Sprokies en Fabels

‘n Kind kan skaars praat en verstaan, dan word daar reeds sprokies voorgelees. Baie daarvan word van geslag tot geslag herhaal en die ouer vertel (amper outomaties) vir die kind van Gouelokkies, drie varkies en Hansie en Grietjie.

Die meeste van ons word groot met die onwerklike en fantastiese as deel van ‘n vroeë werklikheid waarin alles moontlik is. Tog is daar iewers in die pad van grootword ‘n vurk, of so wil dit voorkom, want uiteindelik is daar talle wat volwassenheid bereik het en niks te doen wil hê met hierdie onwerklike wêreld van drome en verbeelding nie. Gelukkig, vir ander, is die sprokie ‘n welkome verwelkoming tot ‘n grootmenswêreld wat, hoewel dit nie aangemoedig word nie, dit darem sal verduur dat jy nog kan droom.

Daar is ‘n legio werke in hierdie kategorie van fansastika geskryf, en dit sou algeheel onmoontlik wees om selfs maar ‘n poging aan te wend om die meeste daarvan in hierdie afdeling te dek. Daarom word daar bloot maar sekere van die belangrike en prominente werke in hierdie deel gelys.

Eerstens sal dit amper ‘n misdaad wees om nie die Grimm-broers se werke te noem nie. ‘n Relatief onlangse uitgawe van hierdie vermaaklike stories is Die volledige sprokies van Grimm.

Ewe belangrik is natuurlik die werke van Hans Christian Anderson, en ‘n tipiese omnibus hiervan is Die mooiste sprokies van Anderson.

Maar daar is natuurlik ook sprokies van eie bodem, soos Die mooiste Afrikaanse sprokies deur Pieter W Grobbelaar.

Bundels uit verskeie wêrelddele is natuurlik beskikbaar in uitgawes soos Wes van die Maan en Oos van die Son wat vertaal is deur Santie Groskopf.

Uit Basoetoland is daar die werk van Minnie PostmaLegendes uit die Misrook.

 

En uit Zoeloeland is daar Die Opraak van die Vuur en ander Inheemse Verhale wat saamgestel is deur Marié Opperman.

Dan is daar van die Boesmans se verhale opgeteken deur Eugene N Marais in Dwaalstories.

En selfs uit die Kaap met sy kleurryke geskiedenis is daar Uit die Slamse buurt deur dr. I.D. du Plessis.

Verna Vels het ‘n hele reeks geskryf van ‘n dom dog Liewe Heksie.

Maar een van die bekendstes kom natuurlik uit die pen van C.J. Langenhoven (skrywer van Loeloeraai), naamlik Brolloks en Bittergal.

En, as ‘n strokiesverhaal is daar T.O. Honiball se humoristiese Adoons-reeks.

Natuurlik kan ‘n afdeling oor fabels nie afgesluit word sonder ‘n verwysing na Aesopus nie, soos hierdie een getiteld Aesop se Fabels.