Venus

In die vroeë dae van wetenskapfiksie was dit algemeen vir skrywers om stories op te tower van beskawings op Venus – die naaste planetêre liggaam aan die Aarde. Maar, na die swak prestasie van die landingstuie van die Sowjetunie en Amerika, het die telemetriese data getoon dat die omstandighede ekstreem is in terme van die Aarde s’n. Dit was duidelik dat lewe, en veral die mens, nooit op Venus sou kon bestaan nie, en gevolglik het WF-skrywers grootliks afgesien van Venus as ‘n bestemming vir die mensdom en het hulle selfs nie eens meer die idee van ander lewe op Venus gebruik nie.

Ja, gewis is die omstandighede op die oppervlak van Venus so geweldig dat  die landingstuie dikwels reeds gefaal het voordat hulle die oppervlak kon bereik, terwyl ander slegs enkele minute kon werk. Een het darem omtrent ‘n uur lank gewerk voor dit ook onklaar geraak het.

Die rede vir hierdie falings was dat die temperatuur op die oppervlak van Venus 460ºC bereik – hoër as die smeltpunt van lood. Ook is die atmosferiese druk op die oppervlak van die planeet gelykstaande aan ‘n druk van ongeveer ‘n kilometer onder water op Aarde. Buiten vir hierdie twee dodelike aspekte, is daar ook ‘n konstante teenwoordigheid van swaelsuur in die atmosfeer wat andersins hoofsaaklik uit koolstofdioksied bestaan.

Venus is ‘n planeet waarvan die oppervlak nie van buite sigbaar is nie weens die digte wolkformasies wat dit permanent oordek. Tog, na die mislukte landings, is die planeet se oppervlak deeglik verken met die gebruik van radar vanuit satelliete en vanaf die Aarde.

Dit is besonder jammer dat Venus so onherbergsaam is, want Venus is nader aan die Aarde (40 miljoen km) as Mars (55 miljoen km), en het ‘n meer vergelykbare swaartekrag met dié van die Aarde as Mars, en verder het Venus en die Aarde feitlik presies dieselfde grootte. Venus se swaartekrag is 90% so sterk soos die Aarde s’n.

Ten spyte van die aanvanklike twyfel oor die geskiktheid van Venus as ‘n teiken vir menslike kolonisasie, word daar tans anders oor gedink. Indien die ooglopende moontlikheid van ‘n nedersetting op die oppervlak van Venus opsy geskuif word en die gedagtes toegelaat word om ander moontlikhede te oorweeg (soos vir ‘n WF-storie), kom ander moontlikhede na vore.

Die hoof gedagtegang tans is dat ‘n habitat, nie op die oppervlak van Venus nie, maar drywend in die atmosfeer van die planeet dalk ‘n belowende moontlikheid is. Indien ‘n habitat met lug van die Aarde gevul sou wees (wat dus uit suurstof en stikstof bestaan), sou dit in die Venus-atmosfeer ‘n krag veroorsaak wat die basis sal laat sweef soortgelyk aan ‘n ballon vol helium op Aarde. Só ‘n habitat sal dus dryf in die Venus-atmosfeer, en saam met die winde van die planeet daarom rondbeweeg. In die gebied waar so ‘n habitat sal dryf, sal die temperatuur tussen die grense van 0ºC en 50ºC wees – wat ooreenstem met die Aarde se temperature.

Die voordele eindig ook nie daar nie. Die druk op só ‘n hoogte sal dieselfde wees as die druk binne die habitat. Dit is voordelig vir gevalle waar die wand sou skeur. Op die maan of Mars sou al die atmosfeer feitlik onmiddelik verlore gaan met baie skade en moontlik lewensverlies, maar op Venus sou dit nie die geval wees nie. Die interne atmosfeer sal met die buitenste atmosfeer begin vermeng teen ‘n gewone koers van vermenging, wat tyd sal toelaat vir herstel. Verder sal pakke vir werkers buite die habitat nie vir druk of temperatuur hoef te kompenseer nie, maar bloot lug moet voorsien en bestand wees teen die korosiewe atmosfeer.

Die koolstofdioksied sal gebruik kan word vir plante (nadat dit gefilter is) en mollekulêre suurstof vir die habitat kan ook daaruit berei word. Verder sal die habitat atmosferiese beskerming geniet van soortgelyke omvang as wat op die Aarde bestaan teen straling vanaf die son.

Hoewel Venus nie ‘n interne magneetveld ontwikkel nie, ontstaan daar ‘n sekondêre magneetveld as gevolg van die interaksie tussen die deeltjies vanaf die son en die planeet se atmosfeer – wat ook beskerming aan die habitat sal bied.

Soos die drywende (of swewende) stede wat in wetenskapfiksie voorkom, soos Laputa of Bespin stad in Star Wars, kan verskeie sulke “nedersettings” op Venus gevestig word, soos in hierdie kunstenaarsvoorstelling deur Adrian Mann.

‘n Venus sweefkolonie in die wolkatmosfeer  van die planeet. Dit herhinner sterk aan WF.

Daar bestaan ook ander voordele. Elektrisiteit kan op verskeie maniere opgewek word sonder om kernkrag te oorweeg. Byvoorbeeld, die temperatuurverskille op verskillende hoogtes bo die planeet se oppervlak is aansienlik, en daar kan van bestaande tegnologieë gebruik gemaak word om elektrisiteit te ontwikkel.

Die habitat sal natuurlik beskerm moet word teen die korrosiewe atmosfeer van Venus, tipies deur die buitekant met teflon te bedek – maar dit is ‘n tegnologiese oplossing wat maklik tot uitvoer gebring kan word.

Om minerale te kry, bly steeds moeilik omdat die oppervlak van Venus nie eintlik ‘n moontlikheid is nie. Om dit van die Aarde of die asteroïede te kry bly vêr en duur – maar nie onmoontlik nie.

Anders as wat aanvanklik gedink is, is ‘n kolonie op Venus dalk nie so vergesog nie. In baie opsigte kan dit makliker wees as nedersettings op ander plekke binne die Sol-stelsel.

Natuurlik word daar ook aandag gegee, net soos vir Mars, aan die idee van terravorming. Verskeie moontlikhede bestaan om die samestelling van die atmosfeer van Venus te verander – die koolstofdioksied kan byvoorbeeld maklik gevries word en dan een van verskeie planne meer gemaak word. Maar met die vooafgaande in gedagte, hoef dit dalk nie eens nodig te wees nie…

Kyk na ander moontlikhede om die mens te vestig in die Sol-stelsel.