So, jy wil Afrikaanse wetenskapfiksie of fantasie verhale skryf? – Eben van Renen

Foto - Persverklaring - Eben van RenenAi, kom sit ʼn bietjie hier en dan gesels ons oor hierdie idee van jou. Nee, ek gaan nie probeer om al jou drome uit die lug te skiet nie, ek wil net bietjie hoor wat jou verwagtinge is. Jy sien, ek dink jy is waarskynlik intelligent genoeg om nie hierdie Afrikaanse Wetenskapfiksie (AWF) of Afrikaanse Fantasie (AF) droom met toekomstige rykdom te vereenselwig nie. (Indien jy egter wél dink dat jy geld gaan maak met jou Afrikaanse Wetenskapfiksie boek, of Fantasie storie, moet jy my eers vir ʼn paar oomblikke verskoon, dat ek eers klaar kan lag.)

Reg, sjoe, nou kan ons weer praat. Eerstens, die harde werklikheid is dat uitgewers die koue rillings kry wanneer nuwe skrywers WF of F manuskripte vir hulle stuur. Ja, daardie arme uitgewers spandeer baie geldjies om al daardie manuskripte se papier na die ashoop te karwei (sonder dat hulle dit ooit lees). Selfs gevestigde skrywers word net ‘toegelaat’ om elke dan en wan ʼn boek in hierdie genres uit te gee. Hoekom? Goeie vraag! Geld. So eenvoudig soos dit. Uitgewerye is besighede. Ek persoonlik dink nie aan die Afrikaanse uitgewerye as bose kapitalistiese instellings nie – daarvoor maak hulle te min geld – maar eerder as besighede wat kop bo water moet hou. Hulle vat nie sommer kanse nie. Gevestigde skrywers word soms toegelaat om WF of F verhale te publiseer, maar die uitgewers het die vertroue dat die bekende skrywers reeds lojale lesers het wat óók ʼn kans sal waag en die boeke sal koop.

Die WF en F genres in Afrikaans is klein. Piepklein. Daar is verskeie redes hiervoor, sommige van hulle sluit die volgende paar in:

  1. Afrikaanse mense lees nie graag nie. Ons kyk rugby en sepies. Meestal is dit vroulike geslag wat lees, en ʼn betreklike klein persentasie van hierdie geslag lees wetenskapfiksie. (Persoonlik voel ek egter dat fantasie verhale nog ʼn kans het onder vroulike lesers, maar…)
  2. …die wetenskapfiksie en fantasie genres word gedomineer deur Engels. Baie oorsese boeke stroom Suid-Afrika binne. Mense assosieer hierdie genres met Engels, nie enige ander taal nie. Dit is amper ʼn onlogiese, onbewustelike aanname wat mense maak dat parallelle wêrelde asook die toekoms alleenlik in die taal van Engels kan geskied. Ironies as mens dink dat een van Engels se grootste juwele, die Lord of the Rings-trilogie, praat van ʼn Common Tongue maar ook vele ander tale. Die boek is pro-veeltalig, as te ware!
  3. Daar is nie oorvleueling tussen ons televisie/rolprentbedryf en ons boeke in hierdie genres nie. Watter boeke verkoop tans die beste? Romantiese verhale, kookboeke, boeke oor rugby en die Anglo-Boere Oorlog. Watter programme op televisie is die gewildste? Sepies, kookprogramme en rugby. (Die Anglo-Boere Oorlog word waarskynlik vermy weens politieke redes.) Het jy al ooit ʼn Afrikaanse fantasie of wetenskapfiksie fliek gesien?* (Weereens daardie woordjie… Geld!)

Nou kom die vraag; as jy so ʼn swak kans staan om ʼn uitgewer te vind vir jou nuwe fantasie of wetenskapfiksie verhaal, waarom sou jy in die eerste plek so ʼn boek aanpak?

Elke persoon moet maar sy/haar eie dryfveer vind, maar ek sal my eie vier dryfvere met jou deel. Verniet.

  1. Liefde. Ek doen dit omdat ek van kleins af Robotech gekyk het en Battletech/Mechwarrior rolspelspeletjies gespeel het op skool. Ek hou van die genre. Ek voel vry in die genre. Dit is waar my verbeelding werklik vrye teuels kry.
  2. Passie vir Afrikaans. Ek het, as klein laaitie, op ʼn dag in Melkbosstrand se biblioteek gestaan en tob. Ek het sopas die derde, gehawende Fritz Deelman boek gelees, en het moedeloos gestaar na die ander boeke op die rak. Uile, Trompie, Saartjie… almal goeie boeke, maar nie waarvoor ek lus was nie. Daar was ook baie boeke wat gehandel het oor kinders wat worstel met allerhande dramatiese probleme – die tipe boeke wat onderwysers se tone laat omkrul van die plesier. Literatuur! Ek wou van ontploffings, ruimteskepe en lasers lees. Toe ek so voor die boekrak staan kon ek nie die gevoel afskud dat Afrikaans maar ʼn patetiese klein taaltjie is nie. Toe doen ek maar wat baie kinders seker elke dag in SA doen. Ek stap oor na die Engelse boekrak. Vandag wil ek help dat dit nie meer gebeur nie. Ek wil vir daardie outjie/meisietjie ʼn lekker gatskop boek op die rak gee! In Afrikaans.
  3. Vryheid. Geen uitgewer nie? Boohoo. Dit hou eintlik sekere voordele in. Een is dat Joan Hambidge waarskynlik nie na jou boek gaan kyk nie, en die ander is dat jy nie voorgeskryf sal word hoe en wat jy moet skryf nie. Jy is die kaptein van jou skip, Invictus-styl! Waar ander ouens se boeke afgekeur word en met die gepaardgaande depressie op die ashoop gaan sit en tou-op gooi, hou ons net aan skryf omdat ons uit die staanspoor afkeuring verwag. Watter radikale gedagte! Liewe Langenhoven! Ons is dus intern gemotiveerd. Terwyl ons dan storie na storie skryf, boek na boek, bereik ons veral twee dinge tegelykertyd: a.) Ons word beter skrywers en b.) ons bou die genre en die lesersmark van die grond af op.
  4. Die Rebelse/Sloet Steenkamp-geen (Ook bekend as die FJ of F-k jou! geen). Jammer vir die onbeskaafde woordjie, maar dit is so dat daar ʼn onbeskofte, rebelse geen in Afrikaanse bloed (ongeag kleur) skuil. Baie maal ruk die FJ-geen handuit en ons doen dom dinge. Tog is baie van ons grootste oomblikke deur die FJ-geen aan die gang gesit. My FJ-geen raak lekker woelig wanneer ek voel Afrikaans as taal word beperk deur finansiële oorweginge, Engels of die egotistiese hekwagters wat voor die Afrikaanse Boeke-Hemel staan. Ja, Engels kraai koning oor die wêreld. ʼn Lekker vet koning wat roggelend soos “Jabba The Hutt” sit en lag. Ja, Engels is SO fantasties. Kom ons almal buig neer voor Engels. Ons wil ook awesome en amazing en cool wees. Ja, soos die Borg sou sê “Assimilate. Resistance is futile.” Maar sien, dis mos nou net waar my Rebelse-geen wakker word en uitroep: “f-k jou!” Ek gaan in elk geval skryf! Soos die hasie wat voor die aankomende arend regop staan en vir hom die middelvinger wys, twee sekondes voor hy verslind word. Ek respekteer daardie hasie. Hy het die FJ-geen. Ons weet nie wat kan gebeur in die toekoms nie. Miskien skryf iemand die Afrikaanse eweknie van Harry Potter, of Bladerunner? Miskien ontstaan daar ʼn skrikwekkende ontploffing op die Son wat ʼn sekere hoeveelheid geheimsinnige bestraling Aarde toe stuur, en wat vir die een of ander rede net Afrikaanse mense se IK’s verhoog (en dus lus maak vir lees). Of selfs beter, miskien raak die regering uiteindelik ontslae van die Springbok-embleem en mense hou op Rugby kyk! Wie weet? Wat ek wel weet is dit: Ek skryf Afrikaanse wetenskapfiksie en fantasie verhale.

Dit beteken twee dinge:

  1. Ek het ʼn goeie verbeelding, en
  2. ek is ʼn bietjie mal. So… wat van jou? Gaan jy assimileer? Tou opgooi? Gaan jy luister na die Anglosentriese en Mengelse Borg? Wil jy by die wannebenglish zombies aansluit? Of is daardie FJ-geen besig om jou middelvinger te laat staan op aandag?

Onthou, vra altyd: Wat sou Fritz Deelman doen?

* Ja, ek weet van Interstêr en Liewe Heksie, maar komaan! Dit help ons weinig om ouer lesers in wetenskapfiksie en fantasie te oortuig dat Afrikaans ʼn gepaste taal vir die genres is. Eben van Renen woon tans in Kanada waar hy aan sy Magister in Geïntegreerde Studies (MAIS) aan die Universiteit van Athabasca. Hy is die skrywer van die wetenskapfiksie boek Arwantië 2953 en is in 2011 – met die kortverhaal Roehyn en die Siener – as wenner van www.afrifiksie.com se Afrikaanse Fantasie Kortverhaal kompetisie aangewys. Voel vry om hom te kontak by ebenvanr@yahoo.ca. Hy is ook besig om ʼn beskeie werfjoernaal op die been te bring by ebenvr.blogspot.com

  • Nick Heyns

    Ek onthou ‘n Afrikaanse WF beeldradio reeks: “Woestynblom” Ek het selfs ‘n CD met sy liedjies op. Marius Weyers het daarin gespeel. Goeie storie. En naaktonele.

    • Johan Van Wyk

      Ek onthou dit, dit was regtig ‘n goeie storie. Jis dit was lekker dae. Ons moet weer sulke goeie stories kry.

  • Nick Heyns

    Jan Rabie het ‘n paar WF stories geskryf. Sy “Hemelblom” is nog op my rak. Libri het Rene Barjavel se “Die Nag van die Tyd” en Pierre Boule se “Planeet van die Ape” in Afrikaans vertaal. Dit het my lus aangewakker om die boeke in die oorspronklike Frans te lees. Ek het ‘n afskrif van “La nuit des Temps” op my rak en op my Kindle.
    Franse toekomssprokies is anders as die Anglo Saksiese weergawe. Die menslike hart is aan die kern van die verhaal, nie die tegnologie nie.