Onderwater

Hoewel die ooglopende antwoord vir die oorlewing van die mensdom buite die aarde te vinde is, is dit natuurlik nie die enigste moontlikheid nie. Baie van die probleme van die mensdom het te doen met die moontlike onvermoë om genoeg voedsel te produseer, wat weer op sy beurt teruggevoer kan word na die probleem dat die mens self al die spasie opgebruik en daar eenvoudig nie genoeg landbougrond beskikbaar is nie.

Hierdie probleem kan natuurlik wel aangepak word deur meer kompakte stede te bou met hoër geboue, maar die see moet natuurlik nie gesien word as ‘n ontoeganklike plek nie. Tewens, baie mense kan op skepe gehuisves word op drywende stede wat op een plek vasgeanker word of wat dalk permanent kan rondvaar en altyd op pad is na nuwe bestemmings.

Maar die moontlikheid van ‘n onderwater habitat vir die mens is ‘n tema wat dikwels in wetenskapfiksie voorkom.

Siende dat sowat 71% van die oppervlakte van die aarde met water bedek is, kan baie spasie vir landbou beskikbaar gestel word indien mense eerder in, of op die water  sou woon.

Tot ‘n groot mate het die mens die wêreld van water reeds oorwin op verskeie fronte. Die ontginning van hulpbronne vir die gebruik op land vind al vir eeue lank plaas. Die mees ooglopende vorm van ontginning is natuurlik die vang van vis vir voedsel, maar ander ontginning vind ook toenemend plaas. 

So byvoorbeeld is dit algemeen om oliebore aan te wend om olie- of gasvelde onder die seebodem te ontgin.

Maar natuurlik kan ander grondstowwe ook in die see ontgin word. So word diamante aan die kus van Namibië ontgin deur die sand van die bodem af op te suig, die diamante te onttrek en die sand weer terug te plaas op die bodem van die see.

Daar word ook altyd meer van die energie uit die see ontgin  in die vorm van elektrisiteit deur van verskeie tegnologië gebruik te maak – soos die onttrekking van energie uit die golwe, uit seestrome of uit die getye wat die vlak van die water periodies elke dag laat styg en daal.

Maar, ten spyte van die mens se vooruitgang op die gebied van marienetegnologie, weet ons eintlik steeds relatief min van die seë en word daar amper daagliks nuwe ontdekkings gemaak – insluitend aardrykskundig, argeologies, meteorologies en biologies.

Dit is dus geen worder dat die oseane voortdurend nuwe idees in die wetenskapfiksie voortbring nie, want ons kennis oor die dieptes bly maar uiters beperk. En benewens dit, is ‘n habitat onder die see ewe gevaarlik as een in die buitenste ruimte, met die lug wat altyd ‘n lewensbeperkende faktor is wat op enige oomblik kan op raak. Maar die see het een verdere aspek wat dit besonder aantreklik maak vir fiksieskrywers – die mees skrikwekkende monsters wat dit nog altyd bevat het en wat veral ook in fiksie as faktor in ‘n storie ingewerk kan word – dink maar aan Moby Dick. So byvoorbeeld is die 1999 fliek Deep Blue Sea ‘n groot sukses met ‘n laboratorium in die see waar wetenskaplikes die breine van haaie vergroot om ‘n geneesmiddel te ontwikkel, maar wat natuurlik die nadeel het dat die haaie dan baie slimmer word.

 

In sekere gevalle het het skrywers selfs wetenskapfiksie verhale wat onder die see afspeel gekombineer met buiteaardse wesens uit die ruimte, soos die 1989 fliek The Abyss of die 1998 fliek The Sphere.

En dit is dus geen wonder dat die sukses in die flieks ook uiteindelik opgevolg is met ‘n televisiereeks waarvan die eerste reeks in 1993 gemaak is en wat (toevallig) in 2018 afspeel – naamlik SeaQuest DSV. In die reeks volg ons die avonture van die bemanning wat in elke episode met ander uitdagings gekonfronteer woord – soortgelyk aan Star Trek.

Selfs in wetenskapfiksie wat in die ruimte afspeel kom ons in aanraking met lewe onder die oppervlak van die waters – so byvoorbeeld in die Star Trek episode Thirty Days kry Voyager te doen met ‘n beskawing wat onder die water lewe op ‘n planeet wat algeheel deur water bedek word en wat geen landmassa bevat nie. Of in die Star Wars fliek The Phantom Menace waar ons te doen kry met die geheime onderwaterstad Otoh Gunga op planeet Naboo waar ‘n Gungan-bevolking woon.

Dit is dus geen wonder dat die mensdom homself waarskynlik oor tyd toenemend tot die see sal wend as heenkome nie – siende dat sy verbeelding telkens teruggryp tot die wêreld onder die water. En daarom is daar ook geen tekort aan dié met visie om idees vir die toekoms van die mens uit te dink nie. Een prominente idee is om drywende stede of habitatte te skep wat selfonderhoudend kan bestaan.

Ander idees berus op nedersettings op die bodem van die see wat in sekere opsigte minder uitdagend is (maar wat natuurlik weer ander probleme het).

Of hierdie opsies werklik in die toekoms van die mens lê sal maar gesien moet word. Maar in die tussentyd keer dit ons natuurlik nie om te droom en avonture in die verbeelding onder die water te hê nie…