Hoekom is die wetenskapfiksie en fantasie genres so belangrik vir die Afrikaanse Taal? – Eben van Renen.

Eben van RenenAs jy eers stop en net my titel hierbo weer lees, sal jy sien dat ek lig getrap het deur nie te praat van die Afrikaanse letterkunde nie, maar eerder die Afrikaanse taal. Daar was al in verskeie tale gedebatteer oor die waarde (waardigheid) van wetenskapfiksie en fantasie as genres van die grote Letterkunde (let wel die hoofletter L – dis belangrik! Ons het hard gewerk vir daardie L. Wel, nie ek nie… maar ander slimmer mense…) Engels, daardie ou kolossale olifant wat maar altyd sy skadu oor alles werp, het ten minste vir Tolkien en Asimov om Sci-Fi waardigheid te gee, maar Afrikaans sit nog sonder enige groot wetenskapfiksie werk (moenie eens praat van fantasie nie!).

Ja, ons het maar ‘n klein taaltjie. Dit het ons geleer op skool. As jy ‘n voorgeskrewe boek ontvang het, kon jy jouself maar staal vir die ‘issues’ wat verseker soos kartetse in jou gesig gaan ontplof. (Hierdie storie gaan oor ‘n meisie wat seks met haar kêrel het omdat sy sukkel om haar ouers se huwelik wat besig is om te verbrokkel te verwerk, en daarna raak sy swanger en drink miergif. Jippie.) Terwyl jy daar sit in die klas en wonder hoekom al die Afrikaanse karakters in hierdie boeke altyd so rojaal opgemors is, sit jou Engelse tjommies in die klas langsaan en lees The Hobbit.

Ja, daardie bliksemse Rooinekke het dit altyd makliker.

“Maar”, maan die juffroue ons altyd, “ons moet trots wees dat Afrikaans so ‘n sterk letterkunde het.” (Jy wonder hoe Juffrou ‘sterk’ met ‘treurige’ kon misgis het.) Sy sê dat Afrikaans in ‘n baie kort tydjie ‘n ‘verbasend’ ryk, diep en robuuste letterkunde op die been gebring het. Die name soos Louw, breyten en Krog val soos sterretjies uit die hemel om hierdie punt van haar te benadruk.

Nou, hier moet ek vir Juffrou gelyk gee. Ek ís trots op daardie skrywers. Ek lees, ten minste nou dat ek `n volwasse man is, gereeld gedigte en kortverhale. Ek is mal oor die manier hoe van ons beste woord meesters die taal kan laat sing en dans. Daar is ongelukkig iets wat kwel: Afrikaanse mense lees nie eintlik baie nie. En Afrikaanse mans en seuns lees omtrent niks behalwe die koerant en Playboy nie. As die Afrikaanse letterkunde `n huis is, is daar maar min Afrikaanssprekendes wat gereeld daar kom kuier. Die vraag is dan… hoekom? En wat het Afrikaanse wetenskapfiksie en fantasie daarmee uit te waai?

Kom ons neem so ‘n toertjie rondom ons Letterkundige-huis sodat ons die woning van buite kan beskou…

Die huis is nie baie groot nie, maar mooi gebou. Agter die huis staan ‘n enorme kasteel. Ons huis, en talle ander tale se huisies staan soos ’n groot woonbuurt in die skadu van die Engelse kasteel. (Spaans en Mandaryn het ook groot kastele, so terloops, maar hul skaduwees val nie oor so baie van die kleiner wonings nie.) Behalwe vir die verskil in grote, is dit die verskil in die aantal deure van die twee woning wat mens ook opval. Die Engelse kasteel het ‘n menigte deure, altyd wawyd oop. Van die deure is gemerk in grystale (tale tussen Engels en ‘n ander taal). Kyk! Daar is ‘Brabbelmieks’ ook… mensig daar loop baie mense rondom ons huis na daardie deur in die Engelse kasteel!

Die kasteel het deure wat elke genre van die Engelse taal verteenwoordig. Daar is groot deure soos ‘Thrillers’, ‘Romance novels’ en ‘Horror’. Daar is ook ‘n futuristiese deur vir ‘Science Fiction’ en ‘n gotiese deur vir ‘Fantasy’. Ek het nou-net ‘n vriend van my – Harry Potter boek in sy hand – sien inloop by ‘Fantasy’.

Ons Afrikaanse huis het net ‘n paar deure. Daar is ‘Nuus’, ‘Poniekoerante’, ‘Voorgeskrewe boeke’, ‘Tydskrifte’, ‘Speurverhale’ en ‘Misdaadromans’, ‘Kookboeke’, ‘Boeke oor perde’, en nog so ‘n paar ander. O, amper vergeet ek, daar sien ek ‘n piepklein deurtjie wat vir ‘prosa en digkuns’ ingesit is, en mens kan ‘n span onderwysers sien wat kinders probeer inboender daar.

 Kom ons kies ‘n deur.  A… speurverhale! Met my Chris Karstens boek in my hand loop ek deur die redelike stewige deur van ‘Speurverhale’ (verf op die kosyne is nog nat). Binne die huis is dit soos ‘n doolhof. Die huis is lewendig, net soos ‘n doolhof in ‘n tuin. Kamers krimp en kamers groei. As mens eers binne is, kan jy na enige kamer gaan wat jy verkies. Die taal is jou huis en jy het die vryheid om dit te verken. As ’n leser eers binne is, gaan die Afrikaanse wêreld vir hom of haar oop.

Die probleem is egter dat vir ‘n jong seun daar te min deure is wat uitlokkend is.  Meeste seuns word deur die ‘Voorgeskrewe’ en ‘Prosa en digkuns’ deure ingeboender voordat hulle gereed is daarvoor. As hulle ooit ‘n leser sou word na so ‘n ervaring, is die kanse goed dat hulle volgende keer ‘n wye pad om die Afrikaanse huis gaan stap en direk na die kasteel se kant toe sal mik. Hulle word lesers, maar nie vir Afrikaans nie.

Baie meisies ervaar dieselfde. Wys vir my ‘n fantasie boekereeks soos die Harry Potter-, Twilight-, of die Mists of Avalon -reekse. Hierdie meisies (en vroue) lees al lankal in die gemaklike leunstoele van die Engelse kasteel.

Hoekom is daar so bitter min verteenwoordiging van die wetenskapfiksie en fantasie genres in die Afrikaanse taal? Antwoord: Die Mark (doem doem doem!). Vra enige uitgewer en die antwoord kom op die volgende neer: “Ons verkoop nie genoeg sulke boeke nie, dit is ‘n nis mark.” Blykbaar was Tolkien, Lewis, Asimov, Clark, Meyer en JK Rowling ook nismarkte, of is die reëls anders vir die Engelse kasteel?

Indien ons Afrikaans meer toeganklik vir almal wil maak (seuns en meisies met verbeelding veral!), moet ons die genres nie net ondersteun met die uitgee van nuwe boeke nie, maar ons moet die genres bemark. En bemarking kos geld. Geld wat die uitgewers nie wil belê nie. Ek is amper seker dat meeste mense nie eens Afrikaans as ‘n fantasie en wetenskapfiksie taal beskou nie. Hierdie persepsie is die ding wat tussen uitgewers en hierdie genres se winsgewendheid te staan kom. Daarom sit ons, myns insiens, met ‘n letterkunde vol gate. Ons het nie ‘n volledige tuiste vir ons Afrikaanstaliges gebou nie.

 Hoe nou gemaak? Uitgewers gaan ons nie help nie. Hulle is besighede. Risiko gee hulle die horries en op die oomblik is al hulle aandag op kookboeke, rugby en speurverhale (o ja, en boeke oor perde vir meisies). Ek dink dat enige ‘ondergrondse’ beweging wat wetenskapfiksie en fantasie in Afrikaans wil bemark, sterk moet fokus op veral hierdie twee punte:

1.)    Die persepsie dat Afrikaans nie goed werk in hierdie twee genres nie.

2.)    Die persepsie dat Afrikaans nie eens hierdie genres het nie.

Daarvoor het ons veral twee dinge nodig: Goeie boeke wat lesers sal oortuig van nommer 1 hierbo se ongegrondheid, en ‘n slim bemarkingsveldtog wat veral hoërskool leerlinge sal teiken en inlig oor die bestaan Afrikaans se WF en F genres.

Momentum sal opgebou moet word. Momentum beteken goeie kwaliteit boeke, ‘n lojale lesers mark, goeie verkope, en ‘subkultuur’-status. As jy Afrikaans lief het, sal jy ook soos ek die deure wyd wil oopgooi sodat ons meer lesers wen en ‘n groter letterkunde kan opbou (al is dit op voetsoolvlak, nee, veral op voetsoolvlak!).

Wanneer hierdie soort momentum opgebou word sal ons sien dat uitgewers weer belang sal stel om die boeke te druk (die harde werk is mos al vir hulle gedoen!).

Ek wonder soms of ons kollektiewe gesukkel om futuristies te dink in Afrikaans nie-gekoppel is aan ’n tipe depressie oor die toekoms van Afrikaans nie. Ek wonder of mense net ’n Engelse toekoms kan verbeel. Miskien is dit ’n ander gesprek?

In my volgende stuk getiteld “Afrikaanse wetenskapfiksie en fantasie; ‘n onmoontlike droom?” sal ek bietjie voorstelle maak oor die pad vorentoe vir die WF en F genres.

Los kommentaar op die blad as jy wil deelneem aan die debat, of skiet ‘n vonk my kant toe by ebenvanr@yahoo.ca of op my werfjoernaal http://ebenvr.blogspot.ca/

Groete

Eben van Renen