Ruimtestasies

Daar is natuurlik geen tekort aan maniere waarop rampspoed die mensdom op aarde sou kon uitwis nie – en wetenskapfiksieskrywers is ook buitengewoon skeppend om telkens nog meer moontlikhede uit te dink. En dit kom dikwels voor dat dit so maklik kan gebeur dat ‘n siekte of kernoorlog alle lewe in ‘n oogwink sou kon vernietig.

Een moontlike habitat vir die mens om baie van die vele rampe te oorleef is om ‘n populasie mense in ‘n ruimtestasie te huisves in ‘n wentelbaan om die aarde, of ‘n ander planeet of selfs dalk in die dieper ruimte. So ‘n groep mense sou dan kon dien as ‘n nuwe begin vir die mensdom indien ‘n ramp die aarde sou tref.

Die idee van ‘n ruimtestasie is besonder oud – die eerste wetenskapfiksie wat daaroor geskryf was is in 1869 reeds gepubliseer met die titel Die Baksteen Maan deur Edward Evertt Hale.

In sy boek vertel hy van ‘n idee van ‘n bemande satelliet in ‘n polêre wentelbaan om die aarde wat ten doel het om die navigasie van skepe te verbeter – ‘n vroeë GPS-idee. Die mense in die satelliet sou met die aarde kommunikeer met morse-kode deur op en af te spring op die buitekant van die bal wat op die aarde waargeneem sou kon word.

Die idee van ‘n ruimtestasie is egter vir die eerste keer ernstig bedink en voorgestel in die vroeë 1900s deur Konstantien Tsiolkovski – een van die Russiese pioniers in ruimtevaart.

Gedurende die tweede wêreldoorlog het die Duitsers oorweging geskenk aan ‘n ruimtestasie op ‘n hoogte van ongeveer 8 000 km en wat die son se energie sou gebruik om ‘n sogenaamde sonkannon teen die vyand te gebruik. Dit is veral verstommend as daar in ag geneem word dat dit vyftien jaar sou duur voor die eerste mens eers die ruimte sou bereik.

Na die oorlog, het Wernher von Braun ‘n ruimtestasie voorsien wat op ‘n roterende wiel gebasseer sou wees om kunsmatige swaartekrag te kon voorsien aan die bemanning. Dié stasie sou gebruik kon word as basis vanwaar grote tuie gebou en lanseer kon word vir die verdere verkenning van die ruimte.

 

Ten spyte van Von Braun se invloed, kon hy nooit daarin slaag om die owerhede te oortuig om dit tot uitvoer te bring nie.

Uiteindelik, soos so baie mylpale in die ruimtewedloop tussen die VSA en die USSR, was die Russe eerste, en is Salyut 1 op 19 April 1971 gelanseer.

Hier is Salyut 1 terwyl Soyuz 11 aan hom vasmeer.

Die VSA kon eers teen 1973 hul ruimtestasie, Skylab, ontplooi. Tydens sy bestaan wat tot 1979 geduur het, was daar drie bemande ekspediesies aan boord.

Na die Russiese Salyut 1, het die USSR nog vyf ruimtestasies lanseer, naamlik Salyut 2, Salyut 3, Salyut 5, Salyut 6 en Salyut 7 – waarvan een (Salyut 2) nie suksesvol was nie.

Al hierdie Russiese en Amerikaanse ruimtestasies was monolities in ontwerp – dit beteken dat elkeen ‘n enkele tuig was wat volledig as ‘n eenheid in die ruimte geplaas moes word. Salyut 7 het egter kort voor die einde van sy lewe permanent met ‘n ander voorsieningstuig gedok, en dit het gedien om die konsep van ‘n modulêre ruimtestasie te demonstreer – soos hier getoon.

En gevolglik, was die volgende ruimtestasie, wat ook Russies was, modulêr in ontwerp en is MIR in die ruimte gebou soos ‘n reuse Lego-stel – dit was in bedryf vanaf 1986 tot 2001.

Gedurende sy lewensduur was MIR permanent beman vir 12½ jaar. Daar was ook samewerking teen die einde van die program tussen die VSA en Rusland en die Atlantis-pendeltuig het aan MIR vasgemeer – meerendeels om te bewys dat dit moontlik was en as ‘n gebaar van wedersydse bereidwilligheid tot samewerking.

Hierdie samewerking was die voorloper van ‘n gesamentlike projek vir die internasionale ruimtestasie – die IRS. Soos MIR, is die ontwerp van die IRS ook modulêr en die eerste module is in 1989 gelanseer. Die IRS is ‘n samewerking tussen (teoreties) al die nasies op aarde – tans sluit dit vyf ruimteagentskappe in, naamlik Roscosmos (Rusland), NASA (VSA), CSA (Kanada), JAXA (Japan) en ESA (Europa). Aan die begin van 2018 was daar reeds ruimtevaarders van 18 lande wat diens gedoen het op die IRS. Al die agentskappe het deelgeneem aan die vervaardiging van die verskillende modules, die konstruksie en die voortdurende bedryf van die stasie.

Die volgende grafika toon die oorkoepelende stappe in die konstruksie van die IRS.

 

Intussen het Sjina twee monolitiese ruimtestasies lanseer – Tiangong-1 in 2011 en Tiangong-2 in 2016. Hierdie twee stasies dien as demonstrasie van hul vernuf en om die fondasie te lê vir ‘n modulêre ruimtestasie wat binne die volgende vyf jaar beplan word.

Daar is ‘n redelike aantal ruimtestasies wat deur verskeie lande en organisasies beplan en later geskrap was, en daar is ‘n redelike aantal ruimtestasies wat reeds in beplanning is vir die nabye toekoms. Dit lyk toenemend dat die ruimteteenwoordigheid van die mensdom in komende jare nie slegs deur lande nie, maar veral maatskappye verseker gaan word – natuurlik met wins as motivering.

Daar is tans planne wat deur sekere enterpreneurs bedink word om hotelle in die ruimte te plaas en wat ruimtetoerisme sien as die toekoms vir die mens se ontspanning en vermaak. So ‘n hotel is natuurlik niks anders as ‘n ruimtestasie nie – soos hierdie konsep van een so ‘n tipe stasie, die sogenaamde Hotel Berlyn.

Die ruimtestasie is natuurlik, reeds sedert 1869, besonder gewild as ‘n tema of deel van die inhoud van wetenskapfiksie. In 2017 is die fliek Valarian and the City of a Thousand Planets vrygestel waarin die stad Alfa ‘n reuse ruimtestasie is wat gegroei het uit die internasionale ruimtestasie – IRS. Die stad huisves baie uiteenlopende spesies en is die agtergrond vir baie interessante avonture.

Ook is daar ganse wetenskapfiksiereekse wat geheel en al op ruimtestasies afspeel, soos Star Trek se Deep Space 9 wat aan die een punt van ‘n ruimtetonnel geplaas is en wat as diplomatieke- en handelspos dien.

Natuurlik word die moeder van alle ruimtestasies gevind in Star Wars waar die Deathstar, wat die grootte het van die maan van ‘n planeet, ‘n ganse planeet kan vernietig met sy kragtige wapentuig.

En selfs in Afrikaanse wetenskapfiksie kom hierdie konsep geredelik voort, soos in Jan Rabie se Hemelblom waar ‘n ruimtestasie in die asteroïedgordel die ontwikkeling van die mensdom monitor.

Een ding is verseker, die ruimtestasie as kunsmatige habitat vir die mens in die ruimte gaan ‘n toenemende rol van belangrikheid speel – beide in die toekoms sowel as die vermaak van die mensdom…