Die Toekoms en Visie van Afrikaanse Wetenskapfiksie en Fantasie – François Verster.

Karakter ontwikkeling binne tegnologiese vooruitgang en die publiek se persepsie rakende die Afrikaanse wetenskapfiksie genre.

2013 © Françios Verster

Liewe WF-lesers en skrywers

Francois en Charlene - Afrifiksie - ArtikelsGerhardus Thompson het my gevra om oor die volgende onderwerpe te skryf:

1. Die noodsaaklikheid van korrekte tegnologiese uitbeelding in wetenskapfiksie.

2. Is daar nog ruimte om te droom oor tegnologiese vooruitgang in die wetenskapfiksie?

3. Waaraan ‘n goeie karakter gedrewe wetenskapfiksie moet voldoen.

4. Waarom is die skryf van ‘n wetenskapfiksie roman so moeilik?

5.  Hoekom is die Afrikaanse publiek so skepties oor die wetenskapfiksie genre?

 

Antwoorde:

 

1.  Oor tegnologiese uitbeelding kan ek min sê, want ek is self bra onkundig oor tegnologie – vir my was WF se grootste aanloklikheid aanvanklik die feit dat daar so min grense is wat die skrywer se verbeelding inperk, so min ankers remmend aan die bekende werklikheid. Maar meer daaroor by vraag 4. Die kort antwoord hierso is dan dat WF tog geanker is aan die werklikhede van die wetenskap, ander as Fantasie, waar ‘n towerspreuk dalk die werk van ‘n laserkanon moet doen en daar moet ‘n oortuigende rede wees hoe die laserkanon beskikbaar was op die kritieke oomblik en steeds ook is die kanon nie so fantasties dat dit ‘n heel leërskare of planeet binne ‘n sekonde kan uitwis nie. Die langer antwoord is: Dit gaan dus oor ‘n mate van verantwoordbaarheid – dis nou by WF, waar die grense van die werklikheid is steeds daar en die onus is op die skrywer om die leser te oortuig, veral die kritiese leser en dalk resensent. Hoekom? Omdat skrywers tog ernstig opgeneem wil word – as kreatiewe mense erken wil word; kunstenaars wat hulle genres eer aandoen en goed genoeg is dat lesers geld uithaal om hulle werke te lees.

WF het reëls (wat minstens vaagweg bekend is aan lesers) en as jy WF wil skryf, moet jy die genre respekteer.

Baie lesers van WF is ingestel op tegnologie en baie WF verhale is so gefokus op tegnologie dat karakters, aksie, vinnig verhaaltempo ens. Minder belangrik is – ek dink veral aan Asimov hier. In my boek (Deur na Nebula Nege) het ek probeer om soveel WF element in te weef as ek kan (binne my baie beperkte talente en kennis), omdat ek glo dat hoe meer sodanige elemente (tegnologie, voorspellings, nuwe wêrelde, breër menslike kwessies, ens.) in ‘n spesifieke verhaal aanwesig is, hoe beter. Ook hoop ek dat indien die verhaal goed genoeg aangebied word, dit wel oor die bestaande grense van genres kan beweeg en ook mense kan vermaak wat nie noodwendig WF-aanhangers is nie – of nog beter: dat dit goed genoeg is om nuwe WF-aanhangers te werf. Aangesien mense wat WF misken dalk glo dis te onwerklik, is die werklikhede van tegnologie belangrik om hulle te oortuig dat WF nie net duimsuiery is nie. Dit help natuurlik om aan sulke mense te noem dat baie fiktiewe toestelle van dertig jaar gelede nou wel bestaan.

2.  Die ruimte om te droom sal nie sodanig krimp dat dit kritieke afmetings aanneem nie, want die mens se verbeelding is altyd die wetenskap ver vooruit. As die mens nie meer kan verbeel nie, sal die wetenskap ook stagneer en dan sal die mens  sy eie spreekwoordelike swart gat sien … as julle weet wat ek bedoel.

So die snelle ontwikkeling van die wetenskap is nie dodelik vir WF nie. Inteendeel, nou kan skrywers meer navorsing doen en terugverwys (intertekstueel en andersins) na moderne tegnologiese prestasies en “wonderwerke.” Dit wat reeds daar is, dien as verdere inspirasie, as vuurstene om kreatiewe vonke mee te maak.

3.  Karakters: Vir my is die karakters die belangrikste element in enige storie. Mens kan ‘n sekere afstand hou indien die tema (soos magsuitbuiting) baie belangrik in die storie is, en daar hoef selfs nie een oorheersende (hoof-) karakter te wees nie. Dog wil meeste lesers identifiseer met minstens een karakter in ‘n boek en gaan die skrywers baie lesers verloor indien die karakters vaal en magteloos voorkom.

Hoe weet mens ‘n verhaal is karaktergedrewe? Ek neem aan dis wanneer die skrywer verplig voel om die plot by die karakters se eienskappe en motiewe aan te pas en dus af te wyk van Plan A, wat die oorspronklike plot (of net die einde) was. Vir my terloops, werk dit beter as ek eers die einde kan visualiseer voor ek net rigtingloos begin skryf, maar ek skroom nie om die einde aan te pas soos die verhaal ontwikkel nie. Met elke verhaal is dit anders, maar mens kan begin met iets wat jy wil oordra (jou tema) en dan jou verbeelde wêreld(e) bevolk met karakters wat die boodskap die beste sal oordra, maar dan, om die karakters meer oortuigend te maak (teenoor eendimensionele karikature), kan hulle die hele ding “kaap”  en dan die verhaal verdiep en meer kleur gee.

4.  WF is nie so eenvoudig soos flieks dit mag laat lyk nie – die filmregisseur het die voordeel dat fliekvlooie (nie net WF-aanhangers nie) lokettreffers soos Alien, Star Trek ens. ken en al weet wat voorheen uitgebeeld is. Soos hoe ‘n verskeidenheid wapens en wesens kan lyk, sonder dat die regisseur enigiets omslagtig – nee, enigsins – hoef te beskryf. Die voorwerpe is immers fisies waarneembaar. Skrywers het nie die voordeel indien hulle heeltemal nuwe konsepte wil tuisbring, moet hulle bou op wat reeds tradisie is en ook nie die verhaaltempo te erg vertraag met langs skilderings nie – verskaf eerder net genoeg (in sarsies) om die lesers in die prentjie te hou, maar nie te verveel nie.

Wat ek problematies gevind het was tyd- en afstandsaanduidinge. Daarom het ek dit omseil of vaag aangebied, met die hoop dat die lesers nie voel hulle word in die war gelaat nie, maar hulle vorige ervarings van WF sal aanwend, en dalk ook die gapings sal invul met eie verbeelding: ‘n gevaarlike speletjie, maar as mens daarmee kan wegkom sal die leser eintlik voel hy/sy deel in die storie, sy/haar intelligensie word nie onderskat nie – en ek verstout my om te glo dat WF-lesers juis nie onnosel ploerte is nie. By strokiesverhale word veronderstel dat die leser die beelde tussen die panele self (tussen die wit raampies se lyne) sal invul. Dit werk natuurlik beter met ervare strokieslesers!

Taal is natuurlik ‘n ander uitdaging – mense lag daaroor en sê dat met die WF-reeks Stargate is aanvanklik geprobeer uitbeeld dat die een karakter – die bebrilde argeoloog – amper enige taal kan tolk, maar later het al die karakters sommer Engels gepraat. Vir my is die ironie hier dat Engelssprekendes so ‘n sprong maklik aanvaar – is dit nou arrogansie of wat? J. In my (genoemde) boek het ek ‘n ander plan gemaak, nl. dat Afrikaans ontwikkel het na ‘n wêreldtaal genaamd Afriko en dat verskillende dialekte oorleef het. Dis natuurlik ‘n tong-in-die-kies klap na Engels, maar ook ‘n nodige strategie in die boek self, hoewel ek nie daarin voorgee dat almal dit kan praat nie.

5.  Afrikaans het nog ‘n baie klein WF-oeuvre, en totdat dit verander sal mense meer skepties wees – mense is bang vir die onbekende en hoe minder hulle blootgestel word aan verskeidenheid, hoe langer sal hulle huiwer. Plattelanders is meestal meer konserwatief as stedelinge, juis om bg. rede, en so ook in die groter opset van kontinentale isolasie wat Afrika ervaar het – tot dit ontdek is! Ek wil nie voorgee plattelanders of Afrikaners is agterlik nie, net dat hulle ‘n agterstand het: daar is ’n verskil wat potensiaal betref. As mens in ag neem dat Jan Smuts en Nelson Mandela van die platteland kom, kan jy sien wat gedoen kan word. Dalk moet ons die Afrikaanse groep ook so sien, as vol moontlikhede, maar nog nie in die snelbaan nie.

Langenhoven was ook ‘n plattelander en hy het ontsaglike talente gehad, dog gesien die meerderheid Afrikaners moet nog agterkom watter voordele lees inhou. Insiggewend dus dat hy WF ook geskryf het – al was Loeloeraai seker nie so gewild as Mof en sy mense nie … maar iewers moet mens begin!

Om WF in Afrikaans te skryf het natuurlik ook die uitdaging om ‘n tekort aan terminologie te oorkom. Gerhardus Thompson se woordeboek is dus ‘n nuttige hulpmiddel. Selfs Google Translate kan help. En dan bied Afrikaans as jong taal die voordeel van neologismes – ons as taalgroep is immers geneig om gereeld met vindingryke skeppings vorendag te kom. En ek, wat geen taalkenner is nie, ervaar dit as heel genotvol, so dis geensins ‘n pretbederwer nie.

Nouja, dis reeds ‘n bekvol, so ek sluit liefs hier af. As beginner in die WF-veld (daar is ‘n bietjie oor my werk op www.stellenboschwriters.com te sien), het ek sekerlik meer te leer as meeste wat bg. gelees het, maar dis my stuiwer en ek glo elkeen kan mos maar tot dié boksie bydra.

Sterkte, François.