Nagebootsde Wêrelde

‘n Minder algemene, maar baie interessante idee wat nou-en-dan in wetenskapfiksie voorkom, is die konsep van ‘n nagebootsde wêreld of realiteit.

En na só ‘n stelling soos hierbo kan mens nie help om te wonder wat ‘n nagebootsde realiteit of ‘n nagebootsde wêreld nou eintlik is nie.

‘n Nagebootsde realiteit of wêreld is ‘n werklikheid wat nie regtig bestaan nie, maar wat voorgestel of aangebied word op só ‘n manier dat dit voorkom asof dit inderdaad werklik is.

In die 1998 fliek, The Truman Show, word daar ‘n hele fiktiewe wêreld geskep rondom die sentrale karakter.  In dié humoristiese fliek weet almal dat die wêreld wat geskep is bloot ‘n nabootsing is behalwe een persoon.  Almal in hierdie wêreld is akteurs wat voorgee dat hulle saam met hom lewe in dieselfde dorp.  Terwyl sy lewe in hierdie nabootsing afspeel, word hy afgeneem en word sy lewe uitgesaai op televisie as vermaak vir die res van die normale wêreld.  Die fliek is uiters vermaaklik en wys uit hoe maklik mens ‘n leuen sal glo – ‘n waarskuwing vir ons almal…

Dié idee van ‘n nagebootsde realiteit kom redelik algemeen voor in die Star Trek reekse waar daar binne die ruimteskepe soos USS Voyager en USS Enterprise ‘n afgesonderde ruimte bestaan waarin daar ‘n holografiese werklikheid geskep kan word, en wat algemeen binne die storie deur bemanning gebruik word vir vermaak en ontspanning.  Bemanning kan byvoorbeeld binne die ruimteskip in die holodek op ‘n strand lê en ‘n skemerkelkie geniet terwyl hulle kyk hoe die son sak.

In die fliekreeks The Matrix, word die mensdom onderwerp aan ‘n kunsmatige intelligensie.  Maar om te verhoed dat die mense in opstand kom of probeer om hulself te bevry, word die gedagtes van die mense gemanipuleer sodat hulle glo dat hulle lewe binne ‘n gewone stad waar hulle bly en werk.  Hoewel die mense elkeen in der waarheid binne ‘n kapsule van vloeistof lê, dink hulle dat hulle ‘n gewone aktiewe lewe lei.  Hulle hele bestaan vind dus binne ‘n nagebootsde werklikheid plaas, wat direk deur ‘n rekenaar in hul bewussyn ingespeel word.  Dit sinspeel op die idee dat ‘n mens se werklikheid dalk niks meer is as dít wat deur die sintuie waargeneem kan word nie – ‘n idee wat stroop met baie van die moderne teorië in fisika, sielkunde en filosofie.  Nogal ‘n onsmaaklike pil om te sluk…

Een van die meer onlangse skeppings waarin die idee van ‘n nagebootsde wêreld gebruik word, is die reeks WestWorld.  Dit is tans op verskeie aanlyn fliekkanale soos HBO en ShowMax beskikbaar en is besonder goed en word sterk aanbeveel.  In die verhaal word ‘n fiktiewe wêreld geskep wat in die Wilde Weste afspeel (van daar die naam).  Binne hierdie wêreld is daar dorpies waarin daar “mense” woon – maar dié mense is eintlik robotte wat só realisties is dat niemand hulle van regte mense kan onderskei nie.  Ryk mense kan dan betaal om binne hierdie wêreld tyd te spandeer, en kan hul geheime begeertes uitleef en byvoorbeeld seks hê met wie hul wil of wreedaardig moord pleeg sonder enige gevolge.  Die storie konfronteer die kyker met ‘n groot aantal vrae oor moraliteit, die aand van bewussyn, en die misbruik van mag  Dit trek baie parallelle met ons eie wêreld – wat ‘n sleutel-eienskap is van goeie wetenskapfiksie.

Daar sal sekerlik nog baie sulke nagebootsde wêrelde die lig sien in die veld van wetenskapfiksie – en dit sal telkens mens noop om diep na te dink oor die wêreld waarbinne ons onsself bevind.

 

Dis makliker om mense te flous, as wat dit is om hulle te oortuig dat hulle geflous is.”    Mark Twain