Mercurius

Mercurius is die kleinste van al die liggame in die Sol-stelsel wat as ‘n planeet gereken word. Hoewel dit in fisiese afmeting vergelykbaar is met die maan van Aarde, is dit in terme van massa meer soortgelyk aan Mars.

Van al die moontlike plekke om ‘n teenwoordigheid te vestig, is Mercurius moontlik die mees onwaarskynlike van almal. Die naaste planeet in die sonnestelsel aan die sentrale ster, word gekenmerk deur hoë vlakke van bestraling vanaf die son, baie hoë temperature aan die sonkant en uiterse lae temperature aan die skadukant. Sonder enige atmosfeer en ‘n lae swaartekrag, lyk dit na ‘n absolute laaste uitweg.

Ja, Mercurius het reeds in die verre verlede sy totale atmosfeer verloor weens sy nabyheid aan die son, en omdat beide sy swaartekrag en magneetveld te klein is om dit te behou. Tans lyk die oppervlak van Mercurius soos dié van die maan, maar daar is tog sekere moonlikhede wat dalk wel oorlewing op hierdie klein, dog dodelike planeet moontlik sou kon maak.

Die eerste interessante en fantastiese moontlikheid kom voor in Kim Stanley Robinson se WF-boek 2312, waarin hy ‘n habitat op ‘n spoorstelsel voorstel. Die spoorstelsel strek reg rondom die planeet en die habitat, wat aan ‘n trein herhinner, beweeg die heeltyd voor die son uit om dus net-net in die skemerlig op die terminator van die planeet te bly om sodoende die bestraling en hoë temperature te vermy. Die “stad” wat logies Terminator genoem word, bly vorentoe rol op die spoor. Die aandrywing word moontlik gemaak deur die verhitting van die spoor deur die son wat die spoor laat uitsit in hoogte, wat daartoe lei dat die trein “afdraand” (voorentoe) rol in die skaduwee van die terminator in. Lig en energie vir die habitat kan vanaf daardie punt wat die naaste aan die sonlig is, met spieëls of optiese vesel versamel en versprei word.

Hoewel hierdie idee sekerlik nie onmoontlik is nie, is dit uiters uitdagend en sal die konstruksie van ‘n spoorstelsel wat reg rondom ‘n planeet strek die mees toegewyde onderneming van die mensdom verg. Die groot muur van Sjina het omtrent twee millenniums geneem, en dit verteenwoordig maar ‘n breukdeel van die spoorlyn wat benodig sal word. Dít, ten spyte van die feit dat arbeid en grondstowwe geredelik beskikbaar was…

Gelukkig bestaan daar ook meer konvensionele moontlikhede. Die rotasie-as van Mercurius is baie min gekantel sodat ‘n klein gebied by die noordpool van die planeet permantent in skadu gehul is en dus beskerm word teen baie van die bestraling en die hoë temperature. Selfs meer verstommend is die feit dat sendings na Mercurius bevestig het dat daar in kraters binne hierdie gebied selfs ys van water voorkom!

In die voorstelling hierbo, dui geel die ys aan. Dit sou moontlik wees om ‘n habitat in hierdie gebied te skep, met sonenregie wat naby genoeg is om deur die basis benut te word. Omdat die intensiteit van die sonlig veel hoër is as op Aarde, sal die hoeveelheid krag wat daaruit geput kan word tipies vyf keer hoër wees as op Aarde – wat die nodigheid van kernkrag totaal vermy.

Daar bestaan egter ook ‘n verdere moontlikheid. Bewyse dui daarop dat daar moontlik vulkaniese buise onder die oppervlak van die planeet bestaan, soos hierdie voorbeeld uit Noord-Amerika.

Indien dit wel die geval is, sou sulke buise afgeseël en ingerig kan word vir menslike gebruik. Omdat só ‘n habitat onder die oppervlak sal wees, sal dit aansienlike beskerming teen beide bestraling en temperatuurskommelings bied.

Maar, sou daar ‘n motivering wees om ‘n kolonie op Mercurius te vestig? Wel, soos in alle sake is daar voor- en nadele. Mercurius beskik oor ‘n groot minirale rykdom. 70% van Mercurius bestaan uit metaal vergeleke met die 40% van die Aarde. Mercurius het ook ‘n laer swaartekrag as Venus wat lansering makliker maak sodat stowwe wat gemyn word makliker versend kan word. Omdat Mercurius ook veel nader aan die Aarde kom as die asteroïdgordel (drie maal nader), sal dit ook ‘n voordeel wees in terme van koste en tyd. Selfs meer voordelig is die vinnige beweging van Mercurius om die son, sodat ‘n gunstige oriëntasie tussen Aarde en Mercurius meer gereeld voorkom as vir Mars of Venus. Die geleentheid om tussen Mercurius en Aarde te reis kom drie keer per jaar voor, teenoor een keer elke 1½ jaar vir Venus en een keer elke twee jaar vir Mars.

Een probleem met kolonisasie van Venus is grondstowwe (sien Venus). Mercurius kan daardie probleem oplos met hierdie twee planete wat relatief naby aan mekaar beweeg.

Een reuse voordeel van Mercurius is die groot hoeveelhede sonenergie. Dit sou teoreties moontlik wees om dit te versamel en met laser na ander dele van die sonnestelsel te stuur, waarskynlik deur intermediêre herhalerstasies tussenin. Óf, die energie kan op Mercurius self ook gebruik word om die materiale reeds daar te verwerk sodat klaar verwerkte materiaal daar vandaan uitgevoer kan word. Selfs nog beter, sou fabrieke daar gebou kon word sodat vervaardiging van produkte op Mercurius self kan plaasvind en bloot die finale produkte uitgevoer word.

[spacer height=”20px”]

Kyk na ander moontlikhede om die mens te vestig in die Sol-stelsel.