Die Afrikaanse Fantasie Kortverhaal: Hoe beoordeel mens dit? – Petronel

Petronel - AfrifiksieMet die oog op Thompson Boekdukkery se jaarlikse Afrikaanse wetenskapfiksie en fantasie kortverhaal skryfkompetisie wat onlangs gesluit het en die komende beoordeling van al die fantasie inskrywings wil ek (Ronél Gill) graag die volgende inligting met die skrywers, en dié wat in die toekoms gaan deelneem, deel.

Die eerste en belangrikste vraag wat elke fantasie skrywer hom/haar moet afvra is: “Weet ek rêrig wat fantasie is?”
Op Afrifiksie se webtuiste (www.afrifiksie.com) onder die opskrif “Wat is…” kan mens die skakel “Wat is fantasie?” vind. Daar word die fantasie genre, saam met al die verskillende sub-genres van fantasie baie mooi uiteengesit. Gaan lees dit gerus deur. Vir dié van julle wat dit nog nie gelees het nie, wil ek die definisie van fantasie net vinnig in twee kort woordjies saamvat: VERBEELDING en DROOMWÊRELD – So maklik soos dit. Enige iets waaraan jy kan dink wat nie werklik bestaan nie (of natuurlik wat die res van die ‘onkundige’ bevolking nie dink werklik bestaan nie; ons weet van beter).

Dit bring my nou dan by die beoordeling van jou Afrikaanse fantasie kortverhaal. Wanneer ’n beoordelaar jou harde werk onder die vergrootglas plaas word daar na die volgende punte gekyk:

1. Titel en Hoof idee van die verhaal:
Is die titel sterk genoeg om die verhaal behoorlik te verteenwoordig? Kort en kragtig is altyd ’n treffer. Kan jy as leser identifiseer met die hoof idee wat die skrywer probeer oordra? – Hierby wil ek net noem dat elke verhaal ’n begin, ’n middel en ’n einde moet hê. Hierdie is ’n baie belangrike punt wat die meeste skrywers (veral dié wat fantasie skryf) vergeet. Dit is wonderlik om jou hoof idee ’n geheim te hou tot amper op die einde, maar mense asseblief, as leser wil jy wéét hoe ’n verhaal eindig! Jy wil nie ’n verhaal deurlees en aan die einde nog wonder wat het nou eintlik gebeur en wie is verantwoordelik vir wat nie – ’n einde word ’n einde om ’n rede genoem.

2. Literêre elemente:
a. Karakters: Is jou karakters dinamies (veranderbaar / in beweging) of is hulle staties (onveranderbaar /vas /vervelig) d.w.s. gebruik jy jou 5 sintuie, bewegings, liggaamshoudings, karaktertrekke, ens. om jou karakters lewe te gee en om hulle te laat reageer op sekere gebeure wat hulle raak. – Dit help jou lesers om jou karakters beter te verstaan en om te verstaan waarom hulle op sekere maniere in sekere situasies optree.

b. Verbeeldingswêreld: En hierby wil ek agtergrond insluit. Skep jy goeie agtergrond inligting? Beskryf jy jou omgewing en die gebeure in jou verhaal op so ’n manier dat jy jou leser daarheen neem? Gebruik jy elemente soos tyd, seisoene, weer of enige ander agtergrond wat ’n rol in die bedoeling van die verhaal kan speel? Beskryf jy die voorkoms van jou karakters op so ’n verbeeldingryke manier dat jou leser kan ‘sien’ hoe die karakters (hetsy man of dier of monster) in jou verhaal lyk?

c. Storielyn: Is jou verhaal logies? Selfs in die fantasie genre, of dit nou diere of feetjies of selfs monsters is wat praat en optree, moet jou verhaal logies klink en sin maak as jy weet wat ek bedoel. Hoe het dit gekom dat sekere mense, monsters of diere in sekere omstandighede beland het, of op sekere plekke is? Is jou verhaal gebeurtenisryk – hou dit die aandag? Vloei jou storielyn glad of is sekere van jou inligting en beskrywings te uitgerek en belemmer dit die vloei van jou verhaal? Selfs ek, wat al ’n paar boeke geskryf het, is nou die dag nog daarop gewys dat party van my tonele die vloei van my verhaal belemmer.

  • Taalgebruik en spelreëls: Daar is so baie reëls, die meeste wat ons natuurlik op skool al van geleer het, maar as jy nie seker is nie is dit altyd maar raadsaam om met ’n woordeboek (’n baie dik en ’n moderne een) langs jou te sit en skryf. Of gebruik speltoetsers soos, www.wspel.co.za (gratis) of www.speltoetser.co.za.
  • Baie belangrik! Beperk jou beskrywende- en hoë woorde. Dit is hierdie klein skrywers-duiweltjies wat die vloei van jou verhaal strem en boonop die storie verlore laat gaan.
  • En natuurlik is daar altyd die gevreesde leestekens en punktuasies! Het ek nodig om meer hieroor te sê?

Ek deel hierdie inligting in die lig dat baie mense dink dat om ’n kortverhaal te skryf heelwat makliker is as die skryf van ’n roman (wat natuurlik nie waar is nie!) en dat die beoordeling van ’n kortverhaal bloot gaan oor die voorkeur van die beoordelaar (wat soos julle hierbo kan sien dat dit glad nie waar is nie).

Met hierdie inligting wens ek elkeen van julle wat ingeskryf het en wat voorentoe gaan inskryf sterkte toe.

2014 © Petronel

  • francois

    Kortverhale is beslis moeilker as dit mag voorkom. Heng, skryf is moeiliker as dit mag voorkom! Goeie wenke, Ronel – mens kan sien jy ken die duister binnewerke van die genre!

  • Chantal

    Baie dankie vir die inligting! Nou weet ek hoe om te skryf! Hopelik…

  • Salmon Smith

    Dankie Petronel vir die nuttige inligting. Dit sal baie beslis help in my moedige skryfpogings. jy is een van my gunsteling Fantasie skrywers