DIE OPLOSSING: VALHALLA – Quintin Ellis

Die Oplossing - VoorbladUITTREKSEL (Die Reis van Die Kryger; bl. 1-3)

Die Kryger gaan lê uitgeput teen die groot rots.  Die voëls en krieke het stil geraak toe die vreemdeling die woud instap. Dit is asof die hele woud opsommend betrag wat die vreemdeling daar maak. ʼn Klein grys kewer skarrel tussen die gras en blare voor sy voete.  Die digte lower bring ʼn vroeë skemer. Ure se ononderbroke stap vanuit die dorp tot in die woud het al die energie wat hy oor gehad het, uit hom getap. Sy kake is styf geklem en aksentueer sy hoë wangbene. Hy het dae laas geskeer en die stoppels is krapperig. Daar is min tekens van sy eens goed versorgde, amper adellike, voorkoms. Die Kryger is ʼn paradoks van wat ʼn mens sou verwag van iemand met so ʼn titel. Hy is amper twee meter lank met lang donker hare, wat sy slanke nek korter laat lyk. Dit hang egter nou gekoek en in slierte tot op sy skouers. Sy amandelkleurige oë, wat soms verander na ʼn grou groen en een oomblik vol lewe kan flits net om daarna donker, broeiend en dreigend te lyk, is diep in sy oogkaste gesonke. Sy neus is fyn en skerp. Langs sy linkeroor loop ʼn ligte litteken tot amper op sy onderkaak. Hy praat nooit oor die herkoms daarvan nie. Sy bolyf is seningrig en die oorblyfsels van vele stryde daarop afgeteken, sy bene is lenig, gespierd en feitlik ongeskonde. Sy breë skouers is effens geboë deur die swaar vrag wat hy vir jare al dra. In totale kontradiksie is sy hande fyn gevormd, sonder eelte en meestal bedek deur handskoene.  Hy trek die gepantserde handskoene met sy tande af. Sy slanke hand vee oor sy gesig asof hy daarmee die moegheid wil wegvee. Hy trek sy vingers deur sy hare om die ergste koeke te verwyder.
Sy wit hemp is vuil en bebloed, en sy swaard en strydbyl voel soos lood in sy hande. Die knapsak, brons skild en beukhamer op sy rug is soos ʼn hewige las wat sy breë skouers krom trek.
Hy vloek sag.
In die verte hoor hy stemme galmend sy naam roep. Weer en weer roep hulle. ʼn Naam wat nie meer saak maak vir hom nie. Sy verlede het hy agtergelaat toe hy die dorp verlaat het. Wat maak ʼn naam in elk geval saak? Om naamloos en gesigloos deur die wêreld te gaan is die beste kamoeflering vir enige kryger. Daar is ʼn veiligheid in onaantasbaarheid. Jy kan net aangeraak word as jy jouself weerloos maak.
Hy laat die dorp aan hulle eie lot oor. Die eed wat hy geneem het om hulle te beskerm, het hulle nie verhoed om hom te verraai en in die steek te laat nie. Die stemme vervaag en hy lag hard. Hulle is op soek na hom op plekke waar hy besluit het om nooit weer te wees nie. Sy gedagtes gaan terug na waar alles begin het.
Jare gelede was hy ʼn herbergier met ʼn gelukkige gesin. Een nag word hy wakker gemaak deur ʼn angstige dringende gehamer aan die deur. Voor die deur het ʼn potsierlike jong mannetjie met ʼn krom swaard gestaan.
Hy het die mannetjie ingenooi en vir hulle albei ʼn glas wyn geskink.
“Kan jy help?” het die mannetjie angstig gevra. “Ek kom vanuit die Vallei van Arsonogom. Laasnag het ʼn groep trolle ons plaas aangeval en my familie vermoor. Ek het gevlug.”
“En wat laat jou dink ek kan help? Hoekom het jy nie na Lloc de la Pau gevlug en skuiling by die Alak Valto gaan soek nie?”
“Die pad na Pau is afgesny. Ek het na die naaste dorp gevlug. Hulle is op pad hierheen.”
Die dringendheid in die mannetjie se stem het hom laat besef dat die mannetjie desperaat is.
“Ek is nie ʼn soldaat nie. Ek het egter wapens. Ek sal kyk wat ek kan doen.” Die herbergier het sy wapens gaan haal en alarm gemaak. Die dorp het elke beskikbare en weerbareman, met allerlei wapens, byeengeroep en hulle het die trolle teruggedryf.
Na hierdie veldslag het die herbergier onderneem om alle weerloses te beskerm.

So vyf kilometer buite die dorp is die verbode betowerde woud. Hy weet die woud is veilig vir hom. ʼn Plek wat net in mites en legendes bestaan. Mites en legendes het die woud ʼn verbode area gemaak. Niemand wat al in die woud ingestap het, het ooit daar uitgekom nie, of so lui die legendes. Stories word aan kinders vertel van vleisetende monsters en kannibale wat op volmaan nagte uit die bos kom om kinders op te eet as hulle stout was.
Die woud is simmetries. ʼn Perfekte vierkant wat bydra tot die legendes en mites. Daar is glo een pad in die woud in, en geen pad uit nie. Wanneer iemand die woud betree is wandel die persoon ʼn vorteks binne. Alles neem ʼn anders wêreldse vorm aan en verskil heeltemal van die aangrensende omgewing. Alhoewel daar bome is in die omliggende landskap, blyk die groen van die woud baie dieper, meer intens en oorweldigend te wees. In een oogwink lyk die omgewing terselfdertyd aanloklik en bedreigend.  Die groen woud met sy digte lower skep ʼn amper sinistere kontras met die omgewing waarin die woud geleë is. Die grense bleik onpeilbaar te wees. Die dik stamme van die bome is aanduidend van die eeue wat die woud reeds onaangeraak deur mensehande staan.
Vanuit die oogpunt van ʼn observeerder lyk die grense duidelik totdat jy die woud betree. Dan besef jy die grense van die woud word bepaal deur jou eie waarnemings  en lewensuitkyk. Vir party is die grens ʼn afgrond, vir ander net ʼn eenvoudige randjie. Sommige vind dat die woud skielik eindig. Ander vind die woud as oneindig universum groot, ʼn unieke uitspansel sonder grense. ʼn Surrealistiese landskap wat jou omvou, insluk en koesterend beskerm teen ʼn wreedheid wat nie beskryf kan word nie.
Die Kryger weet egter dat hy nie wil teruggaan na die samelewing waarvandaan hy probeer wegvlug, nie. Hy trek die bebloede hemp uit en gooi dit in die vuur wat hy met droë takkies en dun stompe gemaak het. Nadat hy ʼn skoon hemp en ʼn karos uit sy knapsak gehaal en aangetrek het, laat val hy die sak op die grond. Hy haal die karba vol wyn van sy heup af. Alles is ʼn gewig, alles is te swaar.
Die fassinerende aspek van enige woud is die absolute perfekte balans tussen lewe en dood. In hierdie ekwilibrium het alles ʼn doel. Of daar nou ʼn omgevalle boomstomp, ʼn hopie mos of ʼn paddastoel is. Een lewensvorm wat ontbind is die groei area of skuiling vir ʼn ander.  Selfs hierdie betowerde woud is nie verhewe bo die natuurlike sameloop van lewe en dood nie. Vanuit iewers word al hierdie goed beheer deur asof deur ʼn Onsigbare Hand, almal weet Die Uil het die woud geskep.