Die Maan

Behalwe vir die Aarde, die derde planeet van die ster Sol, kon die mens dit nog net regkry om een ander plek in die heelal te besoek – die enigste maan van hierdie bepaalde planeet. En die maan is natuurlik die heel naaste liggaam in die heelal aan die Aarde self, ‘n blote 400 000 kilometer vêr. Dít is egter veel verder as wat dit klink. Min mense besit byvoorbeeld ‘n motorkar wat hulle nie verkoop voordat hulle daardie afstand met die motor gery het nie. En indien hulle wel ‘n motor so lank ry, word daardie afstand oor baie jare gery, word die motor vele kere gediens en word baie onderdele vervang gedurende daardie tyd. Dit is gevolglik uiters indrukwekkend dat die reis van die Aarde na die maan in bloot ‘n paar dae kan geskied. Die meeste kiekies wat beide die Aarde en die maan wys is nogal misleidend en toon nie ‘n getroue skaal nie. Die volgende beeld toon die werklike afstand tussen die twee liggame aan en is deur die Mars Odyssey sendig geneem op ‘n afstand van sowat 3,5 miljoen kilometer – dit bring die omvang van hierdie afstand beter in fokus.

In die ruimte is dit egter ongelooflik naby, maar selfs net dít word deur baie beskou as die grootste deurbraak wat tot nog toe deur die mens bereik is. Dit is inderdaad só groot dat baie van mening is dat dit nooit eens werklik plaasgevind het nie en dat dit alles bloot ‘n grootskaalse klug was wat deur ‘n owerheid opgetower is.

Tog, ten spyte van die nabyheid van die maan, sal dit baie uitdagings inhou om ‘n permanent bewoonde basis daarop te bedryf. Een van die grootste probleme is die uiters klein swaartekrag van die maan – slegs omtrent 16% so sterk soos dié van die Aarde. Twyfel bestaan of mense langdurig in sulke lae swaartekrag kan bestaan sonder dat dit gesondheidsimplikasies sal inhou.

‘n Tweede probleem is die daglengte op die maan. Die dag (en dan natuurlik die nag ook) duur vir omtrent ‘n maand elk. Dit klink nie so erg nie, want op die suidpool van die Aarde byvoorbeeld is dit nag vir omtrent ses maande op ‘n slag. Die verskil is egter dat op die Aarde se suidpool dit nooit heeltemal donker word nie – die verstrooiing van lig in die atmosfeer veroorsaak dat nag op die suidpool steeds skemerlig het. Op die maan is dit egter nie die geval nie. Sodra dit nag word, is dit totaal donker – weens die afwesigheid van ‘n atmosfeer. Binne ‘n basis sal daar natuurlik kunsmatige lig wees, maar daarbuite (indien dit nodig mag wees om uit te gaan) sal dit stikdonker wees. Ook die temperatuur op die maan verskil drasties (en onmiddelik) tussen dag en nag, en ‘n maanpak sal definitiewe verhitting moet hê om lewensondersteuning in die nag te bied – wat natuurlik die batterykrag vinnig sal opgebruik en die toegelate tyd buite ‘n basis aansienlik sal inperk.

Dan is daar natuurlik ook ‘n grootliks afwesige magnetiese veld wat deur die maan self opgewek word. Die implikasie hiervan is dat daar aansienlik minder beskerming bestaan vir mense op die maan teen die gelaaide deeltjies wat geduring van die son af voortvloei deur die sonnestelsel, en soms gedurende uitbarstings baie hoë en gevaarlike vlakke kan bereik.

‘n Verdere implikasie van die afwesigheid van ‘n atmosfeer, is dat selfs die kleinste meteoriete uit die ruimte die oppervlak van die maan teen ‘n baie hoë spoed kan bereik. Anders as die Aarde, waar die meeste kleinerige deeltjies in die atmosfeer verbrand voordat dit die oppervlak kan bereik, word die maan chronies bestook vanuit die ruimte. Klein  deeltjies klink nie gevaarlik nie, maar wanneer dit teen die spoed van ‘n koeël uit ‘n geweer beweeg, kan die implikasies katastrofies wees.

Vroeë planne het voorgestel dat die basis onder die oppervlak van die maan gebou word, of bedek word met die los materiaal wat op die oppervlak van die maan teenwoordig is. Dit sal baie help om beskerming te bied teen die impak van projektiele uit die ruimte, asook met die termiese insulasie van die basis. Dit sal selfs kan help met beskerming teen skadelike hoë energie deeltjies vanaf die son.

Daar is geen fossiel brandstowwe op die maan nie, en daar is geen wind nie. Die moontlikhede om elektrisiteit te ontwikkel op die maan is min. Hoewel sonkrag gebruik kan word, is die nagte so lank dat dit nie regtig prakties is nie – daar kan nie genoeg energie in batterye gestoor word vir sulke lang tydperke nie. Kernkrag is waarskynlik die ooglopende uitweg, maar gaan natuurlik met sy eie gevare en uitdagings gepaard.

‘n Verdere probleem is dat daar geringe hoeveelhede van die meer vlugtige stowwe, soos waterstof en suurstof, op die maan teenwoordig is. Die geringe hoeveelhede bevrore water op die pole van die maan kan moontlik daarvoor gebruik word, maar sal waarskynlik aangevul moet word vanaf ander bronne soos die Aarde of uit asteroïede.

Die voordele van die maan as ‘n bestemming vir kolonisasie deur die mens, is die nabyheid daarvan aan die Aarde en die lae ontsnapspoed wat voordelig sal wees vir die lansering van ruimtetuie van daar af.

Behalwe vir die tegniese uitdagings egter, is ‘n verdere nadeel dat die maan moontlik té naby aan die Aarde is. ‘n Katastrofe wat die Aarde bedreig kan moontlik ook ‘n gevaar vir die voortbestaan van ‘n basis op die maan inhou.

Dit bly egter een van die tegnies haalbaarste bestemmings vir die mens, en beide Rusland en Japan het te kenne gegee dat hulle oorweging skenk aan ‘n basis op die maan.

[spacer height=”20px”]

Kyk na ander moontlikhede om die mens te vestig in die Sol-stelsel.