Kwasi

Daar sal altyd werke wees wat fantastika-elemente van bevat, al gaan die werk eintlik glad nie daaroor nie. Hierdie werke (daar is nie werklik baie van hulle nie) sal hier in hierdie afdeling aangedui word indien ons bewus word van so ‘n werk.

Die boek van Piet van Rooyen is ‘n goeie voorbeeld hiervan – Akwarius

In hierdie boek word kontak van ander wêrelde so terloops bedink maar dit speel nie ‘n groot rol nie. Die boek is egter glad nie sleg nie en verken die gewetenlose werklikheid van biologiese oorlogvoering.

Plek van die dooie geeste van H.S. van Blerk is nog ‘n voorbeeld hiervan. In hierdie boek word spore van ‘n buiteaardse kontak gevind hoewel die boek maar in ‘n geringe mate oor daardie aspek spesifiek handel.

 En dan is daar Die verlate stad in die Kalahari deur Fransie Koning. Hierdie boek raak ook aan wetenskapfiksie-elemente maar handel nie primêr daaroor nie – nogtans ‘n interessante boekie vir die jeug.

‘n Lekker jeugboekie in hierdie kategorie is Die Verlore Stad van Us (1977) van Georges-G Toudouze soos wat dit oorvertel is deur Jurgen Ras. Dis die storie van ‘n ekspedisie wat na ‘n stad op soek is wat deur die see teruggeneem is, amper soos Atlantis.

‘n Meer onlangse voorbeeld hiervan is Uit die Bloute deur Chanette Paul (2018).

“Sy bars van nuuskierigheid oor die groep vroue in die Akkedisberge wat wag vir ʼn moederskip van die Pleiade-sterrestelsel. Sy weier egter om weer saam met Irene en Valk te werk, tot ʼn boogskutter op rolskaatse ʼn bekende regter vermoor en die vermoede ontstaan dat dit moontlik verband kan hou met die VVV-groep.

Toe sy weer sien, konkel sy saam met Irene agter Valk se rug om die raaisel te probeer oplos. Iets wat haar verhouding met Joachim tot die uiterste beproef.

Vir Ayla is haar verlede ʼn verleentheid. Nes haar liggaamsbou. Maak nie saak wat sy doen nie, die stigma van haar ma se bewering dat sy ʼn vlieënde piering gesien het bly net so aan haar kleef soos die groot heupe wat sy by haar ouma oorgeërf het. Sy het egter haar lewe so ingerig dat sy uit die oog kan bly – totdat sy as grafoloog ʼn handskrif moet ontleed en besef haar suster verkeer in wesenlike gevaar. Jojo Richter sal haar kan help om Nimue op te spoor, maar Jojo werk reeds vir Irene en dis Irene se suster wat vir Nimue gevaar inhou. En Strach Serfontein met sy liederlike handskrif wat integriteit, maar ook misleiding verklap, is nou weer ʼn ander tameletjie.”