Demone

Daar is geen wese of monster in die ganse wêreld van fantastika wat só gevrees word soos die demon nie (let op die spelling – dit is nie “demoon” soos algemeen gebruik word in Afrikaans nie).  Die rede hiervoor is dat, anders as baie ander karakters soos vampiere of zombies, demone nie bloot iets is wat deur ‘n skrywer uitgedink is nie maar dat dit deel is van die geloofsfondament van verskeie gelowe soos die Christendom, Judaïsme en Islam – en wat selfs in ander nie-Abramitiese gelowe voorkom.  En, die demon is altyd (per definisie) ‘n bose entiteit wat direk in teenstand is met alles wat goed is. Verder, vir die wat godsdienstig is, is dit nie bloot ‘n historiese wese nie, maar bestaan hulle vandag nog en dít dra natuurlik by tot die vrees wat hulle inboesem.

Die oorsprong van die demon kom uit die Heilige Skrifte en dui op ‘n opstand of rebellie wat gevoer was teen die almagtige God deur die engele wat Hy geskep het.  Op hierdie punt is daar twee sieninge.  Die eerste is dat een van die mees vername aartsengele, Lucifer, God se heerskappy omvêr wou werp en self regeer.  ‘n Tweede mening hieroor is dat hy nie wou aanvaar dat God die swakke mens geskep het nie en dan nog boonop sou verwag dat die engele voor die mens moes buig.  Hoe dit ook al sy, die gevolg was dat God vir hóm en ongeveer een derde van die engele, dié wat aan hom lojaal was, uit die hemel laat werp het en toe op die aarde moes woon en party (‘n groot klomp) opgesluit is in ‘n diep put.

En daar het oorlog in die hemel gekom: Mígael en sy engele het oorlog gevoer teen die draak, en die draak en sy engele het oorlog gevoer; en hulle kon nie oorwin nie, en hulle plek was in die hemel nie meer te vinde nie.  En die groot draak is neergewerp, die ou slang wat genoem word duiwel en Satan, wat die hele wêreld verlei, hy is neergewerp op die aarde, en sy engele is saam met hom neergewerp. – Openbaring 12: 7-9

Daarna, gedoem tot ‘n bestaan op die aarde saam met die mense, is Lucifer die hoof van hulle in ‘n hiërargiese struktuur en probeer hulle om soveel van die mensdom as moontlik te verhoed om gered te word.  Net soos in die geval van engele waar ‘n aartsengele ‘n hoë rang verteenwoordig, is daar ook aartsdemone wat heerskappy voer oor ander.

Maar natuurlik kan die mensdom en die gevalle engele nie maar net bloot dieselfde planeet deel sonder dat daar ongewenste gevolge sou wees nie.  Een van die interessantste tekste in die Bybel vind ons in Genesis 6, waar ons een van die eerste leidrade kry oor die aard van hierdie wesens.

Toe die mense op die aarde begin vermeerder en daar vir hulle dogters gebore is, sien die seuns van God dat die dogters van die mense mooi was, en hulle het vir hulle as vroue geneem almal wat hulle verkies het.  Toe sê die HERE: My Gees sal nie vir ewig in die mens heers nie, omdat hy ook vlees is; maar sy dae sal wees honderd-en-twintig jaar.  In dié dae was die reuse op die aarde, en ook daarna, toe die seuns van God by die dogters van die mense ingegaan en dié vir hulle kinders gebaar het. Dit is die geweldiges uit die ou tyd, die manne van naam. – Genesis 6:1-4

Die eerste vraag is seker wie die seuns van God is.  In beide Job 1 & 2 vind ons hierdie selfde woorde waar die betekenis duidelik is dat dit na engele verwys – behalwe in die geval van Genesis waar hierdie “engele” op die aarde was en dus die “gevalle engele” moes wees, oftewel demone.  Dit is dus duidelik dat demone dus nie steriele wesens is nie, maar vrugbaar en kan voortplant en dat hulle seksuele drange het.  Daar is ook verskeie ander apokriewe werke wat dié punt selfs nog duideliker beklemtoon, soos die boek van Henog.

Hoewel al die Afrikaanse Bybels dié deel vertaal met “reuse” is daar talle ander Bybels (onder andere in Engels) wat die “reuse” vertaal met Nefilim.  Die Nefilim is dus ‘n kruising tussen mens en demon en het spesifieke eienskappe gehad, soos dat hulle fisies groot was en dat hulle ses vingers en tone onderskeidelik gehad het in plaas van vyf (2 Samuel 21:20).

Dit is geen wonder dat fantasieskrywers hulself dikwels wend tot hierdie ongelooflike vertellings in die Bybel en ander geskrifte nie.  Jy kan baie bose dinge uitdink, maar demone is in ‘n klas van hul eie – wilder en boser as enigiets anders.  En hul eienskappe is so totaal ongelooflik dat dit die verbeelding aangryp. Hoewel bronne hieroor verskil, sluit dit in:

  • Hulle kan onsigbaar wees.
  • Hulle is ongelooflik magtig.
  • Hulle kan nie (deur mense) doodgemaak word nie.
  • Hulle is tot seksuele dade in staat, het seksuele drange – en kan voortplant met mense (en met diere).
  • Hulle kan besit neem van ‘n mens (of ‘n dier) sodat iemand besete raak daarvan en nie meer ‘n eie wil kan uitoefen nie.
  • Hulle kan in enige vorm verskyn – dikwels uiters aantreklik.
  • Kan musiek gebruik.
  • Kan mense help met sukses in ruil vir hul eie agendas.

Een van die demone, Azazel, wat ook blykbaar uit die hemel gewerp is, het monsteragtige kinders by vroue verwek, die mensdom geleer van wapentuig en oorlogvoering, vroue geleer hoe om verleidelik te wees, en selfs vir die mense geleer hoe om toordery te gebruik.

Dis dus geen wonder dat fliekmakers hierdie wesens graag gebruik in gruwels nie, of selfs as superhelde (of liewer superskurke) omdat daar feitlik geen perk op hul vermoëns bestaan nie. En natuurlik kan die ergste nagmerries gestalte gegee word deur die gebruik van grimeerkuns en spesiale effekte.

The Wailing (2016)

Of in hierdie vroeër voorbeeld…

Lord of Darkness (2012)

Een gunsteling tema vir skeppers in die fantastika is die idee van iemand wat van ‘n demon besete is en die pogings wat daarop volg om die demon uit te dryf. Hierdie idee kom al te dikwels voor soos in hierdie toneel.

The Last Exorcism (2010)

Maar daar is natuurlik ook ander perspektiewe wat fliek op hierdie onderwerp neem.  ‘n Inkubus is ‘n demon in manlike vorm wat vroue verlei tot seksuele sonde soos owerspel.  Soortgelyk is ‘n sukkubus ‘n demon in vroulike vorm wat mans verlei.  Hierdie is ‘n besonder populêre troop wat in talle flieks en boeke voorkom.

VHS (2012)

Daar is geen twyfel dat demone een van die vreesaanjaendste karakters sal bly in gruwels en dat hulle teenwoordigheid sal uitkring na ander velde in die fantastika.  En, wie weet, vir al wat ons weet is die werklikheid nog veel erger as dít wat vir ons in fiksie opgedis word…