Vampier

Daar is seker min ander temas wat so algemeen in spekulatiewe fiksie van spanning gebruik word as die vampier. Dit is so populêr dat daar elke jaar flieks, boeke, TV-reekse, digitale speletjies, ens. verskyn waarin die vampier voorkom as ‘n sentrale tema of inhoud.

Dit word algemeen gemeen dat die eerste verskyning van die idee van ‘n vampier gekom het in 1897 met Bram Stoker se gruwelboek Dracula. Daar was egter vroeëre werke geskryf soos die boek van John Polidori genaamd The Vampyre.

Maar die konsep van die vampier dateer egter uit veel vroeëre eras van die mens se geskiedenis. Legendes van vampiere, of soortgelyke wesens, is reeds in die 12de eeu aangeteken.

Basies is ‘n vampier ‘n tipe “on-dood” gedrog wat teer op die lewendes deur hul bloed in te neem. Dit is eintlik moeilik om te klassifiseer of die vampier tuishoord in die fantasie of in die wetenskapfiksie. Die klassieke idee is dat dit bose wesens is wat demoniese eienskappe openbaar, terwyl baie van die meer moderne interpretasies eerder dui op ‘n virus wat deur bloed oorgedra word na ander.

‘n Verstommende verskynsel is dat die vampier deesdae dikwels uitgebeeld word as ‘n “goeie” tipe ras wat afsonderlik en in parallel met die gewone mensdom bestaan en dat daar òf ‘n simbiotiese vriendskapsverhouding òf ‘n diepgewortelde vyandskap bestaan tussen vampiere en weerwolwe.

Daar bestaan tans soveel idees oor vampiere dat dit eintlik moeilik is om algemene eienskappe aan hul te koppel, maar van die meer algemene eienskappe sluit in:

  • Die byt en drink van bloed van lewendes.
  • Dat sonlig hul dood kan veroorsaak.
  • Dat knoffel giftig vir hul is.

In die klassieke verhale is hul bang vir ‘n kruis en kan heilige water hul dood. Hulle moet bedags slaap in kiste en kan in vlêrmuise verander. Moderne werke ondersteun egter nie meer hierdie eienskappe nie.

Die ouer werke het aangedui dat weerwolwe slegs met silwer koeëls gedood kan word, maar moderne werke gebruik dikwels hierdie eienskap vir vampiere.

Dit was tradissioneel dat ‘n vampier slegs gedood kan word deur ‘n houtpen deur sy hart te steek.

Selfs in Afrikaans was die vampier van redelik vroeg af reeds ‘n monster wat dikwels in fiksie voorgekom het. Van die vroeëre werke in Afrikaans was byvoorbeeld die boek van Casper H MaraisRooi Jan en die Vampiere.

Nog ‘n werk wat uit die vroeë Afrikaanse fiksie dateer, is A P du Plessis se Land van die Vampiere.

En selfs die Olaf Bouwer reeks het ‘n boek met hierdie onderwerp uitgegee, naamlik Die Vampier deur Stoffel Pienaar.

Meer onlangs het François Bloemhof ‘n boek oor vampiere geskryf – Die Vampiere van Londen.

En natuurlik het die karakter van die vampier so algemeen begin raak in ons moderne kultuur dat selfs kinderlektuur dit gebruik in fiksie vir kinders. So byvoorbeeld kry ons in Teresa van Baalen se Sanri Steyn reeks Die Vampiere van Vlermuishoogte.

…of Vampierfoto’s van Jaco Jacobs en Chris Venter.

Selfs in die mark van vertaalde werke is daar voorbeelde hiervan te vind. Vianka van Bokkem se boek Vampier bedags, Weerwolf snags kan hieronder genoem word.

Een ding is seker – die vampier het permanent deel geraak van ons kultuur as ‘n karakter wat òf in wetenskapfiksie, òf in fantasie uitgebeeld kan word. En ons gaan nog talle nuwe toevoegings van hierdie interessante karakters in die toekom sien.

Terug na:   Dít waarvan drome gemaak is…