ATTARIA: ROSA EN HAAR WOLF – Johanna Fourie

ATTARIA: ROSA EN HAAR WOLF – 2015 © Johanna Fourie

JEUGFANTASIE (7 281 WOORDE)

 

Verskrik sit Rosa regop. Haar hart klop wild. Sy stamp-stamp haar voorkop teen haar opgetrekte knieë vas. Dit laat nie haar hart bedaar nie, vat ook nie die nagmerrie-beeld weg nie. Sy sien hoedat iemand vir Berti uit sy bed gryp, sy mond toedruk en met hom deur die venster spring – en sy oë! Emerald-blou met ʼn wolkerigheid van koningspers. Sy oë skreeu paniekbevange!

Met een beweging is sy uit die bed. Haar drafklere lê gereed op haar bedkassie, soos elke oggend. Sy glip daarin, hou haar asem op toe Charlotte met ʼn effense snork onrustig omdraai.

Verlig dat nie een van haar kamermaats verder roer nie, hang sy haar skoene wat reeds aan hulle veters vasgebind is, om haar nek. Terselfdertyd vang sy haar koperrooi krulle laag in haar nek vas. Die roetine van elke dag is vandag haar redding, want haar hande bewe van haastigheid. Gelukkig is die deur oop. Voel-voel hardloop sy al teen die gangmuur langs.

Die kleuter-kamer se nagliggie skyn dofweg by die wye deuropening uit. Met haar rug teen die muur, loer sy versigtig na binne. Berti se bed is naaste aan haar. Op sy rug lê hy met arms en bene in elke denkbare windrigting uitgestrek en dit in die winter! Sy sug ʼn lang sug van verligting. Haar oë glip oor die ander ses beddens. Alles lyk rustig. ʼn Droom? Koue rillings hardloop langs haar ruggraat af.

Beslis nie ʼn droom nie, Rosa! ʼn Nagmerrie!

Versigtig maak sy hom toe. Met ʼn snork draai hy op sy sy. Waarom het hy sy skoene aan? Sy kry hom aan die een voet beet, probeer sy skoen uittrek. Hy skop na haar, draai op sy maag, trek sy voete onder hom in. Geen kans vir skoene uittrek nie. Sy frons.

Waar is sy sleutel?

As baba is hy op die weeshuis se drumpel gevind, bloot in ʼn kombersie toegedraai, vas aan die slaap. Met hierdie einste sleuteltjie stewig in sy vuisie vasgeklem. Dit was vier jaar gelede. Sedertdien is die sleutel óf in sy hande, óf iewers in sy klere versteek. Nooit is hy daarsonder nie!

Sy tik-tik teen sy nagklere se sakke. Niks, behalwe vir ʼn paar geel Margrietjies wat op sy laken land. Vanmiddag laat het hy elke moontlike sak van sy nagklere daarmee volgestop, baie geheimsinnig – glo een of ander geheim rondom Hansie en Grietjie. Sy buk, druk ʼn soentjie op sy kroontjie.

Jy’s ʼn ster, Berti!

ʼn Ysige windvlaag ruk een van die vensters oop. Sy frons. ʼn Stukkende knip? Moos is baie gesteld op sulke dinge – hoe is dit dat hy nie daarvan weet nie?

Verlig dat alles verder normaal lyk en klink, hardloop sy al teen die gangmuur langs. Sy wikkel solank die alarmstelsel se kaart uit die toezirtssakkie van haar drafklere uit. Plat op haar maag seil sy onder die kombuis se swaaideure deur. Uit ondervinding weet sy dis die enigste manier om geluidloos by hierdie punt verby te kom. Stadig en versigtig beweeg sy voel-voel deur die kombuis om nie ʼn stoel of ʼn skottel of ʼn ding raak te skop nie.

By die agterdeur skuif sy die kaart deur die gleufie langs die slot om die alarm te deaktiveer. Dit is ʼn voorreg wat sy as hoofmeisie van die jaar geniet. Elke oggend waardeer sy dit van vooraf. Buite herhaal sy die kaartbeweging, die deur klik toe. Die weeshuis kan veilig verder slaap.

* * *

Slegs Moos en Pa Oswaldo het die outoriteit om die voorste hek te deaktiveer, daarom hardloop sy na die agterste klipmuur. Sy vermy Moos se netjiese grasperk. Te blootgestel. Die ekstra donkerte onder die ry neutbome voel baie meer veilig. Onder die beskutting van die bome uit, spring sy ligvoets bo-oor Moos se netjiese groente beddings. Pikgitswart doem die muur voor haar op.

Verskrik vlieg sy om toe ʼn takkie reg agter haar kraak. “Toemaar, Rosa, dis net ek.”

“Moos! Wat maak jy hier?”

“Ek kom jou waarsku. Vir die afgelope maand al hou ek jou dop. Ek sien jou gaan en ek sien jou veilig terugkom. Vanaand lyk sake anders.”

“Hoe dan nou Moos?”

“ʼn Trop honde. Hulle is erg bedrywig in die omgewing. Heel waarkynlik Paximus. Ek dink nie vandag is ʼn goeie dag vir jou om alleen buite te wees nie.”

“Jy dink verkeerd, Moos. Ek is vandag sewentien jare oud. Ek is op pad na die Boonste Peter Pan Meer. Ek belowe om ekstra versigtig te wees. Voor die son opkom, voordat iemand my mis, is ek terug. In watter rigting hoor jy die honde?”

“Of dit nou die Boonste of die Onderste Peter Pan Meer is, vasloop gaan jy jouself in hulle vasloop. Tot laat gisteraand het ek hulle presies in daardie rigting gehoor. Rosa, onthou jy toe Paximus op jou en Charlotte geskiet het? Met een vuishou het jy hom teen ʼn boom vasgeplak, nogtans het hy as gestalte transformeerder net eenvoudig tussen sy trop honde in verdwyn. Jy was die een wat geheueloos bly sit het!”

“Ek onthou – en ek belowe om al my sintuie te gebruik, Moos.”

Moedeloos skud hy sy kop. “Jy’t nie vreeslik baie tyd nie. Dis ongeveer twee ure voor sonsopkoms en as jy ʼn ompad vat om die honde te vermy…”

“Hoe eerder ek dan wegkom, Moos, hoe beter. Moenie bekommer nie, sien jou nou-nou!”

Sy draai terug na die growwe klipmuur, stamp haar handpalms styf daarteen vas. ʼn Tintelende sensasie borrel deur haar lyf. Haar handpalms en voetsole word oorgroei met suigmondjies. Met die gemak van ʼn geitjie klouter sy teen die vyf meter hoë klipmuur uit. Sy dink nie eers meer nie. Sy weet presies watter bewegings om te maak om die suigmondjies te laat los of te laat klou.

Bo is die muur ongeveer 20 sentimeter breed. Digte wolke verdryf kort-kort die bietjie lig vanaf die skewe sekelmaantjie. Nogtans seil sy so plat moontlik oor die muur om die moontlikheid van ʼn silhoeët te verskuil en klouter geitjie-gewys anderkant af.

Sy vryf haar hande teen haar drafklere en die suigmondjies verdwyn. Ook haar voetsole trap asof dit nooit as suigapparaat gedien het nie. Met haar rug teen die dokerte van die muur, glip sy haar drafskoene aan.

So sag moontlik hardloop sy in die rigting van die Onderste Peter Pan Meer. Sy bly bewus van die naguiltjie, die nagkrieke wat soos sonbesies klink. Dit stel haar gerus.

Die bos word al digter, so ook die ysige mistigheid. Takkies kraak onder haar haastige skoensole. Sy wonder of die honde haar reuk kry? Weet nie waar hulle is nie, weet daarom ook nie of die wind in haar guns waai nie.

Vrees ontpolof in haar brein, ruk haar tot stilstand.

Waarom is dit so stil?

Sonder om te dink val sy plat. ʼn Pistoolskoot dawer deur die bos. Of dit op haar gemik was, sal sy nie weet nie. Sy spring op, begin hardloop in die rigting van die waterstroom wat nou duidelik hoorbaar is.

ʼn Dringende fluit, ʼn opgewonde getjank en geblaf van ʼn hele trop honde, ontplof in haar ore. Honde en iemand se vinger wat jeuk om ʼn sneller te trek. Dit beteken net een ding: Paximus! Vandag is hy dus in die gestalte van ʼn mens, raak nie weg tussen sy honde nie. Sy wonder wat is die ergste – ʼn vuurwapen in die hand van ʼn mens of ʼn hond wat jou aan die keel gryp?

Haar bene werk al vinniger. Haar asem word al korter.

Wat op aarde het Paximus teen my? Nugter weet.

Die honde haal haar ontsaglik vinnig in! Die meer met sy krans waarteen sy beoog om te ontsnap is te ver, sy gaan dit nie maak nie. Sy hardloop haarself vas teen die grys-blink waterstroom wat bruis en kabbel oor groot rotsbanke.

Moos, hierdie gaan jou ompad wees!

Die water is ysig. Haastig maar versigtig, hardloop sy stroom-op, van plat klip na plat klip. Dit is asof die bruisende water elke bietjie lig vanaf die sekelmaantjie absorbeer sodat dit uitbundig opspat in gloeiende-druppeltjies. Elke volgende plek waar haar voete land, word byna bonatuurlik verlig.

Skaars vyftig meter agter haar hoor sy die honde op een plek deurmekaar maal met frustrerende blaf en tjank geluide – dis waar sy die bos verlaat het.

Paximus, ek is jou een voor! Geen reuk vir jou trop honde nie!

Met nuwe energie spring sy van klip tot klip. Gouer as wat sy verwag het, staan sy reg onder die waterval. Sy weet van ʼn opklimplek skuins weggesteek agter die missproei en sy begin klim. Die klippe en vastrapplekke is oneindig glad. Haar voete voel dom van die koue.

Stadig, Rosa! Stadig!

Haar hande gryp met elke wisseling van vastrapplek ʼn rietbos of skewe boompie vas. Eindelik hys sy haar bolyf oor die kliprand.

Versigtig nou – maak seker hier’s niemand.

Die krag van die water dreig om haar terug te sleep na die dreunende afgrond – soos ʼn wafferse soldaat kruip sy plat op haar maag vorentoe. Agter ʼn groot klip bly sy papwatersopnat lê. Haar lyf voel morsdood gevries.

Sy trek haar oë op skrefies totdat elke boom, elke groot klip in die grysheid van die vroeë oggendlig duidelik onderskeibaar is.

En daar staan hy! Iemand met ʼn geweer wat die waterval dophou. Sy roer nie. Hy kyk om hom rond. ʼn Stem uit die bosse kom na hom aangestap.

“Enigiets?”

“Nee, niks. Sy is tien teen een lankal by hierdie punt verby. Jy ken haar bekwaamhede. Ons gaan verniet verder soek.”

“Kom. Tyd vir plan B.”

Paximus? Met haar kop net-net bokant die water, volg haar oë die twee skaduwees. Die donker bosse sluk hulle in. Sy bly doodstil lê. ʼn Skril fluit laat haar sug van verligting. Die geblaf beweeg al verder en verder stroom-af.

Plan B? Geen doel om daaroor te tob as mens nie weet wat dit is nie.

Sy spring op, haar hele lyf vriesend koud. Die stroom is nou baie breër, die water vloei rustiger en die klippe is baie meer stabiel en plat. Al hardlopende trek sy die vars bosreuk diep in haar longe in. Hier en daar tussen die takke van digte plantegroei wat tot binne die waterstroom hang, hoor sy voëltjies wat met ʼn opgewonde getjilp wakker word.

By die Boonste Peter Pan Meer gaan hierdie oggend oor ʼn uur of wat omtower word in ʼn sprokiestuin van tintelende druppeltjies nagklammigheid.

Wat ʼn wonderlike verjaardaggeskenk! Was iemand werklik nou net agter my bloed aan?

* * *

Al gou bereik sy die laaste draai van die stroom en staan soos altyd, totaal verwonderd aan die soom van die Onderste Peter Pan Meer. Die nag is besig om sy ergste donkerte af te skud en die water reik grys-blink tot teenaan ʼn soliede klipkrans. Op, op, op glip haar oë tot by die boonste rotspunte wat tussen misslierte verdwyn. In die somermaande smelt die gletsers hoër op in die berge en ʼn breë waterval stort oor hierdie einste krans. Hierdie stroom waarin sy nou net gehardloop het, word dan ʼn onbegaanbare bruisende watermassa.

Sy hardloop oor die plat klipoppervlak wat die meer omsoom tot teenaan die byna loodregte krans. Haar sopnat hardloopskoene druk sy in ʼn klipskeur in, plaas ʼn plat klip bo-oor. ʼn Veiligheidsmaatreël. Al kom hier nooit gʼn mens nie, dit is nie nodig vir daardie ‘gʼn mens’ om te wonder wat van haar geword het met haar skoene wat so duidelik ʼn doodlooppad bereik het nie.

ʼn Opgewondenheid byna te groot vir haar binnekant borrel deur haar lyf. Net soos by die weeshuis-muur, stamp sy haar handpalms teen die soliede koue klipwand en sy voel die suigmondjies groei.

Is dit die opgewonde afwagting wat telkens hierdie wonder laat gebeur?

Op hande en voete klouter sy teen die loodregte kranse uit. Vir die soveelste keer wonder sy oor die magnetiese veld. Elke keer as die suigmondjies ontstaan is dit asof haar lyf van sy gewig verloor – asof die klip sy magnetiese veld omswaai sodat dit voel asof sy horisontaal klouter en nie vertikaal nie.

Wat ookal gebeur, dit is die mees opwindendste ding denkbaar om te doen op hierdie hele aardbodem!

Al gou is haar lyf ontslae van die ysige koue en hys sy haarself oor die laaste skerp rif. Sy vryf haar hande teen haar effense klam drafklere en die suigmondjies verdwyn.

Die wind waai riffels oor die wateroppervlak van die Boonste Peter Pan Meer wat wyd en rustig reik tot teen die twee hoë identiese spitspunt kranse. Gewoonlik is die top van hierdie twee kranse totaal weggesteek onder digte miswolke.

Nie vandag nie. Vandag, op haar vejaardag, is daar nie ʼn wolkie nie. Die son begin-begin homself aankondig met ʼn grysheid in die Ooste daarom staan sy soveel meer verstom oor die sneeupunte van die twee spitspuntkranse wat spierwit skitter in die eerste sonlig. Meer verstommend, is die twee helder reënboogstrale vanaf die toppunte van die kranse wat ver die hemelruim in strek. Waar hulle bymekaarkom, balanseer hulle iets soos ʼn enorme ster wat lyk asof dit tydsaam in die rondte draai. In die vroeë oggendlig weerkaats hierdie ster ʼn kleurespel van emerald en blou met soms ʼn vae skynsel van koningspers.

Haar hart klop swaar en stadig. Hierdie ster weerkaats die kleurespel van haar eie oë na haar toe terug. Haar asem ruk in haar keel vas.

Die nagmerrie. Berti se oë. Dieselfde kleurespel.

Hoe is dit moontlik dat die ooreenkoms van haar en Berti se oë vir so lank skoon by haar verbygegaan het? Sy voel iets stamp-stamp aan haar skouer en haar gedagtes splinter uitmekaar.

“Is jy nie sewentien jare oud vandag nie?”

Sy skrik nie meer vir die runnikstem van die Perdmens nie. Sy lag, gryp hom om die nek.

“Pholo! Ja, dit is hoe oud ek vandag is! Niks in vergelyking met jou tweehonderd-en-hoeveel jare nie.”

Sy druk haar wang teen sy breë nek vas, voel die twee arms om haar lyf en vergeet totaal dat die res van sy lyf dié van ʼn perd is. Haar koperrooi krullebos wat lankal uit hulle rekkie in haar nek ontsnap het, kielie sy neus en hy gaan hewig aan die nies. Die hoef van sy een voorpoot stamp-stamp dringend op die plat klip.

Sy lag, los sy nek en kyk in die rigting waarin hy al niesende beduie. Vanuit die dieptes van die Wildebeestebos kom Sally, ʼn spierwit elegante perd gestap. Met een vloeiende beweging van die trotse nek word die suiwer wit maanhare losgeskud van die oggendmiswalms tussen die donker bome. Die spiraalhoring op haar voorkop gloei met ʼn dowwe wit skynsel.

Oorstelp staar Rosa na die weerkaatsing in die meer van die elegante Eenhoring, die sneeubedekte kranse, die reënboogstrale, die blink ster. Was daar al ooit iets so mooi?

Reg voor haar kom Sally tot stilstand. Met ʼn effense skud van die maanhare, buig sy haar kop effens. Rosa se hand vou om die spiraalhoring. Saam met die hitte wat deur haar hand vloei, is sy ook bewus van Sally se gedagtes. ʼn Rilling trek deur haar lyf.

“Sally, het ek jou reg gehoor dink? Die ster se naam is Attaria?”

Sally knik. Haar sagte bruin oë glim goedkeurend. Die hitte vanaf die spiraalhoring stuur steeds nuwe gedagtes.

“Sally, probeer jy aan my vertel dat Attaria,” Rosa kyk op na die ster ver die hemelruim in, “dat ek van só ʼn plek af kom?” Sy los die horing en Sally se stem antwoord haar normaalweg.

“Ja, dit is waar jy vandaan kom en sien jy die groot voël op die een spitspunt krans?”

Rosa skroef haar oë op skrefies om beter te kan sien en haar hart gee ʼn ruk. “Moos die tuinier het hom so goed beskryf! Dit is Zophir – die ooievaar wat my as baba in ʼn halwe eierdop by die weeshuis afgelewer het?”

Weer ʼn bevestigende knik.

“Is die reënboogstrale altyd daar? Net toe onder die mis? Attaria ook?”

Sally lag. “Jou meester Liam is hier om verder te verduidelik. Die menslike ras weet van tegnologie. Ons weet van ander dinge.”

“Hallo Rosa. Ek is bly jy het veilig deur die linies van Paximus gekom. Ek is beïndruk!”

“Meester Liam! Wat maak jy hier?” Rosa bloos bloedrooi oor haar blatante vraag.

Hy lag. “Ek is ʼn gereelde besoeker. Jou vrae oor Attaria: Ja, Attaria is altyd daar. Die reënboogstrale is lewende seine vanaf Attaria na die aarde. Vir sulke geleenthede laat Attaria die mis opklaar. Sodra boodskappe afgehandel is, keer die strale terug na Attaria en die mis bedek weer alles. Zophir is juis op hierdie oomblik besig om opdragte te ontvang.”

“Opdragte?”

“Ja. Hy gaan jou vandag terugneem na Attaria.”

“Sommer… sommer net so?”

Hy lag. “Ja, sommer net so. Ek is verantwoordelik daarvoor dat jy en Zophir die lugruim ingestuur word voordat die mis weer toeneem. Ek gaan ook aan Pa en Ma Oswaldo verduidelik. Hulle weet van Attaria. Die weeshuis funksioneer eintlik onder ʼn dekmantel.”

Rosa voel hoedat die wêreld dreig om met haar te kantel. Is sy besig om die spoor byster te raak? Sy spreek die eerste doodnormale gedagte uit wat in haar kop opkom. “Ek het gedink meneer is ʼn gewone onderwyser?” Alweer bloos sy bloedrooi.

Hy ignoreer haar verleentheid, verduidelik ernstig verder. “Ek is bly jy dink so. Dit wys die rookskerm werk. My roeping en vakgebied is om jou en ander soos jy toe te rus. Met dinge soos Psigiatrie, telepatie, depressie, angs-neuroses, die verskillende oorsake van gesplete persoonlikhede, ens. ens. Om met Paximus te deel, veral in die toekoms, gaan jy sulke kennis broodnodig kry.”

“Klink vir my dit is beter om net hier te bly waar ek skouer skuur met Paximus. Tiep van in diens opleiding?”

“Nee, beslis is dit nie beter nie. Jy sien, sewentien is ʼn keerpunt in die lewens van alle Attaria-mense. Dit is die heel beste ouderdom vir intense opleiding. En Paximus weet dit.”

“Hy weet dus dat ek van Attaria kom. Probeer hy verhoed dat ek daarheen teruggaan? Is dit genoeg rede vir hom om met ʼn kop vol moordgedagtes rond te loop?”

“Ja, beslis. Attaria-mense is sy grootste vyande. Ons ken sy ware kleure. In die gewone lewe beklee hy magsposisies, is ʼn man van aansien. Sy ondergrondse ondermynende bedrywighede is onder ʼn totale bedekking vir die gewone oog. Om een ding te noem: Met ʼn kus wat as die Judas-kus bekend staan, plant hy sy eie ondermynende geaardheid oor op ʼn indiwidu. So iemand verloor sy eie identiteit gans en al. Paximus het uitgebreide gronde met ʼn yslike kasteel waar hy sy slagoffers intensief oplei. Daarvan gaan Attaria jou breedvoerig leer. Asook hoe om hom en sy trawante se booshede doeltreffend teen te staan. So, ongetwyfeld het hy rede om jou te probeer uitwis. Geen twee sake daaroor nie.”

“Ek wonder wat is sy plan B?”

“Plan B?”

“Ja. By die waterval, net voordat hulle teruggegaan het met honde en al, het Paximus iets gesê van dat dit tyd is vir plan B.”

* * *

ʼn Klapgeluid en ʼn helder lig wat hier reg voor hulle voete vasslaan laat hulle almal versteen van die skrik. Vir ʼn breukdeel van ʼn sekonde vloei die twee helder reënboogstrale sidderend deurmekaar net om die volgende oomblik as’t ware deur Attaria ‘opgesuig’ te word. Binne oomblikke is die skitterblink ster asook die twee spitskranse toe onder die mis.

Oorbluf bly almal staan. Rosa se hele wese is met een enkele skrik-realiteit gevul.

Berti is weg!

Die nagmerrie het werklikheid geword, sy weet dit! Sy frons na die donker wolke massa wat al digter word. “Meester Liam, Berti is weg! Ek het nie ʼn keuse nie, ek gaan hom soek!”

Iets skuur met ʼn dringendheid teen haar been. Ingedagte steek sy haar hand uit, dink dat dit een van die diere is. Met ʼn gil spring sy eenkant toe. Iets tussen ʼn leeu en ʼn wolf! Sagte, gerusstelende keelgeluide maak dat sy meer deeglik na hierdie vreemde verskynsel kyk. Sy massiewe lyf verdring alle toenadering terwyl sy byna deursigtige blou oë uitnodigend, gerusstellend na haar kyk. Huiwerig steek sy haar hand na hom uit. Die volgende oomblik gryp sy desperaat die sagte maanhaarwolle vas. Met lang treë kom Zophir na hulle aangestap.

“Liam, verduidelik asseblief aan Zophir dat ek nie na Attaria… Liam! Waar is jy?”

Dit is Sally se horing wat in haar linkerhand vroetel. “Jy gaan gewoond raak aan Liam se komme en gane – nie noodwendig altyd in ʼn herkenbare gestalte nie. Kom, dit is tyd dat jy in Zophir se borskas inklim.”

“Nee Sally. Julle verstaan nie! Liam! Waar is jy? Berti het my nodig!”

“Dit is jy wat nie verstaan nie, Rosa.” Pholo stamp hard met sy hoef op die klip. “Zophir gaan jou na die weeshuis terugneem. Dit is vanwaar jou soektog na Berti gaan begin.”

“Wag, wag! Julle weet almal van Berti? Dit is gelyktydig na ons almal oorgesein?”

Haar linkerhand klou steeds Sally se spiraalhoring vas en ʼn gerusstellende hitte gloei saam met Sally se gedagtes deur haar lyf.

“Berti is Paximus se grootste troefkaart, Rosa. Hy weet dat jy nooit vir Berti aan sy eie genade gaan oorlaat nie. Vir die soektog na Berti, het jy ʼn lyfwag dringend nodig. Die lyfwag is Gribaldi, dit is die wolf aan jou sy. Hy gaan elke tree langs en met jou wees.”

“Goeie genade! Droom ek? Wat is volgende?”

Pholo neem haar aan die arm, stuur haar ferm in die rigting van Zophir. “Kom, klim. Dit is volgende.”

Sy frons na Zophir met sy lang, maer yster bene, sy dun metaal agtige borskas, bedek met iets wat nogal baie na volstuisvere lyk. Haar hart klop benoud. “Iets verkeerd daarmee om te gaan soos wat ek gekom het? Met my eie voete? Om teen ʼn krans op of af te klim is geen probleem nie.”

Gribaldi se woorde grom diep uit sy borskas. “Zophir is absoluut toegerus om jou te beskerm, Rosa. Binne Zophir se borskas is daar ʼn lêplek. Iets soos ʼn halwe eier, uitgevoer met sagte, watte agtige stof. Gaan lê asof dit ʼn bed is. Reg bokant jou is daar ʼn rooi liggie. Druk daarteen. Dit aktiveer die eier en borskas om bo-oor jou toe te skuif. Wanneer jy wakker word, druk weer teen die rooi liggie. Moos gaan sorg dat jy ongesiens uitklim.”

Gribaldi probeer haar met sy neus aanhelp. Haar voete weier om te roer. Sy gedagtes grom steeds geduldig. “Met Zophir is dit veiliger en gouer, Rosa. Deur die lug is daar nie ʼn Paximus gevaar nie.”

“Veiliger? Veiliger as my voete?” Sy gryp Sally se spiraalhoring vas, asof sy weier om dit weer te los.

“Rosa, Zophir is toegerus nie net vir jou veiligheid nie, ook om jou volkome te laat uitrus. Jy het al jou energie nodig vir die volgende paar uur.” Sally se gedagtes is kalmerend. “Alles loop reg. Niks om oor opgewonde of paniekerig te raak nie, glo my.”

Dis dan dit. Klim sal ek moet klim!

* * *

Die sagte watte-agtige wit stof binne die borskas-eier omvou haar met ʼn heerlike gevoel van veiligheid. Sy druk die rooi knoppie en sy word met ʼn sagte suisgeluid afgeseël van die buitewêreld. Sy voel hoedat Zophir met ʼn paar lang treë die aarde verlaat. Alle benoude gedagtes vloei uit haar ligaam uit. Zophir neurie ʼn liedjie wat saam met die ritme van sy vlerkbewegings deur sy borskas vibreer en deel word van haar hele wese.

Sy onthou hoedat sy vir Moos opgesoek het laat daardie middag toe Berti op die weeshuis se drumpel gevind is. Die liedjie wat Zophir saggies neurie – daardie middag het die wind veertjie-sag teen haar wange gestreel en dieselfde wysie was in die lug. slaperig wonder sy:

“Zophir, jy het ook vir Berti afgelewer?”

“Mmmmm.” Hy bevestig dit sonder om die wysie te onderbreek.

“Berti – hy is dus ook van Attaria?”

“Mmmmm.”

“Zophir, as ons van Attaria af kom. Waarom het ons sulke gewone name?”

“Om saam te smelt met julle omgewing se mense. Met gewone name is julle ook minder opsigtelik vir Paximus en sy trawante.”

Saam met die wysie begin haar gedagtes van haar bewussyn af wegdryf. Zophir se sussende vlerk bewegings dra haar na ʼn wêreld van salige vrede en rus.

* * *

Toe sy haar oë oopmaak, voel sy meer uitgerus as ooit. Sy is verbaas, want die Boonste Peter Pan Meer is nie so ver van die weeshuis af nie. Sy druk die rooi liggie. Die eier en die borskas vou gesamentlik met ʼn sagte suis-geluid oop. Sy klim uit en toe sy omdraai om Zophir te bedank, is hy weg. Dit is Moos wat voor haar staan.

“Welkom terug Rosa, ek was bietjie bekommerd toe ek die skietery hoor. Kom, daar’s min tyd.” Hy gryp haar aan die hand, beduie al hardlopende. “Die leer staan gereed. Om deur die kamervenster terug te klouter voordat jy ook as vermis aangegee word klink vir my na die beste plan.” Onder haar kamervenster staan inderwaarheid ʼn leer teen die muur. “Gou. Klim. Dit is totaal onnodig dat enigiemand van jou nagtelike eskapades kennis neem.”

“Jy dink nie my geitjie hande en voete is vinniger en veiliger nie?”

“Nee, klim! Niemand weet van jou geitjie maniere nie en jy beter dit so hou. Onthou dis Saterdag. Geen skool. Dus droë, gemaklike klere. Jy gaan dit nodig kry. Ek sien jy’s uit jou skoene geskrik.”

Sy humor gaan skoon by haar verby. Halfpad draai sy verskrik om. “Moos, daar’s ʼn reuk in die lug. Dieselfde as toe Berti destyds in die put geval het.”

Net toe kom Gribaldi om die hoek gestorm. Oopmond gaap sy die ontmoeting tussen Gribaldi en Moos aan. Moos het hom om die nek, beduie opgewonde van die harwar hierdie kant.

Neus in die lug, draai sy haar kop heen en weer. “Moos, Gribaldi, daardie reuk…”

Met ʼn diep grom val Gribaldi haar in die rede. “Rosa, maak gou. Laat die kinders bedaar, verduidelik aan Pa en Ma Oswaldo dat alles onder beheer is. Noem aan hulle dat ek, Gribaldi, so sê. En kom so gou moontlik terug hierheen. Gou. Die tyd is min.”

Ongesiens klouter sy deur die venster. Geeneen van haar kamermaats is in die slaapkamer nie. Op die grondvloer hoor sy ʼn deurmekaar gebabbel en kleuters wat benoud huil. Haar klere is byna droog. Tyd vir aantrek is daar nie en haar drafskoene lê in die klipskeur by die Onderste Peter Pan Meer. Kaalvoet hardloop sy die trappe twee-twee na onder. Niemand kom agter dat sy nou eers arriveer nie. Sy buk tussen die kleintjies in, deel ʼn paar drukkies en soentjies uit en met gesrusstellende woorde kom hulle gou tot bedaring.

Haar kamermaats staan in ʼn benoude sirkel. Sy stap soontoe. “Luister ouens, dis nie nou die tyd om paniekerig te raak nie. Beweeg gerusstellend tussen almal deur, praat positief. Die belangrikste is om orde te herstel en orde te behou.”

Sy draai na Pa en Ma Oswaldo. “Die alarm nie afgegaan nie?”

Hulle skud hulle koppe verdwaas.

“Pa Oswaldo, dink jy daar is ʼn manier om alle deure en vensters dubbel dig te grendel – ook die boonste vensters? Die kleuterkamer se vensterslot is stukkend.”

“Geen probleem nie, Rosa. Uitstekende idee. Pieter, kry jou spannetjie seniors en begin dadelik. Skuif swaar meubels teen die buite deure. Maak seker dat als hier onder dig toe is. Ek gaan solank op boontoe.”

Pieter met sy gitswart kuif, Pieter die atleet, Pieter die akademiese reus, is in sy element. Al gou is ʼn swaar meubelstuk op pad na elke moontlike buite-opening.

Ma Oswaldo draai na die groepie meisies wat reeds besig is om gemoedere te kalmeer.

“Saartjie, kry almal in die eetsaal. Lina, kom help in die kombuis. Dis tyd dat almal, veral die kleintjies, iets in hulle pense kry. Dit werk altyd. Dit kry die aandag van die probleem af en laat senuwese bedaar.”

Halfpad die trap op, kry Rosa vir Pa Oswaldo aan die mou beet. “Pa Oswaldo, hou die polisie vireers hier uit. Voor ontbyt verby is, is ek terug met Berti, ek belowe – Gribaldi gaan my help.”

Pa en Ma Oswaldo steek albei in hulle spore vas, staar haar verbaas aan, draai dan energiek elkeen in sy eie regting.

Rosa gryp haar beste vriendin aan die arm. “Charlotte, kom saam. Ek gaan deur ons kamervenster na buite en iemand is nodig om dit weer van binne te grendel.” Bo gekom, klouter sy deur die venster.

“Rosa, ek kom saam!” Charlotte is reeds halfpad by die venster uit.

“Wag nou, Charlotte! Ek weet jy’t laas letterlik my lewe gered met Paximus se skietery. Vandag is dit eerder nodig om die venster toe te maak! En Charlotte, help om almal so lank as moontlik kalm en rustig in die eetsaal te hou, almal is gewoond aan streng dissipline daar. Ek’s oor minder as ʼn uur terug, belowe!”

Teleurgesteld klim Charlotte terug. “Wees versigtig, Rosa!”

Rosa hoor hoedat die venster bokant haar kop gegrendel word. Halfpad na onder steek sy verskrik vas. Die reuk – dit is die honde! Buite die hek hoor sy hulle rondmaal en blaf en onderlangs grom. Vinnig klouter sy tot onder.

“Moos?”

Met ʼn laaaang uitgerekte maan-tjank val Gribaldi haar in die rede. En iets baie eienaardigs gebeur. Sy hoor hoedat die trop honde al blaffende straat-af hardloop. Weg van die weeshuis.

“Klim op my rug, Rosa.” Gribaldi se grom is kort en dringend. “Jy is nie swaar nie en ek is sterk genoeg. Ons het bitter min tyd.”

Moos deaktiveer die hek. Toe dit weer toeklik agter hulle, val sy byna van Gribaldi se rug af van skrik. ʼn Erg verwaarloosde hond storm op hulle af en die twee vryf so ewe vriendelik neuse! Klaar gegroet, gee die vreemde hond ʼn opgewonde blaf en begin met ʼn spoed hardloop.

“Houvas, Rosa!” Sy klou aan Gribaldi se maanhare wat byna aan dié van ʼn leeu grens. In die wind wat by haar ore verby waai, is Gribaldi se woorde net-net hoorbaar. “Dit is Paladyn. Sy weet waar Berti is. Sy is in werklikheid ʼn vroulike ridder, uit die vóótyd. Terselfdertyd ʼn gestalte transformeerder wat optree as spioen tussen Paximus se trop honde.”

Die verwaarloosde hond, of liewer die vroulike ridder Paladyn, kies koers deur al wat agterstraatjie is, spring oor slote, sodat Gribaldi al sy kragte nodig het om homself en sy passasier veilig aan die oorkant te kry.

Kort van asem, kom Gribaldi en Paladyn tot stilstand. Hulle het ʼn T-aansluiting bereik. Hulle neuse fynkam kruis en dwars elke stukkie aarde in elke windrigting vir ʼn moontlike geur betekenis.

Gribaldi grom ongeduldig. “Paladyn, die reuk is ewe sterk na albei kante. Ek dink Paximus is eers na die eenkant, toe na die anderkant, spesiaal om agtervolgers te verwar.”

“Mmmmm. Dit laat my wonder of ek so presies weet waar hulle is?”

“En nou?” dis Rosa wat moedeloos ook van links na regs kyk. Opgewonde gryp sy Gribaldi aan die maanhare, beduie na regs. “Daar! Dis die regte rigting. Die geel Margrietjies? Dit is Berti se aanwysings!”

Sonder vrae storm die twee honde al op die spoor van die geel Margrietjies langs. Al gou kry hulle weer ʼn duidelike reuk-spoor. Eindelik kom Paladyn tot stilstand reg voor ʼn gebou van veertig, vyftig verdiepings wat lyk of dit van glas is. Paladyn draai ʼn paar keer in die rondte, gaan sit dan met haar rug teen die muur. Haar kop beweeg stelselmatig heen en weer soos wat sy die omgewing fynkam.

Gribaldi gaan sit onder ʼn baie digte boom ʼn paar treë van Paladyn af. “Rosa, Berti is op die dak van hierdie gebou en Paladyn reken die enigste menslike gevaar is die wag voor die gebou.”

Rosa kyk na Paladyn. Niemand gaan ʼn oog knip oor ʼn watersopnat verwaarloosde hond nie maar ʼn volgroeide wolf met ʼn vroulike jokkie op sy rug?

Sy glip van Gribaldi se rug af, gaan staan teen die boomstam, buite die wag se sig. Bekommerd kyk sy boontoe. Donker dreigende wolke, net soos by die Boonste Peter Pan Meer, begin reg bokant die gebou rondmaal. Selfs die wag kyk bekommerd boontoe. En toe begin dit reën! Die wag storm die gebou binne.

ʼn Swart kraai vlieg laag oor Paladyn se kop. Rosa is oneindig dankbaar vir verstaanbare gedagtes, want die waters loop die strate vol dat hoor en sien vergaan.

Gribaldi bevestig haar vermoede. “Rosa, sien jy die vertikale strepe wat tussen elke vierde venster van onder tot heel bo hardloop?”

“Ja. Dit lyk minder nat.”

“Volgens Kraai, is Berti presies aan die einde van daardie streep waar Paladyn sit. Ongeveer in die middel van die dak. Jou geitjie-bekwaamheid is nodig.”

“In hierdie reën? Teen hierdie gebou wat van glas is? Dink jy dit gaan werk? Gribaldi, dit… is hoog!”

Die kraai vlieg inderwaarheid al streep-langs, reguit boontoe en – dis die kraai se gedagtes wat sy hoor!

“Rosa, ek gaan direk met jou kommunikeer. Nie Paladyn of Gribaldi staan ʼn kans om te weet wat hier bo aangaan nie. Ek is die enigste een met vlerke en ons tyd raak min!” Daarmee verdwyn die swart kraai oor die rand.

“Klim, Rosa! Klim!” Dis Gribaldi wat haar met sy neus ʼn stoot in die rigting van die gebou gee.

“Gribaldi, dit is hooooog!!” Rosa se hele lyf is aan die bewe. Sy weet dis van méér as blote koue.

“Rosa, Berti is vasgemaak.” Kraai se gedagtes kraak dringend deur haar kop. “Jou tyd om hier bo uit te kom, is bitter min. Paximus is besig om hom los te sny. Die reën verplig hulle om na binne te verskuif. Binne die gebou gaan ons kontak verloor. Ons kanse om te bepaal waarheen hulle hom gaan neem, gaan na Zero verminder.”

Gribaldi grom dringend, gee haar ʼn stoot met sy neus.

Sonder om te dink, hardloop Rosa onder die beskerming van die digte boom uit. Gelukkig is sy kaalvoet. Die magnetiese aantrekkingskrag van die gebou is baie sterk, veral die growwer strepe soos die een waarteenoor Paladyn sit. Hard stamp sy haar handpalms daarteen. Sy voel die suigmondjies groei en sy begin klim – dit werk, al is die oppervlakte papwatersopnat! Sy vorder al vinniger en vinniger want sy raak al benouder en benouder.

Kraai, waar is jy? Vorder ek vinnig genoeg?

Byna verloor sy haar ritme toe Kraai se stem hier dig teen haar verbyswiep.

“Net-net. Moenie verslap nie.”

Sonder om haar spoed te verloor, probeer sy haar asemhaling en denke kalmeer. Alhoewel die reën lastig is, dit hou mense van die strate af. Ook is dit te vroeg vir winkels en dinge om oop te wees. Alles het vinniger gebeur as wat dit gevoel het.

Al dink sy aan wát – haar hart weier om tot bedaring te kom. Alles hang van haar af! Dis haar spoed teen die spoed waarmee Paximus die toue lossny.

“Rosa, hoor jy my?”

“Ja, Gribaldi.” Sy is oneindig verlig om Gribaldi se gedagtes te hoor.

“Luister, as jy bo kom, wees uiters versigtig. Loer net eers oor die rand. Bly buite sig. Wag totdat Bertie totaal los is. Kies die regte oomblik, wanneer almal se rug na jou gedraai is. Gryp hom so vinnig as moontlik en spring terug oor die rand van die gebou.”

“Spring?” Sonder om haar spoed te verminder, is haar binneste een warboel. “Gribaldi, het jy gesê spring?”

“Ja, Rosa. Dis die verrassingselement wat gaan tel. Spring en fokus! Gryp vir Bertie baie sekuur, houvas hom baie styf en spring blindelings. Herhaal hierdie drie punte oor en oor in jou gedagtes.”

Haar hande en voete werk al vinniger en vinniger soos wat haar hartklop al meer en meer benoud raak.

“Rosa, onthou jy jou vorige sprong?” Gribaldi se gedagtes klink bekommerd. “Jy het vanaf die krans by die Boonste Peter Pan Meer afgespring na onder om letterlik vir Paximus en sy pistool uit die pad van jou meester Liam te stamp. Jy kan dit doen!”

“Gribaldi, toe was Sally daar. Sy het my met gedagte-transito, met die spoed van ʼn gedagte, vanaf die een plek na die ander laat beweeg. Vandag is totaal iets anders!”

Sy hou op dink, want sy is bo. Baie versigtig loer sy oor die rand. Dit lyk of hulle besig is met die laaste tou.

Waarom roer Berti nie? Haal hy asem?

Die kraai vlieg laag oor haar kop, byna vas teen iemand anders se kop baie naby aan haar regterkant. Sy het so gekonsentreer op Berti, sy het daardie iemand nie eers raakgesien nie! Gelukkig is daardie iemand op pad na Paximus wat die toue eenkant toe gooi. Paximus stap na die enigste deur en hierdie persoon buk om vir Berti op te tel. Hulle is dus reeds op pad na die binnekant van die gebou!

Dis my laaste kans!

Sy glip oor die rand, gee die man ʼn skouer-stamp net voordat hy sy arms onder Berti inskuif. Met ʼn klap-geluid stamp hy sy kop teen ʼn pilaar en bly net daar lê. Sy gryp vir Berti en hardloop na die rand. Daar steek sy vas, kyk terug.

Weens die reën is dit duidelik dat Paximus niks ongerymds gehoor het nie. Sy sien hoedat hy die deur oophou vir die man om Bertie na binne te dra. Terselfdertyd kraak Kraai se gedagtes deur haar kop.

“Spring, Rosa, spring!”

Paximus pluk sy pistool uit. Skrik en vrees messel haar voete aan die dak-oppervlak vas. Byna laat sy vir Berti val van skrik toe die swart kraai teen haar kop vasvlieg. Terselfdertyd ontplof Gribaldi se grom in haar kop:

“Spring, Rosa!! Nou!!!!

En sy spring. Vir ʼn breukdeel van ʼn sekonde val hulle deur die lug voordat sy die pistoolskoot hoor. Sy weet net sy voel dit nie. Sy sluit haar oë en fokus op Bertie. Hy hang soos ʼn dooie gewig in haar greep en word al swaarder en swaarder. Die wind stroom deur haar hare.

Hoe lank val mens aan vyftig verdiepings? Hoe gaan dit voel om die grond te tref – of gaan mens niks voel nie?

“Rosa, houvas baie styf. Ongeag wat gebeur, fokus om nie vir Bertie te laat val nie. Al skrik jy hoe groot, al gebeur wat! Rosa, hoor jy my?”

Alhoewel Rosa Gribaldi se benoude gedagtes hoor, is sy nie gebore in staat om hom te antwoord nie. Sy voel hoedat Berti uit haar greep begin glip. Net toe sy dink die wind gaan hom gryp, toe gebeur dit!

Hulle val nie meer nie. Bertie voel heelwat ligter. Toe hoor sy die wysie en sy weet dit is Zophir! Zophir het hulle albei in sy kloue beet!

* * *

Zophir sit hulle neer op ʼn sagte kol gras ʼn entjie weg van die Boonste Peter Pan Meer. Nuuskierig staan die diere nader. Sally met haar spiraalhoring, Pholo met sy runnikstem en sy hoef wat stamp-stamp. Twee van die oer-oer wildebeeste met hulle drie gaffel-horings kom vanaf die Wildebeestebos aangestap en ʼn paar apies spring opgewonde op en af.

Toe eers sien sy die Indiaan-vroutjie met haar gekreukelde vel so oud soos ʼn bergskilpad wat kruisbeen op haar riempiesmatjie sit.

“MamaLumi!”

Sonder ʼn woord, met goedkeuring in haar oë, tik-tik die vroutjie op die gras reg voor haar. Presies net daar plaas Rosa vir Berti neer. Nou weet sy dat Berti gaan regkom. MamaLumi is nie verniet hier nie.

Is dit nie MamaLumi wat haar vir ʼn jaar lank onder haar vlerk geneem het tydens haar geheueverlies nie? Ook was dit MamaLumi wat gesorg het dat sy nie bly sit het met ʼn gebreekte heupbeen en ʼn arm skoon uit sy potjie geruk tydens haar gedagte-transito sprong nie. Toe oorleef Paximus alles – net jammer sy perd het dit nie oorleef nie.

Wie gaan ooit al hierdie dinge glo? Buitendien, daar is nuwe roeringe.

“Ek het elke ding saam met jou belewe, Rosa. Onthou? En ek is hier ook vir elke nuwe roering.”

“Meester Liam!”

Sally se horing gloei van tevredenheid en Pholo se hoef stamp-stamp terwyl hy heerlik runnik-lag.

“Meester Liam,” haar oë soek na Attaria iewers tussen die miswolke. “Ek het die weeshuis belowe om self vir Berti terug te bring. Attaria sal bietjie moet wag.”

“Dis reg so, Rosa. Zophir het met daardie een enkele lig-slag van vanoggend blitsig nuwe opdragte vanaf Attaria ontvang. Een daarvan is om vir jou en Bertie terug te neem weeshuis toe. Om die waarheid te sê, ek dink Berti is gereed.”

“Berti!” Rosa buk vorentoe. “Berti, is jy wakker?”

MamaLumi knik tevrede. “Hy gaan binne ʼn paar minute weer aan die slaap raak en dan vir die res van die dag baie vas slaap. Daarna gaan hy nie eers weet dat daar so ʼn dag soos vandag was nie. Geen nagmerries of vrees-aanvalle nie.”

Berti sit regop, vryf sy oë verdwaas. Hy trek sy skoen uit, zirts ʼn ekstra sool los en daar lê sy sleutel! Sy hand vou dit styf vas. “Ek is baie bly Moos het vir my hierdie spesiale skoene gemaak en dat ek daarmee geslaap het!” Hy vryf oor sy polse, frons verbaas. Ook Rosa is verbaas. Die merke waar die toue hom byna deurgeskaaf het, is totaal weg!

“Daar was nare mense, Rosa. Hulle wou aanmekaar weet van die sleutel.” Hy skud sy kop. “Ek dink ek het gedroom.” Daarmee tiep hy net eenvoudig om, slaap verder met die sleutel veilig in sy vuis vasgeklem.

“Lyk my met plan B het Paximus twee voëls in gedagte gehad. Vir my asook vir Berti. Eintlik Berti se sleutel. Liam, weet jy iets meer van hierdie sleutel?”

“Rosa, soveel dinge draai om daardie sleutel. Dis eintlik skrikwekkend. Teveel om in een sessie te verstaan. Ek belowe om jou mettertyd in te lig.”

“Sê my net dit. Berti het daarmee by die weeshuis aangeland. Die sleutel kom ook van Attaria?” Hy knik bevestigend. Verbeel sy haar of is daar ʼn vreemde gloed rondom Berti se hand wat so styf om die sleutel vou? Nee – dis die vroeë oggendson se strale.

Sy begin op haar vingers aftel. “Dis die sleutel, dis Berti, dis ek. Ook Moos?” Hy knik bevestigend. “En jy – en ook – Paximus?”

In sy oë lê ʼn diep, diep hartseer. Hy kom orent, hou sy hand na haar uit. “Glo my Rosa, dis ʼn lang, lang storie. Te lank en ingewikkeld vir hierdie dag en buitendien, as jy beoog om aan die einde van die weeshuis se ontbyt terug te wees met Berti en al, beter ons julle in Zophir se borskas kry.”

Sy stap na waar Zophir wag. Sy klim in, skuif op dat daar plek is vir Bertie. Liam lê hom in haar armholte neer.

“Liam, ek weet nie waar Gribaldi nou is nie en Paximus is alles behalwe weg. Is Gribaldi nie steeds nodig nie?”

ʼn Tevrede lag begin diep vanuit sy borskas ontwikkel en dit klink kompleet soos die begin van een van Gribaldi se knorre.

“Liam! Jy en Gribaldi…”

“Mmmm. En moenie bekommer nie, ek gaan altyd naby wees, gaan inderwaarheid saam met julle by die weeshuis arriveer.”

“Nou verstaan ek gladnie.”

“Steeds stukkies van jou geheue weg? Ek is in staat om deur die lug te beweeg sonder om my voete te gebruik – handig om voetspore te verbloem, of kranse soos hierdie te oorkom. Handig vir meer spoed.” Hy lag vir haar verbaasde gesig. “Enige verdere vrae?”

“Paladyn?”

“Sy is terug tussen Paximus se trop honde as uiters waardevolle spioen.”

Haar hand reik uit na die rooi knoppie. “Die maan-tjank van Gribaldi…”

“ʼn Wolf het outoriteit oor honde.”

Sy skud haar kop van pure verbasing, druk die rooi knoppie bokant hulle koppe. Met ʼn sagte suis geluid skuif Zophir se borskas toe en sy sien dat die sleutel in Berti se hand nie sy gloed verloor nie. Saam wieg hulle weg deur die ruimte van vergetelheid op die ritme van Zophir se vlerkklap.

Of is dit sy hartklop?

Die Einde

  • Chantal

    Mmmmm…. Baie oulik, en ek is bly om te lees dat jy ‘n vriendelike wolf het wat Rosa beskerm. Waar kan ek ook so wolf kry?

    • johanna

      Iewers in jou denke!!

  • Bb123jouneL123

    Baie goed.

  • Salmon Smith

    Baie goed geskryf Johanna. dit het gevoel of ek aan my stoel vasgemessel was.

  • Ashton Fourie

    Uitstekend! En ek kan nie wag vir die boek nie!

  • Chantal

    Baie geluk1 Ek het sommer geweet jy gaan inkom!

  • Salmon Smith

    Baie geluk Johanna. Jy verdien dit.