Reuse en hibriede wesens

Is al die hordes vreemde idees van al die verstommende wesens wat oor die eeue deur mitologie en legendes oorgelewer is, elk afsonderlik geskep uit die verbeelding van verskillende persone?  Is almal van hulle bloot verdigsel wat uit die gedagtewêreld van iemand voortgekom het?  Of het hulle dalk werklik bestaan?

Op die oog af weet ons tog dat al hierdie wonderbaarlike dinge waaroor ons hier in Afrifiksie praat, blote fiksie is.  Of is dit?

Op die mees basiese vlak kan die ganse kollektiewe wêreld van die fantastika in twee fundamentele vertakkings verdeel word, naamlik die bonatuurlike en die paranormale.  Die bonatuurlike is gewoonlik waaruit die kleurvolle skeppings voortspruit wat ons as fantasie sou klassifiseer, terwyl die paranormale eerder met wetenskapfiksie geassosieer word.  Maar kom ons begin deur vir ‘n oomblik op die bonatuurlike te fokus.

Die meeste van ons (dis nou dié wat Afrifiksie besoek) geniet die idee van ‘n feetjie of ‘n meermin in ‘n sprokie, maar neem dit nie juis ernstig op nie – ons weet immers dis bloot ‘n verbeeldingsvlug.  Maar tog glo baie van ons steeds in God (hoewel ons al gaande minder en minder word…).  Nou hoe nou?  God kan tog nooit as enigiets anders gesien word as bonatuurlik nie.  En sodra ons in God glo, glo ons outomaties ook aan engele, en aan die duiwel – en bes moontlik ook dan aan demone.  Dus, glo ons eintlik aan verskeie bonatuurlike wesens of entiteite wat soms as karakters aangewend word in fiksie – gewoonlik in ‘n vertakking van fantasieë.  Maar dis gewoonlik waar ons die streep trek.  Ons duld eenvoudig niks meer as bloot net dít nie.

Maar wat van reuse byvoorbeeld?  Ons lees van Dawid en Goliat, en ons lees van die reuse mense wat die spioene van Israel in Kanaän teëgekom het.  Wel, behalwe vir enkele leidrade uit die Bybel, het daar ook heelwat inligting aan die lig gekom nadat die Dooie See-rolle ontdek en vertaal is.

Die eerste leidraad kom uit Genesis waar ons die volgende lees.

Toe die mense op die aarde begin vermeerder en daar vir hulle dogters gebore is, sien die seuns van God dat die dogters van die mense mooi was, en hulle het vir hulle as vroue geneem almal wat hulle verkies het.  Toe sê die HERE: My Gees sal nie vir ewig in die mens heers nie, omdat hy ook vlees is; maar sy dae sal wees honderd-en-twintig jaar.  In dié dae was die reuse op die aarde, en ook daarna, toe die seuns van God by die dogters van die mense ingegaan en dié vir hulle kinders gebaar het. Dit is die geweldiges uit die ou tyd, die manne van naam. – Genesis 6:1-4

Uit die boek van Henog (nie in die Bybel nie), hoofstuk 8 kry ons die volgende gedeelte.

1 … het my vandaar geneem en opgedra na die vyfde hemel. En ek het daar enorme (wesens) gesien —die Wagters.

2 Hulle voorkoms was soos die mens se voorkoms:  in grootte was hulle groter as die groot reuse — wat genoem is Grigori.

5 Hulle het aan my gesê: Hierdie is die Wagters wat nie by hulle broers aangesluit het nie.

6 Twee prinse en die tweehonderd ander wat hulle gevolg en afgegaan het na die aarde en hulle eed op die skouer van die berg Hermon verbreek het om hulself nie met die mens se vroue te besoedel nie;

7 en omdat hulle hulself besoedel het, het God hulle verdoem. Hulle het die aarde besoedel met hul dade, in al hul dae het hulle wetteloosheid en vermenging gepleeg, en reuse is gebore en wonderbaarlike groot manne en groot vyandskap. En hierdie (groep) treur oor hul broers en die straf wat op hulle gelê is.

8 Ek het aan die Wagters gesê: Ek het julle broers gesien en ek het gehoor wat hulle gedoen het: en ek ken hulle gebede en ek het vir hulle gebid.

9 En kyk, God het hulle verdoem onder die aarde totdat die hemel en die aarde verbygegaan het…

En uit van die ander Dooie See-rolle kom die volgende (vry vertaal):

In daardie dae, toe die kinders van die mens vermenigvuldig het, is beeldskone dogters vir hulle gebore.  En die engele, die seuns van die hemel, het hulle aanskou en met wellus na hulle gesmag.  Hulle sê toe onder mekaar: “Kom ons neem vir ons vroue vanuit die dogters van die mens, en verwek vir ons kinders.”  Maar Semjaza wat hul leier was sê toe: “ek alleen sal die straf vir hierdie sonde moet dra”.  Toe antwoord hulle hom en sê: “ons sal ‘n eed sweer waardeur ons almal gebind sal word om die plan wat ons bedink het deur te voer.”  Hulle sweer toe ‘n eed teenoor mekaar – al tweehonderd van hulle wat op berg Hermon neergedaal het.

Migael, Surafel en Gabriël sien toe van bo hoeveel bloedvergieting en onderdrukking op die aarde gekom het.  Die vroue het reuse gebaar wat groot ellende op die aarde gebring het.

En God het aan Gabriël gesê: “Trek uit teen die bastergeslag en die goddeloses en owerspeliges, en verdelg hulle, en werp die kinders van die Wagters wat tussen die mense is uit.  En bring mee dat hulle onder mekaar sal baklei sodat hulle uitgedelg sal word in die geveg, want daar kom ‘n einde aan hul tyd.

Laat hulle en hul kinders onder mekaar oorlog voer sodat hulle die verdelging van hul geliefdes aanskou.  Bind hul dan en werp hul onder die klippe en grond waar hulle vir 70 geslagte gebind sal word tot op die oordeelsdag wanneer hulle geoordeel sal word.  Maar die gees van die reuse wat verwek is uit die gemeenskap tussen die gees en die vlees sal bose geeste wees op aarde.  Bose geeste sal van hulle af uitgaan…

Hierdie afstammelinge van die Wagters (engele wat op aarde was) staan in sekere vertalings van die Bybel bekend as Nefilim.  Hulle was reuse en was ‘n gruwel in die oë van God.  Die Wagters word uitgebeeld as vasgevang in klip in die 2014 fliek oor Noag (Noah), en smag steeds om weer in God se guns te kom (na hul sonde) wat hul probeer regkry deur hulself op te offer om vir Noag te help.

Daar bestaan egter ook aanduidings in sekere van die apokriewe boeke dat òf die Wagters, òf die Nefilim ook voortgeplant het met van die diere op aarde wat vermoedelik tot ander gruwels aanleiding gegee het.  Daar is spekulasie, gebasseer op sekere apokriewe tekste, dat van hierdie gruwels van die mitologiese wesens ingesluit het, soos die hibriede wesens waarvan ons dikwels in legendes en mitologieë lees – bv. ‘n sater wat ‘n half-bok half-mens is (soos Pan).

Daar word ook ‘n redelik oortuigende saak uitgemaak dat die rede waarom God beveel het om ganse stede uit te wis (mans, vroue, kinders en selfs diere) juis was as ‘n reiniging van die land – om ontslae te raak van die verbasterde wesens wat vervuil was op aarde.

Dis vreemd om te dink dat baie van die dinge wat ons as blote menslike verdigsel beskou, dalk werklik (fisies) deel kon wees van God se skepping, en dat baie daarvan uit boosheid tot stand gekom het.  En dat die bose geeste dalk uit die Nefilim voortgekom het…

Dit laat ons dink oor die baie dinge wat ons daagliks as die waarheid aanvaar.