Televisie

Laas bygewerk: 16 Desember 2016

Televisie, of TV, het in Suid-Afrika begin in 1976 en ‘n nuwe era van inligting en vermaak ingelei. Daar was in die begin slegs ‘n enkele kanaal wat analoog uitgesaai is, en wat net vir ‘n klompie ure per dag inhoud aan kykers gebied het. Die inhoud het aanvanklik bestaan uit ‘n verskeidenheid van internasionale programme wat gekoop is vir Suid-Afrika, waarvan baie in Afrikaans oorgeklank is omdat TV 50% Engels en 50% Afrikaans was. Aanvanklik was daar maar min plaaslike inhoud, hoewel dit algaande meer geword het.

Baie reekse is oorgeklank na Afrikaans – sommige wel van ‘n WF+F aard. Een van die heel eerste oorgeklankte reekse was Alpha 1999 (van die Britse Space 1999).

Dit beeld die avonture uit op ‘n sogenaamde maanbasis Alpha – ‘n mensgeboude basis op die maan van die Aarde wat bestaan om ‘n stortingsterrein vir die kernafval van die Aarde te voorsien. ‘n Kernongeluk het egter die maan uit die wentelbaan om die Aarde verwyder en wat van toe af swerf deur die sterrestelsel – en natuurlik beleef die inwoners van die basis in elke episode ‘n nuwe avontuur wat afspeel in die nuwe deel van die heelal waardeur die maan op daardie stadium beweeg.

‘n Britse TV-reeks wat aangekoop en in Afrikaans oorgeklank is, was Redding Internasionaal (Thunderbirds). Dit was ‘n kinderreeks wat met marionette gemaak is en gaan oor ‘n organisasie wat help in gevalle van nood. Hulle het tuie wat kon vlieg, in die ruimte reis of onder die water.

‘n Amerikaanse reeks uit die tagtigerjare met ‘n meer komiese aanslag was Alf, wat ‘n wese is van ‘n ander planeet (Melmac) wat op die Aarde skipbreuk gely het en wat deur die Tanner-gesin ingeneem word om by hulle te bly. Dit was besonder gewild en snaaks, en die Afrikaanse span het daarin geslaag om die dialoog selfs meer humoristies te maak as wat die oorspronklike Engelse klankbaan was.

Ook in die 1980s was die Amerikaanse reeks Automan in Afrikaans in Suid-Afrika uitgereik, wat oor ‘n polisieman gaan wat ‘n rekenaarprogram geskep het wat holografies kan verskyn en snags uit die rekenaar ontsnap en help met misdaadbekamping – dit was egter nie baie gewild nie.

Daarteenoor was die Amerikaanse Buck Rogers in die 25ste eeu weer baie gewild. Dit gaan oor die avonture van Buck Rogers wat op ‘n ruimtesending vanaf die Aarde vertrek het en weens omstandighede eers weer in die 25ste eeu terugkeer. Dit sluit ook romanitese spanning in tussen Buck Rogers en die wulpse kolonel Wilma Deering.

Kaptein Skarlaken (Britse Captain Scarlet and the Mysterons) was nog ‘n oorgeklankte reeks vir kinders wat met poppe gemaak is en selfs deur volwassenes gevolg was.

Kind van die sterre (Frans Omer et le fils de l’étoile) was ‘n animasie-reeks vir kinders en het elemente van wetenskapfiksie sowel as fantasie bevat.

Mann en Masjien (Amerikaans Mann & Machine) was ‘n speurreeks oor twee speurders – een ‘n man en die ander ‘n vroulike (en beeldskone) robot.

Die Man van Intersek (Amerikaans Gemini Man) was relatief gewild in Suid-Afrika, en gaan oor die avonture van die held wat die vermoë het om onsigbaar te word…

Dan is daar die Man van Staal (Amerikaans The Six Million Dollar Man) wat uiters gewild was in Afrikaans. Dit gaan oor ‘n ruimtevaarder (Steve Austin) wat tydens sy terugkeer met sy ruimetuig verongeluk, maar dan weer ‘n kans op lewe kry deur verskeie ledemate en organe met tegnologiese onderdele te vervang. Die gevolg is ‘n bo-menslike persoon wat in vele avonture betrokke raak.

Oompie in die ruimte (Frans Il était une fois… l’espace) is ‘n animasie-reeks vir kinders wat geduerende die 1980s uitgesaai is.

Ongelukkig is geen van hierdie reekse tans in Afrikaans in die handel beskikbaar nie. Pogings om dit wel vry te stel was tot nou toe onsuksesvol, maar gaan steeds voort.

In 1982 is daar egter vir die eerste keer ‘n Suid-Afrikaans vervaardigde reeks in Afrikaans op TV1 vrygestel – Interster. Dit was geskryf deur Dr. Johann Beukes en het uit twee reekse van 37 episodes in totaal bestaan, van ongeveer 25 minute per episode. Tans is slegs die eerste reeks in die handel beskikbaar, maar is besonder vermaaklik en staan nie terug vir die oorgeklankte reekse nie.

Dit gaan oor die avonture van die Interster-organisasie (met hul hoofkantoor in Kaapstad) wat die Aarde probeer beskerm teen die bose planne van magte wat dit bedreig.