Gruwels en Verskrikking

Eintlik is dit vreemd dat hierdie groep deel is van fantastika. Baie wrede en gruwelike dinge waaraan skrywers kan dink word per slot van rekening deur mense gepleeg en daar is geen werklike element van spekulatiewe fiksie daarin nie. Maar dit is egter tog ook so dat baie skrywers gebruik maak van die een of ander monster of entiteit om die hare te laat rys of om die ligte aan te los. Spoke is ‘n algemene aanwending van die mens se oervrees, maar daar is gewoonlik geen perke aan die gruwelike skeppings waarmee daar met die koppe van die leser gesmokkel kan word nie.

Spoke, ja, die een ding wat ons al van kleins af ingegee word soos sop waarvan jy nie seker is wat die kok daarin gegooi het nie. Selfs die groot C.J Langenhoven (skrywer van Loeloeraai) het ‘n bydrae gemaak tot hierdie literatuur, met Die beste spookstories.

Daar is so baie werke in hierdie afdeling dat dit kwalik alles hier gedek kan word, byvoorbeeld Wendy Maartens se Die beste Suid-Afrikaanse Spookstories.

Maar natuurlik is ons vrese nie ingeperk tot spoke nie. Vampiere is een van die heel gunsteling monsters wat vandag bestaan – kyk maar na die magdom boeke en flieks wat oor hierdie onderwerp die lig sien. In Afrikaans is ‘n nuwe toevoeging ‘n vertaalde werk van Vianka van BokkemVampier bedags Weerwolf snags (twyfel bestaan oor die gehalte van hierdie werk).

‘n Suid-Afrikaanse skrywer wat ‘n bydrae gemaak het tot hierdie genre is Hugo le Roux met sy boek Bloedoffer vir Lilith wat die Satanistiese element gebruik.

Dan, een van die grootste name in hoendervleis is Bram Stoker met sy skepping Dracula (let wel dat hierdie spesifieke vertaling wat hier getoon word so swak is dat dit nie werklik in Afrikaans gelees kan word nie).