Mars

Mars was die Romeinse god van oorlog. In die Griekse mitologie was dit egter Ares, wat ‘n tweeling seuns gehad het Fobos en Deimos, na wie die twee mane van Mars vernoem is. Hulle was die verpersoonliking van vrees en paniek onderskeidelik en het hul pa vergesel in oorlog. Fobos en Deimos is twee asteroïede wat deur Mars se swaartekrag vasgevang is, en is onreëlmatige kleinerige voorwerpe is – anders as die maan van die Aarde.

Mars is een van die heel naaste planete aan die Aarde en daarom beskou baie dit as die mees geskikte bestemming vir ‘n bemande basis, naas die maan. Daar is ook ‘n verbysterende hoeveelheid WF wat handel oor Mars as ‘n bestemming vir menslike sendings of kolonisasie – selfs in Afrikaans.

Mars bied twee vername voordele vir kolonisasie bó die maan. Die eerste is dat die swaartekrag op Mars meer as dubbel so sterk is as dié van die maan, hoewel dit slegs sowat 38% so sterk is as op Aarde. Uit dié oogpunt is dit dus veel meer geskik, maar oor tyd sal self hierdie vlak van swaartekrag moontlik nadelige gevolge op die mens hê, soos dat spierkrag kan afneem, of dat groei waarskynlik anders sal verloop as op Aarde.

Die tweede voordeel van Mars is dat die daglengte amper presies dieselfde is as op Aarde, met ‘n dag wat omtrent 25 uur lank is. ‘n Dag op Mars staan bekend as ‘n sol. Dit sal dus min aanpassing van die mens verg om by die dag-nag siklus van Mars aan te pas – wat ‘n meer belangrike faktor is as wat dit mag voorkom. Hierdie voordeel alleen kan van Mars moontlik ‘n meer geskikte bestemming vir kolonisasie maak as die maan.

Die belangrikste probleem op die huidige stadium van menslike tegnologie, is die afstand vanaf die Aarde. Hoewel dit een van die naaste bure is van die Aarde, is dit só vêr dat die reis daarheen, afhangend van die aannames wat gemaak word, maande lank kan duur en dat die reis alleen dus talle uitdagings en risiko’s inhou.

Anders as in die geval van die maan wat om die Aarde wentel, sodat die afstand tussen die hulle redelik konstant is, wentel beide die Aarde en Mars om die son. Tydens die omwenteling van die Aarde en Mars om die son, bevind die twee planete hulle soms aan dieselfde kant van die son en is die afstand tussen hulle op ‘n minimum. Op ander kere is die Aarde aan die een kant van die son, en Mars aan die teenoorgestelde kant van die son – dan is die twee planete ongeveer vyf keer verder van mekaar verwyder. Die gevolg hiervan is dat ‘n tog tussen die Aarde en Mars nie op enige tyd onderneem kan word nie, maar dat daar gewag moet word tot die plasing van die twee planete gunstig is ten opsigte van mekaar, sodat die afstand en tyd vir ‘n reis op ‘n minimum is. Mars en die Aarde ondervind ‘n gunstige oriëntasie ten opsigte van mekaar omtrent elke twee jaar – so ‘n reis van die een na die ander is dus slegs een keer elke twee jaar moontlik. Dít is ‘n belangrike faktor wat in die totale beplanning in ag geneem moet word, want dit affekteer nie net die aanvanklike vestiging van mense op Mars nie, maar alle sendings om voorrade aan te vul of hulp te verleen.

Hierdie probleem beïnvloed ook natuurlik hoe lank dit neem om ‘n boodskap tussen die Aarde en Mars te stuur, en dit kan so kort soos 4 minute wees, of so lank soos 24 minute – in een rigting!

‘n Ander probleem met Mars is dat ‘n magneetveld grootliks ontbreek. Dit wil voorkom dat Mars wel vroeër self ‘n magneetveld ontwikkel het, maar dat dit later hierdie vermoë verloor het. Sonder ‘n voldoende magneetveld kan die planeet toenemend sy atmosfeer verloor en is lewe blootgestel aan die hoë energie bestraling vanaf die son.

Soos die Aarde het Mars seisoene en pole wat met ys bedek is. Selfs wolke, soos die yswolke wat in die volgende animasie gesien kan word.

Mars se atmosfeer is uiters gering gemeet teen die Aarde s’n, slegs sowat 0,6% dié van die Aarde. Die implikasie hiervan is dat die marspakke dieselde drukverskille moet kan hanteer as vir die diepruimte, net soos in die geval van die maan. Ten spyte van die geringe atmosfeer kom daar egter hewige stofstorms voor, en kan die sonlig vir so lank as ‘n maand uitgedoof word. Dit plaas aansienlike beperkings op ‘n habitat en dit beteken dat dit soms vir ‘n maand nie moontlik sal kan wees om die basis te verlaat nie. Ook beteken dit dat ‘n basis nie enkel van sonkrag afhanklik sal kan wees vir elektrisiteit nie – ander bronne sal dus ook gebruik moet word.

Weens die relatiewe nabyheid van Mars aan die asteroïedgordel, sou Mars ‘n goeie basis wees vanwaar die asteroïede gemyn kan word, hoewel daar heelwat grondstowwe en selfs ys op Mars beskikbaar is.

Die rooi skynsel van die planeet se oppervlak is weens ysteroksiedverbindings van suurstof met yster in die kors van Mars – soortgelyk aan die roes van yster op Aarde. Die suurstof wat in die molekule gebind is, is ‘n groot voordeel, want die suurstof kan deur prosesse daaruit onttrek word vir asemhaling en ander gebruike. Dit kan ook nie “verdamp” vanaf die planeet in die ruimte in nie, ten spyte van die afwesigheid van ‘n sterk magneetveld.

Mars is ook die tuiste van die hoogste berg in die sonnestelsel – berg Olimpus. Dit is ongeveer 2½ keer so hoog soos berg Everest op Aarde, en is die oorblyfsels van ‘n reuse vulkaan.

Een van die interessantste ontdekkings op Mars, veral uit ‘n wetenskapfiksie-oogpunt, is Sidonië – ‘n streek waarop eienaardige vorms gesien kan word.

Sekere van die eienskappe op die oppervlak van die Sidoniese streek lyk baie soos vyfhoekige piramiedes, en die bekende gesig op Mars kan in die boonste regterhoek gesien word. Hierdie ontdekking het aanleiding gegee tot baie spekulasie, bewerings en baie WF.

NASA dring egter daarop aan dat die gesig bloot die gevolg is van skadu’s wat die son op die tydstip waarop die kiekie geneem is, veroorsaak het en dat ander kiekies op ander tye nie dieselfde beeld opgelewer het nie. Dit gryp egter die verbeelding aan en dit is ooglopend waarom skrywers van wetenskapfiksie baie verhale rondom hierdie merkwaardige plek in die sonnestelsel sou weef.

Mars word ernstig ondersoek as ‘n moontlike kandidaat vir terravorming – ‘n proses waardeur dit leefbaar gemaak kan word vir menslike verblyf. Dit behels hoofsaaklik dat die atmosfeer “herstel” moet word deur chemiese stowwe toe te voeg en energie met spieëls uit die ruimte op die planeet te skyn om die temperatuur te verhoog totdat dit ‘n punt bereik dat die pole se bevrore stowwe deel word van die atmosfeer. Die atmosferiese druk verbeter dan ook sodat die druk, temperatuur en gassamestelling gunstig word vir mense. Suurstof sal aangevul moet word vanuit die oksiedverbindings in die kors van die planeet. Dit alles sal natuurlik niks help indien die magneetveld nie herstel kan word nie. Vir dié doel word ‘n stel supergeleierringe op die oppervlak van die planeet (naby die ewenaar) voorgestel waarin ‘n gelykstroom opgestel kan word, om die magneetveld te ontwikkel.

Mars is steeds ‘n teiken vir menslike sendings, of selfs kolonisasie, deur meeste ruimteagentskappe, en NASA se planne is tans vir 2030. Selfs die inspirerende (Suid-Afrikaans gebore) Elon Musk het ambisieuse planne om teen relatief lae koste mense op die rooi planeet te plaas en ‘n nedersetting te stig vir uiteindelik ‘n miljoen mense, gee hoop vir hierdie ideaal. Hoewel dit baie belowend klink, moet mens nie vergeet dat werklike planne om hierdie doelwit te bereik al vir die afgelope 70 jaar op die kaarte van groot lande en agentskappe was nie – sover sonder enige beduidende sukses. Die tegniese uitdagings, wat lei tot ekonomiese uitdagings, moenie onderskat word nie – maar een of ander tyd sal die voëltjie die nes moet verlaat…

[spacer height=”20px”]

Kyk na ander moontlikhede om die mens te vestig in die Sol-stelsel.