Ons wil almal drukkies kry. Skrywers is ook mense… soort van. – Eben van Renen

Foto - Persverklaring - Eben van RenenUITEINDELIK is my studies voltooid. Wat ‘n ondervinding! Vier jaar van swoeg, (ploeg?) en nou moet dit begin vrugte afwerp.

UITEINDELIK kan ek weer Afrikaans begin lees. En ek lees laat dit bars. Vyf boeke op ‘n slag. Dis die enigste manier hoe ek kan lees. As ek net een boek lees voel ek altyd onrustig oor die ander boeke wat ek nie lees nie. Dus lees ek sommer almal saam.

UITEINDELIK kan ek weer in Afrikaans begin skryf. Ja, dit beteken 2011 - Arwantië 2953 - Eben van Renendat ek binnekort die buitenste ruim en parallelle wêrelde gaan verken. Arwantië is natuurlik ‘n gunsteling bestemming vir my verbeeldingsvlugte, maar ander plekke roep ook na my.
Daar is egter net een ding wat my bietjie terneergedruk maak. Dis goed en wel om hierdie stories te skryf, maar hoekom sou ek die moeite doen om alles te laat publiseer as dit nie bedoel was om gelees te word deur ander mense ook nie? En alhoewel ek sien dat mense my stories lees, selfs die boeke koop (dankie!), is daar iets wat skort.

TERUGVOERING!
Jup, dis jy, liewe leser. Ek en die ander Afrikaanse skrywers (behalwe Deon Meyer, want hy is so beroemd soos baie Amerikaanse skrywers) smag na ‘n bietjie liefde van ons lesers. ‘n Drukkie, ‘n klop op die skouer, of miskien ‘n soentjie as jy ‘n mooi meisie is (ek moet onthou om daardie laaste een uit te vee. Eben, onthou om hier te EDIT boet! Netnou lees vroulief dit en).

Sien, alhoewel ons nie skryf met die doel om deur ander gewaardeer te word nie, maak dit steeds ‘n reuse verskil as ‘n leser ons net ietsie sê oor hulle lees-ondervinding. Om ‘n Afrikaanse skrywer te wees is gewoonlik ‘n alleenpad, maar om ‘n Afrikaanse wetenskapfiksie of fantasie skrywer te wees is soos om alleen, melaats en geblindoek te loop in die middel van ‘n woestyn. Ons kry dikwels geen terugvoering nie.

Stephen King, aan die anderkant, gaap seker gedurig as hy lusteloos deur sy tien duisend eposse per dag loer.

Al ooit gewonder wat jy vir die Taal kan doen? Miskien dink jy: Ek kan nie skryf nie, ek behoort nie aan die FAK of ATKV nie, en my eie Afrikaans is bietjie geMengels… tog wil ek Afrikaans help ondersteun.

Hier is wat die ‘gewone’ man of vrou op die straat kan doen:
Ondersteun die mense wat elke dag probeer om die taal uit te bou. As jy ‘n kortverhaal of boek lees en jy hou daarvan, neem twee minute en epos die skrywer – daar is ‘n blêrrie goeie kans jy is die enigste persoon wat dit gaan doen. Voor jy-weet-wat kry jy nog ‘n groter vonkpos terug van ‘n skrywer wat so dankbaar is dat sy of haar stories nie net in ‘n swart gat in die ruimte verdwyn het nie!

Dit is, as mens dink, een van die voordele van lidmaatskap tot een van die kleiner tale: Toeganklikheid. Ek het al vir Hermann Giliomee gekontak om hom te bedank vir Die Afrikaners. Hermann Giliomee, ons voorste historikus, skrywer van die grootste geskiedenis boek in Afrikaans. Hy’t later vir my en my vrou vir ‘n ete by ‘n restourant getrakteer.

Dink jy so iets sou in Engels gebeur het?

Nottadêm!

In Engels is die beste skrywers soos engele wat daar hoog bo in die wolke, buite bereik, rond dans en lag. In Afrikaans loop die skrywers kaalvoet in die stof, langs jou.

En dit is mooi.

Nou gaan gee ‘n Afrikaanse skrywer ‘n drukkie.

2014 © Eben van Renen

Besoek gerus Eben se Skryfblad en gee hom daardie drukkie (ons almal het dit nodig) of stuur sommer net vir hom ’n boodskap.

  • Madeleine

    Dankie Eben! Jy slaan die spyker op die kop 🙂

  • Johan Van Wyk

    Baie goed bewoord… nou staar ek almal snaaks aan met die hope dat hulle jou artikel gelees het. 🙂

  • Salmon Smith

    weet jy Eben, ek soen jou sommer. Jy praat kaalvuis die waarheid. ag kom ek gee jou maar net ‘n drukkie daarvoor.