DIE BEGIN -Carel V Boshoff

DIE BEGIN – 2012 © Carel V Boshoff

JEUG WETENSKAPFIKSIE (3 803 woorde)

Hallo, my naam is Danie Steyn. Ek lees graag, maar veral oor Aliens en sulke goeters. Ek dink die heelal is so groot dat daar êrens op ’n planeet waarvan ons nie weet nie ander lewende wesens is. Miskien is hulle groen, miskien het hulle drie voete met twee tone aan elke voet… Maar hoekom vertel ek dit vir jou? Want ek sit nou hier in ’n groot penarie, en niemand sal my help nie, want niemand sal my glo nie.

Ek reken myself nie as ’n gewone mens nie, want een: ek woon op ’n plot sewe kilometers buite die dorp. Twee: my ma en pa is wetenskapfiksie skrywers en wanneer hulle ’n boek skryf, steur hulle hulle aan niks nie. Drie: ek word nie by die skool afgelaai nie – ek moet fietsry. Vier: Ek is mal oor wiskunde.

Toe ek die oggend skooltoe ry, voel ek aan daar is iets fout. Die voëltjies is stil en dit lyk of daar niks lewe in die veld is nie – nie eers ’n briesie nie. Die dorp – Kalkrand – is ook stiller as gewoonlik. By die skool merk ek nog snaakse dinge op. Die Engelse onderwyser sê: “Human, I will punish you,” elke keer as ons iets doen waarvan hy nie hou nie. Pouse lê ek soos gewoonlik in die koelte onder die kareeboom en ek merk weer iets vreemds op: drie verskietende sterre, die grootte van pomelo’s, skiet oor die hemel en los ’n streep donkerblou rook, sodat mens dit net-net kan sien teen die blou lug.

In die Afrikaanse klas stap die onderwyser in en ons begin dadelik met werk.

“Klas, skryf die datum neer, dit is vandag Maandag 11 Julie 2022.” sê meneer Vermaas.

“Wie van julle het, soos ek laas gesê het, gaan dink wat die belangrikste eienskap van Kalkrand is?”

“Die L in die naam, meneer.” sê ek en ’n paar van die skerpsinniges lag.

“Ja, wat is Kalkrand sonder sy L?” sê meneer sarkasties, maar voordat hy my kan straf kom die skoolhoof, Mnr. Malherbe, in die klas ingestap en hy lyk nogal bleek.

“Kinders, daar sal nie môre of die dag daarna skool wees nie, en julle moet nou huistoe gaan. Verdaag!” blaf hy en stap aan na die volgende klas. Die skool verdaag klas vir klas in doodse stilte, maar buite die hek begin almal hardop wonder wat gebeur het en hoekom hulle nie mag weet nie.

Ek werk in die middae na skool in oom Tienie Venter se tuin vir ’n bietjie ekstra sakgeld, want my ouers gee my nie sakgeld nie. Wanneer ek klaar gewerk het, laai hy my fiets op sy bakkie en vat my terug plaas toe. Nou moet ek egter ’n ruk lank self plan maak, want oom Tienie het sy been gebreek en sit nou net voor die TV. Terwyl ek blomme plant, dink ek aan my vriend Zirk. Hy’s nie eintlik my vriend nie, hy is eintlik soort van my penmaat, maar ek hoor die meeste van hom. Al ander mense wat eintlik van hom hoor is uitgewers en my ouers. Hy is ook ’n wetenskapfiksie skrywer en ek het toevallig die foon opgetel toe hy my pa probeer bel het. Van toe af skryf ons vir mekaar briewe. Niemand het hom nog ooit in lewende lywe ontmoet nie en uitgewers het al gesê hulle betaal die ou wat vir Zirk vind en sy regte name kan gee tienduisend rand. In sy boeke smelt aliens weg as mens Coke oor hulle gooi, of hulle kan mense se breine beheer as hulle nie glo dat aliens bestaan nie, maar na ’n paar dae begin die mense weer beheer oor hulleself kry, net vir kort rukkies tussen die tye wat hulle beheer word.

“Jy sit lekka en droom jy nè,” sê oom Tienie skielik agter my uit sy rolstoel. “Dit is al kla sesuur jong. Hie’s jou vyftig rand vi vandag.”

“Dankie oom,” antwoord ek.

“Jammer lat ek jou nie kan ga aflaai nie, maar dis nou wat ’n ou oorkom as jy vi die Stormers skree!”

Ek sien dat oom Tienie nou mik om lank te gesels. “Nee, dis reg, oom. Ek bly maar veilig en skree vir niemand.” sê ek en probeer vinnig wegkom, maar my tekkies wil nie die fietspedale raak trap nie en ek val byna in die nuwe blombedding.

“Lyk vi my ek moet ma regkom voorlat jy ook nog jou been breek jong!” sê oom Tienie. “Hoekom het jy vedag so vroeg gekom?”

“Die skool en sy personeel gaan deur moeilike tye,” boots ek perfek met die hoof se stem een van sy toesprake na.

“Nou ja man, sorg dat jy by die huis kom vorie son sak, my maat!” sê oom Tienie, spyt dat hy nie nog kan gesels nie.

Ek ry met ons dorp se sementstraatjies af totdat ek by die kruising regs draai op die teerpad. Nou lê die lang trap voor. Ek ry lekker vinnig, want die praatjie met oom Tienie het van my tyd gesteel. Ek merk op dat die mielielande geoes word en dit lyk of ’n hele mielieland oor die pad waai. Ek wonder hoekom hier nou sulke sterk wind is, vanoggend was alles dan nog so stil!

Daar is piekniekhouers by die koppie – dit pas nie! In dié slegte weer? Een ding wat ek amper nié opmerk nie, is drie verskietende sterre, hierdie keer so groot soos waatlemoene. Toe ek verby ’n groot land ry, sien ek in die middel van die land drie sirkels, maar ek dink nie regtig daaraan toe ek dit sien nie, want die mieliestof waai in my oë en ek wil net by die huis kom.

Toe ek daar aankom, groet ek my ouers (nie dat hulle iets agterkom nie), sit die radio aan en maak vir my ‘Two Minute Noodles’. Net toe ek wou begin eet, lui die foon.

“Hallo, Daniël Steyn wat praat,” boots ek my pa se stem na.

“Hallo Daniël, dis Gerhard Malherbe van die skool. Ek bring slegte nuus. Victor Clarkson, ons nuwe Engelae onderwyser, het selfmoord gepleeg. Daar sal vir die volgende twee dae nie skool wees nie en die derde dag is sy begrafnis. Die hele skool gaan soontoe.” Die skoolhoof klink moeg. “Jou seun was Victor se topstudent in die Engelse klas en ons sal dankbaar wees as hy ietsie oor sy meneer kan sê.”

“Is dit nou in Engels of in Afrikaans?” maak ek nogsteeds of ek my pa is.

“Afrikaans sal reg wees. Sien julle dan.”

“Totsiens.”

Ek sit die foon neer en net toe hoor ek die nuus op die radio: “Verskeie mense beweer dat hulle vandag VVV’s of Vreemde Vlieënde Voorwerpe gesien het, maar die enigste punt waar die beskrywinge ooreenstem, is in ’n blou rook wat die VVV agterlaat.”

Wat is aan die gang? Ek besluit om agter die kap van die byl te kom. Iets is hier bedrywig en dit kan niks goeds wees nie. Ek haal ’n pen en skryfblok uit en begin neerskryf. Toe ek klaar is kyk ek daarna:

1. Meneer Clarkson tree snaaks op.

2. Ek sien verskietende sterre die grootte van pomelo’s wat blou rook uitlaat.

3. Meneer Clarkson pleeg selmoord.

4. Drie sirkels op ’n mielieland.

5. Op die nuus word vertel van VVV’s wat gesien is.

Al afleiding wat ek kan maak is – al is dit hoe mal – buiteruimtelike wesens veroorsaak die gebeure! Sê nou mnr. Clarkson was, soos in Zirk se boeke, onder beheer van die buiteruimtelike wesens? Dalk het hy in een van daardie kort oomblikke losgebreek van die alienbeheer, en toe pleeg hy selfmoord. Hy moes geweet het dat die aliens hom op ’n manier handig kan gebruik. Dalk het hy reeds vir hulle opdragte uitgevoer! Ek gaan hierdie raaisel oplos.

Net toe ek dit dink, lui my selfoon.

“Hallo, Danie wat praat.”

’n Heserige stem antwoord: “Danie, dis nog net die begin. Onthou net altyd: jy’s nie alleen nie.” en dan klik die foon aan die ander kant en ek sit ook neer.

* * *

PRRRR, PRRRR, PRRRR. Wie sal my nou wakkerbel?

“Danie Steyn hallo.”

“Danie, Danie pasop! Hulle het my, hulle ga oorneem! Daar’s ’n manier om hulle te stop… dis oom Tienie… Stop hulle met die wapen… mnr Clarkson… soek daarvo…” Stilte.

“Hallo…? Oom Tienie is oom nog daar? Hallooo!”

“O hallo Danie! Ek wou net hoo of jy vemiddag wee in my tuin ka kom werk. Iemand het wee met sy karwiele in my blombedding kom trap.”

“Reg oom, ek sal kom.”

“Dankie, hoo?”

“Ja oom, tatta.” sê ek en sit die foon neer. Dis baie vreemd. Wat gaan met oom Tienie aan? Dit het soos twee verslkillende mense geklink, maar dit was tog albei kere sy stem! Is oom Tienie dalk ook… Dit kan nie wees nie, oom Tienie!

Maar as oom Tienie onder hulle beheer is en hy weet dat daar ’n wapen is, het meneer Clarkson ook seker geweet, maar dit beteken dat oom Tienie die aliens een of ander tyd na die wapen gaan lei. Ek moet die wapen kry voor hulle dit kry.

Skielik onthou ek van die drie sirkels gister op die mielieland. Ek moet gaan ondersoek instel. Ek spring op my fiets en begin ry, maar stop dadelik, want ek onthou dat ek nog nie aangetrek is nie. Ek trek gou aan en borsel my tande. Dan spring ek op my fiets, maar ek trek nog nie weg nie, want ek hoor my hond agter in die erf blaf. Ek moet maar gou gaan kyk wat dit nou weer is. Toe ek om die hoek loop, sien ek iets vreemds: ’n kort skraal figuurtjie, omtrent so hoog soos een van my bene, met ’n groot kop en in plaas van ore net twee gaatjies langs sy kop. Maar toe ek behoorlik wou kyk, is hy weg…

* * *

Ek val in my kamer op my bed neer en bewe nogsteeds van die skok. Ek het ’n alien gesien! Ek skrik myself amper morsdood toe my foon lui.

“Danie hier, hallo.” sê ek.

“Dis nog net die begin, Danie, onthou net altyd jy is nie alleen nie,” en dan sit die ou aan die anderkant neer…

Sover het alles gebeur soos wat dit in een van Zirk se boeke sou gebeur het. As Zirk se boeke verder reg is, laat Coke aliens wegsmelt. Dit beteken dat ek ’n watergeweer en ’n tweeliter bottel Coke moet kry – dit is wat ’n ou in een van Zirk se boeke gedoen het.

Met my watergeweer vol Coke onder my baadjie weggesteek, gaan ek weer verby die mielieland ry, net om seker te maak die drie sirkels is nog daar. Hulle is nog steeds daar. Ek verken die area rondom die mielieland met die gedagte dat ek vanaand weer sal kom. Rondom die mielieland kry ek niks verdags nie. Oppad huistoe is daar ’n paar hekke waardeur ek moet ry. By die hek naaste aan ons huis spring daar iets op my en stamp my van my fiets af. In die skemerlig sien ek dit is so ’n mannetjie soos in ons tuin waarvoor my hond geblaf het, maar nou is sy slagtande ontbloot en hy het sulke lang naels dat hy my keel kan afsny. Ek pluk my watergeweer uit en spuit die alien op sy voorkop. Die ding rol van my af en begin skuim soos ’n slak waarop daar sout gegooi is. Ek ril toe ek daarna kyk, maar ek voel iets teen my voorkop afloop. Dit sal seker bloed wees van die val. Ek tel my fiets open ry huistoe. By die huis aangekom ontsmet ek my seerplekke en sit salf op. Mens weet nooit wat kan gebeur as jy met aliens in aanraking was nie.

Nou moet ek myself gereed maak vir vanaand. Twee waterpistole vol Coke steek ek weg onder my baadjie en een klein waterpistooltjie, ook vol Coke, steek ek in my skoen weg. Ek sit ’n motorfiets helmet op en trek staalpuntskoene aan. Ek dink aan die ou wat my gebel het en gesê het dat ek nie alleen is nie. Wie sal dit wees? Dalk moet ek hom bel en sê ek gaan vanaand weer na die sirkels toe.

Hy antwoord sommer dadelik die foon.

“Hallo?” sê hy.

“Hallo dis Danie. Ek gaan vanaand.”

“Reg Danie. Onthou net, jy is nie alleen nie.” Sê hy en sit die foon neer.

* * *

Ek kruip tussen die mielieplante deur na die drie sirkels wat ek vroeër gesien het. Toe ek naby kom, sien ek daar staan drie vreemde goed. Dit lyk soos ek altyd gedink het VVV’s moet lyk. Ek sluip eers nader aan die voorste een, toe sien ek ’n wag heen en weer loop voor die VVV. Ek sluip nog nader, met ’n waterpistool in my hand. Net toe die wag my sien, spuit ek hom in die oog en hy begin ook wegsmelt. Toe kry ek ’n briljante idee: ek moet maak asof hulle my beheer en dan vat hulle my in die VVV in! Dan moet ek gou die skuimende wag wegvat, anders sal hulle weet ek het Coke by my. Ek doen dit en net toe ek terugkom tussen die mielies uit waar ek die wag gesit het, kom daar ’n alien uit die VVV. Sy oë flikker heen en weer toe hy my sien.

“Rapporteer vir diens” antwoord ek vinnig in ’n gehipnotiseerde stem en hoop maar dit sal werk.

“Van nou af sal jy alles doen wat ek vir jou sê,” sing hy. Ek weet nie wat om te maak nie en staan maar stil. “Volg my.” gebied hy. Ek marsjeer agter hom aan. “Kaptein, kyk wat vang ek hier buite. Dis ’n mens. Sit,” gebied hy en ek gehoorsaam.

“Aha, Danie! So gaaf van jou om te kom kuier!”

Die alien voor hom het uit sy stoel uit opgestaan en kom staan nou reg voor my.

“Jy sal hom nie kan beheer nie Zzuyn, hy weet lankal van ons.” Praat hy met die alien wat my ingebring het.

“Danie,” rig hy weer op my. “Dit is so aangenaam om jou in lewende lywe te ontmoet! Jy wonder natuurlik hoekom ek nou so lyk en hoe ek jou ken? My naam is Zirk, aangename kennis.”

Zirk!! Ek het so baie vrae maar al wat ek uitkry is: “Wat????”

“Ja Danie, dis baie vreemd vir jou dat jou gunsteling skrywer ’n – soos julle dit noem – alien is nè? Nou sit rustig, want ek het ’n lang storie om vir jou te vertel. Ons planeet, Zureuase, het net soveel gewone en onskuldige zoebels, soos ons onsself noem, soos julle s’n, maar ons planeet se suurstof het begin opraak. Twintig jaar gelede is ’n groep van ons deur die heelal gestuur op soek na nog ’n planeet met suurstof. Ons het hierdie een gesien, maar toe ons gesien het hier is lewende wesens, het ons maar verder gesoek. Ses jaar gelede het ek egter ’n boodskap ontvang dat die probleem dringend raak. Ons het hiernatoe teruggekeer en gewag vir ander wat kan kom help om die planeet oor te neem.

“Toe het ons met projek Alfa Beta begin. Al die fratsongelukke sedertdien is deur ons veroorsaak. Nou moes ons ernstig begin werk, want baie zoebels is al dood van te min suurstof op ons planeet. Die probleem is: julle het ’n wapen wat ons kan keer om met ons plan aan te gaan. Jou meneer Clarkson was te slim vir ons, maar liewe oom Tienie is lief vir sy lewe. Die ding is, die afgelope tyd sonder suurstof het ons anders begin vorm. Die babas moet ’n sekere dieët van pipperment gevoer word. Dit veroorsaak dat ons nie meer bene in ons lyf het nie, maar ons vel is amper kliphard. Weet jy wat gebeur as mens ’n pipperment in Coke gooi? Nou, dieselfde ding gebeur met ons as Coke met ons in kontak kom.”

Ek besef hoe langer ek hom aan die praat hou hoe beter. “Nou hoekom neem julle die aarde oor? Julle doen ’n gruweldaad net vir jul eie voortbestaan!”

“A ja, net soos julle, verkies ons ons lewe bo enige ander wesens se lewens. Ons glo dat ons belangriker as julle is, terwyl julle glo dat julle weer belangriker as ons is. Nie een van ons kan bewys dat ons reg is nie.” Antwoord Zirk op my vraag.

Ek kry skielik ’n ingewing. Ek pluk altwee die Coke-pistole uit, skiet vir Zirk en Zzuyn en dan sprei ek dit uit oor die masjienerie. As ek geweet het wat sou gebeur het, sou ek dit nooit gedoen het nie. ’n Reuse ontploffing vind plaas en ek word weggeslinger, die grond wat ek tref is definitief buite die mielieland, en dan word alles swart…

* * *

Ek word wakker in my bed. Alles was ’n droom! Ek kan nie glo nie! Meskien moet ek minder ‘Two Minute Noodles’ eet! Skielik lui my foon.

“Danie, goeiemôre.” antwoord ek.

“Danie, gisteraand was nog net die begin. Onthou net altyd: jy is nie alleen nie.”

* * *

Ek is oppad na oom Tienie. Ek wil kyk wat met hom gebeur as hy Coke drink. Toe ek by sy huis kom en ek klop aan die deur, tree hy nogal snaaks op. Sy hare is deurmekaar en mens kan ruik hy het nog nie tande geborsel nie.

“Jy is net betyds om sammet my ’n koppe’koffie te drink. Kom binne jong.”

Ek sal maar eers ’n bietjie moet wag met die Coke. Ek stap by die huis in en oom Tienie bring vir ons koffie. Nou gaan ek toets of oom Tienie deur aliens beheer word.

“Oom, hoe gaan dit met oom se siek ma?” vra ek sonder om eens te kyk na die koffie wat hy vir my neergesit het.

“Dit gaa bete dankie Danie.” Sê hy. Ha-ha! Oom Tienie het nie eers ’n siek ma nie! Op my gesig wys daar egter niks nie. Toe ek afkyk na my koppie vang my oog iets op die piering. Dit is ’n opgevoude papiertjie. Ek tel dit ongemerk op en vou dit oop:

Jy het nie gedink ek sou nie ’n plan gemaak het teen daardie soort ding nie! Zirk.

Na die koffie hoor ek of ek vir oom Tienie ’n glasie Coke kan ingooi.

“Oom sal oom hou van ‘n lekker glas Coke?” vra ek.

“Ag ja jong, maar ek het net nie nou nie.” Antwoord hy.

“Moenie bekommer nie oom, ek het saamgebring.” Së ek en gaan gooi vir ons gou glase in. Ek wag in spanning om te sien wat hy doen.

Oom Tienie ledig die glas byna in een asem en hou dit vir my uit. Sy oë kyk bo-oor my kop. Hy lyk skielik moeg en ek begin spyt kry. Die oom is eintlik al oud.

“Die grot op die koppie wapenwagte… Clarkson se huis…” dan raak hy aan die slaap. Vreemd, watter wapenwagte? Ek dink: volgende na meneer Clarkson se huis toe.

* * *

Mnr. Clarkson se huis is ’n gemors. Alles lê op die grond en die tafel is omgekeer. Wie sou dit nou gewees het? Ek stap dadelik na sy studeerkamer. Hier is ook papiere rondgestrooi en al die lessenaarlaaie oopgetrek. Ek kyk bolangs rond, maar weet nie eitlik waarna ek soek nie. Ek sien die Shakespeare-beeldjie op die boekrak, wat mnr Clarkson al by die skool vir ons gewys het toe ons oor Romeo en Juliet gelees het. Hy was ’n groot Shakespeare-bewonderaar, dink ek met heimwee.

Waar sou mnr Clrkson iets sit wat hy wou wegsteek? Ingedagte tel ek die beeldjie op. Ook maar half bles gewees, die Shakespeare. Onderaan is ’n inskripsie en ek tiep die beeld om dit te lees. My vingers gly oor ’n ronde rand onder die beeld, so groot soos ’n 5-randstuk. Ek draai die beeld heeltemal om en probeer die rand skuif en draai. Dit kom sowaar los! ’n Silindervormige holte verskyn onder die skyf. My vingers voel rond en ek trek ’n opgerolde papier daaruit. Ek rol dit oop en lees:

Navorsing: Babel

Die buiteruimtelike wesens se breine is op frekwensie 787.2 ingestel sodat hulle mekaar kan veerstaan druk rooi knop op omskakelingswapen; grootte selfoon; dit sal wesens se frekwensie deurmekaar maak en hulle keer om met mekaar te kommunikeer.

Ek dink weer aan wat oom Tienie gesê het. Wag ’n bietjie! Daardie mense wat nou die dag daar op die koppie in die slegte weer kastig piekniek gehou het! Oom Tienie het nog vroeër van die wapen gepraat. Waar sal hulle dit wegsteek? Natuurlik, die klein grot! Ek ken die plek al van my kleintyd af.

* * *

Op die koppie – met ’n watergeweer vol Coke – stap ek na die grot toe. Ek verwag natuurlik ’n wag daar. Ek kruip nader, agter klippe versteek, nader aan die grot. Ek loer rondom die klip, maar trek my kop dadelik weer terug. Dit is te veel! Ek het so twee verwag, maar daar is ontrent tien! Ek kyk weer, en sien dat hulle eintlik tussen my en die grot staan. Ek draf vinnig agter ’n paar klippe verby, dan nael ek op die plat klipplaat wat amper soos ’n tuinpaadjie reguit na die grot toe lei. Ek raap ’n bruinpapiersakkie op – ek raai maar die wapen sal daarin wees – en haal die ding uit, maar net voordat ek kan druk, staan Zirk voor my.

“Jy het so baie van my boeke gehou, Danie. Al daardie stories is waar! Dit het op ons planeet gebeur. Ons benodig net suurstof. Dink aan Janoetz – die zoebel wat kinders gered het uit die vuur op Himmutzheuwel. Dink aan die Familie Krutz wat al die avonture in die Zasterwoud beleef het. Danie, hulle almal leef! Ten minste nou nog – maar hulle sal sterf as ons nie dringend suurstof na die Zureuase-planeet kan stuur nie. Danie…….!!!!!”

* * *

Ek sit rustig in ’n leunstoel in die Uniegebou in die president se kantoor. Hier word nou ’n hoogsgeheime kontrak geteken. Net die Eerste Minister, die Staatssekretaris, die Staatsprokureur, die President en Zirk is daar. Daar word ’n ooreenkoms gesluit dat planeet Aarde vir die Planeet Zureuase suurstof sal verskaf wat deur plante vervaardig word. Om die waarheid te sê, die Ruimte Navorsingsvereniging het begin bou aan ’n sentrum waar suurstof spesiaal en uitsluitlik vir uitvoer na Zureuase vervaardig sal word. Hulle noem dit GroenO2 bpk. Zirk staan op ’n houtleertjie wat die President spesiaal vir hom gekry het – om te kan teken.

Eers teken die president en dan Zirk. ’n Vredes- en samewerkingsooreenkoms met ’n uitvoerkontrak daarby. Ek voel baie trots – ek het vir Zirk aan die president voorgestel. Nou klink almal ’n glasie wyn en ek kry druiwesap.

  • Chantal

    alien= Vreemde wese, klink beter. Ek het van die storietjie gehou.