Afrikaanse wetenskapfiksie en fantasie; ‘n onmoontlike droom?

Jy het jou boek klaar geskryf. Daar is ’n ruimteskip in, of miskien geskied jou storie in ’n parallelle werklikheid. Jy stuur jou manuskrip vir die uitgewers…

Jy hoor niks. Die beste wat sommige van ons kry is ’n epos wat sê; “Dankie, maar nee dankie.”

Jy dink terug na al die ure wat jy ingesit het. Erger, jy dink aan die storie waaraan jy so hard gewerk het en wat nou verewig op jou eie rak gaan sit.

Dan vind jy uit dat die uitgewer nie eens die manuskrip gelees het nie. As jy miskien geskryf het vir jong, skoolgaande lesers, het dit miskien ’n kans gehad, maar jou boek was gemik op meer volwasse lesers.

Sommige van die ouer geslag vertel my dat daar destyds ’n gesonde verskeidenheid wetenskapfiksie boeke in Afrikaans was. (Daar was nooit enige lewe in die Afrikaanse fantasie genre gewees nie – wat seker te doen het met ons Calvinistiese vrese vir die magiese! Boe!). Hier in die laat negentigs het die WF-genre heeltemal begin platval. Twee groot skrywers (en ek bedoel GROOT Afrikaanse skrywers) het my laat weet dat hulle tog glo dat uitgewers ’n kans sal waag met WF indien die storie goed is. Ek twyfel nou oor hulle optimisme. Ons grootste uitgewery het nie eens na my manuskrip gekyk nie. Hulle rede?

“In hierdie ouer ouderdomsgroep skryf jy vir ’n nismark en die mense wat hierdie genre lees, lees eerder een van die horde Engelse boeke wat die land binnestroom.”

Mmm…

Nou wat nou?

In my vorige artikel het ek uitgewei op die belangrikheid van hierdie twee genres vir Afrikaans.

Twintig jaar gelede was die Afrikaanse musiek en filmbedryf ’n grap gewees. Niemand (jonk) wou daaraan geraak het nie. Wel, dit is eintlik nie waar nie. Iemand het êrens begin om ’n baie eensame paadjie te loop, in Afrikaans. Daar was geen beloftes nie, net drome. En nou sit ons met twee fenomenale verskynsels. Ja, in die begin was die kwaliteit maar swak gewees (Bakgat, enigiemand?). Jou ouma kon selfs ’n swaarmetaal CD vrystel (te veel voorbeelde hier). Maar weldra het die kompetisie sterker geword en nou sit ons met baie gereelde suksesse (musiek soos K.O.B.U.S!, Straatligkinders… en flieks soos Semi-soet).

Wat het met ons musiek en ons filmbedryf gebeur en hoe kan ons uit ander se suksesse en foute leer?

Ons het baanbrekers nodig. Na Fritz Deelman het ons nie weer ’n sterk fakkeldraer vir ons genre gekry nie. Ons soek ’n gevestigde skrywer wat van bo af iets vir ons ouens hier op die grond kan bewerkstellig. Iemand soos Fanie Viljoen, miskien?

Wees bewus van die hindernisse.  Ek dink die outjies op skool is veral lief vir nuwe idees. Hulle hou van die gevoel van om deel te wees van iets ondergronds, iets wat hulle help uitbou. Hoe anders het Afrikaanse rock ooit momentum gekry? Dit beteken webwerwe, goeie boeke en skrywers wat met passie hulle liefde vir die genre kan laat vlamvat op voetsoolvlak. Dit beteken dat die uitgewers tog reg is in ’n mate; as jonger lesers jou boek ondersteun is jou kop deur. Maar hulle weet wat hulle wil hê en jy moet dit vir hulle kan gee.

Swak kwaliteitsbeheer is ’n groot gevaar! Vir elke slegte Afrikaanse WF of F boek wat gepubliseer word, verloor ons dalk ’n hele klomp mense vir die genre. Ek is van mening dat ’n slegte boek slegter is as geen boek. Dit berokken te veel skade aan ons saak.

My strategie lyk dus so:

1.)    Enkele baanbrekers op die punt van die ysberg, wat help om die genre te laat herlewe in die publieke bewussyn.

2.)    ’n Span skrywers, elk met sy eie sterkpunte en aanslag, wat sonder veel hoop op vergoeding sal aanhou swoeg om boeke vry te stel sodat meer en meer mense die genre begin geniet.

3.)    ’n Groot groep voetsoldate, of Trekkies (ha ha!), wat in skole sal help om die genre te bevorder, skrywers uitgenooi te kry by skole, ens.

4.)    As die beweging momentum kry, sal daar hopelik ’n uitgewer of twee wees wat ’n kans sal waag met ’n minder gevestigde skrywer.

5.)    Al moet ons op ’n ietwat jonger teikengroep fokus in die begin, sal daar dalk later ’n opbloei in belangstelling onder ouer lesers ook plaasvind vir die genre. Dink maar aan die manier hoe kinders Harry Potter en The Hunger Games so sterk gesteun het dat amper elke volwassene nou vertroud is met hierdie boeke.

En weereens, onthou om te vra: Wat sou Fritz Deelman gedoen het?!

So, wat dink jy? Enige voorstelle? Stel jy dalk belang om deel te maak van die Afrikaanse Herlewing in Wetenskapfiksie en Fantasie? (Miskien het ons ’n naam nodig, soos AHWF, of die Deelman Beweging, of Afrikaanse Alien Beweging, hê hê…)

Gooi ’n vonk na my kant toe by ebenvanr@yahoo.ca, of besoek www.ebenvr.blogspot.ca vir nog artikels.

Eben van Renen (Skrywer van Arwantië 2953)