Die kortverhaal: Wat maak dit só anders? – Gerhardus Thompson.

Gerhardus en Beatrix Thompson - FacebookKom ons val met die deur in die huis. Op die vraag wat die verskil is tussen ’n kortverhaal en ’n roman sal die antwoord waarskynlik wees; dis net ’n verkorte weergawe. Dan praat ek ook nie eers van die indruk wat baie mense het oor ’n kortverhaal nie – dat dit makliker is om te skryf as ’n roman.

Laat my nou toe om hierdie verskille uit te wys en dit onder die aandag van skrywers te bring dat die kortkuns heeltemal op sy eie bene staan.
Dis duidelik dat wanneer ’n mens gevra word oor die lengte of die betekenis van ’n kortverhaal, jy waarskynlik net soveel verskillende antwoorde sal kry as die hoeveelheid mense wat gevra is.

Ek gaan hier ’n paar basiese reëls neerlê, met betrekking tot die kortkuns, met die hoop dat dít die onsekerheid die finale nekslag sal toedien.
Daarom moet ons eers kyk wat bedoel word as ons praat van ’n kortverhaal. Kortliks is die beskrywing van ’n kortverhaal:

– ’n Prosawerk met ’n besonderse streng bou;

– Dit gaan nie soseer om gebeure nie, maar eerder oor karakteronthulling wat kyk na ’n bepaalde aspek of ontleding van die menslike bestaan;

– Dit speel gewoonlik af op ’n bepaalde tydstip in die hoofkarakter se lewe, waar hy of sy tot dieper insigte kom t.o.v. van die lewe of sy of haar bestaan;

– Daarom kan ’n mens met gemak sê dat die kortverhaal meer dramaties is eerder as epies.

Dan beantwoord ek ook nou sommer hieronder die mees gevraagde vraag as dit kom by die kortverhaal: Wat is die lengte van ’n kortverhaal?
Edgar Allan Poe (19/1/1809 – 7/10/1849) het ’n kortverhaal gedefinieer as prosa wat ’n gemiddelde leser kan voltooi in ’n enkele leessessie.
Dis ook duidelik dat lesers in die 19de eeu heelwat meer tyd gehad het om te lees as ons vandag en dis vir hierdie rede dat die 20 000 woorde kortverhaal van die 19de eeu nie meer vandag kan geld nie.

Vandag is die aanvaarbare lengte van ’n kortverhaal vasgestel op 2 000 woorde tot en met 7 500 woorde (maar elke uitgewer en kortverhaalskryfkompetisie organiseerder het hul eie idee wat ’n kortverhaal is en wat die lengte moet wees) en as jy binne hierdie raamwerk skryf, is jy redelik veilig.

Elke skrywer smag of soek na erkenning en aanvaarding vir hulle skryfwerk en om dit te ontken, is om te ontken dat die son elke dag opkom.

Dis vir hierdie rede dat aspirant-skrywers eers die water wil toets deur deel te neem aan verskeie kortverhaalskryfkompetisies en gesoute skrywers om hul tegniek, styl of ander literêre elemente te slyp.

Daarom voel ek is dit ook belangrik om hier te noem waarna kortverhaal beoordelaars kyk wanneer hulle jou kortverhaal onder oë kry. Want om te weet, is om te verstaan.

Eerstens die tegniese aspekte (wat geld vir alle skryfwerk) en alhoewel dit klink na ’n eenvoudige stap is dit waarskynlik die belangrikste stap van die beoordelingsproses. Tegniese aspekte sluit in die korrekte spelling, grammatika, sinsbou, lees- en skryftekens en die meganika van die korrekte gebruik van hoofletters, kursief en afkortings. By formele kortverhaalskryfkompetisies is beoordelaars streng op die maksimum woorde wat toelaatbaar is vir die kortverhaal en deelnemers wat die maksimum aantal woorde oorskry word gediskwalifiseer.

Die tweede punt waarna beoordelaars kyk, is na kreatiwiteit en die oorspronklikheid van die skrywer se kortverhaal. Hier word gekyk na verbeelding, oorspronklikheid, hou dit die aandag van lesers en is daar enige nuwe idees wat aangebied word in vergelyking met vorige gepubliseerde werke. ’n Oorspronklike en kreatiewe kortverhaal is een wat die skrywer se styl en visie op ’n besonderse wyse moet weerspieël, al word die skrywer geïnspireer deur ’n gevestigde skrywer, moet hy of sy nog steeds sy eie stempel daarop afdruk.

Derdens waarna beoordelaars kyk, is die intrige en temas in die kortverhaal. Het die skrywer daarin geslaag om sy of haar lesers te oortuig van hulle fiktiewe wêreld? Besit die kortverhaal die nodige emosionele elemente wat spanning, opwinding, empatie, hartseer, verlies of woede insluit, afhangende van die temas. Alhoewel die kortverhaal heelwat korter is as ’n roman, moet die skrywer nog steeds poog om hulle karakters se geestestoestand en aksies lewendig te maak op papier.

Laastens kyk beoordelaars na die afsluiting, slot of einde wat beslis een van die moeilikste en net soos die tegniese aspekte van die belangrik dele van die kortverhaal uitmaak en tog is dit die een waarin so baie skrywers faal. Die vrae wat beoordelaars vra, is: verstaan ek wat die skrywer wil sê (is dit maklik verstaanbaar); het dit op die regte tydstip geëindig; en het daar genoeg verandering in die hoofkarakter se bewussyn plaasgevind of het die hoofkarakter tot dieper insigte gekom.

Baie beginner (en wie weet hoeveel bekwame) skrywers is onder die indruk dat die skryf van ’n kortverhaal makliker is as die van ’n roman. Alhoewel die aantal woorde minder is, is dit duidelik dat die beoordeling en aanvaarding van kortverhale heelwat strenger is as die van ’n roman.

Besoek gerus www.thompsonboeke.com en vind meer uit oor hulle jaarlike Afrikaanse wetenskapfiksie en fantasie kortverhaalskryfkompetisie.

Sterkte en voorspoed met jou skryfloopbaan.

© 2013 Gerhardus Thompson

  • Salmon Smith

    Dankie Gerhardus vir hierdie kosbare stukkie inligting. Dit help baie in my skryfloopbaan.

    • Seun Thompson

      Salmon,
      Dit is ‘n groot plesier en ‘n riem onder die hart om dit te hoor. Voel vry om artikels te skryf wat jy mag dink ander skrywers kan help en ons plaas dit graag hier op Afrifiksie.
      Weereens dankie vir die kompliment en sterkte met jou skryfloopbaan ons sien uit na jou romans.

  • Charles

    Dankie Gerhardus:)
    Dit is wonderlik om sulke stukke op die web te vind wat mens so goed en mooi toelig!