VVV en ander V-verhale

Daar bestaan min verskynsels wat so definitief paranormaal is as vlieënde pierings oftewel vreemde vlieënde voorwerpe (VVV). Dit is terselfde tyd een van die dinge wat die verbeelding aangryp en wat in ongelooflike geheimsinnigheid gehul is omdat geen owerheid die bestaan daarvan ooit erken nie en eerder waarnemings sal afmaak as die een of ander belaglikheid. Dit skep geweldige agterdog by die algemene publiek en baie mense is van mening dat die waarheid weggesteek word of dat daar oor iets saamgesweer word.

Uit die vele beskrywings van hierdie verskynsel, blyk dit dat ‘n VVV ‘n tipe ruimtetuig moet wees vir wesens van ‘n ander wêreld. Juis hierdie eenvoudige feit hul hierdie verskynsel in verdere agterdog en misterie – indien ‘n owerheid sou erken dat ‘n VVV wel bestaan, word die bestaan van buiteaardse wesens per implikasie ook erken – en niemand wil dít erken nie…

Die verskynsel het veral algemeen begin raak toe die era van lugvaart en veral ruimtevaart begin het. Natuurlik het die Tweede Wêreldoorlog ook ‘n rol gespeel met byvoorbeeld die ontwikkeling van radar wat gelei het tot die waarneming van sekere van hierdie verskynsels. Tydens die Tweede Wêreldoorlog het die Britse Lugmag waarnemings gemaak van ‘n tuig wat teen 2400 km/h beweeg het – lank voor enige land oor die tegnologie beskik het om sulke tuie te bou.

Hoewel Suid-Afrika nie op die tegnologiese voorgrond was tydens hierdie tydperk nie, is daar verskei aanmeldings wat deur Suid-Afrikaners gemaak is. Een van die vroegste VVV-voorvalle wat in Suid-Afrika gedokumenteer is het op 16 September 1965 gebeur, toe twee polisiekonstabels ‘n blink, koperkleurige tuig sien land het op die pad tussen Pretoria en Bronkhorstspruit. Anders as baie ander waarnemings het hierdie voorval ‘n bewysstuk gelaat in die vorm van ‘n 30 meter wye landingsmerk wat 6 voet diep was! Die polisie het, by monde van luitenant-kolonel JB Brits van die Pretoria-Noord polisiestasie, dit aan die pers bevestig.

Hierdie was egter nie die eerste verskyning in Suid-Afrika nie. Op 17 Julie 1956 het ‘n meteorolog wat in Engeland opgelei is en later in Suid-Afrika gewoon het, Elizabeth Klarer, een dag toe sy saam met twee vriendinne in die Drakensbege (by Rosetta) gery het ‘n VVV opgemerk en dit met haar primitiewe kamera afgeneem.

Hierdie foto’s word hoog geag in assosiasies wat hul bemoei met die insameling van inligting oor hierdie tipe verskynsel, en word gereken as van die beste voorbeelde daarvan wat nóg gefotografeer is.

Daar is letterlik honderde (indien nie duisende nie) van hierdie voorvalle wat in Suid-Afrika aangemeld word. Onderneem gerus ‘n soektog in enige koerantargief en talle sulke berigte kom na vore.

Die gróót Suid-Afikaanse gebeurtenis het plaasgevind in Mei 1989. Op die bepaalde aand is ‘n ongeïdentifiseerde tuig opgemerk deur die Suid-Afrikaanse Lugmag en die Amerikaanse NORAD. Suid-Afrikaanse vegvliegtuie het gespaander en het die tuig onderskep. Toe kontak nie bewerkstellig kon word nie, het ‘n vegter wat met ‘n eksperimentele laserwapen toegerus was, ‘n Thor 2, op die tuig geskiet wat onmiddelik grondwaards geduik het en in die Kalahari neergestort het.

Die tuig is later deur grondmagte gevind in ‘n krater van 150 meter wyd en 12 meter diep, met gesmolte sand en klip wat in mekaar gevloei het op die rand daarvan.

Twee wesens is in die tuig gevind en is in Suid-Afrika en die VSA ondersoek waarheen dit later verskuif is. Hierdie inligting is nooit amptelik openbaar gemaak nie en het bloot bekend geword na ‘n offisier van die Suid-Afrikaanse Militêre Intelligensie, James van Greunen, die dossier verkoop het.

Hierdie voorval word amptelik as ‘n klug bestempel, maar die dokumentasie hieroor is indrukwekkend en laat mens wonder of dit amptelik erken sou word indien dit wel die waarheid is.

Maar baie gevalle word daagliks aangemeld en, ja – baie is wel bloot ‘n klug, soos hierdie foto van ‘n VVV by Midrand op die N1 van 27 Oktober 2015.

Na die openbare media behoorlik mal gegaan het hieroor, het die persoon wat dit aanvanklik gestuur het erken dat hy dit digitaal geskep het om ‘n grap te maak met een van sy vriende.

Daar skyn twee soorte mense te wees rakende hierdie saak. Die een klomp sou jy nie kon oortuig nie, selfs al land een langs hulle en groet hul met die hand. En die ander groep wat oortuig is van die realiteit dat derduisende van hierdie verskynsels elke dag regoor die wêreld gesien word en meestal deur gelowaardige persone – en dat niemand ‘n oortuigende verduideliking hiervoor kan gee, behalwe dat ons werklik nie alleen is nie…

Terug na: Dít waarvan drome gemaak is…