Die stigting van ’n Afrikaanse WF en/of F boekklub – Gerhardus Thompson

Gerhardus en Beatrix Thompson - FacebookPraat van ’n rugbyklub, gholfklub, duiweklub, vrymesselaars-losie of biduur en jy hoef nie vêr te soek om een van die genoemde klubs of instansies in enige dorp of stad in die Republiek van Suid-Afrika op te spoor nie.

Soek ’n leserskring of sommer net ’n Afrikaanse boekklub en dit is so skaars soos om water in ’n woestyn te vind. Dis selfs skaarser as hoedertande om ’n Afrikaanse wetenskapfiksie en/of fantasie boekklub te vind.

En dis juis vir hierdie rede dat ek nou gaan kyk na die motivering agter die stigting van ’n boekklub en veral die stappe hoe om ’n Afrikaanse WF en/of F boekklub van stapel te stuur, met die hoop dat jy na die afloop van hierdie artikel so geïnspireer en begeesterd sal wees, om dit ’n werklikheid te maak.

Boekklubs of leserskringe, wat jy dit ook al wil noem, het so baie om aan te bied vir diegene wat lief is vir lees (of vir die wat poog om lief te raak vir lees). Hoeveel keer het dit nie al gebeur dat jy ’n wonderlike roman gelees het en niemand kon vind om dit mee te bespreek of daaroor te gesels nie. En as jy gelukkig was om iemand te kry met wie jy oor die boek kon gesels, het dié net met ’n halwe oor geluister en beleefd nou en dan die kop geknik. Sou dit dan nie veel lekkerder gewees het om uit te sien na ’n oggend, middag of aand saam met ander boekwurms wat nie kan wag om te hoor wat jy te sê het oor ’n betrokke roman nie?

Tot hier toe en nie vêrder nie en hier volg nou tien redes waarom jy ’n boekklub of leserskring moet begin:

1. Deel jou passie met ander.
As jy lief is vir lees; is jy waarskynlik ook lief om die romans wat jy gelees het, te bespreek. Meestal ken die persone met wie jy gesels glad nie eers die boek of die skrywer nie. Dis vir hierdie rede dat, as jy ’n boekklub begin waar almal dieselfde roman lees, julle dit in ’n groter groep kan bespreek, ontleed en luister na wat ander van ’n betrokke roman dink.

2. Ontmoet nuwe mense.
Nog ’n groot en opwindende rede om ’n boekklub te begin, is om nuwe mense te ontmoet. Uit die staanspoor is dit belangrik om mense te kry wat dieselfde genres geniet as jy (en belangstellendes vooraf te laat weet watter genres gelees gaan word), want daar is niks so afbrekend as lede in ’n boekklub wat nie so passievol oor ’n besonderse genre soos jy is nie.

3. Bespreek opwindende nuwe boeke.
Wanneer ’n nuwe roman beskikbaar is, sal jy en die res van jou lede in staat wees om dit saam te lees en te bespreek. Dis een van die groot redes hoekom jy ’n boekklub begin, want dan hoef jy nie te wag totdat ander dit klaar gelees het, voordat julle dit kan bespreek nie.

4. ’n Goeie verskoning om meer te lees.
Die meeste van ons het besige leefstyle wat dit soms moeilik maak om tyd af te staan om ’n boek of twee te lees en daarom moet ons ’n rede hê om te gaan sit en lees. Met jou eie boekklub het jy die nodige verskoning om tyd opsy te sit om iets te doen wat jy werklik geniet.

5. Kry meer uit ’n boek.
Een van die beste redes om ’n boekklub te begin, is om meer uit ’n roman te kry. Wanneer jy ’n roman bespreek met ander, is jy in staat om te praat oor die ontwikkeling van die karakters, die sub-plot en die dieper betekenis van sekere tonele en om ’n verskeidenheid interpretasies aan te hoor van dieselfde roman.

6. Goeie manier om jou tyd te benut.
Sommige wintersdae is te koud om iets te doen en ‘n paar somersdae is dit net te ondraaglik om uit te gaan, maar met jou eie boekklub het jy altyd ‘n binnehuise aktiwiteit om na uit te sien. Byeenkomste en besprekings in die winter kan geskied met ’n lekker warm beker sop in die hand en die somer met ’n yskoue glas tuisgemaakte gemmerbier. Of laat elke lid iets saambring om die geleetheid spesiaal te maak. As julle ’n roman lees wat verfilm is, kan julle na die lees van die betrokke boeke ’n filmaand reël met ’n bak springmielies en drinkgoed.

7. Goeie verskoning om die plaaslike biblioteek meer te besoek.
As jy lief is om te lees is jy waarskynlik ook lief om tyd te spandeer in die biblioteek. As jy vind dat jy nie meer tyd kry om die biblioteek te besoek nie, is ’n boekklub die perfekte verskoning om meer tyd daar deur te bring. As die plaaslike biblioteek nie die nodige Afrikaanse wetenskapfiksie en/of fantasie boeke op die rakke het nie, sal dit wonderlik wees as jou boekklub ’n kopie of twee vir die biblioteek kan aankoop.

8. Goeie rede om meer boeke aan te koop.
Met nuwe Afrikaanse wetenskapfiksie en fantasie sagtebandboeke en eBoeke vandag beskikbaar (by www.thompsonboeke.com) deur nuwe talentvolle skrywers en die gerief van bestellings deur die internet is daar nie ’n makliker manier om jou versameling boeke op te bou nie. Jy kan selfs aandring op afslag as jy vir jou boekklub boeke koop.

9. Goeie manier om meer te leer oor nuwe skrywers.
Nog ‘n groot rede om ‘n boekklub te begin, is om meer te leer oor die nuwe skrywers. In jou boekklub deel jy en jou lede dieselfde belangstelling en so leer julle saam oor ander skrywers.

10. ’n Bekostigbare vorm van vermaak.
Met die stygende kostes van gholfstokke, klubgelde, toerusting en selfs om ’n rolprent te geniet, kan jou uitgawes die hoogte inskiet. Wanneer jy en die lede van jou boekklub wat in jou omgewing woon bymekaarkom, is die uitgawes minimaal en soveel meer genotvol.

WAT IS DIE VOLGENDE STAP?
Noudat jy die voordele insien van ’n boekklub en gereed en geïnspireer is om jou eie boekklub te begin, is die volgende vraag uit die aard van die saak: hoe begin ’n mens? Om hierdie vraag te antwoord, is ek hier om te help. Die onderstaande stappe behoort jou op die regte pad te lei en wie weet is daar dalk iemand wat net vir jou wag om ’n boekklub te begin.

1. Besluit oor die tema en die verloop van jou boekklub.
Is jy ‘n geharde Afrikaanse wetenskapfiksie of fantasie leser? ‘n Skaamtelose hygroman leser? ‘n Geheime strokiesprentboek leser? Besluit vooraf watter genre jy sou verkies om op te fokus, en hoe jou boekklub gaan verloop en die rede vir die samekoms en jou toekomsvisie vir die klub. Wat wil jy bereik met die klub?
Voorbeeld van hoe ‘n boekklub mag verloop (dis jou boekklub so pas aan soos jy goeddink):
      
Begroot vir ongeveer 2 tot 2½ ure per samekoms;
       30-45 minute vir sosialisering (verwelkoming, eet, drink en vrolik wees);
       15-20 minute vir administratiewe sake;
       60-90 minute vir die boekbespreking;
       5-10 minute vir afsluiting.

2. Versprei die woord.
Vertel jou vriende, kollegas, plaas die inligting op verskeie sosiale netwerke en waar moontlik maak ‘n advertensie-plakkaat of twee (met jou kontakbesonderhede en voorneme om ‘n Afrikaanse wetenskapfiksie en fantasie boekklub of ‘n ander genre te begin) en gaan plak dit op by die plaaslike biblioteek of ‘n boekwinkel op (vra net eers vir toestemming). Versamel kontaknommers en vonkposadresse en hou belangstellendes op hoogte van jou vordering en ruil idees uit. Jou doel moet wees tussen 5 en 15 mense om mee te begin om sodoende elkeen in die groep ‘n spreekbeurt te gee en indien die groep te groot raak, breek op – hoe meer groepe, soveel te beter.

3. Vind uit watter tyd die beste sal wees vir “almal” om bymekaar te kom.
Koördinering van besige skedules kan die moeilikste deel van hierdie proses wees, maar om ‘n goeie tyd vas te stel, en om daarby te hou, vir “almal” sal die gereelde bywoning van die boekklub verseker. Na aandete of nadat die kinders gaan slaap het, is gewoonlik die beste tyd. Mense met klein kinders kan een of twee van die ouer kinders aanstel (of vra) om na die mengelmoes van kinders te kyk – mits daar genoegsame aktiwiteite beskikbaar is wat voorlesing, speelgoed, inkleurboeke, ens. insluit (vermy sover moontlik om hulle voor ‘n televisie te laat sit, al weet ons almal dit sal dinge soveel makliker maak).

4. Kies ’n gerieflike plek van samekoms.
Baie boekklubs roteer en maak beurte om by mekaar se huise te vergader. Anders kan jy ook daaraan dink om eerder by ‘n kafee, restaurant, biblioteek, skool, kerk of koffiewinkel te vergader en sodoende die druk om te vermaak, vermy. Jy kan selfs vra vir afslag sou jou groep besluit om gereeld by ‘n spesifieke handelshuis te vergader. Of as jy nou regtig kreatief wil wees, kan julle by ‘n plek vergader wat prominent in die boek afspeel.

5. Stuur ’n vonkpos aan lede met die grondreëls voor die eerste byeenkoms.
Jy wil tog hê mense moet weet wat om te verwag: hoe dikwels julle bymekaar gaan kom (een keer per maand is tipies), hoe lank die besprekings gaan wees (ongeveer twee ure is voldoende), watter vrae bespreek gaan word (net as riglyn) en enige ander inligting wat van belang mag sal wees.
Basiese grondreëls om jou te help (verander gerus om by jou boekklub se behoeftes te pas):
Lede wat nie die boek gelees het nie: Kom in elk geval. Nie almal kan elke boek klaar lees nie en nie-lesers kan nog steeds tot waardevolle insigte kom.
Verskillende menings rakende die boek: Wees genadig! Daar is nie net een manier om ‘n boek te ervaar of te interpreteer nie en in werklikheid is verskillende menings goed om ‘n boek te ervaar.
Lede wat verkies om te kuier: Wees sag, maar ferm. Dring daarop aan dat die boekbespreking tyd beperk word tot die boek. Sommige boekklubs hou hulle boekbespreking eerste en nooi “sosiale lede” uit om na die boekbespreking op te daag.
Sterk oorheersende persoonlikhede: Nooit ‘n maklike een nie. Sommige boekklubs maak gebruik van ‘n voorwerp (‘n bal of ‘n stok) en ‘n persoon mag slegs praat wanneer hulle die voorwerp in hulle hande het. Indien die persoon nog steeds die bespreking domineer, kan ‘n vriendelike gesprek (nooit ‘n vonkpos nie) werk. As alles misluk, is dit hartseer maar noodsaaklik om die persoon te versoek om die boekklub te verlaat.

6. Finaliseer hoe boeke en moderators gekies sal word.
Vir die eerste vergadering, maak dit sin dat jy ‘n paar besprekingsvrae oor die boek sal voorberei en afhangende van die erns van jou boekklub, kan jy ook ‘n bietjie navorsing doen oor die outeur. En om die vloei van jou groep te verseker, is dit belangrik dat jy almal in die groep ‘n kans sal gee om ‘n bydrae te lewer. Jy het veto reg (en later ook die verkose moderators) om lede stil te maak sou hulle van die tema afdwaal of heeltemal die gesprek domineer (bespreek hierdie reëling onder punt 5). Na afloop van die eerste bespreking stel ‘n lys saam van boeke wat bespreek gaan word (laat elke lid ‘n boek kies vir die lys) en stel ook moderators aan wat die onderskeie besprekings gaan lei. ‘n Goeie reël is ook om lede 3-4 dae voor die tyd in te lig van die samekoms en te laat weet waar en wanneer dit gaan plaasvind, asook die besprekingsvrae. Bevestiging van samekoms sal ook aanbevole wees sodat genoegsame voorbereiding gedoen kan word.
Voorbeelde hiervan onder (ek sê weereens dit is jou boekklub, so pas dit aan soos jy goeddink):
Met
‘n leier (moderator):
Stel ‘n klublid aan:die aangewese persoon vir die taak sal waarskynlik die persoon wees wat die boek onder bespreking gekies het of die gasheer van die vergadering. Sommige boekklubs het ‘n lid wat dit geniet om elke bespreking te lei.
Nooi ‘n fasiliteerder uit (betalend of onbetaald): ‘n Afrikaanse onderwyser, ‘n letterkundige professor of bibliotekaris.
Sonder
‘n leier (moderator):
Neem beurte: Gaan rondom in die groep, sodat elke lid ‘n kans kry om te praat oor sy of haar ervaring van die boek.
Voorbeelde van algemene vrae as jy nie spesifieke besprekingsvrae het nie:
Hoe het jy die boek ervaar?
Was jy dadelik ingetrek, of het dit ‘n rukkie geneem?
Wat was jou gevoel toe jy dit gelees het – hartseer, versteurd, verwar, verveeld, vermaak?
Beskryf die hoofkarakters – persoonlikheidseienskappe, motivering, innerlike eienskappe.
Waarom dink jy het die karakters gedoen wat hulle gedoen het?
Is hulle optrede geregverdig?
Beskryf die dinamika tussen karakters (in ‘n huwelik, familie, of vriendskap).
Hoe het die gebeure die karakters se lewens verander?
Het jy ‘n bewondering vir of ‘n afkeer van die karakters?
Het van die karakters jou herinner aan mense wat jy ken?
Het die hoofkarakter verander aan die einde van die boek?
Het die hoofkarakter gegroei? Het hy of sy iets geleer oor hulself en die wêreld rondom hulle?
Is die boek plot- of karakter-gedrewe?
Hoe het jy die boek se tempo ervaar?
Hoe sal jy die verhaal beskryf; voorspelbaar, alledaags of beslis die moeite werd?
Sal jy die struktuur van die boek beskryf as ‘n deurlopende verhaal of opeenvolgende kort stories?
Is die tyd en verloop chronologies of is daar ‘n toneelverwisseling van hede, verlede en/of toekoms? En wat is jou persoonlike voorkeur of afkeur?
Maak die skrywer gebruik van ‘n enkele standpunt of van verskeie standpunte?
– 
Hoekom het jy hierdie skrywer gekies en op watter manier geniet jy die skrywer se skryfstyl?
Wat sou jy sê is die belangrikste idees – temas – wat die skrywer verken het?
Het die skrywer gebruik gemaak van simbole om sy idees te versterk?
Wanneer het jy tot insig gekom tot die dieper betekenis van die roman?
Watter dialoog sal jy kan voorhou (snaaks, diep of treffend) om jou gunsteling karakter te beskryf?
Is die boek se einde bevredigend? Indien wel, hoekom? Indien nie, hoekom nie… en hoe sal jy dit verander?
As jy die skrywer ‘n vraag kon vra, wat sou jy vra?
Het jy enige ander boeke gelees deur dieselfde outeur? As jy het, hoe vergelyk hierdie boek met die skrywer se vorige boeke?
Dink jy dat hierdie boek lesers sal inspireer om die skrywers se ander boeke te lees?
Het jy iets nuuts geleer oor jouself?
Het jy iets nuuts geleer oor die verskillende idees, mense en/of sekere dele van die verhaal se wêreld?

7. Oorweeg dit om ‘n blok of ‘n aanlynforum vir jou boekklub te begin.
Webwerwe soos www.wordpress.com, www.blog.com en www.bigtent.com is gratis om aan te sluit, maklik om te gebruik, en laat al die lede (en besoekers of belangstellendes) van jou Afrikaanse WF en F Boekklub toe om op ‘n gemeenskaplike terrein deel te neem. Dit kan ook ‘n goeie hulpmiddel wees om nuwe lede te werf en geen lid hoef te vrees dat hulle iets gemis het nie.

2013 © Gerhardus Thompson