweldigende massa, moet jy eers jouself verloën.

Ja, jou boek gáán nie verkoop nie. Goed- Dalk twee eksemplare, een deur ʼn vriend en een deur ʼn familielid. Maar jy het nie ingegee aan die druk nie. Jy het nie jouself of jou selfrespek verpand nie. Jou werk is nie deur iemand anders verkrag om by die standaarde van die wêreld te pas nie. Dis jou eie, in jóú taal. Jóú unieke vingerafdruk. Al is jy die laaste een wat dit praat, daar gaan nie nog een wees ná jou nie. En dis dít wat jou werk onderskei tussen die braaksels wat die wêreld vol lê, en iets raar wat agter glas in ʼn museum kom!

  • Johan

    Ek was gister behoorlik omgekrap. Het by die videowinkel gaan uitvra oor die nuwe Afrikaanse DVS ‘Suurlemoen!’ en die knaap vertel my toe dat sy bestuurder nie meer Afrikaans in gaan kry nie. –

    Vandag in Exclusive Books moet ek letterlik na die agterste hoekie toe gaan om een rakkie Afrikaanse boeke te sien….

    …wat gaan ons doen? Afrikaans moet net oorleef!