Superhelde

Wat die meeste van ons betref, is superhelde karakters waarvan hoofsaaklik skoolseuns kennis dra en wat in strokiesprente voorkom. En ja, die meeste van ons is ook bewus daarvan dat daar van tyd-tot-tyd ‘n rolprent oor een van hierdie kinderstories gemaak word. Maar sover ons weet is dit maar bloot ‘n strokiesprent wat iemand omgeskakel het in ‘n fliek – dis al.

En hoewel ons in die Afrifiksie-wêreld meer oop en ontvanklik is vir die ongelooflike waaruit die spekulatiewe fiksie van fantastika bestaan, weet selfs óns gewoonlik maar bloedweinig oor hierdie vertakking in die fantastika. Al wat die meeste van ons hieroor weet, is wat ons self uit ons kinderjare kan onthou van een of twee van die karakters waarvan ons self destyds in ‘n strokiesprent gelees het.

Niks kan egter verder van die waarheid af wees as juis so ‘n eng opvatting nie. Die wêreld van die superhelde is groot – eintlik ongelooflik groot. Dit is veel groter as die wêreld van Star Wars of Star Trek (wat beide in ‘n enkele sterrestelsel afspeel) en oneindig groter as die wêrelde van Harry Potter, Alice in Wonderland of Die Heer van die Ringe (wat almal bloot op die aarde plaasvind).

Die eerste verstommende aspek wat na vore kom wanneer daar oor hierdie superwêrelde gedink word, is dat daar amper geen ander veld in die fantastika bestaan wat meer elemente uit beide die fantasie en wetenskapfiksie deel nie. Hierdie heelalle bevat elemente van buiteaardse wesens, gode, kosmiese kragte, bonatuurlike wesens, towery, en uiters gevorderde wetenskaplike ontwikkelings in velde soos nanno-tegnologie, genetika en vele ander – dit is voorwaar die kombinasie van wetenskapfiksie en fantasie in een enkele genre.

Daar bestaan hoofsaaklik twee hoof-heelalle van superhelde – die Marvel-heelal en die DC-heelal waarvan beide hul oorsprong in die Vereengde State het.

Hierdie twee heelalle ding natuurlik met mekaar mee in ‘n poging om die ander die loef af te steek met bekendheid, teenwoordigheid en natuurlik winste. In die kader van Marvel vind mens karakters soos Die Ongelooflike Hulk, Spinnerakker (“Spider-man“), Ysterman en Kaptein Amerika.

DC spog op sy beurt met karakters soos Superman, Wondervrou en Mantelman (“Batman“).

Maar indien jy van mening sou wees dat elkeen bloot maar bestaan uit ‘n aantal superhelde, sou jy totaal en al die kat aan die stert beet hê. Nee, die superheld of superheldin is maar net ‘n klein element in hierdie tipe heelal.

Wanneer ons byvoorbeeld kyk na die Marvel-heelal, dan bestaan dit eintlik uit ‘n veelal van baie verskillende heelalle. Elke heelal is op sy beurt ‘n gedeelde heelal waarin al die superhelde en heldinne bestaan, en wat natuurlik van tyd-tot-tyd paaie kruis met ander superhelde. Hulle deel dus dieselfde “werklikheid” as die ander – beide met betrekking tot plek asook die tydstip waarop dit afspeel. Dit is dus nie verbasend dat hierdie superhelde en superheldinne soms in spanne of groepe saamspan om gevare te konfronteer nie. Sulke groeperings kom dus dikwels in die superheelalle voor met spanne soos die Wrekers (“Avengers“), die Fantastiese Vier, die Bewakers van die Sterrestelsel, ens. Elke heelal stem grootliks ooreen met elke ander een, en ‘n planeet Aarde kom in elkeen daarvan voor. Die Aarde waarop die meeste van die verhale afspeel heet Aarde-616 of Priem-Aarde. ‘n Interessante kinkel in hierdie heelalle is dat die Marvel-heelal wel kennis dra in hul verhale van die DC-heelal en andersom. Binne die Marvel-heelal is die DC-heelal bloot ‘n paralelle heelal van die Marvel-heelal en omgekeerd – dit gebeur byvoorbeeld dus soms dat ‘n karakter uit DC in ‘n Marvel-verhaal voorkom, maar dit is seldsaam.

En dan is die volgende logiese element van so ‘n superheelal natuurlik die bestaan van superboewe wat feitlik net so indrukwekkend is as die superhelde en heldinne. En natuurlik vorm hulle ook telkens alliansies met ander superboewe om hul bose planne tot uitvoer te bring. Voorbeelde van sulke groepe is die Meesters van Boosheid, die Sinistere Ses, die Vreesaanjaende Vier, ens.

Maar waar kom hierdie superwesens vandaan? Wel, in die geval van Marvel was die aarde lank gelede oorheers deur sogenaamde Hemelinge (“Celestials“) wat later gewyk het maar nie voor hulle aan sekere mense superkragte geskenk het nie. Dit blyk uit sekere van die verhale dat daar ‘n embrio van ‘n Hemeling diep in die aarde verskeek is, en dat hulle wou hê dat dit beskerm sou word indien die aarde ooit bedreig sou word. Die Hemelinge bestaan steeds en is veel kragtiger as die superhelde, maar meng nie juis in met die gebeure van hierdie wêreld nie – tewens hulle het soortgelyke superhelde op ander wêrelde in die heelal ook laat ontstaan, wat natuurlik ook van tyd-tot-tyd in hierdie verhale voorkom.

Die nalatenskap van die superkragte het twee verborge “volke” laat ontstaan. Eerstens is daar die goddelike Ewiges (“Eternals“) en tweedens die Afwykendes (“Deviants“) wat onstabiele en wisselvallige eienskappe openbaar. Om sake verder te vertroebel, het sekere mense in die populasie sogenaamde x-faktor-gene ontvang wat dan in sommige gewone mense as superkragte te voorskyn kan kom – gewoonlik na aanleiding van ‘n sneller soos ghammastrale of geweldige woede, maar wat in ander mense lei tot ernstige misvorming. Wanneer hierdie x-faktor in ‘n gewone mens manifesteer as ‘n superkrag, staan só ‘n mens as ‘n mutant bekend. In Marvel staan een so ‘n groep mutante wat teen onheil veg bekend as die X-Mense (“X-Men“).

Behalwe vir hierdie Hemelinge wat superkragte geskenk het, kan ander superkarakters hul vermoëns bekom deur towery, bioniese inplantings, genetiese wysigings of bloot deur die gebruik van baie gevorderde tegnologie.

Die verhale gebruik dikwels totaal fiktiewe wetenskap of tegnologie. Een so ‘n fiktiewe wetenskap is psioniese energie wat in elke lewende brein van enige wese voorkom en wat ander vorme van energie of materie kan manipuleer. Daar is talle sulke voorbeelde in hierdie genre – te veel om hier te noem.

Behalwe dít wat “natuurlik” op die Aarde-616 voorkom, is daar verskeie buiteaardse rasse. Die drie hoof ryke waarmee daar te doen gekry word is die Kree uit die Groot Magelaniese Wolk, die Skrull uit Andromeda en die Sji’ar vanuit Triangulum.

Selfs bonatuurlike wesens kom algemeen voor, soos mitologiese gode, demone en selfs engele. Donar (“Thor“) is ‘n voorbeeld hiervan.

En dan, asof dit alles nog nie genoeg is nie, kom vampiere, weerwolwe en selfs Frankenstein in sekere van die verhale voor – en moet natuurlik nie van zombies vergeet nie.

Maar daar is wesens selfs kragtiger as die superhelde. Behalwe vir die Hemelinge is daar ook ‘n groep wat as Kosmiese Entiteite bekend staan. Hulle is ongelooflik magtig en selfs die heel swakste van hulle kan planete vernietig. Hierdie wesens steur hulle gewoonlik maar min aan die mensdom en die aarde en hou hulle eerder besig om balans in die natuur en heelal te handhaaf. Hulle aksies is egter dikwels uiters gevaarlik en kan lei tot die uitwissing van ganse beskawings en volke. Galaktus is ‘n voorbeeld van so ‘n wese wat ganse planete verorber om sy eie lewensenergie in stand te hou.

Die tyd wat verloop binne hierdie heelalle is besonder min, en sedert die tweede wêreldoorlog waar sekere van die verhale afgespeel het, trek die tyd tans maar in die 1990s. Tydreise word ook maklik geakkomodeer deurdat enige reis na die verlede wat ‘n verandering tot gevolg het, bloot die tydlyn laat vertak en ‘n nuwe paralelle heelal vorm sonder om die oorspronklike tydlyn te versteur.

In Marvel is die aarde, lande, stede (meestal in die VSA), ens. presies soos ons dit ken, met enkele toevoegings soos Wakanda. DC gebruik egter meer fiktiewe plekke soos Ghothamstad en Metropolis. Nog ‘n funamentele verskil tussen DC en Marvel is dat die karakters van DC grootliks sonder die gewone menslike swakhede soos jaloesie bestaan, terwyl Marvel se helde meer soos gewone mense is met gewone swakhede, foute en begeertes – nogal soortgelyk aan baie mitologiese gode.

Daar bestaan egter wel die konsep van ‘n tipe oppergod genaamd die Een-bo-Almal waarteen nie een van die ander kan standhou nie – ‘n tipe erkenning dat selfs die wildste verbeeldingsvlugte steeds ondergeskik bly aan ‘n hoogste gesag…